Monday, August 10, 2009

Bybel-liefde

‘n Mens lees baie oor die gewildheid van Thomas a Kempis se Die Navolging van Christus. Dit was nie sy enigste publikasie nie. Hy het byna veertig boeke geskryf. Onder hulle was daar drie biografieë oor bekende figure uit die Nuwe Devosie (Geert Groote, Florens Nadewijn en St. Lydwine van Schiedam).

Maar dit was veral Thomas se liefde vir die Bybel wat sy lewe oorheers. Daar word baie stories oor sy toewyding vertel. Hoe hy tydens die dienste hom so ingeleef het in die voordrag van Bybeltekste dat hy regop op sy tone gestaan en Bybel lees het. Hy het hom vervies vir mense wat nie toegewyd en ernstig was in hulle lees van die Bybel nie, of wat verveeld met die inhoud daarvan was.

Eintlik was sy houding oor die algemeen oor boeke wat ophef, eerbiedig. As ‘n mens ‘n boek gelees het, het hy geskryf, maak jy dit toe en dank die Here vir elke woord wat jy kon lees. Dan plaas jy dit met eerbied vir die wysheid daarin op die rak en sorg dat dit op sy regte plek staan. Die Bybel veral moet 'n mens met innige toewyding hanteer want dit is die skat in die aarde wat jy raakgeploeg het.

Hy het ook die Bybel in vyf groot dele oorgeskryf en baie positief gepraat oor die praktyk om nuwe manuskripte van die Bybel te produseer.

Hy was ‘n diep gelowige mens wat in sy alledaagse omgang met die Bybel en sy praktiese vroomheid ‘n groot invloed op ander uitgeoefen het. Eintlik was hy ‘n boekwurm. Sy beroemde uitspraak was dat hy vrede net werklik kon vind as hy in sy kamer besig was om die Bybel te lees. Maar dit was veral sy daaglikse omgang met die Bybel wat hom beïnvloed het. Deurdat hy elke dag die Bybel biddend gelees het en daaroor nagedink het, het dit deel van sy murg en been geword.

Geen wonder dus dat mense daarop wys dat die Navolging vol van bybeltaal en verwysings is nie. Iemand wat uit die Bybel leef, is iemand wat ook uit die Bybel skryf. Sy lewe en die Navolging is die teken van sy liefde vir die Bybel wat die geloofspraktyk en die lewenskuns dryf.


Maar afgesien van wie hy was en wat hy geskryf het, is dit veral sy konteks wat interessant is. Thomas is in 1379 gebore, teen die einde van die veertiende eeu. In die vorige eeu het Thomas van Aquinas ‘n teologiese sisteem ontwerp wat ‘n blywende invloed op die teologie uitgeoefen het. Maar sy werk is spoedig hewig gekritiseer deur die bekende dispuut tussen Duns Scotus en William van Occam. Hulle het oor die kleinste detail hewig met mekaar verskil. Een van die groot punte van debat was oor die verhouding van die Bybel as Openbaring met die menslike rede. Al die fyn tegnologiese debatspunte het veroorsaak dat teologie meer en meer ‘n intellektuele saak geword het. Hoe ‘n mens die Bybel verstaan het die fokuspunt geword in plaas van hoe ‘n mens uit die Bybel leef. Bekgevegte oor geloof was aan die orde eerder as ‘n lewe uit die geloof.

Kontrasteer nou met hierdie intellektuele bedryf, die liefde vir die Woord soos dit gevoed is in die lectio divina as die geestelike lees van die Bybel. 'n Mens kan nie anders as om in Thomas se praktiese geloofslewe uit die Skrif 'n teen-reaksie raak te sien nie. Jy lees die Bybel nie om slimmighede op te dis nie, maar om jou geestelike te voed en te vul.

Thomas se konteks was ook ‘n tyd van vulgêre, populêre godsdienstige aktiwiteite, dikwels swaar gelaai met ‘n groot klomp bygeloof. Mense was baie godsdienstig, maar op ‘n onbeheersde, uitspattige manier. Origens was dit ‘n swaarmoedige tyd. Mense het ‘n diepe innerlike pessimisme beleef. Hulle het veel gemaak van die kruis. Die kerklike leiers was meer in politiek as in die kerk geÏnteresseerd. Hulle was geldgierig en het hulle godsdienstige verantwoordelikhede eenvoudig geïgnoreer of gering geskat. Die gewone mense wat dit raakgesien het, het eenvoudig die kerklike leiers geïgnoreer en op hul eie na ‘n innerlike vervulling gesoek. Allerhande vroom praktyke het vir mense belangrik geword eerder as die Bybel en ‘n lewe uit die geloof.

Wanneer ‘n mens die Navolging lees, ontdek jy in baie van Thomas se uitsprake hoe hy reageer op die moeilike omstandighede van sy tyd. Hy is 'n kind van sy tyd wat mense in hul verwarring wil bring om by die egte bron van ons geloofservaring te gaan drink en daar geestelike gevoed te word. Hy het sy hervormingsdrif by die Bybel gevind, luisterende in eerbied na God se helder stem vir die geloof.


'n Mens het nie genoeg plek om die baie ander belangrike kante van Thomas se Bybelse leefstyl te skryf nie. Maar as 'n mens eers gaan stilraak en jou eie omgewing begin bedink, is daar nogal stof tot nadenke. Ons leef in die tyd van die groot teologiese debatte. En hoe meer ons oor al die historiese en literere detail punte aanteken, hoe meer roer die vraag in jou binneste: nou, en....? Is dit regtig waarom dit gaan? Is ons besig om die Bybel so netjies uit mekaar te trek dat ons nie meer weet dat dit 'n geestelike boek is wat ons in verwondering en in verrukking bring wanneer ons hart in die lees daarvan oorgegee is?

Wat my laat dink aan Jesus se bekende woorde oor die wolwe wat die trop skape oppas: lei hulle, vra Jesus. Voed hulle. Tydige woorde. Vermink en verskeur ons geloof? Of verwonder ons ons oor God se spreke?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive