Ek hou van die praktiese karakter van die mistiek. Daar is deur die eeue in mistieke tekste ‘n ondertoon van pastorale bewoëndheid wat my nog altyd aangespreek het. Die mistagogie as die geestelike begeleiding van gelowiges eerder as teologiese skoling van mense, is ‘n wesenskenmerk van die mistiek. Die praktyk van die mistiek is op lewenswysheid ingestel, op die lewenskuns, nie op serebrale bekgevegte nie. Dit gaan mos immers daarin om transformasie, om ‘n toewyding, om ‘n lewe van vernuwing. En die mistiek wil mense begelei om heel eenvouding en konkreet te leef.
Een van hierdie praktiese maniere wat ons in mistieke tekste, veral in tekste wat ‘n Christus-mistiek bepleit, raaklees is die fokus op gelykvormigheid/konformiteit aan Christus. Heel eenvoudig beteken dit dat ons hele lewe ingestel is op die vorm van die goddelike in die lewe van Christus.
Ek het meer hiervan gelees in Sushaku Endo se boek, Silence, oor die wrede vervolging van Christene in die vyftiende eeu in Japan (sien vorige blogs), wat tragies eindig. Die hoofkarakter in die boek, Rodrigues, word deur die verskriklike marteling van Christene gedwing om ook Christus te verloën. Sy lydensweg eindig in verraad wanneer hy gedwing word om op ‘n fumie, ‘n afbeelding van Christus se gesig te trap.
Endo skryf herhaaldelik in die boek oor Rodrigues wat Christus se gesig bly onthou en bly bedink in sy uiters moeilike omstandighede. Die gedagte aan Christus se gesig wat liefdevol na hom kyk, hou hom aan die gang. Dit is daarom feitlik ondenkbaar dat Rodrigues, wat innerlik so nou verbind is met die geliefde gelaat van Christus, uiteindelik daarop moet trap – dit maak die verraad soveel intenser. Die verskriklike oomblik van sy verraad beskryf Endo as volg: “The priest raises his foot. In it he feels a dull, heavy pain. This is no mere formality. He will now trample on what he has considered the most beautiful thing in his life, on what he has believed most pure, on what is filled with the ideals and the dreams of man.” Die gesig van Christus is die teken van iets diepers, van die mistieke, verborge dinge van God. Wie na Christus kyk, kyk dus eintlik diep in die hart van God, en daarmee ook diep in sy eie hart.
In die mistiek speel meditasie ‘n groot rol. Nadenke oor die Bybel, maar ook oor die dood (momenti mori) is byvoorbeeld belangrik. Thomas van Kempis skryf in die eerste hoofstuk van sy Navolging oor wat dit beteken om Jesus te volg: ons hoofdoel moet wees om te mediteer en na te dink oor die lewe van Jesus Christus. Dit is hoe ons die gees van Christus ontvang. Ons moet soek om in ooreenstemming met, of konform aan die lewe van Christus te wees.
Ek kan verstaan waarom Endo so geboeid is deur die gesig van Christus, veral as ‘n mens dit in die lig van Levinas se opmerkings bedink. Jou gesig gee jou weg. Jou kyk verraai jou. Jou lewe staan oor jou gelaat geskryf. Om Jesus se gesig te onthou, beteken vir Endo om absolute skoonheid te sien. Dit is ‘n gesig wat suiwer en rein is. In die gelaat van Christus sien ons die goddelike verlange na mense en na die wêreld. Ons herken in daardie oë die klop van ‘n liefdeshart. Ons sien in die stil voorkoms ‘n verwondbare Heiland. Ons herken God se “ideale” en “drome” vir ons.
Wanneer ons ons lewens inrig konform aan Christus, beteken dit dat ons onsself instel op wie hy is, op wat hy gedoen en gesê het. Ons moet leef in die gees van Christus (Rom.8:8). In ons spiritualiteit soek ons na ‘n intieme verhouding met Christus deurdat ons toelaat dat alles wat ons van Christus lees, ons gees binnedring en ons dryf om hom in liefde te volg. Dit is God se genade – dat ons so ‘n voorbeeld het. Hierdie Christus kom eers, dan word ons deur hom tot dissipelskap geroep. Deur gedurig naby aan Christus bly, deur in intieme dissipelskap met hom gelei te word om al die ydelhede van die wêreld op te gee, soos Thomas skryf, word ons deur God se genade oorweldig, gereinig, herstel en geheilig. Dit het niks met werksheiligheid te maak nie. Trouens, dit is ‘n oorweldigende genade gawe - ons kry Christus as gawe om soos Christus te word.
Ons kan die Bybel in groot heiligheid en prestasie-ywer baie lees, baie bepraat, baie bedink, maar as die Bybel nie die genade in ons uitstort nie en in ons die Gees van Christus bewerk nie, het ons dit vergeefs gelees.
Met Endo se boek het ek besef hoe totaal ‘n mens op Christus met al jou sintuie ingestel kan wees. Deur hierdie boek het die vleeswording vir my nuwe betekenis gekry het. God het die woord vlees laat word, sodat ons kan “sien” wie God in liefde is. Christus is die gesig van God se genade!
Thursday, August 13, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2009
(275)
-
▼
August
(30)
- Vreugde
- 'n Soet smakie...
- Die rykheid van die geestelike reis
- Oor boelies en bullebakke (vervolg)
- Respek
- Die boeiend rol van memorisering
- Geert Grote
- Die soeke na vreugde.
- Die Elfmiljoen rand Sondag in Regensburg.
- Deur die liefde gedryf.
- 'n Dag om te onthou....
- Mistici en brandende liefde
- Memento mori: die lewe is 'n kosbare gawe
- Innerlike sorg
- Duitse maniere
- 'n Sondagmiddag in ons nuwe blyplek
- Armoede is nie 'n skande nie - oor konformiteit aa...
- Om God se aanraking af te wag - die eie aard van C...
- Lewensvreugde
- Die Gees van Christus - oor die mistiek en konform...
- Weg van die kerk na ‘n nuwe toewyding....
- Vrye genade... Oor God se bevrydende aanraking
- Bybel-liefde
- Om iemand te verwond - die wese van die sonde
- En tog is ons soekers...
- Ek voel 'n diepe liefde vir daardie gesig. Oor die...
- Hoflike hardheid
- Hy glo wat hy sê....
- Van verwildering tot verwondering
- Kaptein
-
▼
August
(30)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.