Evelyn Underhill (1875-1941) se boek “The Mystics of the church” is een van die bekendste publikasies uit die vorige eeu. Sy was ‘n merkwaardige vrou. Sy was die eerste vrou wat by Oxford ‘n reeks teologiese lesings gehou het (in 1921). Maar sy is veral ‘n boeiende skryfster wat op ‘n eenvoudige manier die moeilikste aspekte van die geskiedenis van die mistiek beskryf het. Sheldrake beskryf haar byvoorbeeld as die mees gelese Engelse skrywer oor mistiek.
Die boek is ‘n wonderlike inleiding in die geskiedenis van die mistiek en beskryf al die groot mistici deur die eeue heen. Dit begin met ‘n hoofstuk oor die mistiek in die Bybel. Sy wys daarin byvoorbeeld op die merkwaardige 2 Korintiërs 5:13 waar Paulus na sy ekstatiese ervaringe verwys as hy skryf: “Want as ons uitsinnig is, is dit tot eer van God; en as ons by ons verstand is, is dit om julle ontwil.” Die Nuwe Vertaling lui: “As ons in geestesvervoering was, was dit vir God, en as ons by ons verstand is, is ons dit vir julle.” Sy skryf hoe merkwaardig dit is dat Paulus so “sober” en selfs afstandelik van sy mistieke ervaring praat. Hoewel hy ‘n mistikus was, skryf sy, sal ons ‘n groot fout maak as ons Paulus se mistiek sensasionaliseer. (Underhill was maar skepties oor mistiek wat nie ‘n praktiese karakter gehad het nie).
Underhill verwys nie na 2 Korintiërs 12:2 nie. Hier sien ‘n mens ook die terughoudendheid waarvan sy praat: Paulus skryf heel indirek en baie kortliks oor homself as ‘n man wat 14 jaar vroeër “weggeruk is tot in die derde hemel.” Hy is weggeruk “tot in die Paradys” en het “onuitspreeklike woorde gehoor wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.” Paulus is egter, hoewel hy self mistieke ervarings gehad het, krities oor die ekstatiese verskynsels onder gelowiges, veral as dit die liefde bedreig en twis veroorsaak.
Maar ek is vandag veral getref deur wat sy oor Filippense 4:13 skryf. Sy sê ons het jammerlik genoeg hierdie kragtige vers tot goedkoop vroomheid afgewater. Eintlik is dit ‘n merkwaardige vers wanneer ons dit binne Paulus se bediening verstaan. Paulus maak sy uitspraak dat hy tot alles in staat is deur Christus wat hom krag gee in die konteks van ‘n brief uit die tronk. As ‘n mens Paulus se lewe bekyk sien ‘n mens inderdaad onvoorstelbare volharding: Hy het jare lank as apostel vervolging gely, ontberinge ervaar en was kronies siek. In hierdie tye van sy apostelskap is hy gegesel, gestenig, opgesluit in tronke terwyl hy die een gevaar na die ander getrotseer het. Paulus skryf juis in 2 Korintiërs 11:26-27 oor sy lewe van ontberings. Dit is in hierdie konteks dat hy skryf dat hy alles kan doen vanuit sy noue, intieme verbintenis met Christus en dat hy vir sy lesers insig bied in dit wat hom gedryf het en aan die lewe gehou het.
Underhill verbind hierdie krag in Paulus se lewe met Paulus se beroemde voorstelling van die “nuwe mens” wat gelowiges in Christus word. Paulus het dus het ‘n nuwe lewe ontvang waarin hy homself prysgegee het, sy eie belange opgeoffer het en deurtrek is met ‘n energieke krag en vryheid. Dit is nie slim wyshede wat hy hier kwyt raak nie. Hy praat hier ook nie groot teologie nie. Hy praat uit sy hart uit, gee die lewe ‘n kykie in sy geloofservaring, onthul sy spiritualiteit. Heel eenvoudig word die verborgene meegedeel – dat Christus “in” hom “leef.” Ons herken, skryf Underhill, in sy briewe en in sy lewe die oorvloedige genade as ‘n vrye gawe (Romeine 5:17). Hierdie genade werk in mense se lewens, dit bemagtig, inspireer, dryf, vuur aan, laat ‘n mens vasbyt en spoor aan ook in tye van donkerte en swaarkry.
Dit is die mistieke teenwoordigheid van Christus in sy lewe wat hom tot totale oorgawe bring, wat hom die allergrootste gevare laat trotseer, wat hom aanspoor en dryf om die evangelie van liefde uit te dra.
