Saturday, August 01, 2009

Kaptein



Ons kyk vanmiddag die toets tussen die Springbokke en die All Blacks in ‘n sportkroeg in Cambridge. Dis lekker kyk, die atmosfeer is gemoedelik, die ouens sit vasgenael.

Daar is aan beide kante entoesiastiese ondersteuners. ‘n Fout wat ‘n span maak, ontlok gepaste hoonlag van die ander span se ondersteuners. Maar die ondersteuners van die manne in swart is duidelik stiller. Duisende kilometer van die stadion sit mense voor groot skerms en volg elke beweging, juig entoesiasties oor die uitblinkers en geniet elke oomblik van die spel.

As Morne Steyn die laaste van sy skoppe misskop, kreun almal van jammerte kliphard. Hulle wou graag saam met hom die volmaakte getal behaal.

Maar dit is toe John Smit naby die einde van die wedstryd van die veld af kom, dat man en muis onder die toeskouers in die sportkroeg spontaan hande klap terwyl die kamera wys hoe die skare ook die man van die oomblik met groot applous beloon. Hy het pas die rekord gebreek vir die kaptein wat die meeste toetse gespeel het. Dit is meer as net ‘n entoesiastiese applous – daar is egte bewondering vir iemand wat nie net lei nie, maar van vooraf lei. Hy het ‘n trotse rekord met ‘n wêreldbeker-sege agter sy naam. Hy kommunikeer maklik. Hy praat lekker Afrikaans. Dit is dus applous gekoppel met respek en met waardering.





Om kaptein te wees van enige span, is al klaar ‘n groot uitdaging. Maar om Springbok-kaptein te wees, kan ‘n baie ondankbare ding wees. Daar sit ‘n paar miljoen eksperts langs die veld en voor die televisie, elkeen met sy eie idee’s omtrent die spel en met sy eie voorkeure vir die kapteinskap. Jy is terselfdertyd die leier van leiers. John Smit speel in ‘n span met mense soos Victor Matfield wat self kaptein is. Ook moet hy ‘n span met hoogs talentvolle mense bymekaar hou en nog sy afrigterspan ook in gedagte hou.

Dan is daar ook gedurige debat of hy werklik die beste speler in sy posisie is. En nog ander dink daar is manner uit ander provinsies wat die taak net so goed soos hy sou kon doen.

Dit is nie altyd maklik om kaptein te wees nie. Om in sulke omstandighede jou span te kan aanvuur, motiveer, lei, ondersteun is ‘n reuse-uitdaging. Maar dit is juis wat iemand ‘n groot kaptein maak: as hy in omstandighede waarin ander terugsak, stilweg die leiding neem.

Sommige ondersteuners dink dat Smit se waarde veral blyk wanneer hy nie speel nie. Wanneer hy nie speel nie, sê hulle, kan ‘n mens dit agterkom aan die spel van die span.

In die lewe is dit ook so. Die sterkste leiers is dikwels hulle wat in stilte uitblink. Dit is eers die dag as hulle nie meer daar is nie, dat jy agterkom wat jy gehad het. Juis daarom is hulle sulke spesiale mense. Ons geestelike lewensreis wil ons hierop instel: wat saak maak is nie wie wat oor ons kwytraak nie. Eintlik is die applous van ander ook nie regtig belangrik nie. As dit kom, is dit goed. Maar wat regtig tel is of 'n mens op so 'n manier leef dat jy mense om jou kan inspireer om alles te gee en of jy die spel op die beste manier speel en dien. Jy moet so lei, dat jy, sonder om daarna te soek, respek inboesem.




No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive