Monday, August 24, 2009

Die Elfmiljoen rand Sondag in Regensburg.

Ons hoor vroeër in die week dat die musiek in die katedraal hier in Regensburg besonder is. ‘n Beroemde koor tree gereeld tydens die diens op. Dus, uitgehonger vir mooi musiek, sit ons af na die pragtige ou gebou.

Die diens is ‘n byenes. Oral is daar toeriste. Hulle tou selfs met hulle koffers die kerk in en loop voor die diens verby is. Hulle is duidelik beïndruk deur hierdie mooi plek, hierdie gewyde atmosfeer. Dit is 'n plek wat mense aantrek en boei.

Die orrel is besonders. Dit word bespeel deur die professor in musiek aan die Universiteit wat sy storie duidelik ken. Na die tyd gee hy ‘n tien minute bespreking oor die orrel vir belangstellendes en verduidelik hy ook meer oor die nuwe een van R11 miljoen wat hulle aan die bou is en waarvoor hulle bydraes vra.

R11 miljoen. Vir ‘n orrel... Ek sit so bietjie terug toe ek dit hoor.

Die katedraal sit vol, maar die blok waar ons sit is duidelik nie geÏmponeer deur die oproep tot bydraes nie. Kollektetyd bring ‘n stywe priester met ‘n angstige trek oor sy gesig die bordjie ry-vir-ry om. Dit is soos die evangelis mos destyds vertel het: jy hoor net tiekie, pennie, pennie, tiekie. Dit is duidelik nie ‘n sagte kollekte nie en die tye is seker maar beroerd.

Maar elf miljoen rand.

Ons sit die diens deur, geniet die mooi orrelmusiek. Dit is werklik uit die boonste rakke. Maar dis nie naasteby wat ons in die baie kerke van Amsterdam beleef het nie. Die Hollanders speel mos orrel soos die Boere rugby speel. Sukkel nie met tierlantyntjies nie.

Maar al wat sing is die beroemde koor – en dit is waarvoor ons gekom het. En intussen weet ons nie wanneer ons moet sit of staan in die diens nie. Dis nie ‘n vriendelike konteks vir ‘n protestant nie, veral nie vir een uit Afrika waar die kontak met katolieke maar beperk was nie, om die minste daarvan te sê. Ek bedoel: hoeveel katolieke misse woon die gemiddelde boerseun in Suid-Afrika ook nou in sy leeftyd by?

Later kom ek agter jy time jou maar volgens die vier priesters in hul groen togas wat voor in die liturgiese ruimte hulle diens lei. As hulle staan, staan jy agterna. En die paar keer wat hulle gaan sit, kan jy ook gaan sit. Nie dat dit altyd werk nie. Voor my staan twee omies die hele diens deur en maak my net verder op my senuwees.

Elf miljoen rand, bly ek dink.

Ons beklim ons fietse na die diens en kies koers huis toe, maar ons laat ons lei deur die lomerigheid van die mooi somersdag. Via die bakkery winkel, Prinzess, waar ons ‘n heerlike apfeltorte koop vir ons oggendtreat by die huis, ry ons rustig terug huis toe. Sonder pragtige koormusiek agter die blad, weliswaaar, terwyl ek nog nadink oor die elf miljoen rand.

Ons is nie haastig nie en verdwaal dus hopeloos tussen die krom draaie en straatjies van Regensburg, ‘n wêreld-erfenisstad.

Op ‘n stadium moet ons omdraai en soos ons nou maar in Suid-Afrika dink ons heel wettiglik doen, ry ons op die sypaadjie aan die verkeerde kant van die pad – ook om maar uit die motors se pad te bly. So ‘n ent weg aan die verkeerde kant van die pad, kom ‘n Duitse tante van voor aan die regte kant af. Toe sy ons sien, rek haar oë in pure Duitse vrees en ontsetting. Dit lyk soos ‘n windpomp in ‘n onverwagte Karoo-warrelwind, so beduie sy al ryende: sy waarsku ons ywerig en met ontsag dat die polisie so ‘n ent terug stilgehou het en besig is om mense op die sypaadjie wat fiets gery het te beboet.

En sowaar. Op ‘n afstand sien ons toe sowaar ‘n groepie van drie wat deur ‘n polisieman aangehou word. Hy skryf lustig ‘n kaartjie uit, op sy tyd terwyl hulle ordelik en bedremmeld by hulle fietse staan.

In sommige lande sukkel en bodder ‘n mens nie onnodig nie, besef ek sommer net daar. Aanhouding in eensame opsluiting vir drie maande in ‘n Duitse tronk doem voor my geestesoog oop en soos blits, vetgesmeerd, is ons van ons fietse af. En vir die res van die dag voel ek skuldig oor daardie vyftig meter wat ek op die sypaadjie gery het. Out of Africa, so is dit.

Ek is nou op daardie stadium van my lewe waar ek hou van wet en orde. Ek dink by myselwers, ek sal nogal nie omgee as ons gevierde bewakers van die reg so af en toe ook dinge so bietjie opruim nie.


Maar ek bly nog steeds wonder oor die elf miljoen rand. Ek dink aan ons besoek vroeër vanjaar saam met die Nederlandse kollegas aan die plakkerskamp by Wallacedene en die oneindige armoede wat ons daar gesien het (sien ‘n vorige blog). Wat moet ‘n mens hieroor sê? Hoe moet die kerk dink hieroor – oor ‘n opulente lewensstyl, terwyl kinders elders sterf van die honger? En kerke hier in die suide van Duitsland is duidelik opulent. Doen ons nie maar op klein skaal dieselfde wanneer ons in ons luukse motors klim en ons neem ons huiswerkers om met die trein na hul huisies terug te reis nie?

Ek dink byvoorbeeld aan my besoek aan die Gereformeerde katedraal (sic) in Zürich waar Chagall se onvergeetlike vensters is en watter vreugde dit nie in my lewe ingebring het. Kan ‘n mens ‘n eerste wêreldse gemeente die luukse van so ‘n uitmuntende musiek-instrument ontsê? En is dit nie die hoë kunstenaars, Rembrandt en Da Vinci, beskermlinge van die rykes en die magtiges, wat vir ons ‘n erfenis agtergelaat het wat ons vandag nog naby aan God bring nie?

Ek bly hieroor nadink. En ek wonder: moet die kerk nie, as dit by sulke dinge kom, by ‘n groot blink orrel van elf miljoen rand, sê: goed, ons doen dit wel, maar dan samel ons ook tegelykertyd dieselfde bedrag om die slegste van armoede te beveg nie? Koppel dit. Laat die vreugde van ‘n erediens met die allermooiste orrelmusiek gepaar word met innerlike ontferming oor hulle wat niks het nie. As ‘n gemeente so iets dan wil doen. En is dit nie waar dat die Duitse kerk van die grootste ondersteuners in die wêreld van opheffingswerk is nie?

Maar ek bly wonder. Elf miljoen rand. Vandat dek die mistici begin lees het, het sekere dinge, sekere waardes in my bly groei wat miskien veroorsaak het dat ek vandag so bietjie teruggesit het oor die elf miljoen rand.

Mot en roes? Of die tempel in Jerusalem? Of die goue strate?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive