Wednesday, August 19, 2009

Innerlike sorg

Ek bly nadink oor die uitspraak dat sonde dikwels daaruit bestaan dat ons sonder dat ons dit eers weet, ander mense groot skade kan aandoen (sien 'n vorige blog).

Ons redeneer dikwels presies andersom: ons dink sonde is iets wat ons willens en wetens verkeerd doen. Maar om te dink dat sonde juis dit is waarvan ons nie eers weet nie! Dis kwaai. En dit is, soos ek geskryf het, iets wat ons bewus maak van hoe sensitief ons moet wees vir die gevolge van ons denke en dade.

Ons moenie dink ons kan nie regtig so verskriklik wees nie. Ons het min lig in ons, skryf Thomas a Kempis in sy boek 2.5 en die bietjie lig wat daar wel in ons woon, verwaarloos ons nogal maklik. Ons onderskat die donkerte in ons binneste en hoe maklik ons verskonings kan uitdink vir wat ons verkeerd doen.

Ek bly verder ook in hierdie verband nadink oor die gedagte dat ons somtyds baie hard kan wees teenoor onsself en kan weier om ons te vergewe vir dinge wat ons verkeerd gedoen het. Ons moet dus ook kan aanvaar dat ons foute sal maak.

Maar hoe nou gemaak? Aan die een kant onderskat ons die kwaad in ons, terwyl ons aan die ander kant ‘n slagoffer word van die kwaad wat ons gedoen het.

Wat beteken dit alles? Dit beteken nou alles dat ons elke dag ons innerlike mens moet voed, net soos met ons uiterlike mens wanneer ons ons bed opmaak en onder ‘n stort inklim. Ons kan nie maar net lewe asof ons vanself alles sal goed doen nie. Ons moet skoonmaak, goed skoonmaak. Ons moet naby aan die bron van lewe bly, sodat ons nie dood en verwoesting saai nie.

Ons moet innerlik skoon wees, ‘n plek waar liefde woon, waar destruktiwiteit nie kan wortel skiet nie.

Ons kan onsself nie vir een oomblik verwaarloos nie. Met sorg, met liefde, met omsigtigheid moet ons ons self ondersoek of ons in die wil van die Here leef, in diens van die liefde is.

Iets spesiaals gebeur met onsself wanneer ons versigtig na onsself kyk, besef hoe feilbaar ons is, hoe maklik slegte dinge in ons lewe inkruip, ongemerk, en wortel skiet. Te spoedig, besef ons dan, sal ons onkruid sien opskiet waar ons vroom gedink het die aarde is vrugbaar.

Dit is dan dat ons begin besef hoe onderduims die bose is, hoe dit insluip waar ons dit nie verwag nie, hoe dit alle menslike lewe bedreig, dat almal gewikkeld is in die stryd teen die kwaad, dat ons in hierdie wêreld so versigtig soos die duiwe moet wees om nie verder kwaad toe te laat nie.

Net soos ons dan kan aanvaar dat ons somtyds groot foute maak en daarom die verlede moet kan agterlaat, net so sal ons ander wil inspireer tot ‘n sorgsaamheid en sensitiwiteit om die goeie te dien.

Dit is dan dat ons ook verstaan hoe ons ander mense moet omarm: ons word saam deur die kwaad bedreig. Ons faal dikwels in ons stryd. Ons is dikwels nie eers bewus dat ons soveel kwaad doen nie. Hoe meer ons in besorgdheid soek na ‘n innerlike lewe wat rein is, hoe meer sal ons besorgd wees om nie instrumente in die hande van die kwaad te wees wat ander mense se lewens bedreig nie.


Ons kan nie genoeg sorg en aandag aan onsself gee nie. Hoe meer ons dit doen, hoe meer sal ons sorgsaam uitreik na ander.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive