Tuesday, August 11, 2009

Vrye genade... Oor God se bevrydende aanraking

Ons het drie vroue gehad wat ‘n groot deel aan die huislike lewe van ons gesin gehad het. Hulle het die mees intieme dele van ons lewe raakgesien en beleef: wat of hoe ons eet, dra, waar ons slaap, hoe ons met mekaar praat, watter boeke ons lees, watter meubels ons aankoop, die skildery wat ons teen die mure hang, al ons sindelike en onsindelike gewoontes. Hulle het ons kinders gesien groot-word, skool toe gaan, uit die huis uit na die universiteit toe vertrek, om te trou en die nuwe kleintjies wat bykom.

Celia was ons laaste hulp en steun. Sy was ‘n groot vrou wat by tye swaar beweeg het. Maar sy het nooit ‘n enkele dag se werk gemis nie. Getrou en gereeld het sy opgedaag, al die pad van die township. Altyd dieselfde, betroubaar, vriendelik, stil, eintlik gedurig op die agtergrond. Sy was, soos baie ander van haar tyd en geslag, ‘n sterk vrou. Dit het mens die duidelikste gesien in die ywer waarmee sy op haar onaansienlike salaris haar kinders deur universiteit gehelp het.

Ons het haar gaan opsoek, later, nadat ons al weg was. En sy was die ou Celia, vriendelik, dankbaar, maar steeds nog stillerig en byna beskeie. Tog wou sy weet waar elkeen van die kinders was en hoe dit met hulle gaan. En sy was diep dankbaar en ondersteunend dat ons haar verder gehelp het en veral dat ons haar opgesoek het.

Nie dat alles die spreekwoordelike maanskyn en rose was nie. Celia het ons in die kombuis groot skade aangedoen. Ons koop nie juis blinkighede nie. Maar daar is ‘n paar items wat ons graag besit. Jy parkeer ‘n groot, duur motor in ‘n garage en daar staan die stuk metaal vir die meeste van die tyd totdat jy weer daarin ry, het ons geredeneer. Dus het ons maar altyd ‘n gevoel gehad ‘n mens moenie te onnodig aan daardie kant van die verbruikersmark spandeer nie, al leef jy ordentlik en met gemak. Ons reis eerder na verre lande, koop veeleer ‘n goeie boek wat jy oor dae lank geniet, woon ‘n goeie konsert by of koop ‘n mooi skildery wat jy teen die muur hang en elke keer as jy verbystap en dit raaksien, opnuut weer vreugde kan ervaar. Ons belê dus nie in die blinkighede nie, maar in dit wat mooi is en mooi maak.

Dit is die rede waarom ons ook ‘n goeie, lekker eetstel gekoop het. Duur, eintlik onvervangbaar, maar iets wat ons dikwels ‘n lekker aand saam met vriende en familie laat help beleef het.

Celia het oor die jare wat sy by ons gewerk het, dikwels juis hierdie stel uitgekies om ongelukke mee te maak. En, nogal, elke keer, het sy kom vertel, op haar stil manier, terwyl sy die stuk wys, dat sy ‘n ongeluk gehad het. Ten minste was sy openlik dat sy die skuldige was.

Nadat sy vir die soveelste keer ‘n stuk van die eetstel gebreek het, het ons diplomaties besluit dat sy voortaan nie met die opwas daarvan belas sal word nie. Maar toe was die skade al grootliks gedoen.


Ons het nooit eintlik iets daaroor gesê nie, behalwe miskien ‘n enkele keer dat sy meer versigtig moet wees. Ons het ons nooit gekwel oor hoe sy self oor haar ongelukkies gedink het nie. ‘n Ongeluk is in ons huis as ‘n ongeluk beskou en ons het nooit gedink iemand hoef daaroor groot skuldgevoelens rond te gedra het nie. Soms was daar wel ‘n vinnige woordjie teenoor kinders wat ‘n glas of bord breek geskel, maar altyd met die bedoeling dat hulle versigtig moet wees wanneer hulle met eetware werk.

Die dag toe ons van Celia afskeid moes neem en die groot verhuising aangebreek het, het sy, stilweg, vir ons dankie gesê vir die jare se werk by ons. En toe een ding uitgesonder: dankie veral dat sy nooit uitgeskel is nie, ook nie toe sy die spesiale stel se stukke gebreek het nie.

Ek loop nog steeds, nou reeds jare later, rond met hierdie opmerking in my gedagtes. Dit bly by my. Miskien omdat ek toe begryp het hoe eergevoelig sy inderdaad was en waarom sy spesiaal kom vertel het, met die gebreekte stuk in haar hand, dat sy die skuldige was. Dit was vir haar net so ‘n kwessie dat daardie stukke gebreek het as wat dit vir ons ‘n skok was.

Wat kan ‘n mens nou tog alles skryf oor moontlike gedagtes wat in haar kop gemaal het. Maar wat my bybly, is dat sy dit uitgesonder het – dat sy dankbaar is dat sy nie verskel is nie.

Oor baie jare het ek myself afgevra waarom dit so ‘n indruk op my gemaak het – hierdie dankbaarheid dat sy nooit verkwalik is nie. Ek kan nie onthou dat ons haar ooit oor enige iets anders verkwalik het of met haar geraas het nie. Sy was vir ons ‘n teenwoordigheid in ons huis vir wie ons omgegee het, sodat daar nooit ‘n rede was om oor kleinighede en selfs die groot dinge kwaad te raak nie. Dalk was ons ook bedag daarop om in ons plek, in ons huis, niks van die neerbuigendheid van ons destydse apartheidsdenke te verdra nie.

Ek wonder soms in hoe mate daardie opmerking van Celia nie vir my help om God se genade te verstaan nie. Ek breek soms in my sondige onbeholpenheid die mooiste van mooi dinge in my lewe stukkend. Om dan te ontdek, wanneer ek voor God verskyn om verantwoording te doen, hoe God nie eers dink daaraan nie. As ek maar met die stukkendheid voor God gaan staan, met die stukkende dinge uit my lewe in my hande, innerlik sku en self stukkend oor die skandvlek wat ek in my lewe indra....


Hoe vry is God tog nie van verwyte nie – en daarom hoe oneindig groot in genade. En hoe vry maak God ons tog nie om ook genade te bewys nie. Soms sonder dat ons dit selfs besef. Ons leef so in God se genade, dat ons ‘n leefstyl van genade kry. En ons kan genade aan ander bewys omdat ons in hulle iets van onsself herken: Ons sien hulle naderhand uit God se hoek as ‘n mens wat feilbaar is, wat soms kosbare dinge stukkend breek, maar wat ook behoefte het aan vergifnis. ‘n Mens wat naby aan God se genade leef, wat dit opsoek, kan nie onaangeraak daardeur bly nie. Jy word self vol van genade en van wysheid. Soms besef jy dit nie eers nie...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive