Saturday, August 15, 2009

Om God se aanraking af te wag - die eie aard van Christelike spiritualiteit

Hoe kan ek God ontmoet en ervaar? Dit is vir baie mense die groot vraag.

Hiervoor moet ‘n mens jou inspan, word geredeneer. Die vernuwing wat ‘n mens soek, kom net wanneer ‘n mens allerhande middele met dissipline en toewyging toepas. Deur byvoorbeeld jou gedagtes te rig op die sentrum van jou bestaan, deur konsentrasie-tegnieke, deur diepe meditasie of deur jou in te stel op die wêreld om jou en op ander mense, kan ‘n mens jou beperkende grense deurbreek. Dan styg jy uit bo jouself. Jou gees ontwikkel tot groter hoogtes. Jy kry deel aan die gees wat alle mense deurdring en wat van hulle beter mense maak. Dit is byvoorbeeld ook in Oosterse mistiek prominent.

Hier word geredeneer dat ‘n mens jouself vernuwe, jy kom tot jou volle potensiaal. Jy word wat jy eintlik veronderstel is om te wees. In sommige gevalle beweer mense dat hulle deur die gebruik van dwelms soos LSD onbeskryfbare godsdienstige belewenisse het. Hulle word dan vernuwe om meer vredeliewend en menslik op te tree.

Dit kan alles waar wees. ‘n Besige, dol lewe waarin alles om jou lewe en jou werk draai skep nie juis ‘n ruimte vir ‘n ontmoeting met God nie. Deur ‘n mens se liggaam en gees in te oefen, kan ‘n mens inderdaad goed voel en ‘n lewe van vrede ervaar. ‘n Positiewe uitkyk op die lewe, waardering vir ander mense, liefde vir ons wêreld en ‘n gesonde liggaam saam met konsentrasie-oefeninge kan wonders vir ‘n mens doen. Ek sou nie dit van LSD wou sê nie, want die gebruik van dwelms lyk vir my gevaarlik en gewoon onnosel.

Maar, as ‘n mens nou al hierdie dinge gedoen het, is die vraag: wat is nou mistiek daaraan? As ‘n mens goed konsentreer, gefokusd is, in stilte jou onttrek en allerhande tegnieke toepas, is jy eintlik nog net gereed vir meer – jy het nog nie aangekom waar jy wil wees nie. Al hierdie dinge is immers waardevol omdat hulle jou by ‘n sekere plek wil uitbring en in ‘n sekere ruimte wil laat leef. Maar wat is hierdie ruimte? En hoe lyk hierdie plek? En waartoe dan al hierdie tegnieke en metodes?

Die mistieke oomblik is wanneer ons in hierdie ruimte van heiligheid te staan kom en bewus raak van ‘n dieper dimensie wat ons in ons gewone lewens en in ons binneste nooit herken nie. Hier reik God van buite ons na ons uit, hier beleef ons die onpeilbare teenwoordigheid van die Ander, die Liefde wat, in die Christelike spiritualiteit, alle verstand te bowe gaan. En hierdie Liefde doen iets aan ons – dit reinig ons. Dit is nie ons liefde wat nou ‘n hoër vlak bereik nie. Ons ontvang ‘n vreemde Liefde, ‘n liefde wat “van Bo” af kom, ‘n liefde wat ons omkeer en verander.

In die Christelike mistiek is die weg van die mens na God alleen maar daar om uiteindelik God se koms na ons te ervaar. Die eindpunt van ons geestelike reis is juis dat ons van ons “ek” verlos word deurdat ons ontdek daar is meer as net ons eie ek. Die lewe is oor meer as net my volle potensiaal.

Dit het groot implikasies. As ons in afsondering ons voorberei op God se koms na ons, op die goddelike aanraking, bring dit ons in ‘n onherroeplike, onlosmaaklike verbintenis met die Ander. Ons kan nie meer vir onsself leef nie. En in die Christelike mistiek beteken hierdie gerigtheid op die ander in liefde dat ek sin vind juis in die weggee van myself.

Eintlik weet ons dit te goed – dat daar niks mistieks daaraan is om “meer” van onsself te ontdek nie.

Dit is beter om te gee, as om te ontvang, is woorde van Hom wat naby aan die Vader geleef het en na ons toe gekom het om ons verhouding met die Ontfermende een te herstel. En ons onderskat hoe diep hierdie woorde in ons psige gaan lê het. As ‘n mens in die gees van Christus ingebed is, is jou hart nie op jouself gerig nie.

Ons weet dit ook uit die liefdesweg van die vleesgeworde Christus. Jesus se aardse weg na God, sy soeke na God – in die woestyn, op die berg van verheerliking, in die tuin van Getsemane en diep-verlangend aan die kruis op Golgotha, was nie ‘n soeke na self-vervulling nie. Dit het ter wille van ons gebeur. En toe Hy uiteindelik in ere langs die Vader herstel is, vertel die Christelike tradisie ons, was ook hierdie ere-posisie op ons ingestel, op ons bekragtiging. Vanuit sy verheerlikte staat, hoor ons die Bybelverhaal sê, gee Hy opnuut weer vir ons die Heilige Gees van liefde sodat ons soos Hy kan uitreik in krag.

Ons het geen mag om hierdie ontmoeting met God te bewerkstellig nie. Dit word alleenlik maar aan ons geskenk. Geen tegniek, konsentrasie, geen dwelms of meditasie sal hierdie ontmoeting tot stand bring nie. Ons kan maar net wag daarop. Afhanklik, verlangend. Ons moet alleen maar gereed wees daarvoor, verlang daarna, bid daarvoor.

Ons is op heilige grond. Ons het buite ons bekende terrein beweeg, ons wêreld agtergelaat om deur God so gesuiwer en geheilig te word dat ons met ‘n totaal ander perspektief terugkeer en kyk na waar ons vandaan gekom het. Hier ontdek ons iets groters as onsself, Iemand buite en belangriker as ons. Ons word deel van ‘n goddelike verhouding.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive