Daar is iets onvoorstelbaars aan ons geloof dat ons op pad is om by God te wees.
Soms dink ons baie gesellig oor hierdie toekoms by God en praat ons daaroor in dieselfde taal en beelde wat ons gebruik om gelukkige tye van ons lewe te beskryf. Dan is dit vir ons ‘n toekoms wat eintlik niks vreemds nie. Trouens, dit lyk of die meeste mense daarvan hou om in terme van hul huidige ervaringe oor die toekoms te dink.
Rahner praat oor hoe mense tradisioneel gewoond is om oor die toekoms te dink: “Aan die ander kant,” “na” die dood, sal ons almal gelukkig met ons families en vriende verenig wees. Ons sal ons lewe soos ons dit tans ervaar vir ewig voortsit. Vreugde, feeste en vrede sal onophoudelik ons deel wees.
Ons praat dus oor die toekoms in terme van die werklikhede wat ons nou beleef. Dit toekoms is eintlik ‘n beter vorm van ons huidige lewe. Ons sal daar al die bekende dinge wat ons nou het, weer oor hê.
Rahner maak baie duidelik dat dit ver van hom is om hierdie populêre en algemene toekomsverwagting te kritiseer, veral waar dit uit ‘n opregte hart en met ‘n opregte gemoed uitgespreek word.
Maar hy wil hê ons moet dieper dink hieroor. Want met só ‘n toekomsverwagting meet ons die toekoms aan óns verwagtinge.
Daar is immers iets verbysterend vreemds aan die onvoorstelbaarheid dat die onuitspreeklike God deel word van die mens se kreatuurlikheid.
Ons visioen van God by ons in die ewige lewe kan dus nooit maar net as nog ‘n aangename ervarinkie beleef word nie.
Laat ons die toekoms aan God meet.
Die toekoms gaan om baie meer as ons wat ons in ons menslike voorstellinge kan bedink. Die toekoms fokus ook nie op óns nie. Ons is naamlik op pad om uiteindelik by God te wees, om in die helder Lig te kom, om in die teenwoordigheid van die Onuitspreeklike, die Verborgene te leef. Slegs dan sal ons die volmaakte rus beleef. Alleen dan sal ons harte volkome vervuld wees. Hierdie diep mistieke ervaring van God wat op ons wag, probeer ons op ‘n baie menslike manier verstaan deur allerhande menslike beelde. En dikwels gee hierdie beelde ‘n prentjie van die hemel wat niks anders is as ‘n plek waar ons dieselfde aangename ervaringe sal ervaar wat ons op aarde beleef het. Die hemel is, by wyse van spreke, niks anders as ‘n “glorified” aarde nie. En deur op die manier daaroor te dink, kan ons die werklike betekenis en sin van die toekoms miskyk.
Want deur die al te menslike denke word die oorrompelende teenwoordigheid van God afgewater tot ‘n heel goeie, aangename en plesierige saak. Ons gaan almal feesvier en gelukkig wees.
Maar, skryf Rahner, ons wag op ‘n toekoms wat vreemd, verborge is.
Met ons dood word al die waardelose prul en leeghede van ons geskiedenis uit ons gedagtes en bewussyn uitgevee.
Met ons dood sal die blink sterre van ons aardse ideale waarmee ons ons geleefde lewe as hemel gedink het, uitgebrand word.
Met ons dood gaan ons ‘n oorweldigende, stille oopheid tegemoet. Ons glo en hoop op hierdie oopheid vanaf die eerste moment wanneer ons God se verhouding met ons ernstig opneem.
Met ons dood kom ons lewe van baie dae, maande, jare en lange dekades tot ‘n einde. Hierdie lange tyd sal ons dan ervaar as ‘n enkele, kort ontploffing van ons vryheid – selfs al het ons ons vryheid voorheen ervaar as lank en uitgerek en nimmer-eindigend. In daardie ontploffing van ons vryheid word ons vraag ‘n antwoord, word tyd ewigheid, word moontlikheid werklikheid en vryheid wat vir ons aangebied is, word vryheid wat ‘n werklikheid is. Ons sal waarlik vry wees.
Met ons dood word ons deur ‘n oorweldigende vreugdeskok bo alle verstand heen gevul. Ons word gebring tot die besef dat ons iets oorweldigends beleef met ons intree in die geweldige, stille oopheid. Wat ons as dood ervaar, is in werklikheid, skryf Rahner, gelaai met die Verborgenheid wat alles tot stand gebring het. Dit is gevul met God, met God se lig en met God se liefde wat alle dinge aanneem en ontvang en alle dinge gee.
Wanneer ons sterf reis ons in die oop Verborgenheid in. Ons reis kom dan tot ‘n einde. Daar is nie meer paaie nie. Ons is tuis. Want in hierdie oopheid merk ons die gesig van Jesus, die geseënde Een. Ons kan God nooit in woorde vasvang of in gedagtes vaspen nie. God is groter en verby alles wat ons bedink en beleef. Hierdie ontoeganklike, verborge God sal alles wat ons oor die hemel dink en van die paradys verwag, op ‘n goddelike wyse transendeer.
Die oomblik as ons sterf, die oomblik dat die dood oorwin word, ervaar ons dit wat aan die kom is.
Rahner het hierdie gedagtes gedeel met ‘n gehoor kort voordat hy, op tagtigjarige leeftyd, gesterf het. Dit was sy laaste openbare gesprek.
Sy opmerkings, soekend, tastend, help ons om die toekoms te sien as ryk en diep swanger aan betekenis. Dit is wanneer ons in God se onpeilbare teenwoordigheid sal wees, wanneer ons al ons tydelikheid sal ontsterf. Dit is, in Bybelse taal, wanneer God alles in almal sal wees.
En, voeg Rahner by, as ons dit alles gesê het, besef ons ons kan die grootheid hiervan nie onder woorde vasvat nie. Alles wat ons verwag het, sal dan goddelik oortref word. Ons kan maar net stamel en stotter voor wat vir ons aan die kom is. Dit sal alles wat ons verwag, dink, sê oortref.
Dit is ‘n vreemdheid waarna ‘n mens vurig verlang – want dit is ‘n vreemdheid wat ons diepste vreugdes en verlange tot stilte en vervulling sal bring.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
March
(29)
- Troos in lyding
- Hy wou sy eie pilletjie drink toe hy hoor hy het d...
- Geloof as waagstuk. Om oratief te waak.
- Groei in bewussyn.
- Dan sal ons nie meer vrae vra nie. Gedagtes oor di...
- Liefde verdryf skuldgevoelens
- Alles en niks
- Die onuitspreeklike lewe by God in die toekoms
- "Soms het ek die indruk gekry dat sy op die punt w...
- Moet jy vir jou vrou blomme gee en jou stoel aanbi...
- Die deurboorde hart. Oor ‘n nuwe manier van geloof.
- Mag, die Broederbond en 'n Nuwe Boek
- Hulle lewens spreek boekdele.... Oor die opstandin...
- 'n Mens kan God se goedheid sien sonder om dit te ...
- Paulus en die mistiek.
- Die gelaat van God in die barheid van armoede.
- Wanneer 'n mens te vroom raak. Oor die besetene va...
- Die twee vreemde jongmans in Markus se Evangelie
- Wanner 'n mens vreemde keuses vir God maak.
- Paradys (2)
- Paradys....
- Boeke
- Markus en die Opstanding
- Die teenwoordigheid van die liefde in ons taal.
- Om jou innerlike demone te besweer.
- Hy het sy hele lewe lank net een keer met sy seun ...
- Heilige nar van God. Oor die “gawe van trane” as ‘...
- Kontemplasie.
- Die eerste Christelike kontemplasie. Oor die liefd...
-
▼
March
(29)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.