Tuesday, August 04, 2009

Hoflike hardheid

Wenen is ‘n eerste-wêreld stad. Dit sien ek al toe die vliegtuig aan die daal is. Die lughawe is wel nie groot nie, maar besonder netjies en uitstekend georganiseer. ‘n Mens kry die beste behandeling van die oomblik dat jy van die vliegtuig afklim. Oral is daar aanwysingsbordjies, inligtingspunte, banke, trollies, kaartjiemasjiene en al die luukshede wat ‘n eerste-wêreld land kan aanbied. Die geriewe is oorweldigend. Die sneltrein, lui die advertensie op die lughawe, neem 16 minute om jou tot in die sentrum van die stad te bring en dit ruk jou sak met R120 (heelwat goedkoper as die R375 kwotasie wat ek gekry het om van Stellenbosch na Kaapstad lughawe geneem te word). Neem jy die bus is jy net R70 armer. Maar jy neem ook drie keer langer om in die stad te kom.

Ek staan by die inligtingtoonbank en wag om bedien te word deur ‘n jongerige Oostenrykse vrou. Sy lyk vir my so om en by die 35 jaar, hoflik, ordentlik, so normaal soos jou buurvrou om die draai. Sy bedien ‘n Moslem-vrou, kopdoek en al. Die vrou is seker so 50 jaar, nie so welsprekend nie, maar sy kommunikeer goed. Sy het duidelik hulp nodig. En terwyl ek die twee so staan en bekyk, kan ek agterkom die hulp kom nie te vrymoedig nie. Op elke vraag is daar ‘n een-sinnetjie antwoord.

Toe ek nader staan vir my eie beurt, verander die situasie. Ek praat maar Ingels, want lyk my sommige Oostenrykers hou daarvan om hul vreemde tale (behalwe Arabies natuurlik....) te oefen. Die vrou agter die toonbank is besonder behulpsaam. Sy ruk ‘n kaart hier uit, ‘n inligtingstuk daar, verkoop aan my ‘n treinkaartjie en gaan uit haar pad uit om vir my inligting te gee.

Ek sou seker goed reggekom het met Duits, hoewel die Oostenrykse uitspraak bietjie krom op die oor val. En ek sou my ook self kon help by die masjiene met alles wat ek nodig het om in die stad uit te kom. Maar dit is makliker om van aangesig tot aangesig hulp te kry, en dit nogal in Engels ook. En dit is boonop aangenaam ook, want die gesprek is lekker en gelaai met inligting wat alles vir my makliker maak.

Ek loop tog met ‘n troebel gemoed daar weg. Die distansie, vervreemding tussen mense soos dit tussen die twee vroue na vore gekom het, onstig my. En in die bus op stad toe val dit my op hoeveel gesluierde vroue met hul mans en kinders daar is, sodat ek wonder watter lewe lei hulle. En hulle teenwoordigheid is onmiskenbaar. Niemand in Oostenryk kan onbewus wees van die baie mense uit ander lande wat tussen hulle woon en werk nie. En natuurlik, niemand kan onaangeraak daardeur wees nie. Oral is daar Arabiese mans wat die vloere vee, die taxi’s ry, die busse bestuur, die kelners is. Wenen is, soos die res van die wêreld duidelik vir sy handwerk afhanklik van werkers uit ander lande.

Selfs binne hierdie groepe is daar duidelike ongelykhede. Waar ‘n mens gesinne met kopdoek-vroue sien, loop die man voor, die kinders in ‘n ry en die vrou met die dogters iewers aan die agterkant. In een geval loop die mans met klein tassies en sleep die vrou die groter tas sonder dat die vrou enige hulp van hulle kry.

Dit is, bly ek dink, een van hierdie vroue, reeds aan die verloorkant, wat voor my in die tou op die lughawe om hulp gevra het en so ‘n halfhartige ontvangs gekry het.

Wat my iewers so bietjie laat dink het aan die Leviet en die Priester in die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan: die mense wat die hart moet hê om ander se nood raak te sien, is dikwels die hardvogtigste – en dit op die allerhandste hoflike manier. Vrou agter die toonbank teenoor vrou aan die ander kant. ‘n Mens sou verwag dat dieselfde gender ten minste ‘n bietjie aanklank moet kan genereer. En het Foucault nie reeds 'n beroemde boek geskryf oor die feit dat ons wreder geword het hoe gesofistkeerder ons geword het nie?

Die situasie is eintlik hartverskeurend: die mense wat jy nodig het om die mees basiese dienste in jou land aan die gang te hou, is die mense wat jy die minste vertrou. Hulle lyk anders, praat anders, glo anders. Hulle is die vreemdelinge in jou poorte.

Terwyl ek Wenen uit die bus bekyk, besef ek skielik waarom die tien gebooie spesifiek vra om barmhartigheid teenoor vreemdelinge. Die Bybel weet hoe oud die verskynsel van ongasvryheid is. So oud soos die mensdom. En hoe diep ingewortel ons xenofobiese vooroordele is – soms veral teenoor hulle wat ons omgee nodig het.

Daardie vrou agter die toonbank is tien teen een, 'n godsdienstige Oostenryk, ‘n ordentlike kerk-mens. Voor haar sien sy egter nie die vreemdeling in haar poorte nie. Voor haar sien sy nie ‘n mens wat onseker is en ondersteuning soek nie. Voor haar sien sy ‘n gesluierde vrou, ‘n vrou uit ‘n ander kultuur, godsdiens. Eintlik sien sy voor haar ‘n vyand. En met ‘n ordentlike, saaklike houding gee sy vir daardie vrou die allerminste wat sy kan. Om net daarna vir my, wat eintlik daarsonder sou kon klaarkom, meer te gee as wat ek vra.

Xenofobie is nie net ryp in Suid-Afrika nie. Dit leef in ons allerharte.

Die Samaritaan het die ander een in nood gesien, raakgesien en moeite gedoen. Stilgehou, tyd gegee, aandag bestee, wonde verbind, op ‘n pakesel gelaai, na ‘n veilige plek geneem en gesorg dat die slagoffer gesond verpleeg word. Ons lees hierdie verhaal, dit raak ons en ons herken onsself in ons hoflike hardvogtigheid, terwyl ons begeer om die omgee-hart van die Samaritaan te hê.

Of is hierdie hele verhaal ‘n soet sentimentele storie wat die harde realiteit onderskat? Waar dan, sal die vrede onder ons vandaan kom, die kring van geweld deurbreek word?

Die vrou voor my in die tou het ‘n oomblik stil gestaan, kennelik om nog ‘n vraag te vra. Maar sy het sekerlik besef sy moet maar liewer nie die ordentlike, netjiese dame agter die toonbank verder uitvra nie. Sy het omgedraai en weggestap.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive