Saturday, January 29, 2011

Die donker nag van die sintuie

Die donker nag van die siel is nie so ‘n eenvoudige saak soos wat ‘n mens uit gister se blog sou wou dink nie.

Dikwels word twee aspekte van die donker nag onderskei: die donker nag van die suiwering van die sintuie en die donker nag van die suiwering van die gees.

Die donker nag van die sintuie is op sy beurt ook nie so eenvoudig nie:

‘n Mens moet daarin ‘n aktiewe en ‘n passiewe kant onderskei: Om met God verenig te word, sodat God alles in die mens is, beteken dat mense hul gehegtheid aan materiële dinge moet afleer. Daarom soek ‘n mens al hoe meer na ‘n gebedslewe. ‘n Mens begin jaag na ‘n lewe van eenvoud. Daarom sweer ‘n mens vermorsing af, begin insien hoe ‘n sober lewensstyl sin maak. Dit word vir ‘n mens belangrik om jou af te sonder, veral om die regte perspektief op alles wat jou daaglikse lewe so roekeloos en dikwels sinneloos volmaak, te kry.  Jy kan selfs besluit om te vas, om reinheid te beoefen, om ‘n armoede-ideaal na te streef. Op verskillende maniere kan ‘n mens dan deur ‘n asketiese leefstyl aktief wys hoe belangrik geestelike dinge vir ‘n mens is.

Dit beteken nie dat ‘n mens iewers in ‘n klooster moet gaan sit of ‘n suur lewensstyl moet handhaaf nie. Daar is immers steeds ‘n oorvleueling tussen wat ‘n mens op jou geestelike reis soek en waar ‘n mens elke dag jou bestaan voer. Elke keer weer sal daar dinge oor ons pad kom wat ons bly sal maak, of ons aandag gaan vra, of ons gaan opwerk. Die gewone dinge van hierdie wêreld bly ‘n deel van ‘n mens se belewenis. Dit uitdaging is om nie om hulle te ontvlug nie, maar om hierdie dinge steeds weer hulle regmatige plek te gee. Hulle is ‘n onvermydelike deel van ons bestaan, maar elke keer weer beleef ‘n mens hulle in die lig van die dieper, vaster verhouding met God. Dit kan op ‘n besonder eenvoudige vlak gebeur dat ‘n mens steeds weer dieper moet kyk en leef: Of ‘n mens eet of drink, vra Paulus, doen alles tot verheerliking van God (Fil.4:4), in ‘n wonderlike geestelike uitspraak. Deur hierdie aktiewe dade van onthegting sterf ‘n mens af aan die sintuiglike, sinlike dinge en stel ‘n mens jou hart oop vir God.

Dit kan ‘n opwindende reis word. Daar is soms diep rykdom in die wete dat ‘n mens verby die oppervlakkige kan raaksien wat werklik saak maak.

Maar dan is daar die passiewe kant. Dit is ‘n ding om aktief ingestel te bly op die geestelike dinge. Dit is ‘n waagstuk met onvoorsiene gevolge. En tog kan die nie anders nie – dit is ‘n gedrewenheid – of, tradisioneel gesproke, die werking van die Gees: ‘n Mens gaan hierdie waagstuk aan om jou oop te stel vir God, omdat jy op ‘n keer die wonder van die Goddelike liefde ervaar het. Wie een keer deur God aangeraak is, is in haar of sy hart gebrandmerk tot die liefde. En in verlange na méér van daardie liefde, waag ‘n mens om jouself oop te stel, verby al jou aardse belange heen, verby al jou oppervlakkige, tydelike, verganklike sintuiglike behoeftes en begeertes heen, vir wat nooit vergaan nie. Die brandmerk in die hart herinner die mens herhaaldelik daaraan dat die liefde die diepste is, ewige is en onverganklik bly.

Hierdie innerlike verlange na God kan egter ook besmet word of onvolmaak wees. Daarom moet die onthegting verdiep en omvorm word. Vir hierdie transformasie deur God is die verlangende hart ook gereed en selfs daarop ingestel.

Tog is dit nie maklik nie: die keuses wat die gelowige mens vir die geestelike lewe maak, is volgens eie insig, dikwels tog ook maar tot eie voordeel. Dit is selfs mooi, vroom en iets om voor op die skouer geklop te word. Wat die mens doen, kruis egter met God se werking. En dit is nou waar die passiewe inkom: terwyl ‘n mens die geestelike lewe jaag, is daar steeds weer die gebed: “doen slegs U wil, Heer.” Of: nog harder: “Nogtans nie my wil nie....” Die Goddelike handeling kan pynlik wees, selfs die lydensbeker behels, want dit is wanneer ons nog verder van die materiële, sintuiglike wêreld losgemaak word – op maniere wat ‘n mens nie voorsien het en nie eintlik verwag het nie. Dit bring pyn, want dit is God se loutering tot die vereniging met God. Die Snydokter, wat kan sien watter snywerk regtig nodig is, is aan die werk.

Passief, of miskien meer gepas: afhanklik van God, wag die gelowige mens om verder ontheg te word. Die donker nag van die sintuie skop in. God laat die gelowige hang in die donkerte aan die kruis. Die Getsemane-gebed word verhoor. Dit is dan dat die geestelike vormingsproses begin vlamvat: dit is die tyd dat ‘n mens – ondenkbaar – die pyn wat oor die lewenspad na jou kant uitgedeel moet word, as genade moet ervaar. Dit is die tyd van aanvaarding, gehoorsaamheid, selfs onderwerping. Dit is die tyd om, selfs in die donker, te bly uitroep, met ‘n skor stem, na die Vader.

Dit is hier, op die punt, waar ‘n mens dikwels mense hoor sê: my lyding het my nader aan God gebring...

Afgesien van hierdie nag van die sintuie, is daar die tweede, meer ingrypende nag van die siel. Dit is ‘n nog radikaler uitdaging wat die gelowige konfronteer dikwels wanneer hy of sy ‘n lang reis met God afgelê het. Nie baie mense kom by hierdie punt van die reis uit nie, hoewel Paulus dit in die hart van sy evangelie uitgespel het. Meer daaroor later.

Friday, January 28, 2011

Depressie en die donker nag van die siel. Eerste gedagtes oor heilige dorheid.


Hoe onderskei ‘n mens tussen depressie en die donker nag van die siel? 

Die donker nag van die siel is 'n onderwerp wat 'n mens met skugterheid moet aanpak. Dit kan maklik goedkoop gemaak word of misverstaan word. Maar hier is 'n paar van my eerste gedagtes daaroor, veral in die konteks van depressie:

Depressie kan ‘n mens in ‘n meer algemene sin sien as teneergedruktheid, neerslagtigheid, gevoelens van onbehae en verslaentheid.  Maar “depressie” in die tegniese en kliniese sin van die woord verwys na ‘n ernstiger toestand as blote mismoedigheid. In depressie ervaar ‘n mens diepe morbiede, negatiewe gevoelens oor jouself as mens en oor die sinvolheid van die lewe. Iemand wat aan depressie ly het dikwels ‘n gevoel dat hul lewens min werd is, dat hulle nie werklik ‘n verskil maak nie. Hulle voel dan nie meer lus om te lewe nie en sien net die totale slegte kant van hul bestaan raak. Soms ervaar hulle intense skuldgevoelens en identiteitsprobleme. Soms is dit so erg dat hulle hulself wil vernietig en alles tot ‘n einde wil bring. Dan wil die depressiewe mens ten alle koste ontsnap aan die hopeloosheid wat hy of sy ervaar. So iemand kan hom- of haarself nie meer in die oë kyk nie. In die ergste vorme kan ‘n depressiewe mens obsessiewe gedagtes oor die sinloosheid van ‘n mens se bestaan en met die dood ontwikkel. Kliniese depressie wys daarop dat die mens in wanhoop verval het. ‘n Depressiewe mens het vasgedraai geraak in totale negatiwitieit.

Hierdie negatiewe gevoelens het soms slegte liggaamlike gevolge. Iemand wat aan depressie ly, slaap en eet sleg, voel gedurig siek of het aanmekaar pyn, is gedurig moeg en lusteloos. Fisieke spanning is ‘n belangrike teken van depressie.

Daar is geen twyfel oor wat iemand in hierdie ernstige toestand moet doen nie: hy of sy moet so gou as moontlik kliniese hulp van ‘n professionele persoon kry. Daar is effektiewe maniere om depressiewe deur chemiese middele te bekamp.

Of, hulle wat sterker is of by wie depressie nog nie akuut geraak het nie, moet belangrike besluite neem. Dit kan heel konkrete, maar belangrike besluite wees – soos byvoorbeeld om ‘n lang vakansie te neem, vir ‘n tyd lank in ‘n ander plek te gaan bly, sport te beoefen, daarna te soek om die aandag op aangename dinge te fokus (bv. gaan gereeld fliek, iets ongewoonds doen, beoefen ‘n stokperdjie, die roetine breek of afwissel, by ‘n hardloop-groep aansluit, skilder). Maar dit is nie maklik nie, asof ‘n mens maar net so iets besluit en dan is alles oor nie. Dit vra wilskrag – en dit terwyl ‘n belangrike teken van depressie juis is dat mense hulpeloos en besluiteloos voel. Hulle weet nie hoe om uit hulle maalkolk van slegte gevoelens te kom nie. Hulle sleep hulleself voort en het boonop nie eintlik hoop meer oor dat dinge beter kan gaan nie. Maar ook hier moet ‘n mens nie te vinnig praat nie. ‘n Mens kry grade van depressie en tye waarin ‘n mens depressief is. Sommige mense het ‘n enkele ervaring nodig om weer uit ‘n depressiewe fase te kom, ander weer kan nie sonder hulp daaruit kom nie. Daar is ook al hoe meer in ‘n kognitiewe kliniese konteks ‘n oortuiging dat ‘n mens deur insig in jou eie situasie en deur ‘n breeër verstaan van die menslike bestaan ook bemagtig kan word om depressie te oorkom. Te veel word slegte gemoedstoestande as “abnormaal” beskou, terwyl sulke intense gevoelens eintlik deel is van die menslike bestaan. Die lewe is kompleks, met sy goeie en met sy slegte kante. En die slegte kante van die menslike bestaan kan ‘n mens laat groei, of gee vir ‘n mens groter begrip vir ander se lyding of kan selfs vir ‘n mens ‘n groter stuk menslikheid laat ontwikkel.  

As ek aan depressie dink, kom daar altyd by my die gedagte op dat een van die belangrikste take is om mooi na jouself te kyk. ‘n Gelowige mens vermy uitbranding, doen verstandig dinge wat tot voordeel van sy of haar liggaam is, kry genoeg slaap en oefening, gee om vir ander omdat daar genesing in só ‘n omgee skuil. En as dinge rof gaan, wanneer ‘n mens soms by die punt kom van wil wegsink in die golwe, moet ‘n mens ook in die geloof en in nabyheid by God, dapper, rustige, onselfsugtie, maar ook besliste besluite te kan neem. Soms begin ‘n mens klein, met ‘n enkele stap, maar steeds weer met ‘n wete dat God ons ook in tye van neerslagtigheid en teneergedruktheid bo alle menslike krag heen vir ‘n mens kan laat groei en sterker laat word. Juis daarom is ‘n volwasse geloof van iemand wat naby aan God leef in ons haastige wêreld ‘n bron van inspirasie.

Hoewel depressie en die donker nag van die siel soms moeilik te onderskei is, is daar tog sekere onderskeidinge tussen die twee.  Daar is ook ooreenstemminge: In ‘n mens se geloofslewe kom daar ook die tye dat wilde golwe van twyfel en wanhoop oor ‘n mens spoel. Die grootste geloofshelde van die geskiedenis het soms deur jare van worsteling en geloofstryd gesukkel – soms vir dekades lank.

Tog is die donker nag van die siel ‘n tyd wat ‘n mens nie alleenlik aan wanhoop oorgegee is soos in depressie nie, maar eerder met wanhoop worstel. Dit is ‘n stryd om lewe en dood, waarin ‘n mens oorgegee is aan intense gemengde gevoelens. En tog gaan ‘n mens aan met jou lewe: jy bly in die bediening, doen jou daaglikse werk, beteken iets vir ander mense, funksioneer meestal normaal. En tog loop jy met gevoelens van onbehae aan jouself. ‘n Mens verlang al hoe intenser na meer, na wat groter as jyself is, maar wat nie in jou lewe ‘n werklikheid is of word nie. Dan word jou lewe ‘n pelgrimstog na Iemand by wie jy vrede kan vind. Die siel wil juis wegkom van die self, na Iemand wat die self dra en bemin.

Anders as in die geval van depressie, bring die donker nag van die siel ‘n mens nie tot ‘n punt dat ‘n mens van alles wil wegkom of alles sinloos vind nie. Seker kom ‘n mens op ‘n punt dat jy dinge wat voorheen vir jou so belangrik was, as minder belangrik beskou. Die donker nag van die siel fokus op ‘n mens se eie onvolmaaktheid in die lig van God se oorweldigende goedheid en liefde. ‘n Mens voel jou innerlike behoefte om nader aan God te wees, om dieper in die liefde geanker te word, om ander lief te hê, om hulle by te staan en te laat deel in God se ontferming. Mar jy is gedurig bewus van jou eie ontrouheid, onfeilbaarheid en onvermoë om in die Liefde geanker te bly en te woon.

In die donker nag van die siel, is ‘n mens se pyn verbind met jou soeke na God. ‘n Mens sien die dood nie as ‘n uitweg uit jou eie slegtigheid of waardeloosheid nie. Die dood, begryp iemand wat in die donker nag woon, sal uiteindelik die oorgang bring in die teenwoordigheid van God. Die verlange is nie om alles te vergeet, om uit te kom uit ‘n mens se hopelose bestaan nie. Die mens, tastende in die donker, wil graag uiteindelik in die lig van die goddelike liefde woon. Wat saak maak in die donker nag van die siel is God, die verborge sagtheid van God se liefde, die ontfermende troos wat ‘n mens uiteindelik by God ervaar. Die reisiger soek daarna, mis dit, smag om dit te beleef, maar word dan eerder gekonfronteer met ‘n innerlike dorheid. Die donker nag voorsien ‘n tyd dat ‘n mens uiteindelik in volle vreugde sal woon, volledig deel wees van die grotere, diepere dinge. Dit vra ‘n afsterwe aan selfsug, eie belang en hoë ambisies vir jouself. Dit is, in Paulus se woorde, om te verlang om heen te gaan en by God te wees. Die pyn is werklik, die lyding is intens, die twyfelvrae is diep, die worsteling is oorweldigend. Maar steeds weer is dit ‘n Jabboksworsteling, ‘n verlange na volmaaktheid, na eenwording met alles wat die goeie verteenwoordig, om vry te word van ‘n mens se swakheid om ander teleur te stel, om ander seer te maak, ‘n mens se onvermoë om te vergewe, om ‘n lewe van toewyding te leef, om God se beeld uit te dra, om persoonlikheidsgebreke te oorwin. Hoe meer ‘n mens God leer ken in God se oneindige goedheid en liefde, hoe meer word ‘n mens soms gedompel in diepe gevoelens oor jou eie onwil, eie swakheid en eie onvolmaaktheid. Daar is ‘n intense verlange dat ‘n mens sal word wat God van jou wil hê, dat ‘n mens in die liefde woon, soos wat God die liefde is en in die liefde woon. En kom daar dan tye dat hierdie goddelike liefde nie meer ervaar word nie, oorval die donker nag van die siel ‘n mens. Wie eenmaal die liefde gesmaak het, word intens deur die afwesigheid daarvan getreiter.

‘n Mens moet deur die donker gaan van aan jouself sterwe om in God te kan leef. Dit sluit selfs jou eie vroomheid, jou hoogheiligheid, jou grepe op die waarheid. In die donker nag van die siel word ‘n mens gestroop, so volledig en totaal, dat God volledig in die volle ruimte van jou bestaan kan inwoon. Die donker nag van die siel stroop ‘n mens, soos Paulus, van die trots op jou spreek in tale, jou allemintige kennis, jou groot invloed, jou mooi geskrifte en preke, van jou voorbeeldige lewe en dit bring jou by die enigste wat werklik tel: om in God se liefde te kan woon. Die donker nag van die siel is die stropingsproses sodat ‘n mens volkome vir God beskikbaar kan wees. Dit is die donker oomblikke wanneer ‘n mens saam met Christus gekruisig word, verbrysel word soos Hy verbrysel is. Die stroping impliseer dat ‘n mens in die donker van die dor tye bly wag, biddend, verlangend, sodat God alles kan wegneem wat as skanse tussen die mens en God opgerig is – ook in die vele vorme van vroomheid. Dit beteken ook dat ‘n mens leer wat werklik saak maak: nie eie vroomheid nie, of eie voorbeeldigheid nie. Godsdiens word nie meer ‘n kwessie van presteer nie, van God so netjies dien nie. Die self-gerigte houdings word weggestroop, sodat ‘n mens uiteindelik besef dat ‘n mens bloot uit pure liefde by God leef. Wagtend, wagtend, wagtend – ja wagtend op die vuur – het die ou Halleluja hierdie mistieke passiwiteit uitgedruk.

Die donker nag van die siel eindig nooit in destruktiwiteit en niksheid nie. ‘n Mens kan dit alleen verstaan in die lig van die vereniging met God waarna mens soek en verlang.

Geen mens moet te maklik oor die donker nag van die siel praat nie. Dit is ‘n verskriklike ervaring. Dit is tye dat ‘n mens nie meer kan bid nie – en nog meer – nie eers meer wil bid nie. Dit is die oomblikke in ‘n mens se lewe dat ‘n mens deur God verlate voel, dink dat God nie meer regtig vir jou omgee nie. Dit is wys om skugter daaroor te wees, om eerder te min as te veel daaroor te wil praat. Om gestroop te word, beteken immers dat God aan die werk is. Dit is die brandende bos waarby ‘n mens uitgekom het.

Thursday, January 27, 2011

Meer as dit kan 'n mens nie van iemand sê nie. Bybelstudie oor Openbaring 20.



Die brief aan Pergamum is die derde brief van Johannes in die reeks van sewe briewe aan sewe gemeentes, het ek in my vorige bybelstudie oor Openbaring geskryf. Die stad is die plek waar die beroemde altaar was, vandag te siene in Berlyn. Dit was ‘n lewensgevaarlike stad vir volgelinge van Jesus.

Indrukwekkend is Johannes se woorde: 

En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in my nie verloën nie, selfs nie in die dae waarin Antipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waardie Satan woon.  

Antipas word as “getroue getuie” beskryf in Openbaring 2:13. Hoe spesiaal hierdie beskrywing is, is duidelik uit Openbaring 1:5 waaar Johannes die sewe gemeentes in die Naam van Christus groet, en summier vir Christus beskryf as “die getroue getuie.” Dit is so ‘n belangrike beskrywing dat die laaste brief aan Laodicea daarmee ingelei word (Open.3;14). Antipas, ontdek ons hier, lyk soos Christus: hy lewer soos Hy ‘n getuienis. En hy doen dit so radikaal soos Christus – tot die dood toe. Dit is waaroor Openbaring gaan: vir mense wat onder groot druk staan, wie se geloofgetrouheid tot op die been getoets word, hou Johannes die voorbeeld van Christus voor. Getrouheid ken geen grense nie.

“Antipas” is maar net nog ‘n naam. Dit is nie eers ‘n spesiale naam nie – want dit was ‘n bekende naam in die antieke, gebruik vir Joodse sowel as Griekse mans. Ons weet nie wie hy was nie. ‘n Mens lees ook nie eintlik waarom hy gedood is en hoe hy omgebring is nie. Nooit weer sal ons in enige ander boek van hom lees nie. In die Christelike literatuur is dit die enigste keer dat hierdie man genoem word. Al wat ons weet is dat hy in die openbaar tereggestel is. En op grond van hierdie verwysing weet ons dat die lesers van Openbaring inderdaad in lewensgevaar verkeer het. Hulle kon enige oomblik die hoogste prys vir hul geloof betaal.

Maar, hierdie onbekende volgeling van Jesus, word die “getroue getuie” genoem. Hy het geweet wat Johannes in Openbaring 3:14 skryf: Wees getrou tot die dood toe, en ek sal jou die kroon van die lewe gee.  Dit is meer as genoeg om te kan hoor dat ‘n mens ‘n getroue getuie is, dat ‘n mens kan ingaan in die vreugde van die Here. Meer as dit het ‘n mens nie nodig nie. Dit is woorde met eindelose, oneindige troos.

Die kroon van die lewe... Die egte lewe, vertel hierdie stil opmerking vir die lesers van Openbaring, is te vind in die teenwoordigheid van God. En selfs die dood is maar net die oorgang tot hierdie kroon van alle dinge, tot die oomblik dat ‘n mens sal leef by die Onsienlike.

Wednesday, January 26, 2011

Gebed by verlies. Oor God se grootheid.


N.a.v. ‘n gebed deur Reinhold Niebuhr (1892-1971):


O Here, U het ons so klein geskep, so gering,

en ons jare snel verby.

Hulle kom tot ‘n einde soos ‘n storie wat gou vertel is;

hulle is ‘n gedagte wat verbyflits.

Help ons onthou, 

help ons vashou aan die wete

dat ons kort dag, ons oomblikke van lewe,

die flitsende momente van ons bestaan

die voorbereiding is op,

die toegang bied tot

die ewigheid van U liefde;

                                           die oneindigheid van U trou
                              
                                    die grootheid van U teenwoordigheid.

Tuesday, January 25, 2011

Om die Sondag-preek te herkou of nie?


In sy boek oor die “Praktyk van Vroomheid”, raak Voetius ‘n interessante onderwerp aan. Dit het my herinner aan die enkele mense wat ‘n mens soms in die kerk sien aantekeninge maak terwyl hulle na die preek luister. Dit is iets wat my altyd boei. Soms kry ek die indruk dat dit ook ‘n gewoonte is wat ‘n mens al hoe minder in die kerk opmerk.  Dit hang ook saam daarmee dat gemeentes deesdae preke opneem en beskikbaar stel.

Ek onthou hoe ek soms van die kerklike saakgelasgtigde gehoor het dat sommige weke daar nogal ‘n aanvraag van sulke opnames was. Dit het my geboei dat mense so intens kan saamleef met preke.

Mense wat preke neerskryf leef kennelik nie net tydens die erediens mee nie, maar wil ook daarna nog saam die preek onthou en bedink. En dit is ‘n gewoonte wat soms selfs by hoogs intellektuele mense voorkom. Prof. Andre Hugo, byvoorbeeld, die befaamde klassikus van Stellenbosch het in sy dagboeke oor jare heen elke Sondag tuis die preek van die dag wat hy in die Moederkerk gehoor het, gaan opskryf.

Dit is ‘n boeiende vroomheidspraktyk – maar iets waaroor ek nog nooit eintlik nagedink het nie.

Voetius het hierdie gewoonte uitgebreid bekyk, want blykbaar was daar mense vir wie dit maar ‘n omstrede kwessie was. Hy twyfel egter nie vir ‘n oomblik nie. Vir hom maak die gewoonte sin. As God die Bybeltekste laat neerskryf het, redeneer hy, kan mense dieselfde gawe van skryf gebruik om die preek te onthou. Dit gaan ook nie bloot net om mense wat swak onthou nie. Hy raai aan dat selfs kinders, jongmense en weduwees (!) preke neeskryf sodat hulle nog daaroor kan nadink. Voetius het ‘n hele ry Bybelverse wat hy gebruik om hierdie gewoonte aan te prys.

Ek herken hierin iets meer van Voetius se beklemtoning van meditasie as ‘n belangrike aspek van vroomheid. Die Bybel en die verkondiging daarvan moet steeds weer in hierdie nadenke en mymering ‘n belangrike rol speel.

Ek begin ook besef dat die erediens-register wat elke Sondag ingevul word en wat die teksvers van die prediking bevat, ook ‘n ou gebruik reflekteer. In Nederland, verneem ek, is daar ook na die diens ‘n gesprek tussen kerkraad en predikant oor die prediking. (Dis dalk goed, dink ek, dat sommige predikers ‘n slag verantwoordelik gemaak word vir wat hulle van die kansel aanbied.)

Tog boei dit my dat Voetius ‘n lang relaas oor so ‘n saak soos die neerskryf van ‘n preek het. Om te dink dat hy oor hierdie eenvoudige kwessie allerhande argumente uitwerk. En ek besef verras dat die mense wat preke neerskryf dalk uit gesinne kom wat ‘n baie lang vroomheidspraktyk kontinueer. Ek is nuuskierig om te hoor wat motiveer sommige mense om tog die preek te wil neeskryf. Daaroor wil ek so bietjie verder navraag doen.  

Maar wat my veral opval is hoedat Voetius, wat origens maar fundamentalisties en soms buitengewoon skerp kon wees, terugval op sy aartsvyande, die Rooms-Katolieke, om sy aanprysing van die neeskryf van preke te motiveer. Tot by Augustinus is daar name van bekendes wat die gewoonte van preke neerskryf, aanprys. Voetius is ook bewus van Anglikaanse lidmate wat oor ‘n lang periode preke aangespoor is om preke neer te skryf. Hy noem onder andere hoe koning Edward VI preke in Griekse letters neerskryf sodat sy hofdienaars dit nie kon lees nie.

Uiteindelik wys dit heen op ‘n paar dieper dinge: steeds weer is die geestelike reis gebind aan die verkondiging van die Woord; tweedens word die geestelike reis gekenmerk deur ‘n bewuswordingsproses. Die gelowige span hom of haar in om die stem van God duidelik te hoor – selfs die skryfproses word daarvoor ingespan. En derdens: die geestelike reis bly ‘n proses van nadenke, mymering, herkouing van wat geloofsgenote oor God se woord en wil meedeel. Altyd weer word ons herinner dat ons groter wysheid nodig het om die reis voort te sit. Ons eie wysheid is tog skromelik vlak.  En, uiteindelik, wys hierdie saak op die belangrikheid van die prediking. Dikwels is die preek die enigste inwyding in die verborgenheid van die Evangelie.

Die mens wat tydens die preek nog wil nota’s maak, is besig om met eerbied te soek om God te hoor praat, om hierdie Spreke in te neem en dan saam te neem.

Blog Archive