Sy skryf:
Met Paulus se woorde in Filippense 5:13 oor Christus wat hom alles kan laat doen, “sien ons die begin van ‘n ervaring in die geskiedenis van die Christendom wat ‘n mens moeilik kan oorskat: Benediktus wat prakties alleen die tekstuur van die Christelike askese tot stand bring; Bernard wat eintlik die onmoontlike by Clairvaux doen; Ignatius van Lojola wat feitlik sonder ‘n sent en al strompelende van Parys na Rome stap, aangedryf deur sy roeping; Elizabeth Fry in Newgate; Livingstone in Afrika – almal word aangedryf deur die daadwerklike, maar verborge mag wat hulle ervaar en aanspoor. “
Só skryf sy oor Paulus ‘n paar inleidende woorde voordat sy in meer diepte op sy briewe ingaan.
Hoe lank tog het ons die mistiek in Paulus misgelees. En ons self in die proses verarm.
En daar is nog soveel om te bedink: Wat my opval, terwyl ek haar lees, is hoedat Paulus se mistieke opmerking oor sy uitsinnigheid en Geestesvervoering gevolg word in 2 Korintiërs 5:14 se uitspraak oor “die liefde van Christus” wat hom “dring.” En dan skryf hy daardie merkwaardige gedeelte in verse 15-19 wat seker een van die belangrikste gedeeltes in die Bybel is. In daardie verse word die hart van die evangelie uitgespel. Dit is asof Paulus in die konteks van diepe nadenke oor sy ervaring van die verborge en kragtige werking van God se gees, die rykdom van die evangelie dieper besef. As hy skryf oor hoe initem God se werking in sy lewe is, dan maak dit in hom dieper insigte en verstaan los. By 2 Korintiërs 5:17-19, een van my gunsteling-gedeeltes, is ons by die bron van die lewe.
En die een ding lei na die ander: As ons dit eers doen en agterkom hoe intiem die mistiek verbind is met die liefde van Christus wat ons dring (Bernard!), kry ‘n mens ook nuwe insig in daardie ewe beroemde gedeelte in 1 Korintiërs 13 wat die teenpool is teenoor mense wat geesdryf – maar in die proses die Evangelie skade aandoen en die gemeente in partyskappe verdeel.
Underhill skryf een van die groot klassieke werke oor die msitiek. Sheldrake, het ons verlede week gesien, skryf ‘n goeie boek oor die geskiedenis van spiritualiteit. Maar met Underhill het ‘n mens ongetwyfeld iemand wat die mistiek geken het – van binne uit. En haar boek wat so eenvoudigweg haar betrokkenheid by haar werk uitbeeld, bied 'n mens insig in 'n fokuspunt in die spiritualiteit. Met die mistiek is 'n mens by die hart van die spiritualiteit - en van die Evangelie.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
March
(29)
- Troos in lyding
- Hy wou sy eie pilletjie drink toe hy hoor hy het d...
- Geloof as waagstuk. Om oratief te waak.
- Groei in bewussyn.
- Dan sal ons nie meer vrae vra nie. Gedagtes oor di...
- Liefde verdryf skuldgevoelens
- Alles en niks
- Die onuitspreeklike lewe by God in die toekoms
- "Soms het ek die indruk gekry dat sy op die punt w...
- Moet jy vir jou vrou blomme gee en jou stoel aanbi...
- Die deurboorde hart. Oor ‘n nuwe manier van geloof.
- Mag, die Broederbond en 'n Nuwe Boek
- Hulle lewens spreek boekdele.... Oor die opstandin...
- 'n Mens kan God se goedheid sien sonder om dit te ...
- Paulus en die mistiek.
- Die gelaat van God in die barheid van armoede.
- Wanneer 'n mens te vroom raak. Oor die besetene va...
- Die twee vreemde jongmans in Markus se Evangelie
- Wanner 'n mens vreemde keuses vir God maak.
- Paradys (2)
- Paradys....
- Boeke
- Markus en die Opstanding
- Die teenwoordigheid van die liefde in ons taal.
- Om jou innerlike demone te besweer.
- Hy het sy hele lewe lank net een keer met sy seun ...
- Heilige nar van God. Oor die “gawe van trane” as ‘...
- Kontemplasie.
- Die eerste Christelike kontemplasie. Oor die liefd...
-
▼
March
(29)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.