Wednesday, August 26, 2009

Geert Grote

Thomas a Kempis se Navolging is ‘n godsdienstige boek wat diep wortels het in die Moderne Toewyding of Devosie. Dit is ‘n vernuwingsbeweging wat veral gesoek het om die kerk radikaal na binne te verander. Thomas is egter sterk beïnvloed deur die merkwaardige figuur van Geert Grote. Sommige dink selfs dit is Grote wat die Navolging geskryf het.

Geert Grote (ook Groote geskryf) was ‘n ware student, wat, gesien sy ryk familie, in gemak kon studeer tot hy dertig jaar oud geword het. En watter opleiding het hy nie: Hy studeer in wye reeks vakke soos teologie, filosofie, regsgeleerdheid en self medisyne. Maar hy leer ook meer oor astrologie en towerkuns. Hy was ook ‘n harde en toegewyde werker.

Hy het dus as jong man alles gehad wat sy hart kon begeer. Hy het sy lewe geniet – met veel plesier. So lekker het dit gegaan dat hy van sy vakke nie afgehandel het nie.

Maar hy het tog genoeg gehad: Opvoeding, opleiding, kennis, status, voorregte. ‘n Blink toekoms het op hom gewag. Geen wonder dus dat hy inderdaad as professor aangestel word.

En toe, in 1372 ervaar hy ‘n besondere geestelike ervaring wat sy lewe verander. Hy word dodelik siek. Hy vra selfs om die laaste sakrament te ontvang, maar die priester weier dit tensy hy sy boeke oor die towerkuns verbrand. Nadat dit gedoen is, word hy merkwaardigerwys gesond.

Die ervaring transformeer sy lewe. Dit bring hom daartoe om ‘n eenvoudige leefstyl op te soek, die meeste van sy besittings prys te gee en drie jaar in ‘n klooster te gaan bly (sonder om monnik te word) waar hy belangrike teologiese werke gelees het.

Hy begin preek, meestal vir die gewone gelowiges. En hy beklemtoon innerlike vernuwing wat met ‘n opregte passie en eerlike soeke nagestreef moet word. Hier word geen groot teologie bedink en bespreek nie. Dit is die lewenspraktyk wat nagejaag word. ‘n Mens moet jou gedurig inleef in die lewe van Jesus. Lectio divina in ‘n neutedop, ‘n fokus op die Bybel. En dan moet jy hierdie lewe internaliseer en nastreef. ‘n Mens sien hier twee groot strome saamvloei: Dit gaan vir hom om verinnerliking van Bybelse inhoude en die uitleef daarvan na buite in die praktyk.

Dit lyk nie of hy die ryke tradisie van die klassieke mistici voor sy tyd wou oorneem nie. Die mistieke strewe na eenwording met God was nie vir hom in fokus nie. Hy het veel meer prakties gesoek na die uitlewing van die liefde.

Baie mense het sy boodskap so aantreklik gevind dat hulle in groepe bymekaar gekom het en gemeenskappe gevorm het – wat hulle dan ook die Broeders en Susters van die Gemeenskaplike Lewe genoem het. Geen ampte, hoge range of magsstryde nie. Hulle het veral armoede bestry en skole opgerig. Maar in alles het hulle ‘n geestelike lewe van refleksie op die Bybel gevoer.

Mistici is nie gewild nie, maar as jy, soos Geert, dan ook nog die kollega’s van jou tyd kritiseer en boonop soveel aanhang verwerf, kry jy jou deel. En sy deel was dat hy deur sy kerklike kollegas in 1373 amptelik verbied is om te preek. Geert Grote het selfs sy volgelinge gemaan om nie te opstandig daaroor te raak nie, maar om die besluit te aanvaar.

Daar is so baie werke oor Grote geskryf. Thomas a Kempis het al begin met ‘n biografie oor hom. Waarom hier weer oor hom skryf? In my eie lees het dit my opgeval hoe min aandag gegee word aan Grote se werk op die Bybel. Die Bybel was in die hart van sy spiritualiteit. Hy het nie net self die Bybel versigtig gelees nie, maar vir hom was die belangrikste dryfkrag van die nuwe toewyding die lees van die Bybel. Sy volgelinge het onder sy leiding veral die lees van die Bybel as hul hooftaak gesien. Maar Geert Grote het nie net die Bybel opgetel en gelees nie. Dit was vir hom belangrik om ‘n betroubare Bybel te hê. Daarom het hy manuskripte van die Bybel uit kerke en kloosters versamel, hulle met mekaar vergelyk en allerhande foute in die oorgeskrewe tekste uitgeskakel.

Hier het sy besonder bekwaamheid en geleerdheid met sy praktiese geloof saamgevloei: hy het met sy pragtige kalligrafie die betroubare teks van die Bybel met die hand oorgeskryf – iets waarin hy spesifieke vir Thomas a Kempis (sien ‘n ander blog hier onder) beïnvloed het. Hierdie versigtige werk op die Bybel sou later by Nederlandse Universiteit verder gevoer word. Vandag is hierdie universiteite (soos Leiden) bekend vir hul baanbrekende werk – maar eintlik moet ‘n mens agter hulle werk die merkwaardige figuur van Geert Grote raaksien.

Ek het ‘n ruk gelede twee artikels oor Spinoza geskryf – nog ‘n meer omstrede figuur – en daarin aangetoon hoe belangrik Nederlandse universiteite in die sestiende eeu in die totstandkoming van die Bybelwetenskappe was. Deur my leeswerk oor Grote het ek besef wat die ruimte vir daardie werk aan die Nederlandse universiteit geskep het.

Dikwels word gesê dat Grote gestreef het na die verinnerliking en die uitleef van die liefde. Maar dit was nie sentimentele mooi-praatjies nie. Sy taal was dikwels in die weer in en hy het niemand ontsien nie. Maar kyk maar net na sy lewe:

In 1383 breek ‘n groot plaag in Europa uit. Geert Grote gaan op straat uit, besoek die sterwendes en die siekes in wat uiteindelik ‘n verskriklike ramp sou word. Die volgende jaar word die pes hewiger. Geert Grote, besig met die eenvoudige, praktiese verpleging van siekes, word in Augustus self siek aan die pes en sterf kort daarna. Hy is net 45 jaar oud. In die fleur van sy lewe. Jonk. Maar ‘n sleutelfiguur in die geskiedenis van die Christendom.



Ons weet nie hoe Geert Grote gelyk het nie. Maar ons het nog voorbeelde van wat hy geproduseer het:


Tuesday, August 25, 2009

Die soeke na vreugde.

Die soeke na vreugde lê diep ingebed in ons menslike natuur. So diep en so gedrewe is dit in ons weggelê dat ons soms desperaat aan die soek is daarna. Ek dink veral aan die groot musiek-kultuur van ons tyd wat dink geluk is te vind in ‘n visuele en klanke-wêreld wat ons wegneem uit ons ellende, ons sinne vir die kwaad verdoof, wat ons verplaas na ‘n wêreld waar ons nie meer sal seerkry en swaarkry nie.

Bono, lees ek ‘n tyd terug, vertel hoe hy by sy konserte derduisende jongmense voor hom sien wat desperaat voorgee dat hulle gelukkig is. Hy weet, hulle is innerlik diep ongelukkig. En as ‘n mens no ‘n ordentlike kykie in die hart van die musiek-wêreld wil kry, moet jy die lirieke lees en luister van uiters gewilde Kanadese band, Our Lady Peace waarin die futiliteit van die desperate soektog na geluk in een van hulle songs op redelike kru manier uitgesing word.

“Happiness is a fish you can’t catch” se woorde lui so:
I confess
Everyone is overweight
And I'm obsessed
Talking is just masturbating
Without the mess
Addiction leaves you sad today
& unimpressed
I can't remember all the names because
Everyone you meet today
Is just so fucking vain

Bored again by happiness
All those friends I've (die) lost in there

I'm upset
Happiness is not a fish
That you can catch
Imagination can't resist
This laziness
That pins you down, get on your knees
Everyone you meet today
Is feeling useless & ashamed

Gewoonlik is hierdie band nie so pessimisties nie – hulle is bekend daarvoor dat hulle lirieke nog altyd darem ‘n plekkie vir vreugde iewers inruim. Maar wat my hier tref is die slotwoorde dat almal useless en ashamed voel, maar veral ook die frase: “bored by happiness.”

Hoe jaag ons geluk? In ons desperate greep daarna, vermy ons alles wat ons kan ontsenu of ongelukkig maak. Ons vlug weg uit ons gewelddadige, slegte omgewing. En vir baie sluit dit ook godsdiens in. Dit fokus te veel op sonde, op seks wat sleg is, vra te veel heiligheid, eis te maklik liefde en opoffering vir ander. Godsdiens lyk juis of dit geluk tot niet maak. En nog meer: ons wil geluk hier en nou smaak. Die Christendom lyk asof dit geluk belowe vir dit toekoms – en die toekoms? Wie onder die ongeduldige grypers wil hulle dobbelstene op die onsekerheid van die toekoms gooi?

Hoe kan ons tog ooit hieroor anders gedink het as dat geluk nie sommer net gebeur nie? Ons menslike bestaan, hoe dit ook al ingestel is op vreugde, waarborg terselfdertyd die gebrek aan vreugde. Ons liggame, as ek Thomas Aquinas se slim teologie kan parafraseer, is reeds rede om nie te romanties oor geluk te wees nie (Our Lady Peace se overweight en addiction!). Ons kennis wat so onvolmaak is en waardeur ons net soveel rampe as suksesse oor ons pad haal. Ons gebrek aan deugde waardeur ons ander seer maak en afbreek, maar meer nog onsself vernietig. Selfs al begeer ons geluk, keer ons natuur ons daarvan weg...

Die groot mistici het verstaan dat godsdiens juis egte vreugde bring. Natuurlik beloof Jesus geluk vir die toekoms: hy het as die insigryke geweet geluk pluk jy nie maar net uit ‘n hoed nie. Die geestelike reis is ‘n langsame, prosesmatige reis. Ons kan nie die einde gryp nie. Ons moet dit afwag, gereed word daarvoor, dit soek, ons insstel daarop. Die reis is die geluk. Om te kan reis, om te kan groei in wat werklik vreugde bring.... dit is al klaar ‘n boel vreugde.

Maar Jesus beloof dit nie net vir die toekoms nie. Geluk is nie iets wat soos ‘n wortel voor my neus hang en ek dit donkie-gewys jaag nie. En dit is nie net in die reis nie. Dit is ook in my. Geseënd, roep Jesus uit, is julle wat arm is, wat ly, wat honger is en dors het. Nou reeds. Gelukkig is julle, julle wat hier by my is, in my teenwoordigheid, wat op die berg in stilte en kalmte sit. In die nabyheid van vrede is vreugde. Tuis, in julle klei-huisies, in die bloedige hitte van Palestina, weg van die tempel, daar kan julle blydskap nou reeds ervaar. In lewens van eenvoud en goedheid, wagtende op die koms van die nog groter, ontvouende blydskap totdat dit in sy rypheid sal oopblom. Geen sentimentele gekwyl hier oor pienk rose en wit lelies van geluk nie. In die hardheid van die lewe, in die diepe ongelukkigheid van die ellende, daar kan ‘n mens innerlik vrede ontdek. Ons kan gelukkig wees.

Godsdiens kan ‘n slawerny wees wat ‘n mens van alle vreugde ontneem en van jou ‘n suurknol maak – hoe hard jy ook al vreugde en blydskap opeis. Of godsdiens kan ‘n mens innerlik vul met ‘n vreugde wat alle verstand te bowe gaan.

Monday, August 24, 2009

Die Elfmiljoen rand Sondag in Regensburg.

Ons hoor vroeër in die week dat die musiek in die katedraal hier in Regensburg besonder is. ‘n Beroemde koor tree gereeld tydens die diens op. Dus, uitgehonger vir mooi musiek, sit ons af na die pragtige ou gebou.

Die diens is ‘n byenes. Oral is daar toeriste. Hulle tou selfs met hulle koffers die kerk in en loop voor die diens verby is. Hulle is duidelik beïndruk deur hierdie mooi plek, hierdie gewyde atmosfeer. Dit is 'n plek wat mense aantrek en boei.

Die orrel is besonders. Dit word bespeel deur die professor in musiek aan die Universiteit wat sy storie duidelik ken. Na die tyd gee hy ‘n tien minute bespreking oor die orrel vir belangstellendes en verduidelik hy ook meer oor die nuwe een van R11 miljoen wat hulle aan die bou is en waarvoor hulle bydraes vra.

R11 miljoen. Vir ‘n orrel... Ek sit so bietjie terug toe ek dit hoor.

Die katedraal sit vol, maar die blok waar ons sit is duidelik nie geÏmponeer deur die oproep tot bydraes nie. Kollektetyd bring ‘n stywe priester met ‘n angstige trek oor sy gesig die bordjie ry-vir-ry om. Dit is soos die evangelis mos destyds vertel het: jy hoor net tiekie, pennie, pennie, tiekie. Dit is duidelik nie ‘n sagte kollekte nie en die tye is seker maar beroerd.

Maar elf miljoen rand.

Ons sit die diens deur, geniet die mooi orrelmusiek. Dit is werklik uit die boonste rakke. Maar dis nie naasteby wat ons in die baie kerke van Amsterdam beleef het nie. Die Hollanders speel mos orrel soos die Boere rugby speel. Sukkel nie met tierlantyntjies nie.

Maar al wat sing is die beroemde koor – en dit is waarvoor ons gekom het. En intussen weet ons nie wanneer ons moet sit of staan in die diens nie. Dis nie ‘n vriendelike konteks vir ‘n protestant nie, veral nie vir een uit Afrika waar die kontak met katolieke maar beperk was nie, om die minste daarvan te sê. Ek bedoel: hoeveel katolieke misse woon die gemiddelde boerseun in Suid-Afrika ook nou in sy leeftyd by?

Later kom ek agter jy time jou maar volgens die vier priesters in hul groen togas wat voor in die liturgiese ruimte hulle diens lei. As hulle staan, staan jy agterna. En die paar keer wat hulle gaan sit, kan jy ook gaan sit. Nie dat dit altyd werk nie. Voor my staan twee omies die hele diens deur en maak my net verder op my senuwees.

Elf miljoen rand, bly ek dink.

Ons beklim ons fietse na die diens en kies koers huis toe, maar ons laat ons lei deur die lomerigheid van die mooi somersdag. Via die bakkery winkel, Prinzess, waar ons ‘n heerlike apfeltorte koop vir ons oggendtreat by die huis, ry ons rustig terug huis toe. Sonder pragtige koormusiek agter die blad, weliswaaar, terwyl ek nog nadink oor die elf miljoen rand.

Ons is nie haastig nie en verdwaal dus hopeloos tussen die krom draaie en straatjies van Regensburg, ‘n wêreld-erfenisstad.

Op ‘n stadium moet ons omdraai en soos ons nou maar in Suid-Afrika dink ons heel wettiglik doen, ry ons op die sypaadjie aan die verkeerde kant van die pad – ook om maar uit die motors se pad te bly. So ‘n ent weg aan die verkeerde kant van die pad, kom ‘n Duitse tante van voor aan die regte kant af. Toe sy ons sien, rek haar oë in pure Duitse vrees en ontsetting. Dit lyk soos ‘n windpomp in ‘n onverwagte Karoo-warrelwind, so beduie sy al ryende: sy waarsku ons ywerig en met ontsag dat die polisie so ‘n ent terug stilgehou het en besig is om mense op die sypaadjie wat fiets gery het te beboet.

En sowaar. Op ‘n afstand sien ons toe sowaar ‘n groepie van drie wat deur ‘n polisieman aangehou word. Hy skryf lustig ‘n kaartjie uit, op sy tyd terwyl hulle ordelik en bedremmeld by hulle fietse staan.

In sommige lande sukkel en bodder ‘n mens nie onnodig nie, besef ek sommer net daar. Aanhouding in eensame opsluiting vir drie maande in ‘n Duitse tronk doem voor my geestesoog oop en soos blits, vetgesmeerd, is ons van ons fietse af. En vir die res van die dag voel ek skuldig oor daardie vyftig meter wat ek op die sypaadjie gery het. Out of Africa, so is dit.

Ek is nou op daardie stadium van my lewe waar ek hou van wet en orde. Ek dink by myselwers, ek sal nogal nie omgee as ons gevierde bewakers van die reg so af en toe ook dinge so bietjie opruim nie.


Maar ek bly nog steeds wonder oor die elf miljoen rand. Ek dink aan ons besoek vroeër vanjaar saam met die Nederlandse kollegas aan die plakkerskamp by Wallacedene en die oneindige armoede wat ons daar gesien het (sien ‘n vorige blog). Wat moet ‘n mens hieroor sê? Hoe moet die kerk dink hieroor – oor ‘n opulente lewensstyl, terwyl kinders elders sterf van die honger? En kerke hier in die suide van Duitsland is duidelik opulent. Doen ons nie maar op klein skaal dieselfde wanneer ons in ons luukse motors klim en ons neem ons huiswerkers om met die trein na hul huisies terug te reis nie?

Ek dink byvoorbeeld aan my besoek aan die Gereformeerde katedraal (sic) in Zürich waar Chagall se onvergeetlike vensters is en watter vreugde dit nie in my lewe ingebring het. Kan ‘n mens ‘n eerste wêreldse gemeente die luukse van so ‘n uitmuntende musiek-instrument ontsê? En is dit nie die hoë kunstenaars, Rembrandt en Da Vinci, beskermlinge van die rykes en die magtiges, wat vir ons ‘n erfenis agtergelaat het wat ons vandag nog naby aan God bring nie?

Ek bly hieroor nadink. En ek wonder: moet die kerk nie, as dit by sulke dinge kom, by ‘n groot blink orrel van elf miljoen rand, sê: goed, ons doen dit wel, maar dan samel ons ook tegelykertyd dieselfde bedrag om die slegste van armoede te beveg nie? Koppel dit. Laat die vreugde van ‘n erediens met die allermooiste orrelmusiek gepaar word met innerlike ontferming oor hulle wat niks het nie. As ‘n gemeente so iets dan wil doen. En is dit nie waar dat die Duitse kerk van die grootste ondersteuners in die wêreld van opheffingswerk is nie?

Maar ek bly wonder. Elf miljoen rand. Vandat dek die mistici begin lees het, het sekere dinge, sekere waardes in my bly groei wat miskien veroorsaak het dat ek vandag so bietjie teruggesit het oor die elf miljoen rand.

Mot en roes? Of die tempel in Jerusalem? Of die goue strate?

Sunday, August 23, 2009

Deur die liefde gedryf.
























Daar is net een skildery van Da Vinci in Duistland - en vir baie al klaar daarom 'n rede om dit te gaan kyk.

Dit word hoog aangeslaan want hy gebruik daarin tegnieke wat innoverend was vir sy tyd. Hy het dit in 1475 geskilder.

Ons het dit Saterdag in die Alte Pinakothek in München weer gesien. Dit is kleinerig, jy kan sommer sonder dat jy dit weet daar verby loop.

Dit is ‘n pragtig werk, met Maria se hare kunstig gevleg, met helder kleure en met die boeiende spel van lig op albei die karakters.

Die skildery is veral spesiaal omdat dit ‘n stile, rustige, intieme, liefdevolle verhouding tussen moeder en seun uitbeeld.

Maar wat ‘n mens nie dadelik sien nie is die rooi angelier wat Leonardo deur ‘n heel ingewikkelde tegniek sentraal in die skildery ingeskilder het.


Kyk mooi na die volgende detail:


























Die angelier verander die boodskap van die skildery totaal. Die ingeligte kyker sal weet ‘n angelier is ‘n simbool van Christus se lyding. Die baba reik met sy klein handjie uit om die angelier uit sy ma se hand te neem. Hy aanvaar as jonge baba reeds sy lyding. Die stilte, die rus, die rustigheid word versteur. 'n Donker ondertoon bedreig die helder lig wat oor die skildery spoel.

Ek kyk na die skildery terwyl ek na die kommentaar luister: Leonardo het met hierdie angelier sy skildery ‘n mistieke kleur gegee, word ek vertel. Later, toe hy meer bedrewe geword het, het hy sulke mistieke elemente opgegee. Hy wou toe net teken wat hy sien, wat hy kon kontroleer, wat hy kon waarneem.

Skade. Want wat ‘n mens in Christus sien, is nie altyd wat ‘n mens kry nie. In die Christus herken sommige dalk net ‘n klein, fyn, vet baba. Mooi mens, sou baie wou uitroep, selfs met bewondering. Maar wie weet van die diepere dinge, die verborgene, wie uit sy kruis lewe, weet dat sy menswording reeds ‘n prysgawe, ‘n opoffering, ‘n mede-deelsaamheid, ‘n lyding was. Inderdaad – in die inkarnasie sien ons die kleur van helderrooi-bloed, die simbool van lyding.

Hier sien ‘n mens hoe lyding uitgeskryf staan oor die kleinstes van kleines. Niemand, maar dan ook niemand ontkom die greep van lyding nie. Maar terselfdertyd besef ‘n mens hoedat die liefde dit omraam. Uit die liefde uit kan lyding verdra word, selfs omarm word. Dit is dan ook uiteindelik die dieper boodskap: alles wat ons doen, hoe ekstreem ook al, het sin as dit deur die liefde gedryf word.

Ek kyk verder na die skildery: die baba is uiteindelik in helderder lig geteken. Sy skoonheid staan uit. Hy baai in liefde. 'n Mens staan verwonderd, aanbiddend oor die gedrewendheid van die liefde. Dit is inderdaad pure lig.

Saturday, August 22, 2009

'n Dag om te onthou....




Ons gaan kuier vanmiddag weer na vier jaar by die Alte Pinakothek in München. Daar hang o.a. hierdie beroemde skildery van die vier apostels deur Dürer in 1526 geskilder toe hy 55 jaar oud was. 'n Mens kan sy meesterskap hier duidelik sien. Dit is waarskynlik van sy beste skilderye.

Die toe al beroemde Dürer skryf in 'n begeleidende brief heel nederig aan die stadsraad van Nürenberg aan wie hy die skildery wou skenk, dat hy nie altyd so tevrede met sy skilderye is nie - hulle is nie eintlik so wonderlik nie en hulle is maar eenvoudige werke. Maar, voeg hy by, aan nie een van sy skilderye het hy soveel tyd en moeite bestee soos aan hierdie een nie.

Dit was waarskynlik een van sy laaste skilderye.

Onder elke skildery is verskillende bybelverse, maar veral prominent is die aanhaling van Openbaring 22:18. Dürer wou met die skildery die owerhede waarsku om die Bybel sy regmatige plek in die samelewing te gee. Uiteindelik is gehoorsaamheid aan God belangriker as gehoorsaamheid aan enige aardse heerser.

Hy wou met die skildery vir Maarten Luther ondersteun. Daarom is die tekste in die skildery ook almal uit Luther se vertaling van die Nuwe Testament. In daardie tyd was dit nogal 'n waagstuk. Maar Dürer het 'n groot bewondering vir Luther gehad: Luther, skryf hy, het hom van baie van sy angste bevry. Dit is nie sonder rede, daarom, dat Petrus in die agtergrond geteken word, met Johannes die Evangelis in die voorgrond nie. Hier is nie enige teken van Petrus as eerste pous nie! En daarom lees Johannes ook sy evangelie se eerste vers: In die begin was die woord! Die bybel is duidelik in fokus.

Later, toe die skildery aan Maximilian, die katolieke heerser in Munchen gegee is, het hy die verse terstond laat afsny. Hoewel hy 'n bewonderaar van Dürer was, was die boodskap van hierdie skildery darem bietjie dik vir sy daalder.

Aan die regterkant is Paulus en Markus: Markus, aan die agterkant, hou 'n boekrol vas. Hy en Paulus (met 'n Bybel, leunende op 'n swaard as simbool vir sy teregstelling) kyk op en voor hulle.

Aan die linker kant is Johannes en Petrus. Johannes hou ook 'n Bybel (Petrus hou sy sleutel vas). Die bybel is oop by Johannes Evangelie. Maar beide hy en Petrus is diep versonke in wat hul lees.

Ons museum-begeleier vertel ons: So lyk meditasie. Diepe nadenke oor die Bybel. Dürer, die groot kunstenaar uit die tyd van die Reformasie, het goed geweet dat die Bybel nie maar net intellektuele, historiese inligting bied wat vir ons vertel wat ons alles oor God moet weet nie. Hier is die Bybel die boek waarin 'n mens wegsink, wat die bron van die lewe is, wat bo alles vir 'n mens aan Christus verbind. Hierin was Dürer sterk gevorm deur Luther wat vir die Johannes Evangelie spesiale waardering gehad het omdat dit so sterk op Christus gefokus het.


Ek sien hierdie ingekeerdheid van die twee karakters vir die eerste keer raak.

Ek neem die foto, want ek wil daaroor gaan nadink.

Dit laat my bly nadink, veral ook toe ek net daarna kyk na Durer se self-portret in dieselfde saal. Dit is 'n indrukwekkende stuk werk. Volgens sommige wou Durer hier 'n Christus-agtige figuur teken, nie eintlik homself nie.
















Laat-aand, nadat ons die laaste van ons kinders afgesien het, kom ons weer aan in Regensburg. Ek gaan deur die foto's van die afgelope twee dae. Die woud-toneel langs die Donau, direk langs ons huis, is genoeg om 'n mens ook verder in 'n meditatiewe bui te bring.

Dit was 'n geseënde dag...




Friday, August 21, 2009

Mistici en brandende liefde

Die mistiek gaan, kortweg, oor die eenwording met God.

Heel eenvoudig sou ‘n mens ook van die mistieke besef kan praat wat daar by mense ontbrand wanneer hulle besef dat God die mens en skepping lief het om geen ander rede as dat God wil nie - sonder rede, sonder teenprestasie, sonder enige voorwendsel. Eenvoudig net lief het. God gee om vir mense en vir die skepping.

Hoe wilder dit in die wêreld gaan en hoe meer chaos daar is, hoe meer skop hierdie besef van God se brandende liefde by mistici in.

Die mistiek het ‘n verskriklike passie vir God se mensdom en vir die skepping. Juis vanweë hierdie passie baklei mistici teen onreg, teen alles wat mense se waardigheid van hulle ontneem, wat die skepping vernietig en aan haat onderwerp. Hulle veg vir ‘n mensdom en skepping wat lig is, wat heerlikheid reflekteer, wat goed is, waar God kan regeer.

Mistici is mense wat vanuit die brandende liefde van God leef....

Thursday, August 20, 2009

Memento mori: die lewe is 'n kosbare gawe

Mistieke tekste vra dikwels van hul lesers om hul dood gedurig in gedagte te hou. Daarom speel die motief van memento mori ‘n groot rol daarin. Thomas a Kempis skryf byvoorbeeld in sy boek 1.23 ‘n meditasie oor die dood. Hy skryf daarin dat tyd kosbaar is. ‘n Mens moet die tyd uitkoop. Dit sou beteken dat ‘n mens prioriteite moet hê. ‘n Mens moet daardie dinge doen wat nie vrees in jou lewe sal bring wanneer jy uiteindelik jou lewe afsluit nie. Moenie doen wat jou berou nie, wat jou lewe sal verdonker nie.

Om aan ‘n mens se dood te dink, help dat ‘n mens nie met jou lewe mors nie. Tyd is kort, geleenthede beperk. Om wys te lewe, om ‘n mens se dae te tel, sal beteken dat ‘n mens die gevolge van jou dade sal bly bedink, om so te lewe dat ‘n mens nie vernietig en seermaak nie. Dan besef ons ons kan nie maar net dink dat ons altyd kanse gaan kry om te vergoed vir wat ons kwaad gedoen het nie. Dat ons nou reeds naby God wil lewe en met God op reis wil gaan.

Dit beteken nou nie noodwendig dat ‘n mens gedurig moet bid of Bybel lees nie.

Ons besef die lewe gaan oor blydskap, oor vervulling, oor harde werk van 8 tot 5, oor liefde, oor reis, oor skool toe gaan, oor ‘n kuiertjie met vriende, oor uitkamp, oor ‘n lekker boek lees, ‘n lang brief skryf, ‘n fliek kyk. Dit maak ons lewe vol. Maar ons kan sulke dinge doen terwyl ons doodverveeld is. Dae wat gelaai is met sulke dinge kan ons frustreer, irriteer en vies maak. Dit kan sonder enige betekenis wees. Ons kan ons dae omwens in gevoelens van diepe depressie en moedeloosheid.

Of die oomblikke kan vir ons, in die lig van die ewigheid, kans bied om die goeie raak te sien, om die natuur te geniet, om dankbaar te wees vir die liefde van dierbares, om bly te wees as iemand vir ons goed is, om gesond te bly, om uitdagings by die werk aan te pak tot God se eer en om ook daar ‘n getuienis van liefde te lewe. Dan word ons lewe vervullend.

Sommige mense sal dink dit is ‘n bietjie morbied om gedurig aan jou dood te bly dink. En natuurlik kan dit morbied en selfs obsessief wees.

En tog, vir ons wat glo die dood is die oorgang na die groter skoonheid, die warmer liefde en die volle nabyheid van God hoef dit nie so te wees nie.

En buitendien het die memento mori, die onthou van die dood niks obsessiefs nie. Eintlik beteken dit dat ons ons daaglikse lewe in ‘n gees van gebed moet beleef. Iewers moet ons die kosbaarheid van die lewe ervaar. Dit nie vermors nie. Ons moet dus besef hoe belangrik is gebed, veral wanneer ons ook bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Daardeur sê ons dat wat ons eet vir ons ‘n gawe van God is. Ons mees gewone dade en gebruike en gewoontes moet ons kan ervaar as ‘n goddelike gawe. Ons moet ons lewens sien in die lig van God se liefde wat ons lewe vul met skoonheid en vreugde.

Wednesday, August 19, 2009

Innerlike sorg

Ek bly nadink oor die uitspraak dat sonde dikwels daaruit bestaan dat ons sonder dat ons dit eers weet, ander mense groot skade kan aandoen (sien 'n vorige blog).

Ons redeneer dikwels presies andersom: ons dink sonde is iets wat ons willens en wetens verkeerd doen. Maar om te dink dat sonde juis dit is waarvan ons nie eers weet nie! Dis kwaai. En dit is, soos ek geskryf het, iets wat ons bewus maak van hoe sensitief ons moet wees vir die gevolge van ons denke en dade.

Ons moenie dink ons kan nie regtig so verskriklik wees nie. Ons het min lig in ons, skryf Thomas a Kempis in sy boek 2.5 en die bietjie lig wat daar wel in ons woon, verwaarloos ons nogal maklik. Ons onderskat die donkerte in ons binneste en hoe maklik ons verskonings kan uitdink vir wat ons verkeerd doen.

Ek bly verder ook in hierdie verband nadink oor die gedagte dat ons somtyds baie hard kan wees teenoor onsself en kan weier om ons te vergewe vir dinge wat ons verkeerd gedoen het. Ons moet dus ook kan aanvaar dat ons foute sal maak.

Maar hoe nou gemaak? Aan die een kant onderskat ons die kwaad in ons, terwyl ons aan die ander kant ‘n slagoffer word van die kwaad wat ons gedoen het.

Wat beteken dit alles? Dit beteken nou alles dat ons elke dag ons innerlike mens moet voed, net soos met ons uiterlike mens wanneer ons ons bed opmaak en onder ‘n stort inklim. Ons kan nie maar net lewe asof ons vanself alles sal goed doen nie. Ons moet skoonmaak, goed skoonmaak. Ons moet naby aan die bron van lewe bly, sodat ons nie dood en verwoesting saai nie.

Ons moet innerlik skoon wees, ‘n plek waar liefde woon, waar destruktiwiteit nie kan wortel skiet nie.

Ons kan onsself nie vir een oomblik verwaarloos nie. Met sorg, met liefde, met omsigtigheid moet ons ons self ondersoek of ons in die wil van die Here leef, in diens van die liefde is.

Iets spesiaals gebeur met onsself wanneer ons versigtig na onsself kyk, besef hoe feilbaar ons is, hoe maklik slegte dinge in ons lewe inkruip, ongemerk, en wortel skiet. Te spoedig, besef ons dan, sal ons onkruid sien opskiet waar ons vroom gedink het die aarde is vrugbaar.

Dit is dan dat ons begin besef hoe onderduims die bose is, hoe dit insluip waar ons dit nie verwag nie, hoe dit alle menslike lewe bedreig, dat almal gewikkeld is in die stryd teen die kwaad, dat ons in hierdie wêreld so versigtig soos die duiwe moet wees om nie verder kwaad toe te laat nie.

Net soos ons dan kan aanvaar dat ons somtyds groot foute maak en daarom die verlede moet kan agterlaat, net so sal ons ander wil inspireer tot ‘n sorgsaamheid en sensitiwiteit om die goeie te dien.

Dit is dan dat ons ook verstaan hoe ons ander mense moet omarm: ons word saam deur die kwaad bedreig. Ons faal dikwels in ons stryd. Ons is dikwels nie eers bewus dat ons soveel kwaad doen nie. Hoe meer ons in besorgdheid soek na ‘n innerlike lewe wat rein is, hoe meer sal ons besorgd wees om nie instrumente in die hande van die kwaad te wees wat ander mense se lewens bedreig nie.


Ons kan nie genoeg sorg en aandag aan onsself gee nie. Hoe meer ons dit doen, hoe meer sal ons sorgsaam uitreik na ander.

Tuesday, August 18, 2009

Duitse maniere
















Ons is vanaand deur ons gasheer op 'n egte Duitse, oftewel Bayerische manier getrakteer. In 'n biertuin waar bier nou reeds vir sewehonderd jaar gebrou word. Hulle dink uit half liter glase, maar my gasheer vertel dinge is nie meer wat dit was nie. Tot onlangs het almal nog uit liter glase gedrink.....

Die bierdrinkery gaan terug op die vastyd in die klooster toe priesters toegelaat is om te drink, maar nie te eet nie. Daar was darem 'n limiet op die getal biere per dag: nie meer as vyftien nie!

En vertel hy, toe die pous hoor van die bierdrinkery was hy nie baie simpatiek nie. Hy het glo 'n bestelling geplaas sodat hy kan proe of dit toelaatbaar is. Teen die tyd dat die bier in Rome opgedaag het, was dit glo byna ondrinkbaar suur. "Nouja," het hy met 'n suur trek om die mond uitgeroep, "dit is duidelik toelaatbaar want geen mens sal baie hiervan kan inkry nie..."

Terug van die biertuin het ons oor 'n heerlike someraand oor die agthonderdjarige klipbrug teruggestap die ou Regensburg-middestad in. Die brug oor die Donau is een van die beste voorbeeld van Middeleeuse boukuns, waarskynlik in Europa. Onbeskadig deur die oorlog. Maar tans word verkeer nie meer daaroor toegelaat nie. Die tyd begin die brug ook inhaal.

Ou-ou tradisies. Wonderlike verhale. Ou gewoontes. Dit is so vas soos klip. En tog, die tyd haal alles in, alles.

Wat 'n mens dankbaar laat vashou aan dit wat ewig duur. Ek slaap vanaand in met 'n gebed van dankbaarheid vir almal tuis, ons mooi land met sy eie tradisies, familie en vriende en almal wat verlang na innerlike rustigheid. So rustig soos 'n Duitse somersaand in die stil Regensburg.

Monday, August 17, 2009

'n Sondagmiddag in ons nuwe blyplek

Skemer in Regensburg, net langs ons blyplek























Die katedraal in Regensburg.















Die Donau. Ons is drie minute se stap weg.




















Ons swem in die Donau.




















Die dood loer (met 'n piesang in die mond) uit sy hoekie in Regensburg....







Seuntjie in 'n Regensburgse reenboog...

Sunday, August 16, 2009

Armoede is nie 'n skande nie - oor konformiteit aan Christus

Om een of ander rede bly ek nadink oor die konteks waarin Thomas a Kempis sy Navolging geskryf het. ‘n Mens kan moeiliker ‘n donkerder situasie vir so ‘n klassieke werk voorstel. As ‘n mens dink hoe mense vandag oor armoede dink en hoe intens ons rykdom begeer (lotto, toeëiening, opeis, entitlement), word die skryf van sy boek in so 'n ellendige konteks des te meer indrukwekkend.

Armoede is nie ‘n skande nie. Swaarkry hoef ‘n mens ook nie onder te kry nie. Thomas a Kempis se Navolging van Christus word geskryf in ‘n tyd toe die situasie in Nederland en Europa sleg was en die geestelike lewe van die kerk alles behalwe inspirerend was. Ek bly geboeid deur hierdie situasie – hoe meer ‘n mens die historiese konteks van die boek leer ken, hoe meer word ‘n mens verbaas oor die aard en inhoud daarvan.

Thomas leef in die baie moeilike veertiende en die vyftiende eeue (sien vorige blog). In hierdie tyd ervaar vele lande in Europa groot probleme. Dit is die tyd van die swart pes, toe baie mense en selfs hele dorpies uitgewis is. Die landbou is ook swaar getref toe oorstromings oeste uitgewis en hongersnood toegeslaan het. Boonop was daar vir dekades lank oorlog tussen Europese ryke (bv. die Honderdjarige Oorlog).

Mense is origens verdeel in twee groepe: daar was die rykes, die adel aan die een kant wat in luukse geleef het. Die kerk en sy geestelike leiers was ‘n sterk mag. Hulle kon die armes met belastings slaan wat nog verder tot hulle swaarkry bygedra het. Enige iemand met ‘n bietjie geld en invloed kon belangrike ampte in die kerk koop. Die geestelikes het ook oor die algemeen meer in politieke belang gestel as in geestelike sake. Aan die ander kant was daar die groot massas van armes.

En tog was daar ook ‘n ander groep naas hierdie ryk en magtige mense. Hulle het hul roeping bedink in terme van konformiteit aan Christus. Hulle het Christus ervaar as die Arme. En hulle wou so arm wees soos Christus. Maar, het hulle geredeneer, arm beteken nie om sleg en ellendig te wees nie. ‘n mens kan arm, maar goddelik wees. Boonop het hulle hierdie armoede nie as ‘n lot gesien nie, maar dit as ideaal nagestreef en begeer. ‘n Mens kan al jou wêreldse besittings prysgee en nog rasend gelukkig wees.

Op hierdie manier ontstaan daar die beroemde ideaal van die “armes van Christus” (pauperes Christi). Die ideaal van armoede het tot die stigting en werk van heelwat groepe gelei. Daar was die begyne – ‘n vroue-groep wat veral die goddelike liefde besing het, maar spesifiek onder arm vroue gewerk het (daar was ook ‘n manlike weergawe). Dan was daar groepe wat armes geestelik wou bystaan en begelei. Een so ‘n groep was die Kartusiërs wat geestelike literatuur geproduseer en versprei het.

Om armes te help het vir hierdie mense beteken om hulle te bemagtig, lewenskennis te laat kry, vir hulle by te staan om met eer en waardigheid te lewe. Dit was nie 'n jammer-Sannie houding van ons is sulke goeie mense wat julle uit julle ellende kom help nie. Dit was 'n diep godsdienstige gesindheid van mee-leef in liefde sodat ons menswaardig kan leef en in alles dan in konformiteit met Christus kan wees.

Dit was hierdie groepe waaruit die Navolging van Christus uiteindelik gebore sou word.

Wat my opnuut laat besef: Armoede kan die mens tot edelheid aanspoor en verhef. Godsdiens kan armoede van sy verontmenslikende werking beroof.

‘n Mens hoef nie deur die donkerte van te min of te kort skiet oorweldig te word nie. In die donkerste tyd kan die bevrydende woord, die woord van genade helder skyn.

Oral waar ‘n mens in eenvoud die liefdevolle gelaat van Christus ontmoet, daar word ‘n mens waarlik vry. Dan is die gebondenes en die gevangenes nie hulle wat magteloos is nie, maar eerder hulle wat rusteloos in kastele en in hoë kerklike posisies sit.

Armoede hoef nie ‘n skande te wees nie. Ellende hoef ‘n mens nie te verpletter nie. Dit hang maar net af hoe naby ‘n mens aan Christus leef. Om in die liefde van Christus geborge te wees kan die mooiste in ‘n mens na vore bring.


Ons soek welvaart. Ons begeer rykdom. Ons sug daarna en sluit van ons kant allerhande kontrakte met God af sodat ons tog voorspoedig kan lewe. En intussen verarm ons geestelik hoe voorspoediger dit met ons gaan. Miskien is Thomas se Navolging vir ons in ons welvaart 'n boek om ons opnuut weer te help om so ryk te wees dat dit ons gelukkig sal maak - en nie gieriger nie. Die groot uitdaging is om ons voorspoed so geestelik te beleef dat dit ons sal vrymaak en nie verder bind nie.

Saturday, August 15, 2009

Om God se aanraking af te wag - die eie aard van Christelike spiritualiteit

Hoe kan ek God ontmoet en ervaar? Dit is vir baie mense die groot vraag.

Hiervoor moet ‘n mens jou inspan, word geredeneer. Die vernuwing wat ‘n mens soek, kom net wanneer ‘n mens allerhande middele met dissipline en toewyging toepas. Deur byvoorbeeld jou gedagtes te rig op die sentrum van jou bestaan, deur konsentrasie-tegnieke, deur diepe meditasie of deur jou in te stel op die wêreld om jou en op ander mense, kan ‘n mens jou beperkende grense deurbreek. Dan styg jy uit bo jouself. Jou gees ontwikkel tot groter hoogtes. Jy kry deel aan die gees wat alle mense deurdring en wat van hulle beter mense maak. Dit is byvoorbeeld ook in Oosterse mistiek prominent.

Hier word geredeneer dat ‘n mens jouself vernuwe, jy kom tot jou volle potensiaal. Jy word wat jy eintlik veronderstel is om te wees. In sommige gevalle beweer mense dat hulle deur die gebruik van dwelms soos LSD onbeskryfbare godsdienstige belewenisse het. Hulle word dan vernuwe om meer vredeliewend en menslik op te tree.

Dit kan alles waar wees. ‘n Besige, dol lewe waarin alles om jou lewe en jou werk draai skep nie juis ‘n ruimte vir ‘n ontmoeting met God nie. Deur ‘n mens se liggaam en gees in te oefen, kan ‘n mens inderdaad goed voel en ‘n lewe van vrede ervaar. ‘n Positiewe uitkyk op die lewe, waardering vir ander mense, liefde vir ons wêreld en ‘n gesonde liggaam saam met konsentrasie-oefeninge kan wonders vir ‘n mens doen. Ek sou nie dit van LSD wou sê nie, want die gebruik van dwelms lyk vir my gevaarlik en gewoon onnosel.

Maar, as ‘n mens nou al hierdie dinge gedoen het, is die vraag: wat is nou mistiek daaraan? As ‘n mens goed konsentreer, gefokusd is, in stilte jou onttrek en allerhande tegnieke toepas, is jy eintlik nog net gereed vir meer – jy het nog nie aangekom waar jy wil wees nie. Al hierdie dinge is immers waardevol omdat hulle jou by ‘n sekere plek wil uitbring en in ‘n sekere ruimte wil laat leef. Maar wat is hierdie ruimte? En hoe lyk hierdie plek? En waartoe dan al hierdie tegnieke en metodes?

Die mistieke oomblik is wanneer ons in hierdie ruimte van heiligheid te staan kom en bewus raak van ‘n dieper dimensie wat ons in ons gewone lewens en in ons binneste nooit herken nie. Hier reik God van buite ons na ons uit, hier beleef ons die onpeilbare teenwoordigheid van die Ander, die Liefde wat, in die Christelike spiritualiteit, alle verstand te bowe gaan. En hierdie Liefde doen iets aan ons – dit reinig ons. Dit is nie ons liefde wat nou ‘n hoër vlak bereik nie. Ons ontvang ‘n vreemde Liefde, ‘n liefde wat “van Bo” af kom, ‘n liefde wat ons omkeer en verander.

In die Christelike mistiek is die weg van die mens na God alleen maar daar om uiteindelik God se koms na ons te ervaar. Die eindpunt van ons geestelike reis is juis dat ons van ons “ek” verlos word deurdat ons ontdek daar is meer as net ons eie ek. Die lewe is oor meer as net my volle potensiaal.

Dit het groot implikasies. As ons in afsondering ons voorberei op God se koms na ons, op die goddelike aanraking, bring dit ons in ‘n onherroeplike, onlosmaaklike verbintenis met die Ander. Ons kan nie meer vir onsself leef nie. En in die Christelike mistiek beteken hierdie gerigtheid op die ander in liefde dat ek sin vind juis in die weggee van myself.

Eintlik weet ons dit te goed – dat daar niks mistieks daaraan is om “meer” van onsself te ontdek nie.

Dit is beter om te gee, as om te ontvang, is woorde van Hom wat naby aan die Vader geleef het en na ons toe gekom het om ons verhouding met die Ontfermende een te herstel. En ons onderskat hoe diep hierdie woorde in ons psige gaan lê het. As ‘n mens in die gees van Christus ingebed is, is jou hart nie op jouself gerig nie.

Ons weet dit ook uit die liefdesweg van die vleesgeworde Christus. Jesus se aardse weg na God, sy soeke na God – in die woestyn, op die berg van verheerliking, in die tuin van Getsemane en diep-verlangend aan die kruis op Golgotha, was nie ‘n soeke na self-vervulling nie. Dit het ter wille van ons gebeur. En toe Hy uiteindelik in ere langs die Vader herstel is, vertel die Christelike tradisie ons, was ook hierdie ere-posisie op ons ingestel, op ons bekragtiging. Vanuit sy verheerlikte staat, hoor ons die Bybelverhaal sê, gee Hy opnuut weer vir ons die Heilige Gees van liefde sodat ons soos Hy kan uitreik in krag.

Ons het geen mag om hierdie ontmoeting met God te bewerkstellig nie. Dit word alleenlik maar aan ons geskenk. Geen tegniek, konsentrasie, geen dwelms of meditasie sal hierdie ontmoeting tot stand bring nie. Ons kan maar net wag daarop. Afhanklik, verlangend. Ons moet alleen maar gereed wees daarvoor, verlang daarna, bid daarvoor.

Ons is op heilige grond. Ons het buite ons bekende terrein beweeg, ons wêreld agtergelaat om deur God so gesuiwer en geheilig te word dat ons met ‘n totaal ander perspektief terugkeer en kyk na waar ons vandaan gekom het. Hier ontdek ons iets groters as onsself, Iemand buite en belangriker as ons. Ons word deel van ‘n goddelike verhouding.

Friday, August 14, 2009

Lewensvreugde

In ons prestasie-gedrewe wêreld met sy wen-kultuur soek ons gedurig na erkenning. Ons voel goed en bly wanneer ons beloon en geprys word omdat ons gepresteer het. En ons is hoogs misrabel wanneer ons nie deur ander raakgesien word nie. Soms kan vorme van erge depressie teruggevoer word op mense se gevoel dat hulle as minderwaardig beskou word en nie deur ander aanvaar word nie.

Die ironie is dat selfs mense wat hoog uitstyg, ook hulle misrabele tye het.

In spiritualiteit word ‘n totaal ander lewenshouding gekweek as hierdie sug na uiterlike erkenning. Die bekende spiritualiteitskrywers help ons om te verstaan waarom selfs die beroemdes en die rykes en die bestes onder ons nie noodwendig meer vreugde en vervulling as ander ervaar nie. En hulle help ons om agter te kom hoe ons egte vreugde selfs in die eenvoudigste tye van ons lewe kan ontdek.

Thomas a Kempis skryf in sy Navolging 2.6 oor die dinge wat ‘n mens egte vreugde gee. Dit is maar een perspektief wat ‘n mens vanuit spiritualiteit op vreugde kry. Tog is dit ‘n waardevolle les in die egte lewenskuns.

Wat ‘n mens werklik bly maak, skryf hy, is jou goeie gewete. ‘n Mens sal selfs in die donkerste tye van jou lewe innerlike rus ervaar as jy ‘n goeie gewete het.

En alle mense het maar hul donker tye. Vir sommige is dit as hulle nie erkenning kry nie of as hulle gekritisieer word.

Thomas dink hier oor Galasiërs 6:14 waar Paulus skryf: “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.” Volgens Paulus kan ‘n mens selfs in teenspoed roem, want dan roem ‘n mens in die kruis van Jesus. Wanneer ‘n mens wêreldse voordele prysgee of jou nie steur aan wat mense normaalweg as belangrik beskou nie, is daar tog nog goeie rede om te “roem.” Te midde van alles wat ‘n mens prysgee, is ‘n mens nog steeds by God en jou hart nog gerig op God se liefde.

Maar ‘n mens moet ook onthou dat vreugde wat van buite kom nie lank hou nie. Die lof wat ‘n mens van ander mense kry gee maar vir ‘n kort rukkie vir jou vreugde.

Egte vreugde, daarenteen, is vreugde in God. Wie bly is in God, voel vere vir tydelike dinge. Hulle is werklik “tydelik”, net vir ‘n tydjie, terwyl God ewig is. Om ‘n mens in tydelike dinge te verlekker, wys verder dat ‘n mens nie werklik vir God lief het nie. Thomas skryf dan, “Die mens ervaar groot vrede in die hart wanneer die lof of kritiek van ander mense nie regtig saak maak nie. Die mens met ‘n suiwer gewete is die mens wat maklik tevrede en gerus is.” Dan volg woorde wat my bybly: “’n Mens is nie heiliger as jy geprys word nie; jy is ook nie nutteloos omdat jy gekritiseer word nie... Woorde kan ‘n mens nie belangriker maak as wat ‘n mens reeds vir God is nie.”

In ons geestelike reis gee hierdie wete dat God liefdevol na ons uitreik omdat ons kosbaar is in God se oë egte vreugde. Ons kan geen groter erkenning kry as dit nie. God aanvaar ons volkome en graag. Uit hierdie verhouding met God vloei 'n lewensblyheid wat die lewe die moeite werd maak.

Thursday, August 13, 2009

Die Gees van Christus - oor die mistiek en konformiteit

Ek hou van die praktiese karakter van die mistiek. Daar is deur die eeue in mistieke tekste ‘n ondertoon van pastorale bewoëndheid wat my nog altyd aangespreek het. Die mistagogie as die geestelike begeleiding van gelowiges eerder as teologiese skoling van mense, is ‘n wesenskenmerk van die mistiek. Die praktyk van die mistiek is op lewenswysheid ingestel, op die lewenskuns, nie op serebrale bekgevegte nie. Dit gaan mos immers daarin om transformasie, om ‘n toewyding, om ‘n lewe van vernuwing. En die mistiek wil mense begelei om heel eenvouding en konkreet te leef.

Een van hierdie praktiese maniere wat ons in mistieke tekste, veral in tekste wat ‘n Christus-mistiek bepleit, raaklees is die fokus op gelykvormigheid/konformiteit aan Christus. Heel eenvoudig beteken dit dat ons hele lewe ingestel is op die vorm van die goddelike in die lewe van Christus.

Ek het meer hiervan gelees in Sushaku Endo se boek, Silence, oor die wrede vervolging van Christene in die vyftiende eeu in Japan (sien vorige blogs), wat tragies eindig. Die hoofkarakter in die boek, Rodrigues, word deur die verskriklike marteling van Christene gedwing om ook Christus te verloën. Sy lydensweg eindig in verraad wanneer hy gedwing word om op ‘n fumie, ‘n afbeelding van Christus se gesig te trap.

Endo skryf herhaaldelik in die boek oor Rodrigues wat Christus se gesig bly onthou en bly bedink in sy uiters moeilike omstandighede. Die gedagte aan Christus se gesig wat liefdevol na hom kyk, hou hom aan die gang. Dit is daarom feitlik ondenkbaar dat Rodrigues, wat innerlik so nou verbind is met die geliefde gelaat van Christus, uiteindelik daarop moet trap – dit maak die verraad soveel intenser. Die verskriklike oomblik van sy verraad beskryf Endo as volg: “The priest raises his foot. In it he feels a dull, heavy pain. This is no mere formality. He will now trample on what he has considered the most beautiful thing in his life, on what he has believed most pure, on what is filled with the ideals and the dreams of man.” Die gesig van Christus is die teken van iets diepers, van die mistieke, verborge dinge van God. Wie na Christus kyk, kyk dus eintlik diep in die hart van God, en daarmee ook diep in sy eie hart.

In die mistiek speel meditasie ‘n groot rol. Nadenke oor die Bybel, maar ook oor die dood (momenti mori) is byvoorbeeld belangrik. Thomas van Kempis skryf in die eerste hoofstuk van sy Navolging oor wat dit beteken om Jesus te volg: ons hoofdoel moet wees om te mediteer en na te dink oor die lewe van Jesus Christus. Dit is hoe ons die gees van Christus ontvang. Ons moet soek om in ooreenstemming met, of konform aan die lewe van Christus te wees.

Ek kan verstaan waarom Endo so geboeid is deur die gesig van Christus, veral as ‘n mens dit in die lig van Levinas se opmerkings bedink. Jou gesig gee jou weg. Jou kyk verraai jou. Jou lewe staan oor jou gelaat geskryf. Om Jesus se gesig te onthou, beteken vir Endo om absolute skoonheid te sien. Dit is ‘n gesig wat suiwer en rein is. In die gelaat van Christus sien ons die goddelike verlange na mense en na die wêreld. Ons herken in daardie oë die klop van ‘n liefdeshart. Ons sien in die stil voorkoms ‘n verwondbare Heiland. Ons herken God se “ideale” en “drome” vir ons.

Wanneer ons ons lewens inrig konform aan Christus, beteken dit dat ons onsself instel op wie hy is, op wat hy gedoen en gesê het. Ons moet leef in die gees van Christus (Rom.8:8). In ons spiritualiteit soek ons na ‘n intieme verhouding met Christus deurdat ons toelaat dat alles wat ons van Christus lees, ons gees binnedring en ons dryf om hom in liefde te volg. Dit is God se genade – dat ons so ‘n voorbeeld het. Hierdie Christus kom eers, dan word ons deur hom tot dissipelskap geroep. Deur gedurig naby aan Christus bly, deur in intieme dissipelskap met hom gelei te word om al die ydelhede van die wêreld op te gee, soos Thomas skryf, word ons deur God se genade oorweldig, gereinig, herstel en geheilig. Dit het niks met werksheiligheid te maak nie. Trouens, dit is ‘n oorweldigende genade gawe - ons kry Christus as gawe om soos Christus te word.

Ons kan die Bybel in groot heiligheid en prestasie-ywer baie lees, baie bepraat, baie bedink, maar as die Bybel nie die genade in ons uitstort nie en in ons die Gees van Christus bewerk nie, het ons dit vergeefs gelees.

Met Endo se boek het ek besef hoe totaal ‘n mens op Christus met al jou sintuie ingestel kan wees. Deur hierdie boek het die vleeswording vir my nuwe betekenis gekry het. God het die woord vlees laat word, sodat ons kan “sien” wie God in liefde is. Christus is die gesig van God se genade!

Wednesday, August 12, 2009

Weg van die kerk na ‘n nuwe toewyding....

Ek was nog altyd geïnteresseerd in die feit dat die Navolging van Christus wat so ‘n enorme invloed op die kerklike lewe gehad het, van alle plekke in Nederland geskryf is. Die skrywer was deel van ‘n taamlik onbekende deel van hierdie letterlike klein landjie. In hierdie deel was daar 'n paar sterk kleiner stede. Hulle word nie altyd raakgesien nie, want Amsterdam as wêreldstad met sy beroemde geskiedenis (die Here 17!) kry meestal al die aandag.

Hier in die deel van die land ontstaan ‘n godsdienstige herlewingsbeweging wat later sou uitloop op die groot reformasie van Luther en Calvyn. Dit het alles begin in ‘n paar kleinerige stede in die Ooste van Nederland.

Thomas A Kempis se Navolging van Christus kan nie verstaan word as ‘n mens nie die konteks waarin hy geleef het in ag neem nie (sien vorige blog). Dit geld veral vir die ekonomiese situasie van die Nederlandse area waar hy geleef en gewerk het. Daar was ‘n paar stede soos Kampen, Zwolle, Zutphen en Deventer wat sterk handelssentra was. Hulle was Hansa-stede, deel van die beroemde Hansa Konfederasie. Hierdie stede was nie naasteby so groot soos byvoorbeeld Amsterdam nie, maar hulle het internasionaal handel gedryf en het ekonomies vooruitgegaan. Daarbenewens was hulle mense wat hul onafhanklikheid nogal hoog geag het. Hulle het hulle nie maklik laat rond-order deur ander nie, wat ‘n mens van die kaaskoppe nogal nie verbaas nie.

In so ‘n situasie bly die geestelike lewe gewoonlik nie agter by die ekonomiese situasie nie. As ‘n mens handel dryf met ander lande, verkoop jy nie bloot hulle ware nie. Iewers word jy op baie ander fronte aan verskillende invloede blootgestel. Op die manier het byvoorbeeld baie geestelikes na die Hansa-stede gekom om vir die plaaslike mense te preek. Hulle het veral gehelp met die opvoeding van die plaaslike inwoners, maar was ook betrokke in maatskaplike opheffing van die armes.

Van hierdie werkers was veral bekommerd oor die geestelike toestand van die kerk. Hulle het sterk gevoel dat daar verandering in die kerk moes kom. Hulle het die kloosters gekritiseer oor die uitspattige lewenswyses, maar hulle wou ook dat die gewone mens ‘n geestelike verdieping ervaar. Bygelowigheid, onverskilligheid en geestelike oppervlakkigheid onder hulle tydgenote het hulle diep gekwel. Vir hulle was dit duidelik dat die tyd ryp was vir ‘n nuwe toewyding, vir wat ons vandag ‘n geestelike herlewing sou noem. Die kerk, het hulle gedink, het sy geestelike karakter kwytgeraak.

Hierdie nuwe beweging het bekend geword as die Nuwe Devosie / die Nuwe Toewyding. Hulle het veral gefokus op die praktiese geloofservaring. Hulle het veral godsdienstige getwis en intellektuele haarklowery afgewys. Vir hulle was die tradisionele praktiese Bybelse wysheid die hart van die geloofslewe. Daarom het hulle sterk klem gelê op die geestelike lees van die Bybel.

Dit is veral die fokus op die “gewone mens” wat my opval. Alles wat die priesters, monnike en geestelikes altyd moes gedoen het, het hulle geredeneer, moes die gewone mense ook kan ervaar. Hier word dikwels van die demokratisering van die geloofservaring gepraat. Die kerk gaan dus nie meer oor die hoge geestelikes nie, maar almal in die kerk moet geestelike groei en verdieping soek.

Die belangrike van al hierdie detail is dat Thomas A Kempis nie op sy eie gekom het tot die skryf van sy boek nie. Die skryf van die boek begin eintlik al voor sy tyd. Hy maak eintlik deel uit van die nuwe toewydinsgbeweging waaraan baie mense deel gehad het en waarin ‘n hartseer verhaal hom ontvou het. Hy skryf in ‘n tyd dat mense voel die kerk en teologie het hulle in die steek gelaat. Dit is ‘n treurige verhaal – hierdie wye gevoel van vervreemding onder kerklidmate. Die kerk wat die ruimte moet wees vir ‘n egte geloofsbelewing, het ‘n woestyn geword waar mense honger en dors na dieper dinge. En dit alles gebeur ook boonop kort nadat Thomas Aquinas sy hoogs geleerde teologie geskryf het. Die teoloë sou gesê het: al die antwoorde is dan daar! Vertel tog maar vir die mense meer teologie...

En tog, al die geleerdheid ten spyt, was die harte honger na ‘n nuwe toewyding, na nuwe vorme van geloofsbelewing.

Laat ‘n mens dink. Laat ‘n mens diep dink. Want die geskiedenis het die neiging om hom steeds te herhaal....

Tuesday, August 11, 2009

Vrye genade... Oor God se bevrydende aanraking

Ons het drie vroue gehad wat ‘n groot deel aan die huislike lewe van ons gesin gehad het. Hulle het die mees intieme dele van ons lewe raakgesien en beleef: wat of hoe ons eet, dra, waar ons slaap, hoe ons met mekaar praat, watter boeke ons lees, watter meubels ons aankoop, die skildery wat ons teen die mure hang, al ons sindelike en onsindelike gewoontes. Hulle het ons kinders gesien groot-word, skool toe gaan, uit die huis uit na die universiteit toe vertrek, om te trou en die nuwe kleintjies wat bykom.

Celia was ons laaste hulp en steun. Sy was ‘n groot vrou wat by tye swaar beweeg het. Maar sy het nooit ‘n enkele dag se werk gemis nie. Getrou en gereeld het sy opgedaag, al die pad van die township. Altyd dieselfde, betroubaar, vriendelik, stil, eintlik gedurig op die agtergrond. Sy was, soos baie ander van haar tyd en geslag, ‘n sterk vrou. Dit het mens die duidelikste gesien in die ywer waarmee sy op haar onaansienlike salaris haar kinders deur universiteit gehelp het.

Ons het haar gaan opsoek, later, nadat ons al weg was. En sy was die ou Celia, vriendelik, dankbaar, maar steeds nog stillerig en byna beskeie. Tog wou sy weet waar elkeen van die kinders was en hoe dit met hulle gaan. En sy was diep dankbaar en ondersteunend dat ons haar verder gehelp het en veral dat ons haar opgesoek het.

Nie dat alles die spreekwoordelike maanskyn en rose was nie. Celia het ons in die kombuis groot skade aangedoen. Ons koop nie juis blinkighede nie. Maar daar is ‘n paar items wat ons graag besit. Jy parkeer ‘n groot, duur motor in ‘n garage en daar staan die stuk metaal vir die meeste van die tyd totdat jy weer daarin ry, het ons geredeneer. Dus het ons maar altyd ‘n gevoel gehad ‘n mens moenie te onnodig aan daardie kant van die verbruikersmark spandeer nie, al leef jy ordentlik en met gemak. Ons reis eerder na verre lande, koop veeleer ‘n goeie boek wat jy oor dae lank geniet, woon ‘n goeie konsert by of koop ‘n mooi skildery wat jy teen die muur hang en elke keer as jy verbystap en dit raaksien, opnuut weer vreugde kan ervaar. Ons belê dus nie in die blinkighede nie, maar in dit wat mooi is en mooi maak.

Dit is die rede waarom ons ook ‘n goeie, lekker eetstel gekoop het. Duur, eintlik onvervangbaar, maar iets wat ons dikwels ‘n lekker aand saam met vriende en familie laat help beleef het.

Celia het oor die jare wat sy by ons gewerk het, dikwels juis hierdie stel uitgekies om ongelukke mee te maak. En, nogal, elke keer, het sy kom vertel, op haar stil manier, terwyl sy die stuk wys, dat sy ‘n ongeluk gehad het. Ten minste was sy openlik dat sy die skuldige was.

Nadat sy vir die soveelste keer ‘n stuk van die eetstel gebreek het, het ons diplomaties besluit dat sy voortaan nie met die opwas daarvan belas sal word nie. Maar toe was die skade al grootliks gedoen.


Ons het nooit eintlik iets daaroor gesê nie, behalwe miskien ‘n enkele keer dat sy meer versigtig moet wees. Ons het ons nooit gekwel oor hoe sy self oor haar ongelukkies gedink het nie. ‘n Ongeluk is in ons huis as ‘n ongeluk beskou en ons het nooit gedink iemand hoef daaroor groot skuldgevoelens rond te gedra het nie. Soms was daar wel ‘n vinnige woordjie teenoor kinders wat ‘n glas of bord breek geskel, maar altyd met die bedoeling dat hulle versigtig moet wees wanneer hulle met eetware werk.

Die dag toe ons van Celia afskeid moes neem en die groot verhuising aangebreek het, het sy, stilweg, vir ons dankie gesê vir die jare se werk by ons. En toe een ding uitgesonder: dankie veral dat sy nooit uitgeskel is nie, ook nie toe sy die spesiale stel se stukke gebreek het nie.

Ek loop nog steeds, nou reeds jare later, rond met hierdie opmerking in my gedagtes. Dit bly by my. Miskien omdat ek toe begryp het hoe eergevoelig sy inderdaad was en waarom sy spesiaal kom vertel het, met die gebreekte stuk in haar hand, dat sy die skuldige was. Dit was vir haar net so ‘n kwessie dat daardie stukke gebreek het as wat dit vir ons ‘n skok was.

Wat kan ‘n mens nou tog alles skryf oor moontlike gedagtes wat in haar kop gemaal het. Maar wat my bybly, is dat sy dit uitgesonder het – dat sy dankbaar is dat sy nie verskel is nie.

Oor baie jare het ek myself afgevra waarom dit so ‘n indruk op my gemaak het – hierdie dankbaarheid dat sy nooit verkwalik is nie. Ek kan nie onthou dat ons haar ooit oor enige iets anders verkwalik het of met haar geraas het nie. Sy was vir ons ‘n teenwoordigheid in ons huis vir wie ons omgegee het, sodat daar nooit ‘n rede was om oor kleinighede en selfs die groot dinge kwaad te raak nie. Dalk was ons ook bedag daarop om in ons plek, in ons huis, niks van die neerbuigendheid van ons destydse apartheidsdenke te verdra nie.

Ek wonder soms in hoe mate daardie opmerking van Celia nie vir my help om God se genade te verstaan nie. Ek breek soms in my sondige onbeholpenheid die mooiste van mooi dinge in my lewe stukkend. Om dan te ontdek, wanneer ek voor God verskyn om verantwoording te doen, hoe God nie eers dink daaraan nie. As ek maar met die stukkendheid voor God gaan staan, met die stukkende dinge uit my lewe in my hande, innerlik sku en self stukkend oor die skandvlek wat ek in my lewe indra....


Hoe vry is God tog nie van verwyte nie – en daarom hoe oneindig groot in genade. En hoe vry maak God ons tog nie om ook genade te bewys nie. Soms sonder dat ons dit selfs besef. Ons leef so in God se genade, dat ons ‘n leefstyl van genade kry. En ons kan genade aan ander bewys omdat ons in hulle iets van onsself herken: Ons sien hulle naderhand uit God se hoek as ‘n mens wat feilbaar is, wat soms kosbare dinge stukkend breek, maar wat ook behoefte het aan vergifnis. ‘n Mens wat naby aan God se genade leef, wat dit opsoek, kan nie onaangeraak daardeur bly nie. Jy word self vol van genade en van wysheid. Soms besef jy dit nie eers nie...

Monday, August 10, 2009

Bybel-liefde

‘n Mens lees baie oor die gewildheid van Thomas a Kempis se Die Navolging van Christus. Dit was nie sy enigste publikasie nie. Hy het byna veertig boeke geskryf. Onder hulle was daar drie biografieë oor bekende figure uit die Nuwe Devosie (Geert Groote, Florens Nadewijn en St. Lydwine van Schiedam).

Maar dit was veral Thomas se liefde vir die Bybel wat sy lewe oorheers. Daar word baie stories oor sy toewyding vertel. Hoe hy tydens die dienste hom so ingeleef het in die voordrag van Bybeltekste dat hy regop op sy tone gestaan en Bybel lees het. Hy het hom vervies vir mense wat nie toegewyd en ernstig was in hulle lees van die Bybel nie, of wat verveeld met die inhoud daarvan was.

Eintlik was sy houding oor die algemeen oor boeke wat ophef, eerbiedig. As ‘n mens ‘n boek gelees het, het hy geskryf, maak jy dit toe en dank die Here vir elke woord wat jy kon lees. Dan plaas jy dit met eerbied vir die wysheid daarin op die rak en sorg dat dit op sy regte plek staan. Die Bybel veral moet 'n mens met innige toewyding hanteer want dit is die skat in die aarde wat jy raakgeploeg het.

Hy het ook die Bybel in vyf groot dele oorgeskryf en baie positief gepraat oor die praktyk om nuwe manuskripte van die Bybel te produseer.

Hy was ‘n diep gelowige mens wat in sy alledaagse omgang met die Bybel en sy praktiese vroomheid ‘n groot invloed op ander uitgeoefen het. Eintlik was hy ‘n boekwurm. Sy beroemde uitspraak was dat hy vrede net werklik kon vind as hy in sy kamer besig was om die Bybel te lees. Maar dit was veral sy daaglikse omgang met die Bybel wat hom beïnvloed het. Deurdat hy elke dag die Bybel biddend gelees het en daaroor nagedink het, het dit deel van sy murg en been geword.

Geen wonder dus dat mense daarop wys dat die Navolging vol van bybeltaal en verwysings is nie. Iemand wat uit die Bybel leef, is iemand wat ook uit die Bybel skryf. Sy lewe en die Navolging is die teken van sy liefde vir die Bybel wat die geloofspraktyk en die lewenskuns dryf.


Maar afgesien van wie hy was en wat hy geskryf het, is dit veral sy konteks wat interessant is. Thomas is in 1379 gebore, teen die einde van die veertiende eeu. In die vorige eeu het Thomas van Aquinas ‘n teologiese sisteem ontwerp wat ‘n blywende invloed op die teologie uitgeoefen het. Maar sy werk is spoedig hewig gekritiseer deur die bekende dispuut tussen Duns Scotus en William van Occam. Hulle het oor die kleinste detail hewig met mekaar verskil. Een van die groot punte van debat was oor die verhouding van die Bybel as Openbaring met die menslike rede. Al die fyn tegnologiese debatspunte het veroorsaak dat teologie meer en meer ‘n intellektuele saak geword het. Hoe ‘n mens die Bybel verstaan het die fokuspunt geword in plaas van hoe ‘n mens uit die Bybel leef. Bekgevegte oor geloof was aan die orde eerder as ‘n lewe uit die geloof.

Kontrasteer nou met hierdie intellektuele bedryf, die liefde vir die Woord soos dit gevoed is in die lectio divina as die geestelike lees van die Bybel. 'n Mens kan nie anders as om in Thomas se praktiese geloofslewe uit die Skrif 'n teen-reaksie raak te sien nie. Jy lees die Bybel nie om slimmighede op te dis nie, maar om jou geestelike te voed en te vul.

Thomas se konteks was ook ‘n tyd van vulgêre, populêre godsdienstige aktiwiteite, dikwels swaar gelaai met ‘n groot klomp bygeloof. Mense was baie godsdienstig, maar op ‘n onbeheersde, uitspattige manier. Origens was dit ‘n swaarmoedige tyd. Mense het ‘n diepe innerlike pessimisme beleef. Hulle het veel gemaak van die kruis. Die kerklike leiers was meer in politiek as in die kerk geÏnteresseerd. Hulle was geldgierig en het hulle godsdienstige verantwoordelikhede eenvoudig geïgnoreer of gering geskat. Die gewone mense wat dit raakgesien het, het eenvoudig die kerklike leiers geïgnoreer en op hul eie na ‘n innerlike vervulling gesoek. Allerhande vroom praktyke het vir mense belangrik geword eerder as die Bybel en ‘n lewe uit die geloof.

Wanneer ‘n mens die Navolging lees, ontdek jy in baie van Thomas se uitsprake hoe hy reageer op die moeilike omstandighede van sy tyd. Hy is 'n kind van sy tyd wat mense in hul verwarring wil bring om by die egte bron van ons geloofservaring te gaan drink en daar geestelike gevoed te word. Hy het sy hervormingsdrif by die Bybel gevind, luisterende in eerbied na God se helder stem vir die geloof.


'n Mens het nie genoeg plek om die baie ander belangrike kante van Thomas se Bybelse leefstyl te skryf nie. Maar as 'n mens eers gaan stilraak en jou eie omgewing begin bedink, is daar nogal stof tot nadenke. Ons leef in die tyd van die groot teologiese debatte. En hoe meer ons oor al die historiese en literere detail punte aanteken, hoe meer roer die vraag in jou binneste: nou, en....? Is dit regtig waarom dit gaan? Is ons besig om die Bybel so netjies uit mekaar te trek dat ons nie meer weet dat dit 'n geestelike boek is wat ons in verwondering en in verrukking bring wanneer ons hart in die lees daarvan oorgegee is?

Wat my laat dink aan Jesus se bekende woorde oor die wolwe wat die trop skape oppas: lei hulle, vra Jesus. Voed hulle. Tydige woorde. Vermink en verskeur ons geloof? Of verwonder ons ons oor God se spreke?

Sunday, August 09, 2009

Om iemand te verwond - die wese van die sonde

In Shusako Endo se boek (Silence) gaan dit oor die gelowige mens se gevoel dat in die verskriklike lyding van mense, God stil bly. Die motief van stilte word daarom dikwels in die boek genoem. Op ‘n stadium word die priester gevange geneem en in ‘n hut gegooi waar hy alle sin vir tyd verloor. Hy voel dit erg aan want hy het nie eers ‘n gevoel wanneer hy die belangrike kerklike feeste moet vier nie. Terwyl hy wil bid, voel sy gebede vir hom leeg. Sy aandag word afgetrek deur die wagter wat hom oppas en buite die hut aan die lag en gesels is. Hulle geselsery laat hom voel dat hulle hulle afvee aan hom en nie vir ‘n oomblik vir hulle steur aan sy lot nie. Dit is dan dat hy dieper nadink oor sonde: Sonde, dink hy, is nie dit wat mense normaalweg daaronder verstaan nie. Sonde is nie om te steel en te lieg nie. Sonde is wanneer iemand eenvoudig brutaal oor die lewe van iemand anders loop en heeltemal onbewus is van die wonde wat hy daardie mens toegedien het.

Ons is dikwels jammer en berouvol oor watter seerkry ons veroorsaak, dink ek toe ek hierdie woorde lees. En hoeveel wonde dien ons nie ander mense toe nie! Maar intussen is ons salig onbewus van die wonde wat ons ander mense aandoen waarvan ons nie eers bewus is nie.

En hoe diep is ons dan nie deur sonde verswelgd nie.

En dit beteken dat ‘n mens net deur meelewing sonde ontkom. Meelewing, fyn oplet, bedagsaamheid, twee keer dink, wag voor die mond, liefde in die hart. Dit is wat ons nodig het vir ‘n lewe in reinheid, ‘n lewenswyse wat ander nie skade doen nie. Wat my laat dink aan die wyse woorde so lank terug aan die mense op die berg gesê: dink nie net aan jou dade nie. Dink aan jou woorde. Hoe dikwels jy ander kwets (Raka!). En moenie dink dat jy daarmee gaan wegkom nie. Waaksaamheid is ‘n herhalende opdrag in Jesus se lewe: let op, dink wat jy doen, kyk na jouself (die balk!).

En dan, onnmiddellik nadat die priester sonde bedink, volg die wonderlike sin: “En toe, vir die eerste keer het ‘n opregte gebed uit sy hart opgeklink.” Om in die aangesig van die sonde te kyk, skok ‘n mens wakker en rig jou hart op God.

Wonderlike boek met diep nadenke oor lyding en sonde.

Thursday, August 06, 2009

En tog is ons soekers...

Daar is al vir verskeie dekades ‘n groot belangstelling in die Weste vir die Oosterse mistiek – veral soos dit in die Japanse zen, die Chinese wysheid en die Indiese joga na vore kom. Veral meditasie is in die sentrum van belangstelling. Meditasie bring die liggaam in balans met die gees en gee aan ‘n mens die gevoel van balans en harmonie. Sommige mense wil niks van meditasie wees nie, terwyl ander weer voel dat daar ook in Bybelse tekste en Christelike kringe vorme van meditasie voorkom wat sekere ooreenstemming met Oosterse mistiek vertoon. Beide leer volgens hulle dat ‘n mens moet soek na self-beheersing. Beide bring die mens tot ‘n vrede wat al die aardse strydpunte agterlaat en mens bring tot self-verwesenliking. Beide wil beklemtoon dat ons al hoe meer menslik moet word in alles wat ons beleef. Beide aanvaar dat die mistiek die hoogste uiting van ‘n godsdienstige gees is.

Die houding teenoor die mistiek hang af van hoe ‘n mens Oosterse vorme van mistiek verstaan. Hulle verskil onderling baie. Wat egter duidelik is, is dat die Christendom diep moet nadink waarom die tradisionele vorme van godsdiens nie meer vir die Westerse mens bevredig nie. Wat veral opval is dat mense soek na allerhande praktiese, konkrete en liggaamlike vorme van mistiek. Dinge soos joga, reiki, aromaterapie en allerhande danse spreek nie net die mens se gees aan nie, maar ook sy liggaam. Die wilde populariteit van musiek, waar die mense se ervaring aangespreek word, bevestig hoe belangrik liggaamlike ervaringe is. Dit is vir mense nie genoeg dat hulle goed, aangenaam, gerieflik leef nie. Hulle soek na iets meer. Die Westerse samelewing het wonderlike informasie: ons weet alles, ken alles, beleef alles. Kliek op die net en jy het dit.

En tog is ons soekers na iets diepers.

Deur goed op te let wat die Oosterse mistiek vir die moderne mens bied, kan ons opnuut bewus raak van antwoorde wat lank reeds in ons eie tradisies te vinde is. Maar totdat ons dit doen, moet ons weet dat ons brein-godsdiens se dae getel is. Noudat ons al so lank die mistiek uitgeskuif het, het die tyd ryp geword om terug te gaan op ons spore en kyk wat het ons opgegee tot ons eie nadeel. Ons sal verbaas wees oor die antwoorde wat ons in ons eie geskiedenis sal ontdek en wat ons tot nuwe ervarings kan inspireer.

Wednesday, August 05, 2009

Ek voel 'n diepe liefde vir daardie gesig. Oor die mistieke liefde

Ek lees hier in Wenen die boek “Silence” van die bekende Japannese skrywer Shusaku Endo wat al dikwels vir die Nobelprys genomineer was. Sy besondere geskiedenis as Japannees wat katoliek in Japan grootgeword het is bespreek in Philip Yancey se boek oor hom (Japan's Faithful Judas).

Sien die bespreking van Yancey se boek by http://michellan.multiply.com/journal/item/26

Endo se boek gaan oor die verskriklik wrede en suksesvolle vervolginge van katolieke sendelinge in Japan in die sestiende en sewentiende eeu wat die bloeiende Christendom op die eiland feitlik volledig uitgeroei het. In die eerste hoofstuk vertel een van die priesters wat op pad terug is na Japan om die Christene daar te ondersteun en een van hul priesters te soek, Sebastian Rodriguez, van sy gevoelens op die eiland Macao waar hulle oorbly, aan die vooraand van hul lewensgevaarlike reis.

Hy dink na oor die opgestane Jesus se woorde aan sy dissipels: “Gaan na alle nasies en verkondig die evangelie aan almal. Wie glo en gedoop word, sal gered word en wie nie glo nie, sal veroordeel word.” Hy, skryf Endo in sy naam, sien Jesus se gesig voor hom terwyl hy hierdie opdrag gehoorsaam. Dan vervolg hy: Hoe het Christus gelyk? Die Bybel vertel dit nie vir ons nie. Die eerste Christene sien Jesus as Herder met ‘n kort mantel. Met sy een hand hou hy ‘n lam en met die ander hand sy staf. Hierdie figuur is bekend onder baie mense want dit is dieselfde beeld wat baie mense reflekteer. Dit is hoe die eerste Christene die sagte gelaat van Christus voorgestel het. In die Oosterse kerk het Christus ‘n lang neus, krullerige hare, ‘n swart baard. Daardeur het hy ‘n Oosterse voorkoms gekry. Die Middeleeuse kunstenaars het weer vir Christus geteken met die gesag van ‘n koning.

Maar hierdie gesigte kom nie by hom op op die vooraand van sy reis van verskrikking nie. Vir Rodriquez op daardie spanningvolle aand, dink hy egter aan die portret van Christus wat hy as jong tokkelok vir die eerste keer gesien het. Die Christus het een voet op die graf en in sy regterhand ‘n kruis. Op sy gesig is daar ‘n uitdrukking van aanmoediging, toe hy vir sy dissipels drie keer gesê het om sy lammers te laat wei. “Dit is ‘n gesig vol krag en sterkte. Ek het daardie gesig baie lief net soos ‘n man wat geboeid is deur die gesig van die geliefde.” Dit is hierdie woorde: “Ek voel ‘n diepe liefde vir daardie gesig” wat my raak, iets in my laat gebeur, ‘n moment van herkenning by my laat ontbrand.

Endo se boek is boeiend eenvoudig geskryf en bevat ook hoogs ontstellende materiaal oor die lot van die Christendom in die geskiedenis en die ongelooflike toewyding van Christene. Maar dit is nie die geskiedenis wat my so boei nie as die spiritualiteit in die boek. Die skrywer se karakters is hoogs menslik; bang, vreesbevange, geïrriteerd, agterdogtig. Maar hulle is ook begeesterd en, veral, in ‘n liefdesverhouding met Christus.

Dit is ‘n boeiende boek wat ‘n mens nog meer raak in die lig van Endo se eie verwerping deur sy mede-Japannese omdat hy ‘n Christen is en deur die Franse in die tweede wêreldoorlog omdat hy ‘n Japannees was. Vervreemding is ‘n sleutel-woord in sy boeke. Ons word ons tuiste ontsê, ons word verwerp en vervolg. Ons ondervind ‘n nag van duisernis, die donker nag van die siel. En tog, in hierdie donker, stormagtige nag, kan ons die liefdevolle aangesig van Jesus bekyk. Die sagte, sterk, aanmoedigende kyk voel. “Voed my, voed my, voed my....” En dan moedig uitreik na hulle wat ons vervolg.

Ons kan verwerp word en vervolgd wees. ‘n Mens kan uit woede en aggressie oor die menslike gesigte van gelowiges, jou geloof probeer afsweer. Maar, soos in Endo se geval, is daar die verborge krag wat ons gedurig terugtrek, nader na Hom, om Hom in die gesig te kyk. Ons kan selfs ons liefde wil opgee, maar altyd weer trek die groot liefde wat in ons losgekom het toe Hy ons aangekyk het, ons weer terug, nader na Hom. “Ek voel ‘n diepe liefde vir daardie gesig.”


Daar is tog een toneel in die Evangelies wat vir my iets laat sien van Jesus se gesig. Toe Petrus Jesus so maklik by sy vuurtjie verraai het, staan daar dat hy omgedraai het en na Jesus gekyk het. Toe het hy in trane uitgebars. Daardie gesig, daardie kyk.... Ek was ontrou aan die liefde en ek sien dit op Sy gesig....

Tuesday, August 04, 2009

Hoflike hardheid

Wenen is ‘n eerste-wêreld stad. Dit sien ek al toe die vliegtuig aan die daal is. Die lughawe is wel nie groot nie, maar besonder netjies en uitstekend georganiseer. ‘n Mens kry die beste behandeling van die oomblik dat jy van die vliegtuig afklim. Oral is daar aanwysingsbordjies, inligtingspunte, banke, trollies, kaartjiemasjiene en al die luukshede wat ‘n eerste-wêreld land kan aanbied. Die geriewe is oorweldigend. Die sneltrein, lui die advertensie op die lughawe, neem 16 minute om jou tot in die sentrum van die stad te bring en dit ruk jou sak met R120 (heelwat goedkoper as die R375 kwotasie wat ek gekry het om van Stellenbosch na Kaapstad lughawe geneem te word). Neem jy die bus is jy net R70 armer. Maar jy neem ook drie keer langer om in die stad te kom.

Ek staan by die inligtingtoonbank en wag om bedien te word deur ‘n jongerige Oostenrykse vrou. Sy lyk vir my so om en by die 35 jaar, hoflik, ordentlik, so normaal soos jou buurvrou om die draai. Sy bedien ‘n Moslem-vrou, kopdoek en al. Die vrou is seker so 50 jaar, nie so welsprekend nie, maar sy kommunikeer goed. Sy het duidelik hulp nodig. En terwyl ek die twee so staan en bekyk, kan ek agterkom die hulp kom nie te vrymoedig nie. Op elke vraag is daar ‘n een-sinnetjie antwoord.

Toe ek nader staan vir my eie beurt, verander die situasie. Ek praat maar Ingels, want lyk my sommige Oostenrykers hou daarvan om hul vreemde tale (behalwe Arabies natuurlik....) te oefen. Die vrou agter die toonbank is besonder behulpsaam. Sy ruk ‘n kaart hier uit, ‘n inligtingstuk daar, verkoop aan my ‘n treinkaartjie en gaan uit haar pad uit om vir my inligting te gee.

Ek sou seker goed reggekom het met Duits, hoewel die Oostenrykse uitspraak bietjie krom op die oor val. En ek sou my ook self kon help by die masjiene met alles wat ek nodig het om in die stad uit te kom. Maar dit is makliker om van aangesig tot aangesig hulp te kry, en dit nogal in Engels ook. En dit is boonop aangenaam ook, want die gesprek is lekker en gelaai met inligting wat alles vir my makliker maak.

Ek loop tog met ‘n troebel gemoed daar weg. Die distansie, vervreemding tussen mense soos dit tussen die twee vroue na vore gekom het, onstig my. En in die bus op stad toe val dit my op hoeveel gesluierde vroue met hul mans en kinders daar is, sodat ek wonder watter lewe lei hulle. En hulle teenwoordigheid is onmiskenbaar. Niemand in Oostenryk kan onbewus wees van die baie mense uit ander lande wat tussen hulle woon en werk nie. En natuurlik, niemand kan onaangeraak daardeur wees nie. Oral is daar Arabiese mans wat die vloere vee, die taxi’s ry, die busse bestuur, die kelners is. Wenen is, soos die res van die wêreld duidelik vir sy handwerk afhanklik van werkers uit ander lande.

Selfs binne hierdie groepe is daar duidelike ongelykhede. Waar ‘n mens gesinne met kopdoek-vroue sien, loop die man voor, die kinders in ‘n ry en die vrou met die dogters iewers aan die agterkant. In een geval loop die mans met klein tassies en sleep die vrou die groter tas sonder dat die vrou enige hulp van hulle kry.

Dit is, bly ek dink, een van hierdie vroue, reeds aan die verloorkant, wat voor my in die tou op die lughawe om hulp gevra het en so ‘n halfhartige ontvangs gekry het.

Wat my iewers so bietjie laat dink het aan die Leviet en die Priester in die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan: die mense wat die hart moet hê om ander se nood raak te sien, is dikwels die hardvogtigste – en dit op die allerhandste hoflike manier. Vrou agter die toonbank teenoor vrou aan die ander kant. ‘n Mens sou verwag dat dieselfde gender ten minste ‘n bietjie aanklank moet kan genereer. En het Foucault nie reeds 'n beroemde boek geskryf oor die feit dat ons wreder geword het hoe gesofistkeerder ons geword het nie?

Die situasie is eintlik hartverskeurend: die mense wat jy nodig het om die mees basiese dienste in jou land aan die gang te hou, is die mense wat jy die minste vertrou. Hulle lyk anders, praat anders, glo anders. Hulle is die vreemdelinge in jou poorte.

Terwyl ek Wenen uit die bus bekyk, besef ek skielik waarom die tien gebooie spesifiek vra om barmhartigheid teenoor vreemdelinge. Die Bybel weet hoe oud die verskynsel van ongasvryheid is. So oud soos die mensdom. En hoe diep ingewortel ons xenofobiese vooroordele is – soms veral teenoor hulle wat ons omgee nodig het.

Daardie vrou agter die toonbank is tien teen een, 'n godsdienstige Oostenryk, ‘n ordentlike kerk-mens. Voor haar sien sy egter nie die vreemdeling in haar poorte nie. Voor haar sien sy nie ‘n mens wat onseker is en ondersteuning soek nie. Voor haar sien sy ‘n gesluierde vrou, ‘n vrou uit ‘n ander kultuur, godsdiens. Eintlik sien sy voor haar ‘n vyand. En met ‘n ordentlike, saaklike houding gee sy vir daardie vrou die allerminste wat sy kan. Om net daarna vir my, wat eintlik daarsonder sou kon klaarkom, meer te gee as wat ek vra.

Xenofobie is nie net ryp in Suid-Afrika nie. Dit leef in ons allerharte.

Die Samaritaan het die ander een in nood gesien, raakgesien en moeite gedoen. Stilgehou, tyd gegee, aandag bestee, wonde verbind, op ‘n pakesel gelaai, na ‘n veilige plek geneem en gesorg dat die slagoffer gesond verpleeg word. Ons lees hierdie verhaal, dit raak ons en ons herken onsself in ons hoflike hardvogtigheid, terwyl ons begeer om die omgee-hart van die Samaritaan te hê.

Of is hierdie hele verhaal ‘n soet sentimentele storie wat die harde realiteit onderskat? Waar dan, sal die vrede onder ons vandaan kom, die kring van geweld deurbreek word?

Die vrou voor my in die tou het ‘n oomblik stil gestaan, kennelik om nog ‘n vraag te vra. Maar sy het sekerlik besef sy moet maar liewer nie die ordentlike, netjiese dame agter die toonbank verder uitvra nie. Sy het omgedraai en weggestap.

Monday, August 03, 2009

Hy glo wat hy sê....

Ek sit in ‘n gesprek met ‘n kollega en praat oor ons vakgebied. Ons dink na oor die groot winspunte van die afgelope jare: ons is gelukkig al jare verby ‘n fundamentalistiese lees van die Bybel. Ons historiese ondersoek van die Bybel het vir ons wonderlike inligting gebied oor die tyd en wêreld van die Bybel. Ons ontdek nog feitlik daagliks nuwe dinge oor ons wetenskap wat ons help om moeilike probleme in die Bybel beter te verstaan.

Hy vertel my dat hy aan ‘n universiteit gestudeer het onder ‘n professor wat hom besonder geïnspireer het. Dit het vir hom altyd gelyk of die professor glo wat hy vir sy studente sê. Daar was iets aan die professor se spiritualiteit wat hom as student geraak het en omvorm het. Dit is dus nie soseer wat die professor gesê het wat hom geraak het nie. Dit was eerder die manier waarop die professor betrokke was by sy werk wat hom geïnspireer het. Die man het ‘n spiritualiteit gehad wat sy leerders so aangespreek het dat hulle verder in sy vakgebied wou spesialiseer.

Ons weet vandag dat die leser van die Bybel die verstaan van die Bybel bepaal: iemand wat ‘n katoliek in Amerika is, lees die Bybel anders as ‘n Gereformeerde vrou in Reddersburg. Bybelnavorsing het ons al navorsing hieroor gedoen. Net so sal ons geestelike ingesteldheid, ons geestelike rypheid en insig, ons interpretasie van die Bybel bepaal. Wanneer ons byvoorbeeld oor die briewe van Paulus praat, sal ons moet vra watter rol ons spiritualiteit daarin speel. Maar ons spiritualiteit gaan verder as dit: dit raak ook die etiek van Bybel-interpretasie. Met watter geestelike instelling benader ons ons verantwoordelikheid om die Bybel te interpreteer? Watter geestelike waardes dryf ons in ons lees van die Bybel? Dit is nie net interessante vrae nie – dit is lewensbelangrike kwessies. Dink maar net watter verskil antwoorde op hierdie vrae sal maak aan die debat oor die opstanding!

Sunday, August 02, 2009

Van verwildering tot verwondering




Ek lees vandag in een van die Britse koerante dat ‘n plaaslike kerkleier waarsku dat die internet en sy verontpersoonliking van menslike kommunikasie ‘n groot uitdaging bied omdat mense hul sosiale behendighede verloor. Die mens raak al hoe meer geïsoleerd in ‘n virtuele wêreld. Daar is dikwels nie meer direkte, gesonde en helende persoon-tot-persoon kommunikasie nie. ‘n Mens word nie meer geslyp word om ander in ag te neem en vir hulle om te gee nie, maar jy is so in jouself gekeer dat alleen maar jou eie behoeftes en begeertes as jou wet geld.

Dit is inderdaad ‘n uitdaging. Dit is asof ons verby individualiteit in volslae solipsisme, oftewel, afgesonderdheid verval. ‘n Mens kan ‘n totale lewe op jou eie voer met die minimum van kontak met ander. En as jy kontak het met ander, kan jy hulle “inkoop” deur hulle te betaal vir hul dienste sonder dat daar veel van interaksie plaasving. Jy is eintlik nie meer ‘n individu in ‘n groep mense nie, maar afgesonder in ‘n wêreld van jou eie.

Die mistiek ‘n ontmoeting van God met die mens waarin ‘n besondere band en eenheid tussen hulle ontstaan. Vir baie vroom mense is hierdie mistieke benadering “gevaarlik” omdat dit, sê hulle, ‘n hoogs subjektiewe ervaring is waardeur mense maar net ‘n geestelike “kick” soek. Hierteenoor beklemtoon baie mistieke skrywers deur goeie voorbeelde, dat die mistiek altyd weer vir mense aanspoor tot sosiale betrokkenheid. Iemand wat deur God aangeraak is, sal uiteindelik vir God se wêreld en vir ander mense omgee. Baie mistici het eenvoudig geleef, vir die armes en die randfigure omgegee en ‘n lewe van sosiale geregtigheid nagejaag. Karl Rahner het byvoorbeeld veral in sy later jare sterk aangedring daarop dat ons in ons huidige wêreld ‘n politieke heiligheid nodig het waarin ons omgee vir mense wat in nood is en ly. Die mistiek kan nie solipsisties wees nie, asof elkeen maar op sy eie een of ander geestelike ervaring kan hê nie.

En tog kan ‘n mens nooit wegkom daarvan dat die mistiek altyd ‘n hoogs individuele ervaring is nie. ‘n Mens kan binne ‘n groep mense in ‘n erediens, in ‘n geestelike byeenkoms, in ‘n bybelstudie-groep besondere spesiale ervaringe van God beleef. Maar iewers is die mistiek steeds weer die mens wat alleen in die teenwoordigheid van God in stilte staan. ‘n Mens ontdek op ‘n oomblik in jou lewe dat jy bewus raak van ‘n goddelike liefde sonder dat jy dit met jou brein uitpluis of insien. En die geestelike reis wat deur so ‘n ervaring gestu word, is ‘n reis wat ‘n mens van sy skerp, skewe kant reinig, ‘n reis waarin ‘n mens al dieper besef hoe kosbaar jou verhouding met God is en wat uiteindelik uitloop op die toenemende heiliging van ‘n mens se lewe. As individu word ‘n mens dan opgeneem in ‘n verhouding met God wat God ook met mense van alle tye en plekke aanknoop. Op die manier word ‘n mens deel van God se geestelike gemeenskap.

Waarom is hierdie spesiale, individuele ontmoeting uiteindelik so belangrik? In ons wêreld word die mens super-individueel, solipsisties, in sy of haar klein wêreld teruggedring, uit totale eensaamheid. Ons leef in ‘n massa-wêreld, waar mense dikwels desperate pogings aanwend om aandag te trek – omdat hulle so alleen is, so op hul eie aangewys is. Hulle tree dan vreemd op, trek onortodoks aan of soek desperaat na hulle vyftien minute van roem. Soms is dit 'n tydelike rebelsheid, 'n goedige gespot, maar heel dikwels verberg sulke gedrag diepe eensaamheid of verwildering. Hulle is eintlik nie individue wat saam ‘n groep vorm nie of hulle self deel voel van ‘n groep nie. Iewers het hulle ook nie meer ‘n gevoel dat hulle in ‘n verhouding met die Ander staan nie – hulle lewe draai om hulle self. Dit word iewers ‘n narcistiese bestaan. Om hulle is ‘n groot, onsimpatieke wêreld waarin hulle voel hulle geen plek het nie. In die mistiek word hierdie geslote bestaan oopgebreek. ‘n Mens word bewus van die Liefde wat in jou lewe ingegiet word, dat dit van God kom en dat ‘n mens hierdie liefde met God se wêreld deel.

Narcisme en self-liefde kan nie mistiek wees nie. Want die mistiek beteken juis dat ‘n mens uit jou ingekeerdheid in jouself opgeneem word in ‘n liefdevolle gemeenskap met God wat ‘n mens deel met die mensdom. Die mistiek stroop die mens juis van sy verwildering en bring hom of haar tot verwondering oor die Goddelike liefde vir die mensdom.

Saturday, August 01, 2009

Kaptein



Ons kyk vanmiddag die toets tussen die Springbokke en die All Blacks in ‘n sportkroeg in Cambridge. Dis lekker kyk, die atmosfeer is gemoedelik, die ouens sit vasgenael.

Daar is aan beide kante entoesiastiese ondersteuners. ‘n Fout wat ‘n span maak, ontlok gepaste hoonlag van die ander span se ondersteuners. Maar die ondersteuners van die manne in swart is duidelik stiller. Duisende kilometer van die stadion sit mense voor groot skerms en volg elke beweging, juig entoesiasties oor die uitblinkers en geniet elke oomblik van die spel.

As Morne Steyn die laaste van sy skoppe misskop, kreun almal van jammerte kliphard. Hulle wou graag saam met hom die volmaakte getal behaal.

Maar dit is toe John Smit naby die einde van die wedstryd van die veld af kom, dat man en muis onder die toeskouers in die sportkroeg spontaan hande klap terwyl die kamera wys hoe die skare ook die man van die oomblik met groot applous beloon. Hy het pas die rekord gebreek vir die kaptein wat die meeste toetse gespeel het. Dit is meer as net ‘n entoesiastiese applous – daar is egte bewondering vir iemand wat nie net lei nie, maar van vooraf lei. Hy het ‘n trotse rekord met ‘n wêreldbeker-sege agter sy naam. Hy kommunikeer maklik. Hy praat lekker Afrikaans. Dit is dus applous gekoppel met respek en met waardering.





Om kaptein te wees van enige span, is al klaar ‘n groot uitdaging. Maar om Springbok-kaptein te wees, kan ‘n baie ondankbare ding wees. Daar sit ‘n paar miljoen eksperts langs die veld en voor die televisie, elkeen met sy eie idee’s omtrent die spel en met sy eie voorkeure vir die kapteinskap. Jy is terselfdertyd die leier van leiers. John Smit speel in ‘n span met mense soos Victor Matfield wat self kaptein is. Ook moet hy ‘n span met hoogs talentvolle mense bymekaar hou en nog sy afrigterspan ook in gedagte hou.

Dan is daar ook gedurige debat of hy werklik die beste speler in sy posisie is. En nog ander dink daar is manner uit ander provinsies wat die taak net so goed soos hy sou kon doen.

Dit is nie altyd maklik om kaptein te wees nie. Om in sulke omstandighede jou span te kan aanvuur, motiveer, lei, ondersteun is ‘n reuse-uitdaging. Maar dit is juis wat iemand ‘n groot kaptein maak: as hy in omstandighede waarin ander terugsak, stilweg die leiding neem.

Sommige ondersteuners dink dat Smit se waarde veral blyk wanneer hy nie speel nie. Wanneer hy nie speel nie, sê hulle, kan ‘n mens dit agterkom aan die spel van die span.

In die lewe is dit ook so. Die sterkste leiers is dikwels hulle wat in stilte uitblink. Dit is eers die dag as hulle nie meer daar is nie, dat jy agterkom wat jy gehad het. Juis daarom is hulle sulke spesiale mense. Ons geestelike lewensreis wil ons hierop instel: wat saak maak is nie wie wat oor ons kwytraak nie. Eintlik is die applous van ander ook nie regtig belangrik nie. As dit kom, is dit goed. Maar wat regtig tel is of 'n mens op so 'n manier leef dat jy mense om jou kan inspireer om alles te gee en of jy die spel op die beste manier speel en dien. Jy moet so lei, dat jy, sonder om daarna te soek, respek inboesem.




Blog Archive