Sunday, August 16, 2009

Armoede is nie 'n skande nie - oor konformiteit aan Christus

Om een of ander rede bly ek nadink oor die konteks waarin Thomas a Kempis sy Navolging geskryf het. ‘n Mens kan moeiliker ‘n donkerder situasie vir so ‘n klassieke werk voorstel. As ‘n mens dink hoe mense vandag oor armoede dink en hoe intens ons rykdom begeer (lotto, toeëiening, opeis, entitlement), word die skryf van sy boek in so 'n ellendige konteks des te meer indrukwekkend.

Armoede is nie ‘n skande nie. Swaarkry hoef ‘n mens ook nie onder te kry nie. Thomas a Kempis se Navolging van Christus word geskryf in ‘n tyd toe die situasie in Nederland en Europa sleg was en die geestelike lewe van die kerk alles behalwe inspirerend was. Ek bly geboeid deur hierdie situasie – hoe meer ‘n mens die historiese konteks van die boek leer ken, hoe meer word ‘n mens verbaas oor die aard en inhoud daarvan.

Thomas leef in die baie moeilike veertiende en die vyftiende eeue (sien vorige blog). In hierdie tyd ervaar vele lande in Europa groot probleme. Dit is die tyd van die swart pes, toe baie mense en selfs hele dorpies uitgewis is. Die landbou is ook swaar getref toe oorstromings oeste uitgewis en hongersnood toegeslaan het. Boonop was daar vir dekades lank oorlog tussen Europese ryke (bv. die Honderdjarige Oorlog).

Mense is origens verdeel in twee groepe: daar was die rykes, die adel aan die een kant wat in luukse geleef het. Die kerk en sy geestelike leiers was ‘n sterk mag. Hulle kon die armes met belastings slaan wat nog verder tot hulle swaarkry bygedra het. Enige iemand met ‘n bietjie geld en invloed kon belangrike ampte in die kerk koop. Die geestelikes het ook oor die algemeen meer in politieke belang gestel as in geestelike sake. Aan die ander kant was daar die groot massas van armes.

En tog was daar ook ‘n ander groep naas hierdie ryk en magtige mense. Hulle het hul roeping bedink in terme van konformiteit aan Christus. Hulle het Christus ervaar as die Arme. En hulle wou so arm wees soos Christus. Maar, het hulle geredeneer, arm beteken nie om sleg en ellendig te wees nie. ‘n mens kan arm, maar goddelik wees. Boonop het hulle hierdie armoede nie as ‘n lot gesien nie, maar dit as ideaal nagestreef en begeer. ‘n Mens kan al jou wêreldse besittings prysgee en nog rasend gelukkig wees.

Op hierdie manier ontstaan daar die beroemde ideaal van die “armes van Christus” (pauperes Christi). Die ideaal van armoede het tot die stigting en werk van heelwat groepe gelei. Daar was die begyne – ‘n vroue-groep wat veral die goddelike liefde besing het, maar spesifiek onder arm vroue gewerk het (daar was ook ‘n manlike weergawe). Dan was daar groepe wat armes geestelik wou bystaan en begelei. Een so ‘n groep was die Kartusiërs wat geestelike literatuur geproduseer en versprei het.

Om armes te help het vir hierdie mense beteken om hulle te bemagtig, lewenskennis te laat kry, vir hulle by te staan om met eer en waardigheid te lewe. Dit was nie 'n jammer-Sannie houding van ons is sulke goeie mense wat julle uit julle ellende kom help nie. Dit was 'n diep godsdienstige gesindheid van mee-leef in liefde sodat ons menswaardig kan leef en in alles dan in konformiteit met Christus kan wees.

Dit was hierdie groepe waaruit die Navolging van Christus uiteindelik gebore sou word.

Wat my opnuut laat besef: Armoede kan die mens tot edelheid aanspoor en verhef. Godsdiens kan armoede van sy verontmenslikende werking beroof.

‘n Mens hoef nie deur die donkerte van te min of te kort skiet oorweldig te word nie. In die donkerste tyd kan die bevrydende woord, die woord van genade helder skyn.

Oral waar ‘n mens in eenvoud die liefdevolle gelaat van Christus ontmoet, daar word ‘n mens waarlik vry. Dan is die gebondenes en die gevangenes nie hulle wat magteloos is nie, maar eerder hulle wat rusteloos in kastele en in hoë kerklike posisies sit.

Armoede hoef nie ‘n skande te wees nie. Ellende hoef ‘n mens nie te verpletter nie. Dit hang maar net af hoe naby ‘n mens aan Christus leef. Om in die liefde van Christus geborge te wees kan die mooiste in ‘n mens na vore bring.


Ons soek welvaart. Ons begeer rykdom. Ons sug daarna en sluit van ons kant allerhande kontrakte met God af sodat ons tog voorspoedig kan lewe. En intussen verarm ons geestelik hoe voorspoediger dit met ons gaan. Miskien is Thomas se Navolging vir ons in ons welvaart 'n boek om ons opnuut weer te help om so ryk te wees dat dit ons gelukkig sal maak - en nie gieriger nie. Die groot uitdaging is om ons voorspoed so geestelik te beleef dat dit ons sal vrymaak en nie verder bind nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive