Wednesday, March 03, 2010

Heilige nar van God. Oor die “gawe van trane” as ‘n spirituele charisma.

Ek lees vandag ‘n paar werke oor die “gawe van trane.” Die Encyclopedie van de mystiek bespreek dit in die konteks van buitengewone emosies en ervaringe. In die Engelse wêreld word die gawe van trane veral geassossieer met Margery Kempe uit die laat veertiende, begin vyftiende eeu. Sy is by tye oorweldig deur haar emosies en het onbedaarlik aan die huil gegaan by die boodskap van Christus se lyding.

Trane word natuurlik meer dikwels veral verbind met ‘n innerlike berou en sondebewussyn – soos byvoorbeeld dikwels met opwekkingsgebeure gerapporteer word. Ook oor die ontstaan van die Pinksterbidure word daar baie verhale van tonele van huilende gemeentes geskets.

Die probleem met sulke emosionele reaksies is dat mense hoogs ongemaklik daaroor voel. Hulle beskou dit as ‘n teken van onstabiliteit, van massa-histerie of selfs van ‘n geestesgebrek of ander sommer net as aansitterigheid.

Ek herinner my ‘n toneel tydens ‘n nagmaalsviering in ons gemeente waar ‘n vrou by die uitdeel van die elemente en die gebruik van die brood onophoudelik aan die huil gegaan het. ‘n Klomp mense het haar daarvoor kwalik geneem en haar van onstabiliteit beskuldig, al het sy haarself so sterk as moontlik bedwing. Ek het geen twyfel dat sy ‘n intense geestelike ervaring gehad het nie.

Nog ‘n vriendin, wat ek gewoonlik as ‘n nugter en oop mens beskou, vertel vir my eendag in ‘n sagte, stil gesprek byna beskroomd hoedat sy, in ‘n sekere fase van haar lewe, in kerkdienste gaan sit het net om te vind dat sy nie beheer oor haar trane het nie. Sy het so gehuil dat sy self nie geweet het hoe om dit te hanteer nie. Sy vertel dat dit eers verbygegaan het toe ‘n baie simpatieke predikant met ‘n heel besondere spiritualiteit wat haar innerlike emosies diens na diens raakgesien het, na haar gekom het, haar hand geneem het en vir haar in die openbaar met ‘n woord van vertroosting innerlike heling laat ervaar het.

Hoe oordeel ‘n mens nou hieroor tog? Dikwels verwar mense spiritualiteit met emosies – asof ‘n mens net jou geloof kan beleef as jy emosioneel is. Jy moet dan bly wees, huil, lag, rou of juig. En sekerlik kan mense op ‘n oppervlakkige en selfs goedkoop manier ‘n spektakel maak van iets wat besonder intiem behoort te wees. Maar spiritualiteit is lank nie net emosies nie. Dit gaan oor ervaring. En ervaring kan nogal on-emosioneel wees. Tog is emosies wel ‘n komponent van spiritualiteit. En daardie rots van ‘n man, Petrus, het met sy verraad bitter trane gestort. Ook Jesus het by Lasarus se graf gehuil. En Maria was blind van droefheid in die tuin op die oggend van die opstanding.

Maar die gawe van trane? En ‘n onbeheersde gehuil? Veral in ons gereserveerde, stil geloofsbelewing verinnerlik ons meestal ons trane. ‘n Goeie begrafnis is vir ons ‘n geleentheid waar “waardig” gerou word. Ons hou eintlik nie regtig van ‘n gedoe nie.

Maar die Gees waai waar hy wil.

Ek onthou hoe mense harteloos gekla het oor die vrou wat tydens die nagmaalsdiens aan die huil gegaan het. En hoe hulle smalende opmerkings daaroor gemaak het.

Wat my laat dink aan ons maklike veroordeling van ander. En toe ook sommer aan een van die gootste romans van alle tye. Die beroemdste voorbeeld van iemand wat ‘n nar van God was, is die figuur van Prins Mishkin uit Die Idioot van Dostojewski. Hy is ‘n eenvoudige mens, maar word deur almal om hom as naïef en dom bespot. Hulle het hom as ‘n belaglike figuur uitgemaak.

In werklikheid is hy onberispelik eerlik, uiters verdraagsaam, liefdevol en beskermend teenoor almal om hom. Hy wys nooit ‘n vinger van veroordeling na iemand nie. Hy lei ‘n ongekompliseerde, eenvoudige lewe wat sterk kontrasteer met die selfsugtige, egoïstiese en materialistiese lewe van almal met wie hy te doen kry. Hy het ‘n egte, spontane deernisvolle manier van lewe gehad.

Terselfdertyd leef sy spotters, hierdie selfsugtige mense, ook in duidelik onvrede met hulleself en verag hulle hulself heimlik vir die nare mense wat hulle is. Terwyl hy eg menslik is, breek hulle menslikheid af. Niks weerhou hulle om Prins Mishkin as ‘n nar uit te maak nie. In werklikheid egter is hy ‘n heilige wat uitstyg bo almal om hom omdat hy gedryf word deur liefde.

Dostojewski is, soos bekend is, deur Kierkegaard beïnvloed. En Kierkegaard was gedryf deur die liefde, maar ook deur die ideaal van die egte lewensstyl. ‘n Mens moet leef soos God wil hê jy moet leef. En dikwels sal ‘n egte lewe die maatstawwe van die wêreld hartgrondiglik bevraagteken.

Een van die beroemdste voorbeelde van ‘n “nar van God” was Franciscus van Assissi. Hy het homself ‘n voorwerp van bespotting gemaak uit meegevoel vir die bespotting van Jesus aan die kruis. Mense om hom het gedink hy is van sy kop af. Maar hy het ‘n lewe van eenvoud begin voer, van egte menslikheid wat sewe eeue later nog groot invloed op ons wêreld uitoefen.

Ons kan miskien, in ons tyd, veral met sy oppervlakkige, harde aanpak, dalk doen met die gawe van trane. Dalk is daar te min narre van God onder ons.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive