Mense wat die opstanding figuurlik wil lees, gee daarom veral aandag aan die interpretasie van Markus se Evangelie want hy beskryf duidelik dat Jesus se liggaam weg was. Die graf was letterlik leeg: die plek waar Jesus se liggaam was, is leeg. Jesus is nie daar nie. Meer nog, Jesus is op pad Galilea toe (Mk.16). As ‘n mens dus sy evangelie lees, word dit moeilik op die opstanding as ‘n bloot geestelike gebeurtenis te verklaar.
Hoe dus nou gemaak met Markus?
Die antwoord word in baie gevalle: Markus herinterpreteer die evangelie vir mens van sy tyd en wyk in hierdie herinterpretasie af van die oorspronklike betekenis van die opstanding.
Eers net dit: Een van die gewilde teorieë in die Nuwe-Testamentiese wetenskap is dat Jesus se heel eerste dissipels direk na hul spesiale ervaring eers geglo het dat Jesus se opstanding en sy hemelvaart dieselfde was. Jesus se opstanding moes dus vir hulle ‘n “geestelike” betekenis eerder as ‘n liggaamlike betekenis gehad het. Vir die eerste dissipels het Jesus bloot “hemel” toe gegaan. Eers later aan het Christene begin redeneer dat Jesus “liggaamlik” uit die dood opgestaan het. Dit is toe dat Markus begin vertel het dat daar ‘n leë graf was waar Jesus se liggaam nie meer gevind is nie. Markus skryf dus sy Evangelie om vir mense te “verduidelik” hoe hulle eintlik die opstanding van Jesus die “beste” behoort te verstaan en in die proses bring hy ‘n groot verandering in die opstandingsgeloof aan. Hy verletterlik dit. Maar wanneer hy dit doen, wyk hy af van die meer gevestigde verstaan van die opstanding om vir die lesers van sy tyd die evangelie te probeer verduidelik.
Hierdie argument kom daarop neer dat Markus ‘n geestelike hemelvaarstvertelling vir sy eie doelwitte verander het in ‘n letterlike, liggaamlike opstandingsverhaal. Jesus het volgens Markus dus nie ‘n hemelvaart gehad nie, maar hy besluit dat ‘n mens nou moet glo dat Jesus letterlik uit die dood opgestaan het. Dit beteken Markus “verander” die oorspronklike geloof van die dissipels. Hy “skep” dus ‘n verhaal waarin die vroue na die graf gaan en geen lyk in die graf vind nie.
Markus leef dus in ‘n tyd, volgens hierdie teorie, dat die dissipels meer letterlik begin dink het oor die opstanding. Die “letterlike” opstanding is dus nie “waar” nie – dit is eintlik ‘n vervalsing van die Evangelie deur Markus.
Een van die groot probleme met hierdie verletterlikingsverklaring is dat Markus nie juis goeie argument vir sy “nuwe” verklaring aanvoer nie. Hy skryf ‘n verhaal waarin vroue die leë graf ontdek (nie die dissipels nie). Om vroue as getuies in te roep, sou niemand oortuig het nie. Vroue was in die tyd van Jesus nie as aanvaarbare getuies gereken nie. As Markus dus ‘n nuwe opvatting van die opstanding wou verkondig, sou hy seker verstandig gewees het om eerder nie vroue as getuies te gebruik nie. Dit sou net twyfel by mense gewek het. Hy het homself eintlik in die voet geskiet deur vroue as karakters te gebruik. Eintlik, sou ‘n mens kon sê, maak die teorie van Markus ‘n dom skrywer.
(Tussen hakiers: Hierdie teorie is ook nie ‘n baie aantreklike benadering tot vroue nie: in hierdie teorie word vroue bloot fiktiewe figure wat Markus gebruik om sy eie storie te bedink. Daarmee word die fundamentele rol wat vroue in die verkondiging van die Evangelie speel, gesaboteer.)
Maar daar is nog ‘n belangriker rede waarom die teorie oor Markus se “afwyking” van die oorspronklike opstandingsgeloof nie oortuig nie. As ‘n mens die begrip “opstanding” ontleed, beteken dit konsekwent dat iemand wat liggaamlik dood was na ‘n tyd uit die dood terugkeer. Volgens die simboliese interpretasie het Markus skielik op ‘n dag op sy eie besluit dat hy ‘n geestelike gebeurtenis wil “verletterlik” deur nou te vertel dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het. As Markus dit werklik gedoen het, het hy iets reggekry wat niemand anders nog ooit aan gedink het nie. Voor hom het niemand nog ooit in die geskiedenis verkondig dat Jesus (of enige iemand anders) dood was en lewendig geword het nie. Hier kry ons dan skielik vir Markus as iemand wat die briljante skuif maak wat niemand anders nog ooit reggekry het nie.
Maar ander trekke van Markus se teks wys daarop dat hy dalk maar net kan vertel wat “werklik” gebeur het. Daar is ‘n kwaliteit aan Markus se opstandingsverhaal in Markus 16:1-7 wat ‘n mens die indruk gee dat dit nie ‘n blote simboliese verhaal kan wees nie. Die verhaal van die vroue bevat allerhande konkrete detail wat ongewoon vir ‘n simboliese verhaal is, maar terselfdertyd histories tog heel waarskynlik kan wees. Die Jode het net verwag dat alle regverdiges saam uit die dood sou opstaan. Maar in hierdie verhaal van Markus lees ons allerhande inligting wat daarop wys dat een mens voor alle ander uit die dood opgestaan het. Markus moes ‘n sterk verbeelding gehad het as hy ‘n “geestelike” opstanding deur sulke ongewone, maar ook paslike detail uitgebeeld het. En dit is ook moeilik om te dink dat Markus so ‘n kort storie sou gebruik om mense te oortuig van ‘n liggaamlike opstanding van Jesus uit die dood.
Die eenvoudiger alternatief is om te aanvaar dat Markus op een of ander manier verwys na iets wat “werklik” in die geskiedenis en in die lewe van Jesus gebeur het. Daar was op ‘n stadium ‘n leë graf. Jesus het werklik opgestaan in die egte sin van die woord “opstanding.” En Markus wil op sy manier iets van hierdie werklikheid verkondig. Hy skep dus nie die idee nie, maar getuig daarvan. Niks verhinder iemand om die opstanding net so wel van die begin af op hierdie manier te verstaan nie. Daarmee verval die gedagte dat Markus eintlik maar gelieg het en dat hy boonop gelieg het soos niemand anders ooit in die geskiedenis kon doen nie.
Dikwels word ook uitgewys dat Markus, anders as die ander Evangelies, nie verhale het waarin Jesus aan sy dissipels “verskyn” het nie. Wat ook dikwels uit die oog verloor word, is dat Markus inderdaad praat van verskyninge van Jesus aan sy dissipels, al beskryf hy hulle nie afsonderlik nie. In Markus 16:7 sê die jongman dat Jesus op pad is na Galilea waar sy dissipels Hom sal “sien.” Dit wys dat Markus tog ‘n sekere patroon van die opstanding behou wat in al vier evangelies voorkom en wat sy verhaal tog meer “waarheidsgetrou” maak as wat soms voorgegee word (later meer hieroor).
Met bogenoemde opmerkings vat ek ‘n paar insigte saam van eksegete wat wil beklemtoon dat Markus as oudste evangelie nie so onbetroubaar is soos wat sommige uitleggers te kenne wil gee nie. Dit doen ek sonder om in ‘n naïewe realisme te wil verval. Ek aanvaar volledig dat ‘n mens vanuit ‘n kritiese realisme die tekste moet lees, terwyl ek graag ook vashou aan die diskursiewe karakter van die bronne waarmee ons werk. Met hierdie uitgangspunte verwys ek dus na sommige van die verantwoordelike eksegete wat vanuit ‘n bepaalde wetenskapsmodel tereg kan redeneer dat Markus nie die leë graf uitdink nie. Markus werk met ‘n boodskap dat daar “werklik” in die geskiedenis iets gebeur het wat nie net “geestelik” verstaan moet word nie. Die opstanding as ‘n “werklikheid” is dus nie Markus se uitvindsel nie. Dit kan net so goed die boodskap wees wat Markus as tradisie geken het en wat hy vir sy lesers wou oorgelewer het. Ruimte ontbreek om die detail hier verder uit te werk – maar hopelik kan die vorentoe nog gedoen word.
Hoe dink ‘n mens nou hieroor?
Die opstanding is een van die mees omstrede onderwerpe in die geskiedenis van die Christendom. In die afgelope dekades is die fynste historiese werk verrig om elke woord in die opstandingsverhale met ‘n vergrootglas te ondersoek. Die groot vraag in hierdie ondersoek was: Het die opstanding werklik gebeur? Is dit iets wat in die geskiedenis plaasgevind het? Kan ‘n mens glo wat die Evangelies sê? Is die skrywers van die Nuwe Testament te vertrou?
Hoekom loop ‘n mens weg van ‘n bespreking soos die een hierbo met ‘n gevoel van onbehae? Die bespreking hierbo wys dat daar argumente is wat ‘n nugter mens kan laat aanvaar dat dit nie heeltemal onmoontlik was dat die eerste dissipels reeds ‘n merkwaardige “werklike” gebeurtenis beleef het. Daar is genoeg dokumente wat vir ons vertel dat die oorspronklike opstandingsevangelie nie sommer net as ‘n geestelike, metaforiese verstaan van Jesus se lewe en werk verstaan hoef te word nie. Daar is aanduidings dat die opstandingsverhale ook as betroubaar en moontlik verstaan kan word.
Voordat ek in meer detail hieroor wil dink, is daar tog ‘n sekere aspek van Markus se opstandingsverhaal wat baie spesiale aandag verdien en wat die gordyn op ‘n beslissende manier lig oor hoe ‘n mens die opstanding in sy Evangelie behoort te verstaan. Die gesprek sal ons by ‘n spiritualiteitsperspektief op die opstanding uitbring. Daarmee gaan ek ook nadink oor hoe vrugbaar al hierdie “historiese” vrae oor die opstanding werklik is. Vir dekades lank het ‘n groot klomp mense baie tyd in hierdie historiese debat ingesit. Die vraag is nou hoe waardevol en nuttig was dit? Dus bespreek ons môre D.V. die verhaal van ‘n anonieme jong man in ‘n wit kleed aan die regterkant in die graf in Markus 16. In al die baie gesprekke oor die opstanding en die verskrikte vroue deur die eeue gevoer is, is hierdie jongman skromelik verwaarloos. En dit terwyl hy die spil van alles is. Môre dus meer oor hom.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.