Tuesday, March 23, 2010
"Soms het ek die indruk gekry dat sy op die punt was om vir my iets te vertel...." Die onpeilbaarheid van die Ander se pyn.
‘n Mens kan nie anders as om dankbaar te wees vir baie dinge in ons land nie – byvoorbeeld ons grondwet, vir die beskerming van menseregte, vir ‘n vrye pers, vir geloofsvryheid, vir kerke wat onverhinderd kan funksioneer, vir baie mense wat toegewyd hulle kant bring om dinge reg te maak, vir die regsisteem en regsorde, vir die valke, vir politici soos Helen Zille en Patricia de Lille wat ‘n verskil maak, maar ook vir baie ander regte en voorregte. Wat veral vir ‘n mens dikwels dankbaar maak is die manier waarop vroue tot hul reg kom. Hulle sit in die parlement, is ministers, word regters, is rektore, besturende direkteure en beklee talle posisies van belang – hoe min dit ook al vir sommige mag wees. Dit is terselfdertyd ook ‘n blye ervaring dat die A.N.C. jeugleier is in een van ons howe skuldig aan haatspraak bevind en ‘n swaar boete opgelê is. Niemand, hoe arrogant en hoe minagtend ook al, kan onaangeraak bly as daar teen hulle opgetree word nie.
‘n Mens se sieletoestand word die beste gemeet aan hoe hy of sy teenoor die weerloses in die samelewing optree. Dit was die jeugleier se vulgêre uitspraak oor die vrou in die saak teen die president, oor die premier van die Wes-Kaap en oor die leier van die O.D. wat ‘n mens ‘n kykie gegee het in wie hy werklik is.
Terwyl hy hierdie goed gesê het, het ek dikwels teruggedink aan ‘n ervaring wat ek lank terug gehad het en wat vandag nog by my bly spook. Want die jeugleier se kru uitspraak oor vroue is nie so uitsonderlik soos wat ‘n mens dink nie. Hy verteenwoordig ‘n bepaalde mentaliteit wat ver loop – nie net in ons land nie, maar oral waar mense is, verby ouderdom en jeug, verby kleur en ras, verby sosiale klas en status. Dit is ‘n mentaliteit wat ‘n mens in die kruste vorm sien wanneer priesters ondanks die kern van Jesus se boodskap, hul vertrouensverhouding uitbuit om die jongste en mees weerlose van kinders te misbruik en vonnis tot lewenslange gevangenskap in trauma en skuldgevoelens. Dit is 'n mentaliteit wat 'n mens opmerk wanneer mans en vrouens hul hand gewelddadig optel teenoor mense baie naby aan hulle en hulle in niks ontsien nie.
As ek hierdie storie vertel, het ek ‘n idee dat die jeugleier en sy brigade dit sentimenteel en snotterig sal vind.
Tog wil ek dit vertel.
Al het ek ook ‘n gevoel dat ander mense, behalwe die jeugleier, sal ook dink dit is sentimenteel en snotterig. Maar dit is vir my vanuit spiritualiteit belangrik dat sulke verhale vertel moet word.
‘n Uitgangspunt in spiritualiteit is dat ‘n mens veral in die eerste en belangrikste plek ingestel is op die deurslaggewende belang van die mens se ervaringswêreld. Wat vir een mens na oordrywing lyk, is vir die ander een egte trauma. Die groot opdrag bly daarom om ‘n mens te verplaas in die ervaring van die ander. Ons maak soveel van die sogenaamde seisoen van luister. Dit is ‘n tipies modernistiese konsep wat berus op die argument dat ons informasie moet oordra en dan sal alles mooi in plek val. Baie belangriker is egter die vereenselwiging, die empatie, die ineensmelting van ervaringswerklikhede. Ons moet meer doen as luister - ons moet onsself verby luister kan verloor in die ervaring en die lewe van die ander. Die Ander se woorde, meer nog, daardie mens met sy of haar stem, kyk, trane, gebare, taal, metafore, stilte, ervaringe, pyn en baie ander dinge maak ‘n deur oop waardeur ons moet kan ingaan om saam te ervaar, te ly, te vier. En dit moet met eerbied en agting gebeur vir wat vir daardie een belangrik is.
Daarom hierdie verhaal van iets wat ek lank terug ervaar het. Dit is ‘n verhaal wat dikwels in my gedagtes by my kom spook, wat my nie wil loslaat nie. Dit vertel die storie van ‘n jong vrou vir wie ek as ‘n eerstejaar-student al raakgesien het. Ek het haar gou opgemerk onder my studente. Dit was nie net haar akademiese uitnemendheid wat mens opgeval het nie.
Sy was duidelik ‘n presteerder met ‘n skerp brein en ‘n gretigheid om te weet en te verstaan waarmee sy besig is.
Ek het egter soms ook so ‘n bietjie verwonderd teruggesit oor die manier waarop sy haar werk vir my aangebied het. Dit was nie net akademiese verslae nie. Daar was ‘n boeiende en ongewone kwaliteit aan haar werk. Dit was nie dat sy maar net “mooi” geskryf het nie. Of dat sy ‘n sagter, snydender manier van skryf gehad het nie. Daar was iets meer as net sags aan haar skryfwerk. Hóé sy geskryf het, het my laat dink dat daar in haar innerlike iets broeiends was. Dit het vir my steeds gevoel asof sy bietjie dieper wou delf, asof sy op soek was na die koeler waters, asof sy ‘n pelgrim was wat dorstig aan die reis was. Sy het gedurig in haar skryfwerk, selfs in die eksamen, teruggekom oor wat haar werk beteken – prakties, watter verskil dit maak, hoe raak dit ‘n mens se lewe, hoe moet ‘n mens oor God dink.
Daar was iets moois aan haar uiterlike. Sy was nie gepoeier en gepaint, soos vele van die ander studente-girls nie of 'n giggelaar-soort student wat hormoon-gedrewe sorgvrye studentejare langs die eikeboom by die stroom wou geniet nie. En tog, op ‘n keer het ek haar toevallig met haar vriendinne op kampus sien loop – en met verbasing gesien hoe sy op ‘n stadium selfs vrolik glimlag oor iets wat een van hulle kwytgeraak het. As jy net vlakkerig by haar was, was sy dus ‘n normale, goeie mens.
Sy was origens stil, selfs ingetoë. Nie dat sy besonder skaam of nors was nie. Dit was soms vir ‘n my asof sy, soos ‘n opgebottelde skippie, in ‘n lugleegte toegebou was. En partykeer het dit vir my gevoel asof sy daaruit wou wegkom, na buite gegryp het, gesoek het om uit te breek – en dan weer deur ‘n ondeurdringbare glasgordyn teruggehou is.
Dis nie dat ‘n mens vir haar “jammer” was nie. ‘n Mens het nooit die indruk gekry dat sy pateties was, ‘n slagoffer nie. Daarvoor was sy te sterk, te vegtend, besef ek vandag. Maar daar was iets onrustigs aan haar en somtyds, net somtyds, onpeilbare pyn wat vir ‘n oomblik uit haar, uit haar oë of uit ‘n sin geflits het. Te min om ‘n mens te verskrik, maar genoeg om daarna te besef wat dit eintlik werklik was. En dit was veral haar stil kyk, haar sagte, breekbare oë wat soms selfs hartverskeurende na jou kon kyk wat, ek nou, vandag, terugskouend by haar raakgesien het. En nooit werklik kon peil nie.
Sy het af en toe verskoning gesoek om by my op kantoor te kom. Dan het sy stil-weg daar gesit terwyl ons oor ‘n onderwerp praat wat haar geïnteresseer het. Maar nooit het sy baie te sê gehad het nie, eerder geluister.
Soms het ek die indruk gekry dat sy op die punt was om vir my iets te vertel. Maar dan, weer, het dit vir my amper gelyk asof iets haar terughou – iets wat sy nie uit haar stil, beheersde liggaam, besef ek vandag, kon uitwurg nie.
As ek maar tóé net bietjie meer ingevra het.
Sy het jaar na jaar vir haar dieper ingewerk in die kursus. Uiteindelik het sy die derdejaar afgehandel. Sy het met lof geslaag. Maar toe in ‘n rigting gegaan waar sy met boeke gewerk het. Sy moes immers ‘n werk kry en met die na-graadse kwalifikasie in daardie rigting sou sy darem ‘n goeie inkomste verdien. En sou sy terselfdertyd in haar sagte, stil boeke-wêreld die vredige paradys vind, het ek gedink, wat sy kennelik deur baie tekens, uitgewys het as haar groot begeerte en verlange. Ek was tevrede en bly vir haar onthalwe.
Ek het haar so af en toe nog raak geloop – daardie volgende tyd wat sy nie meer my student was nie. Maar ons het nie ooit weer ‘n kans gekry om te gesels nie. Haar lewe het ‘n ander loop geneem. En sy was van toe af maar net een van baie van my oud-studente.
En toe, nadat sy van die kampus weg is en nadat ons ook verhuis het, kruis ons paaie op ‘n dag weer heel onverwags. Sy was tien jaar ouer, maar nog steeds inkennig. Ons het mekaar af en toe daarna iewers vir ‘n oomblik of twee raakgeloop, maar daar was nooit weer kans om te kon gesels oor die dinge waaroor sy altyd diep nagedink het en soms by my kom bepraat het nie.
Ek onthou die heel laaste keer toe ek haar gesien het: ons het mekaar in die biblioteek waar sy gewerk het, raakgeloop. Sy was haastig op pad iewers heen, maar het tog dadelik gaan staan om my met haar bedaarde, ingehoude vriendelikheid te groet.
Nou, as ek aan daardie oomblikke terugdink, is dit vir my asof ek my verbeel dat ek na haar gekyk het en probeer dink het wat dit aan haar was wat my opgeval het en my hart vir die flitsende sekonde donker laat saamtrek het: In haar oë het ek nie meer vrae gesien nie. Sy was, dink ek nou, nie meer soekend nie. Ek het net leegheid, ‘n oewerlose leegheid opgemerk. Dit was asof haar oë ook in glas gestol het.
‘n Kor rukkie later hoor ek dat sy dood is. Sy het ‘n briefie agtergelaat waarin sy na buite vertel het dat sy na soveel jare die stryd opgee. Sy kon nie verder nie. Sy het net nie meer die lig gesien nie. Nadat sy in haar matriekjaar verkrag is, een stil nag, in haar eie huis, deur ‘n kennis, het sy oor jare heen hard op haar eie probeer terugveg. Maar sy kon die herinneringe daaraan nooit afskud nie. Uiteindelik het die donkerte haar oorweldig.
As ons maar net geweet het...
En as die verhaal ons tog net kan motiveer om geweld teen vroue en teen kinders en teen mense meer as ooit genadeloos te beveg. En om veilige plekke te skep waar die weerloses onder ons, hoe sterk hulle ook al verstandelik mag wees, ‘n skuiling kan gaan vind, hulle hart onbedreigd kan uitpraat by mense wat verstaan, verseker kan word dat dit nie húlle skande is nie, dat dit nie húlle skuld is nie – maar die skande van ‘n maatskappy wat geweld en verkragtig as onvermydelik en as ‘n “normale” deel van die kriminele toneel aanvaar. Of wat dit as ‘n deel van die lewe sien wat ‘n mens veral aan mens naby jou ongestrafd kan doen. En wat heimlik dink vroue soek om verkrag te word en geniet dit selfs stilletjies. En wat dink vroue wat verkrag, is smerig en skuldig. En die skande van ‘n land wat leiers het wat arrogant kan vertel dat daar vroue is wat verkragting geniet. Mag God hierdie verkragters en gewelddadiges en goedpraters genadeloos straf, roep my hart uit.
Ek is dankbaar dat vroue in ons land ten minste in teorie uiteindelik as mense geag word.
En oor die vrou wat nie meer kans gesien het nie:
Rus sag. Sag soos jou sagte oë wat stil bly smeek het om hulp wat niemand ooit kon dink het om vir jou te gee nie. Mag jy in die sagte Lig van die Een wat volmaak en vredig lief het, jou paradys vind. By Hom, die Vader, die Beeld van wat ‘n mens moet wees, is jy veilig – so veilig soos jy nooit kon dink jy ooit weer sou kon wees nie. Moederlik sal die Ewige jou vashou, in die liefdesomhelsing wat niemand jou kon bied nie. Rus sag.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
March
(29)
- Troos in lyding
- Hy wou sy eie pilletjie drink toe hy hoor hy het d...
- Geloof as waagstuk. Om oratief te waak.
- Groei in bewussyn.
- Dan sal ons nie meer vrae vra nie. Gedagtes oor di...
- Liefde verdryf skuldgevoelens
- Alles en niks
- Die onuitspreeklike lewe by God in die toekoms
- "Soms het ek die indruk gekry dat sy op die punt w...
- Moet jy vir jou vrou blomme gee en jou stoel aanbi...
- Die deurboorde hart. Oor ‘n nuwe manier van geloof.
- Mag, die Broederbond en 'n Nuwe Boek
- Hulle lewens spreek boekdele.... Oor die opstandin...
- 'n Mens kan God se goedheid sien sonder om dit te ...
- Paulus en die mistiek.
- Die gelaat van God in die barheid van armoede.
- Wanneer 'n mens te vroom raak. Oor die besetene va...
- Die twee vreemde jongmans in Markus se Evangelie
- Wanner 'n mens vreemde keuses vir God maak.
- Paradys (2)
- Paradys....
- Boeke
- Markus en die Opstanding
- Die teenwoordigheid van die liefde in ons taal.
- Om jou innerlike demone te besweer.
- Hy het sy hele lewe lank net een keer met sy seun ...
- Heilige nar van God. Oor die “gawe van trane” as ‘...
- Kontemplasie.
- Die eerste Christelike kontemplasie. Oor die liefd...
-
▼
March
(29)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.