Saturday, April 30, 2011

Die onderskeiding van die geeste en van God se wil (2)





Spiritualiteit gaan oor die geestelike reis wat die mens aflê. God knoop ‘n verhouding met die mens aan wat hom of haar transformeer in ‘n proses wat gedurig aan die gang is.

Maar dit is net die breë trekke van Spiritualiteit. Hierdie geestelike reis kan op baie maniere afgelê word en ken dikwels baie afdraaipaadjies. Dit groot vraag is dus: hoe verloop die reis? Hoe word die mens getransformeer? Wanneer is die geestelike reis na ‘n doodloopstraat op pad? Hoe verloop die verhouding tussen God en mens?

Wanneer ‘n mens hierdie vrae vra, is jy besig met “onderskeiding” (discernment). Cassianus se beeld van die goue muntstuk verduidelik dit: die mens moet steeds weer die geestelike reis weeg, net soos ‘n goudhandelaar ‘n goue muntstuk deeglik bekyk voordat hy of sy dit aankoop.

Die eerste ding wat ‘n goudhandelaar doen is om te sorg dat die munt werklik goud is en nie koper nie. Albei munte kan blink en helder skyn, maar net een van die twee is werklik van goud. Net so moet ‘n mens onderskei of die geestelike reis waardevol of nikswerd is. Dit doen ‘n mens deur te onderskei of die geestelike reis nuwe lewe bring of uitloop op ‘n doodloopstraat.

Hier is ‘n verdere beeld ter sprake: in die Bybel word daar dikwels van die twee weë gepraat. ‘n Mens onderskei twee weë soos wat ‘n goudhandelaar sal kyk of ‘n muntstuk goud of koper is.

    1  Waar lees ‘n mens van die twee weë in die Bybel?

Hiervoor is daar baie bewysplekke: Psalm 1:6 praat helder hieroor. “Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.” Nog ‘n voorbeeld, skryf Waaijman, kry ‘n mens in Deurteronomium 11:16-28: “Let op, ek hou julle vandag die seën en die straf voor: die seën sal kom as julle die gebooie van die Here julle God gehoorsaam, wat ek julle vandag gee; die straf sal kom as julle ongehoorsaam is aan die gebooie van die Here julle God wat ek julle vandag aangewys het en die pad verlaat wat ek julle vandag aangewys het en ander gode aanhang waarvan julle nou nog nie eers weet nie."

    2.      Om twee weë te herken en te onderskei volgens die Bybel

Die mens het eersten ‘n vermoë om te onderskei tussen ‘n weg tot die lewe en ‘n weg tot die dood. Die mens het, skryf Waaijman, die taak om goed na te dink (sien Jer.2:10). Die onderskeiding is, tweedens, nie altyd maklik nie. Op die oppervlakte kan dinge dikwels dieselfde lyk. ‘n Mens kan soms ‘n maaltyd eet sonder om te besef dat dit eintlik die nagmaal is – soos Paulus die Korintiërs in 1 Kor. 11:29 vermaan. En hierdie gebrek aan insig het die ernstige gevolg dat ‘n mens ‘n oordeel oor jouself kan bring.

Kyk maar hoe intens praat die skrywer van die Hebreër-brief met mense wat nog die geestelike reis aflê: sommige mense leef van melk, ander mense kan al vaste voedsel eet. Die verskil is dat mense wat van melk leef, “kan nie samapraat or wat reg of verkeerd is nie.” “Vaste kos”, daarenteen, “is vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei” (Heb.5:11-14). Almal lê die geestelike reis af, maar sommige mense ontwikkel deur ervaring en insig die vermoë om meer volwasse te kan onderskei tussen die goeie en die kwaad.

Maar, derdens, al het die mens die vermoë om te onderskei, is hierdie vermoë intiem gekoppel aan die genade van God. Vir hierdie onderskeiding is ‘n mens van God afhanklik. Dit is ‘n onderskeiding wat ten nouste met kontemplasie gepaard gaan. Daarom is ‘n mens altyd biddend, reflektief, kontemplerend om die wil van God te onderskei. Psalm 119 is deurvleg met gebede tot God om insig in die wil van God: “Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam” (vers 34). Of: “gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan” (vers 73). Of: “U verordeninge is altyd regverdig; gee my insig daarin, dat ek kan lewe” (vers 144).

Hierdie Skrifgegewens oor die onderskeiding van die geeste was vir die latere geestelike reisigers van groot belang en hulle het sterk daarop uitgebrei, soos die tradisie dit uitwys. Hieroor later meer.

Friday, April 29, 2011

'n Koninklike troue en die Bybel





Die troue, vandag, in die Westminster Abdy, was ‘n stemmige, klassieke en perfek georganiseerde gebeurtenis. Die Engelse is meesters in klas, gee ek, wat maar skepties is oor koninklikheid en adel-ary, toe. 

Rykdom, prag, praal, roem, eeue se geskiedenis, al die bekendes en befaamdes van hierdie wêreld het vandag in London saamgekom in ‘n seremonie wat ook in sy ironiese eenvoud, mooi was.

Die prediker het met ‘n aanhaling van Katariena van Siena begin en sy kernboodskap het gewys hy weet wat spiritualiteit is: hy het onderstreep dat die liefde mense transformeer tot groot hoogtes, as dit maar egte liefde is en nie manipulasie van mekaar nie. 

Maar onder al die prag en praal was die eenvoud van die Skrifwoorde vir my die roerendste. Elke gedeelte uit die Skrif was ryk, gelouterd, gelaaid met betekenis in ‘n geleentheid wat ‘n mens weer laat besef het hoe spesiaal die liefde is wat mense voor God in ‘n heilige ruimte wil laat seën.

Ek kan nie verstaan hoe mense Romeine 12 so kan miskyk nie. Dit is maklik een van die aangrypendste dele in die Nuwe Testament. En toe die bruid se broer helder en mooi die gedeelte voorlees, het die woorde wat Paulus destyds geskryf het om die spiritualiteit van die Romeinse heiden-Christene te begelei, oor die eeue heen bly klink met onmiskenbare krag en impak. Watter teks....  (En, in die lyn van die blogs wat ek wil skryf oor onderskeiding van God se wil, ‘n gedeelte wat so helder daaroor skryf.)

Die Engels is uit die New Revised Standard Version. Mooi en sag op die oor. Maar wat my opval, is hoe die teks netjies vir die geleentheid “verpak” is. Die onderstreepte gedeeltes in kursief het die mense in die abdy nie gehoor nie. Iets om oor na te dink – diep na te dink. Kyk maar self wat weggelaat is. Só voel mense, moderne mense, mense met mag en roem, oor die Bybel. Mooi dankie, maar nee dankie...

Ook interessant is hoe die vertalers die gedeelte met twee opskrifte interpreteer: Die nuwe lewe en kenmerke van ‘n ware Christen! (die opskrifte is ook weggelaat).

Hier is die teks: 



The New Life in Christ

12I appeal to you therefore, brothers and sisters,* by the mercies of God, to present your bodies as a living sacrifice, holy and acceptable to God, which is your spiritual* worship. 2Do not be conformed to this world,* but be transformed by the renewing of your minds, so that you may discern what is the will of God—what is good and acceptable and perfect.*

3 For by the grace given to me I say to everyone among you not to think of yourself more highly than you ought to think, but to think with sober judgement, each according to the measure of faith that God has assigned. 4 For as in one body we have many members, and not all the members have the same function, 5 so we, who are many, are one body in Christ, and individually we are members one of another. 6 We have gifts that differ according to the grace given to us: prophecy, in proportion to faith; 7 ministry, in ministering; the teacher, in teaching; 8the exhorter, in exhortation; the giver, in generosity; the leader, in diligence; the compassionate, in cheerfulness.
Marks of the True Christian

9 Let love be genuine; hate what is evil, hold fast to what is good; 10love one another with mutual affection; outdo one another in showing honour. 11Do not lag in zeal, be ardent in spirit, serve the Lord. 12 Rejoice in hope, be patient in suffering, persevere in prayer. 13Contribute to the needs of the saints; extend hospitality to strangers.

14 Bless those who persecute you; bless and do not curse them. 15 Rejoice with those who rejoice, weep with those who weep. 16 Live in harmony with one another; do not be haughty, but associate with the lowly; do not claim to be wiser than you are. 17 Do not repay anyone evil for evil, but take thought for what is noble in the sight of all. 18 If it is possible, so far as it depends on you, live peaceably with all. 19 Beloved, never avenge yourselves, but leave room for the wrath of God for it is written, ‘Vengeance is mine, I will repay, says the Lord.’ 20 No, ‘if your enemies are hungry, feed them; if they are thirsty, give them something to drink; for by doing this you will heap burning coals on their heads.’ 21Do not be overcome by evil, but overcome evil with good.

Thursday, April 28, 2011

Die onderskeiding van die geeste. Oor die wil van God (1).


Spiritualiteit gaan om geloof wat beleef word. Dit het te doen met die geestelike weg wat mense aflê. Maar ‘n mens stap nie sommer blindelings die weg nie. En geloof is nie maar net om dom-weg aan iets vas te hou nie, asof ‘n mens maar net moet glo en alles sal vanself regkom.

‘n Geestelike weg kan soms op ‘n dwaalspoor beland. Geloof kan soms beleef word tot groot skade van ‘n mens self of van mense naby aan die gelowige. Soms moet ‘n mens diep dink oor wat geloof van ‘n mens vra en waarheen dit jou neem. Partykeer word ‘n mens tot stilstand gedwing met vrae oor die sinvolheid van geestelike oefeninge waarmee ‘n mens besig is. Nog dieper vra baie mense dikwels die vraag na die werking van God: hoe werk God? Hoe ontdek ‘n mens God se wil? Op dieselfde manier kan ‘n mens ook begin nadink oor dinge wat ‘n mens self doen. Wat word van mense in hul geloofsreis gevra? Alles gaan hier oor die onderskeiding (“discernment”) van God se wil vir die lewe.

Al hierdie vrae beteken dat ‘n mens soms ‘n bietjie moet terugstaan en begin dink oor die belewing van geloof. Daar kom ‘n “kritiese” afstand tussen geloofservaring wanneer ‘n mens begin nadink, kontempleer en besin daaroor. Dit is die tyd van vrae vra, nadink, bid, besin, wonder – juis om te kan groei en juis om ‘n egte geloof te ontwikkel.

In die ou dae is sulke soort vrae in die konteks van die kerk byvoorbeeld bedink in die sogenaamde “kategismusprediking”.  Predikante was verplig om ten minste 12 keer ‘n jaar sulke diepsinnige, ingeligte en inhoudryke preke te hou. Hulle moes verslag doen aan die ring en die kerkraad moes ‘n wakende ogie hou. Hier het hulle gewoonlik die moeiliker vrae in die geestelike lewe van mense aangespreek. Tragies, soms het dit in allerhande haarklowery verval; nog meer tragies, dikwels word hierdie noodsaaklike dieper nadenke geïgnoreer en kry die geestelike honger lidmate mooi gevoelsstories en dieet-arme kitskos in plaas van die vaste voedsel wat geestelike groei aanhelp.

Maar dit is ook die tipe vrae wat in Bybelstudie-groepe na vore kom, of wat mense bedink wanneer hulle geestelike werke koop en lees. Hoe honger die mens wat op weg is met God elke dag om antwoorde op worstelvrae. Die geloof is tog nie so vlak, asof dit gaan om seil op ‘n gladde see nie.

In die Bybel speel hierdie kritiese nadenke ‘n baie groot rol. Beproef die geeste. Pasop vir die valse Christusse. Lees dit tekens van die einde. Vers na vers, hoofstuk na hoofstuk dink na oor wat dit beteken om in die geloof te leef. ‘n Mens sou jou teologie aan die hand van onderskeiding kan ontwikkel (soos Rahner dit ook doelbewus gedoen het). Dit gaan hier om onderskeiding van die geeste. In Engels is die tegniese begrip daarvoor “discernment”. Die mens onderskei dit wat werklik saak maak in sy of haar geestelike reis. In onderskeiding wil die gelowige nadink oor wat werklik transformatief is – wat iemand omvorm tot ‘n reisiger wat op pad is na God en wat soek na volmaaktheid in die Here.

Waaijman noem ‘n paar bekende name wat groot premie op onderskeiding geplaas het. Cassianus het gepraat van ware oordeel en ware kennis wat die mens innerlik help om tot geloofskennis te kom en om geloofsbeslissings te neem. Bernard van Clairvaux het gepraat van onderskeiding as die verstand wat die liefde orden en wat help dat die liefde nie hand uitruk nie (ja – “liefde” kan soms gevaarlik wees). Ignatius weer, praat van ‘n godsdienstige ken-leer, of ‘n teologiese epistemologie, waarin iemand krities nadink oor die grense, die bewyse, die maatstawwe en die beoordelingsskema’s wat nodig is om te kom tot kennis van God se wil.

Met ander woorde, leer ons van die groot geeste, die geestelike weg is nie ‘n blindelingse voortstrompeling nie. ‘n Mens het geestelike insig nodig. Waar dit ontbreek, kan ‘n redelike groot gemors ontstaan. Ja, op ‘n punt ervaar ‘n mens God se liefdevolle aanraking. Daarsonder kan die geestelike weg nooit aan die gang kom nie. Maar steeds weer moet ‘n mens met insig nadink oor hoe lyk God se aanraking (soms kan aanrakings lyk asof dit van God kom, maar dan is daar ook min goddeliks daaraan) en wat God wil bereik in mense se lewens deur hierdie aanraking. En, hierdie insig waarna ‘n mens gedurig soek (biddende, vra ‘n mens tog telkens na God se wil), raak so baie dinge, so baie kante van ons lewe, dat dit ‘n mens intens, lank en diep besig kan hou.

Cassianus, skryf Waaijman, som hierdie proses van onderskeiding baie goed op deur ‘n maklike beeld. Iemand kom ruil ‘n goue munt by ‘n geldwissellaar in. Die geldwisselaar gaan nie sommer net daardie munt vat nie. Hy gaan eers kyk of dit regtig ‘n goue munt is en nie ‘n baie blink kopermunt nie. Hy gaan dan versigtig kontroleer of die prentjie van die koning op die munt reg is of nie. Dan gaan hy verder en ondersoek aan die hand van sekere kenmerke of die munt wettiglik gemunt is of vervals is. En verder sal hy ook die munt versigtig weeg om te kyk of die gewig korrek is.

Hierdie vier aspekte van Cassianus se beroemde beeld van die goue munt bied ‘n nuttige manier om na te dink oor die onderskeiding van God se wil. Aan die een kant ontdek ‘n mens met hierdie beeld dat die geestelike weg nie sommer net ‘n kwessie van blindelings gestrompelry is nie. ‘n Mens moet met insig hierdie pad met en na God toe loop. Trouens, daar is vele hoeke en gesigtpunte van waaruit ons kan nadink oor ons geestelike reis met en na God. Dit is eintlik so helder uit die Bybel self. Dink maar net aan al die briewe wat Paulus geskryf het (en dit is net die wat ons nog het) waarin hy sy gemeentes begelei het om God se wil vir hul lewens te onderskei. En dink maar net aan hoeveel van Paulus se opponente het van hom verskil oor hoe hy God se wil verstaan het (Petrus! Galate!).  (Hoe weet ons Paulus was reg? Hoe onderskei ons dat sy wil in ooreenstemming met God se wil is?).

Aan die ander kant is die beeld van die goue munt ‘n waardevolle leermiddel. Deur die geestelike weg vanuit hierdie vier hoeke te benader, kan ons geestelike volwassenheid en nugterheid ontwikkel.

Spiritualiteit is ryk aan inhoud. Wanneer ‘n mens oor die onderskeiding van die geeste praat, ontdek ‘n mens met verrassing watter verantwoordelikheid die geestelike reis met hom meebring. God vertrou mense om die nodige insig te ontwikkel, om as geestelik volwasse mense te leef en om gedurig weer na te dink oor hoe die verhouding met God in hul lewens die beste beleef kan word.

‘n Geestelike avontuur is dit om met insig te kan nadink oor hoe ‘n mens jou geloof beleef. Dankbaar ontdek ons dat ons geloof nie teenoor ons verstand staan nie, maar juis ons verstand heilig en deur ons verstand geheilig word. Daarom hoor ons so baie van die Heilige Gees in spiritualiteit.

Hieroor wil ek so bietjie meer skryf – aan die hand van Waaijman se vier gesigshoeke op die onderskeiding van God se wil.

Wednesday, April 27, 2011

Wees maar normaal. Oor roem en eer en gewoon-wees.

Wees normaal, waarsku die Hollanders altyd ("Doe maar gewoon"). Niks aanstellerigheid nie.

Ons ou visplekkie leef in hierdie styl van normaal wees. Niks uitstallerigheid nie. Daar is niks opsienbarends aan ons nie. Geen dramatiese pieke en berge, geen wye, oewerlose Missisipi riviere vol bote nie, niks oorweldigends nie.

Maar ons het 'n beeldskone strand met kwaai branders, unieke fynbos wat geil ons dorpie met 'n kaleidoskoopse kleur omhels. Tou-tou stap ons, pratende, met ons vrinde en ons familie in eindelose rustigheid langs die see, af rivier toe in viering van al die skoonheid wat oor ons harte uitgestort word. 

Ons leef 'n visbestaan: vang vroeg-oggend 'n seekatjie in die poeletjies, en dan ons vis vars, soutvars. En ons eet dit nog dieselfde aand, sommer so onopgesmuk gebraai op die gloeiende kole van ons pitjieshout. 

Ons lê lam en lui in die somermaande op ons wit Blouvlag-strand. Ons kla oor die bloublasies as hulle deur die oostewind strand op gespoel word en roep dankbaar die twee mensereddertjies nader as die kind skreeuend 'n slagoffer van die blou angels word. 

Ons bedui opgewonde van ons stoele op ons stoepe en ons balkonne as ons kyk na die walvisse wat in ons waters baljaar, die dolfyne wat sierlik deur branders klief en die vet seevoëls wat hul boude in die wintertyd warm op die rotse sit. Ons praat oor die jong seuns wat ewe skielik braaf begin het om, van alle plekke, reg voor ons rotse branders te ry, kan jy glo... Ons verjaag vies die orige honde wat ons gillende kiewiete wil vang en ons luister met verwondering na die hoep-hoeps wat wippende op 'n takkie neerplons en koloratuur-note so suiwer uitsing. Ons blou-groen rivier vloei stil-weg, deur ongeskonde omgewing, met water wat ewig in die oseaan uitmond, 'n vriend en 'n metgesel wat ons vertel dat sommige dinge nooit vergaan nie. 

In sy eenvoud, in sy gewoonheid, kom niks hierby nie.

Ons is gelukkig hier, by ons plekkie waarvan niemand mag weet nie. Ons soek nie vreemdelinge hier nie, inkommers en afspringers wat ons plek wil "ontwikkel" en verlewendig met disko's en allerhande satanistiese dinge en goed. Ons is skaamtelose xenofobe. Dit behoort aan ons. 

Verlede Saterdag was dit kerk-basaar. Die plekkie is droog. Dit is een van die kwaaiste droogtes in 'n lang tyd. Ons gras is uitgedor. Die omgewing roep om water. Die boere kry swaar. Dit is 'n paar mense, skaars 'n honderd of so wat bedrywig deur hierdie basaar na die materiele behoeftes van die geestelike lewe omsien. Hulle moet dubbel hard werk om teen die moeilike tye in te kan sorg.

Maar die wil is daar. En die goedgesindheid. Die basaar doen goed.

Net langs die tent van die worsbroodjies staan, sien ek, een van die jonger lidmate die hele oggend geduldig en braai. Die meeste van die tyd vertoef hy maar daar op sy eie. Hy is rustig, ongestoord en gesellig so op sy eentjie. Jy kan sien hy weet, hy is een van ons, hy is 'n visplek-bewoner in goed en bloed. Af en toe 'n paar vriende en familie wat so bietjie by hom inloer. Hy het 'n pet en 'n vet donkerbril op. En hy dra lekker golfskoene. Lyk na kwaliteit. Maar dis die voorskoot wat my oog vang. Jy kan sien, aan daardie voorskoot, hy is plaaskind, en hy weet van werk.

Deur die blou rook van die braaivleis vuur sien 'n mens hom staan, tang in die hand, besig om geduldig, op sy eie, net lekker ontspanne op hierdie heerlike herfs-oggend sy worsies op die vuur te hou en te braai. Daar is nie 'n groot toeloop nie, want dit is mos maar 'n werkerigheid om die tent te voorsien van genoeg wors vir die rolletjies en almal is aan die woel. Kuier-tyd is later. Nou is dit werk want die nag kom nader..... En die mense hou van hul vleis. Hulle wil eet. Hulle wil worsrolletjies koop. Langsaan die worsrolletjie tent is hoeka die vleistent. Die vleistafel, in kraam onder al die vleis, het maklik die langste tou van mense wat hul vrieskaste hier kom aanvul.

Daar staan hy dus langs sy drom-rooster. Hierdie jong outjie met sy groot bril, sy pet en sy lekker golfskoene. Hier is 'n mooi foto. Kyk maar net so deur die rook na hom langs die rooi baadjie.






Doe maar gewoon, vertel die Hollanders altyd. Die boere is ook maar so. Ons hou nie van airs nie, het my familie wat al vir vyf geslagte hier kom uitspan, altyd vertel as hulle so lekker kuier en deur die ritse kennisse met hul stories geryg het. En hierdie outjie vertel van gewoon-wees. Hy doen sy deel, hier, vir die basaar, op die visplekkie, aan die suidpunt van Afrika, ons plek van son en kuier en lewnsvreugde en omgee en jou deeltjie vir die kerk doen.


Ek hou ook daarvan. Veral omdat ek hom herken het. Daarom loop ek naderhand bietjie nader en vra of ek van hom 'n foto kan kry. Hy is vriendelik en pose reg. Hy is gesout vir sulke foto's. Daarom vra hy vir my of ek ook op die foto wil wees, saam met hom. Maar ek stel meer belang in sy gewoon-wees. Dit is tog mos nou 'n ding.

Hy het 'n plasie net langs ons ou visplekkie en is deel van die gemeente. Hier staan hy op 'n Saterdagoggend en braai. Doen sy deel.

Sy handelsmerk-glimlag bevestig al die foto's wat ons graag bekyk het nadat hy die Britse Ope gewen het. Dit is lekker om te sien Louis Oosthuizen se leeu-hart klop goed en gesond. Dit besef ek met bewondering toe ek Sondagoggend hoor hy is vir die Paasdiens ook in die kerk.

Die Hollanders sou hom prys. Ons visplekkie is trots. Dit is ons eerste plaaslike golfkampioen. En hier is die foto waarop hy so reg pose (terwyl die ouens op die agtergrond woel en werskaf).



Tuesday, April 26, 2011

Ongekende verborgenhede kom oor ons pad waar 'n mens nie gedroom het om dit raak te sien nie

Ek het al voorheen geblog oor die eerste hoofstuk van die beroemde teks van Antoine de Saint-Exupéry, Die Klein Prins, wat deur sommige as 'n kontemporere mistieke teks beskou word. 

In die tweede hoofstuk beland die verteller in die Sahara-woestyn na 'n ongeluk met sy vliegtuig. Hy probeer sy vliegtuig regmaak. Dit is dringend, want sy water-voorraad is min en hy sal nie langer as 'n week kan uithou nie. Die woestyn is groot en hy is bitter alleen wanneer hy die eerste aand daar moet deurbring.  Teen sonsopkoms hoor hy 'n vreemde stem wat hom vra om 'n skaap te teken. 

Hy is stomgeslaan - en ook bietjie raadop, want onthou, hy is nooit geleer om te teken nie. Sy mense wou hom altyd "nuttige" vakke laat loop sodat hy 'n ordentlike mens met 'n goeie werk kan word. Hier is hy in die gevaarlike woestyn. Dit is 'n saak van lewe en dood - hy moet sy vliegtuig regmaak.

En dan, in daardie krisis, kom vra 'n prinsie vir hom om 'n skaap te teken. 

DIe verteller is vasgevang in sy grootmens-bestaan. Hy wonder oor die prinsie. Hy probeer vir die prinsie vra wat op aarde die prinsie in die woestyn doen. 

Maar daar is nie 'n teken van 'n antwoord van die prinsie se kant af nie. Al wat die prinsie van wil weet is dat hy 'n skaap moet teken.

Dit is 'n verborgenheid, skryf die verteller. En wanneer 'n mens voor so 'n verborge ding te staan kom soos 'n prinsie wat in die woestyn vir 'n tekening van 'n skaap vra, is dit so oorweldigend dat 'n mens nie kan waag om ongehoorsaam te wees  nie. Jy word met die vreemde, misterieuse gekonfronteer en jy moet jouself daaraan gee.

Die verteller waarsku sy lesers dus: dit is nie sommer net 'n verhaal hierdie nie. Dit gaan om iets diepers, wat nie maklik gepeil kan word nie.

Die klein prinsie se versoek is so ernstig dat die verteller daarop vir hom die een tekening na die ander maak. Maar nie een is vir die prinsie goed genoeg nie. Hy kritiseer almal. Die tekening is of te gevaarlik, of te sieklik, of te groot of te oud. 

Die prinsie wil  'n skaap sien en dit moet 'n skaap wees wat 'n lang tyd sal leef. 

Vies en ongeduldig teken die verteller naderhand bloot 'n boks. Hy kan nie die kinderverbeelding met sy grootmens-kuns aanspreek nie. Dus, heel eenvoudig vertel hy aan die prinsie dat die skaap binne in die boks was. 

Hy kan nie vir die prinsie gee wat die prinsie vra nie. Hy gee hom 'n grootmens-abstrakte boks. Maar hy beroep hom op die prinsie se verbeelding: Hier in die boks, is die skaap, vertel hy aan die prins.

Tot sy stomme verbasing is die prinsie dadelik tevrede en selfs in sy skik. Hy kan hom heerlik inleef in daardie boks! 

Die prinsie is mal oor die boks, want hy kan nou uiteindelik in sy verbeelding die skaap sien wat die verteller nie vir hom kon teken nie. 

Hy dwing nou verder die verteller ook om saam met hom op sy geestelike ontdekkingsreis te gaan en om hom in te leef in die konkrete dinge. Daarom vra die prinsie: "Sal die skaap 'n groot klomp gras kan eet?" Die prinsie word daarop deur die verteller gerusgestel, dat daar genoeg gras sal wees. Die verteller is besig om hom in die verbeeldingswereld van die prinsie in te leef!

Dan buig die prinsie sy kop oor die tekening van die boksie: "Kyk, roep hy uit, die skaap slaap nou...."

In hulle verbeelding word hierdie twee karakters na nuwe moontlikhede en op wonderlike verbeeldingsvlugte geneem. Die aarde is so groot as wat 'n mens dink dit is groot. Jy ontdek die verborge dinge as jy genoeg daaroor nadink en praat.

In daardie groot woestyn, terwyl die verteller sy vliegtuig wil regmaak, maar tog ook terwyl hy so alleen en eensaam is, is daar 'n prinsie wat vir hom die maklikste van dinge vra - om vir hom te teken wat sy hart begeer. En sy hart begeer 'n skaap - nie gevaarlik nie, nie oud nie, nie groot nie, net reg. En sy hart begeer dat die skaap genoeg gras sal kan eet. En wat bly is as hy sien hoe sy skaap in die boks wat op paper geteken is, slaap......

Ons wat so in die serebrale ingesuur is, wat so opgeneem is deur ons krisisse, word soms herinner aan die verrassings wat op so 'n klein, ongemerkte, maar onverwagte manier in ons lewens teenwoordig is.  Ongekende verborgenhede kom oor ons pad waar 'n mens nie gedroom het om dit raak te sien nie.


Kyk wat maak hierdie kunstenaar (Chris Davis) van die hoofstuk:

Lately I have been thinking a lot about my childhood. I have been thinking about the story The Little Prince and how it has affected my life. In the story, there is a pilot who crashes in the middle of the Sahara desert. One of the things the pilot sees after crashing is a strange little boy dressed up like a prince. The first thing the boy says is, “Draw me a sheep,” and the pilot does. The boy did not like the man’s drawings so the pilot draws a box and says the sheep he wants is inside the box. The little prince falls in love with the drawing of the box because he uses his imagination to see his perfect sheep. This story has affected my life because it has everything to do with the way I think and make art. I stare at walls, rust, junk, or anything with an interesting texture and imagine things like faces, planets, or monsters inside of the textures. In everything I do, whether it is walking down the street, sitting in class, or just looking at things, I use my imagination to see how I can fantasize and turn everything into an art piece, to see the perfect sheep inside the box.

http://www.facebook.com/group.php?gid=6370252301

En hier is sy kuns:





Monday, April 25, 2011

Die opstanding en Michelangelo

Michelangelo het verskeie uitbeeldings van die opstanding gemaak.


In die eerste voorstelling is Christus aan die opstaan. Die omstanders is oorweldig deur die gebeurtenis. Hulle staan terug, in ontsetting voor wat gebeur. Christus se gesig is herkenbaar - anders as die omstanders s'n. Sy figuur oorheers die toneel. Dit is 'n sterk uitbeelding van iemand wat met krag die dood oorwin en uit die graf kom. Aangrypend is die manier waarop die vorm van die skildery 'n mens se oog trek na die hande van die opgestane Christus. Daar loop 'n direkte lyn van die figuur aan die regterkant wat terugskrik voor die impak van die ervaring. Die lyn loop direk na die hande van Christus wat na die hemel uitgereik. Sy hande wat terugval, kontrasteer met die hande van Christus wat na Bo reik.







In die volgende uitbeelding van die opgestane Christus is die uitbeelding byna staties. Anders as in die vorige uitbeelding kyk Christus nie na bo nie. Dit is 'n indrukwekkende toneel van iemand wat liggaamlik sterk is. Sy opstanding wys sy terugkeer tot volle krag.'n Mens sien die liggaam duidelik. Onmiskenbaar wys dit op die krag van die opstanding.






Die laaste uitbeelding is heel uniek. Hier is die opstanding tegelyk die hemelvaart. 

Daar is niks meer wat Christus met die aarde bind nie. Hy laat die aardse bestaan agter. Lig, lig beweeg Hy na bo. 

Onwillekeurig volg die kyker sy beweging die hemel in. Die omstanders is oorweldig. Hulle is staties, teruggeskrik, deel van die aardse bestaan. Juis omdat hulle so aards is, is die ligte hemelwaarste beweging van die Opgestane Christus soveel opvallender. 'n Mens sien nie Christus se gesig nie. Sy liggaam is ook nie meer so fisiek uitgebeeld soos in die vorige twee uitbeeldings nie. 'n Kleed/omhulsel omring hom. Daar is iets surreeels, mistieks aan sy figuur wat die uitbeelding heeltemal oorheers. Die leser wat hierdie uitbeelding noukeurig bekyk, voel die greep van die opwaartse beweging. Hy of sy word meegesleur deur die geestelike vervoering. 




Sunday, April 24, 2011

Stil Saterdag en skoon linne

Die dag na Goeie Vrydag, word ook Stil Saterdag genoem. Dit is die laaste dag van die lydenstyd. Op hierdie dag, soos op Goeie Vrydag, lui die kerkklokke nie. Hulle is stil.

Saam met Goeie Vrydag is Stil Saterdag ook twee vasdae. Dit is dus dae van innerlike stil-word, van afsondering.

Stil Saterdag volg nadat Christus se liggaam van die kruis geneem en in die graf neergelê is. Groot kunstenaars het hierdie somber gebeurtenis op doek vasgelê.



 William Blake: die begrafnis van Jesus



Vergelyk hiermee El Greco se weergawe. Mens kan sien Blake was 'n mistikus.

 Markus 15:42-47 vertel van die begrafnis:Josef van Arimatea het by Pilatus die liggaam van Jesus gevra, wat, nadat hy verwonderd laat kontroleer het of Jesus werklik so gou al dood is, die liggaam aan Josef skenk.  Josef, staan daar, so sober en eenvoudig vertel, het linne gekoop. Hy was immers ‘n vermoënde, vername man (vers 43). Hy het Jesus se liggaam van die kruis afgehaal en neergelê in ‘n graf uit rots gekap. Toe het hy ‘n steen teen die opening van die graf gerol. Die vroue, voeg Markus nog by, het gesien waar Jesus neergelê word.  

Ek lees ook Matteus se weergawe. In Matteus 27:59 word vertel dat Josef Jesus se liggaam in "skoon linne" toegedraai het. 

Skoon linne, vir die stil saterdag, nuut gekoop, asof dit al die pyn van die verbryselde liggaam ongedaan wil maak.

‘n Mens kan, in die gees van lectio divina, jou inleef in alles wat in die gemoedere van Josef, Maria Magdalena en Maria, die moeder van Jesus, gebeur het. Dit was vir hulle ‘n tyd van rou, van nog verdere afskeid. Maar 'n mens kan ook gaan nadink oor die skoon linne, die liefde wat agter die waagmoed skuil om Jesus se liggaam te gaan vra en in hierdie sagte kleed toe te draai voordat hy in die stilte van die graf wegge word. Is dit wat in Blake se Jesus-figuur skuil? Met Josef, die ou man, wat sorgsaam, tot in die detail, die laaste toedraai afrond? Hoe droef, maar juis in die droefheid, hoe stil, stil is daardie figure met hul geboë hoofde, versluierde gesigte voor die Verborgenheid van hierdie dag van rus.

Toe is alles verby. Stil Saterdag het aangebreek, die sabbat, met Jesus in die graf. Sy lyding was verby. Dit is die dag dat Jesus se liggaam in die graf gelê het. In die Oosterse  Ortodokse tradisie word die dag ook die Heilige Saterdag genoem. Op die sewende dag, wil hierdie gedagte uitdruk, het God gerus. Die pyn is verby. Dit het stil geraak. Die Seun is in die Hande van die Vader.

Dit is egter nie ‘n tyd om te rou nie. Terugskouend is hierdie dag vir Oosters Ortodokse Christene ‘n dag van afwagting en verwagting, lees ek. In hulle liturgie word in die eerste helfte van die oggend-diens vir hierdie dag Psalm 118 gelees.

Ek gaan terug na die Psalm en dit verwonder my hoe verskillend ek dit ervaar as ek dit in die lig van Stil Saterdag, die dag van instelling, voorbereiding, afwagting en verwagting lees – instelling op wat God gereed is om te doen op Paas-Sondag.

Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie. Israel moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 3 Die huis van Aäron moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 4 Dié wat die Here dien, moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 5 In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. 6 Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan 'n mens aan my doen? 7 Die Here is by my, Hy help my: ek sal neerkyk op dié wat my haat. 8 Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou. 9 Om by die Here te skuil, is beter as om op hoë mense te vertrou. 10 Nasies het van alle kante af op my afgestorm. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan. 11 Hulle het my omsingel, my van alle kante bestorm. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan. 12 Hulle het soos bye om my gepak, maar hulle het verdwyn soos doringtakke in 'n vuur. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan. 13 My vyande wou my platloop en my ondergang bewerk, maar die Here het my gehelp. 14 Die Here is my krag en my beskerming. Dit is Hy wat my gered het! 15 Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars: “Die Here doen kragtige dade, 16 die Here triomfeer, die Here doen kragtige dade!” 17 Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig. 18 Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie. 19 Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof. 20 Dit is die poort na die Here toe; regverdiges mag daardeur ingaan. 21 Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het. 22 Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. 23 Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë! 24 Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. 25 Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here! 26 Prys hom wat in die Naam van die Here kom! Ons seën julle uit die huis van die Here. 27 Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die horings van die altaar. 28 U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing. Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.

Blog Archive