Sunday, March 14, 2010

Die twee vreemde jongmans in Markus se Evangelie

By die lees van Markus 16 oorheers die vroue gewoonlik vir ons die verhaal. Ons sien hulle vrees raak: “bewing en ontsetting het hulle aangegryp.” Só eindig Markus Evangelie. Ons is veral verbaas dat die vroue so reageer op "blye" nuus. En dat die Evangelie op hierdie "vreemde", verborge manier eindig.

Maar dit is iewers nie regverdig teenoor die hoofstuk om dit so te lees nie. Eintlik is die belangrike karakter daarin eerder die “jongman met ‘n lang wit kleed om” (Markus 16:5).

Die vroue reageer immers op wat hy vir hulle vertel. Dit is hy wat dinge "aan die gang" sit en wie se optrede 'n kettingreaksie op tou sit. Die vroue skrik al groot toe hulle hom sien. En eintlik oorheers hy die verhaal: Die jongman is die een wat weet wat aangaan. Teenoor die vroue se angs, is hy 'n figuur wat gerustheid, insig en sekerheid uitstraal.

Ons vergeet skoon van hom. En dit is jammer. Want hy speel 'n sleutelrol en laat ons 'n deurslaggewende aspek van die opstanding verstaan.

Dit is vreemd dat ons so gou van hom vergeet. In werklikheid behoort hy juis ons aandag te trek. Hy is immers 'n rare karakter. Juis en veral omdat hy so 'n doodgewone persoon is, val hy op. Hier, op die hoogtepunt van die evangelie, is die een wat alles weet 'n gewone knaap. Dit merk ons al uit die Markus se Griekse woord vir “jongman.” Hy noem hom 'n "neanivskon." Dit is ‘n woord wat gebruik word om ‘n seun of 'n mens van jeugdige ouderdom te beskryf.
Mense wat die teks vinnig lees nie, dink gewoonlik hy is ‘n engel. Maar die Griekse woord is duidelik nie die woord vir engel wat elders in Markus gebruik word nie (bv in Markus 1:13).

Hierdie “onbekende” jongman trek dus normaalweg nie baie aandag nie. Ons lees skoon bo-oor hom.

Waarom vertel Markus juis op hierdie uiters belangrike oomblik dat die vroue-dissipels Jesus se opstanding ontdek, vir sy lesers van hierdie jongman?

Gewoonlik weet lesers nie waarom nie.
Waar begin 'n mens tog om uit te vind wie hy is? Want Markus gee vir ons nooit 'n naam met wie ons hom kan identifiseer of verbind nie. Hy is anoniem.

Dit is ook raar dat ons maar sukkel. Want ons hoef nie te ver te soek om 'n antwoord te kry nie. 'n Mens hoef die Evangelie net fyn te lees om agter te kom wat hier aangaan.

Die sleutel tot die antwoord kry ‘n mens uit hierdie woord wat vir “jongman” gebruik word.

Die woord kom nie dikwels in die Nuwe Testament voor nie. In Markus kom dit in Markus 16:5 en verder slegs in Markus 14:50 voor. Daar in Markus 14 word ook net so ‘n vreemde verhaal vertel: Nadat Markus 14:50 vertel dat al Jesus se dissipels Hom verlaat en gevlug het, volg in Markus 14:50 die volgende verhaal:

“En ‘n sekere jongman met ‘n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg; en die jongmanne het hom gegryp; maar hy het die linnedoek laat staan en naak van hulle weggevlug.”

Ons het net hierdie twee verhale oor jongmanne in Markus Evangelie. Die een oor ‘n jongman vóór Jesus se dood en die ander oor ‘n jongman ná Jesus se dood.

Dit is raar. Markus praat dikwels oor die dissipels, die vroue, die opponente van Jesus, mense wat Jesus volg. Maar hy praat net twee keer oor 'n jongman.

Môre meer hieroor.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive