Sunday, March 28, 2010

Groei in bewussyn.

Uit Alaric Lewis se Seisoen van Heel Word:

13 April

“Met wysheid en teen ‘n langsame pas. Hulle wat vinnig hardloop, struikel.”

William Shakespeare

Die uitvinding van die mikrogolf het ons lewenswyse nogal ingrypend verander. Verby is die dae dat dit ‘n driekwartier geneem het om ‘n ete voor te berei. Nou kan ons alles in tien minute klaar maak: enige iets waarvoor ons lus het, kan ons daarin inlaai, die knop draai, die borde regpak terwyl ons wag en dan sommer net daar inskep. Dikwels dink en verwag ons dat alles in die lewe nou so maklik klaar gemaak kan word. Ons het die mikrogolf-mentaliteit van die gejaagde, kitswêreld waarin ons nou lewe, oorgeneem en ons eie gemaak.

God se weg is natuurlik anders. As ons wêreld die beeld van die mikrogolf voorhou as die norm, is die beeld van God se verhouding met ons eerder dié van ‘n stadig pruttende bredie wat deur ‘n geduldige kok liefdevol gepamperlang word om seker te maak dat al die bestanddele – soet en bitter – genoeg tyd neem om die smaak deeglik uit te bring. Ons hou dalk nie van die smaak van al die bestanddele nie, maar as ons die kok vertrou, weet ons dat ons uiteindelik heerlik versadig sal wees.


Ek hou van hierdie eenvoudige beeld van Lewis. Dit laat my aan spiritualiteit as 'n proses dink. Maar ook - dat ons verhouding met God iewers oor 'n lang tyd beproe en bewustelik bedink moet word. Dit sluit onder andere in dat ons ook die kwaad moet kan verstaan in die lig van God se verhouding met ons.


Lyding, soos ons in die Hebreerbrief lees, bring ons byvoorbeeld tot groter volwassenheid. Maar daarvoor moet ons bewus wees en groei in lyding as 'n tugmeester tot Christus.


Dit is nie maklik nie. Lyding moet 'n mens nie goedpraat nie. Maar lyding kan wel deeglik, soos die lydenstyd ons laat ervaar, iewers ook dankbaar ervaar en aanvaar word - hoe moeilik dit ook al lyk.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive