Die wêreldbeker blink uit deur die baie
doelskoppe wat spelers reeds geskiet het (136 in die eerste rondte).
En dan vier die manne grootliks.
Een vertel watter ekstase dit bring: ‘n
mens weet nie altyd jy het die doel ingeskiet nie. Dit dring eers daarna tot
jou deur. En dan, in so ‘n wêreldtoernooi, met al die drama van oordonderende
lawaai deur die skare en met die wete van watter prestasie dit is, loop die
adrenalien hoog.
Ongebreideld is die feesviering na so
‘n doel.
Iemand skryf in vandag se NYT hoe
anders dit is as in die stywe, bedeesde Amerika en hoe verfrissend ‘n mens die
spelers uit alle wêrelddele se passie in Suid-Amerika ervaar.
In Amerika moet jy nie te veel feesvier
nie:
“Lyk asof jy dit al vantevore reggekry
het”, lui die berig.
Die Hollanders sal sê: Doen maar
gewoon. Hulle kan net so styf soos Amerikaners en Afrikaners wees.
Ek dink onwillekeurig aan hoe ons
gradedagplegtighede altyd verloop het: stil, stemmig, ordentlik, in orde en
alles mooi beleef en ingetoë.
En toe kom die demokrasie en nuwe
administrateurs van universiteite en die “nuwe” Suid-Afrika se gradeplegtighede
met ouers wat jodel en opspring en hul kinders luidkeels besing.
Hoe verontwaardig was sommiges nie.
Kulturele verskille. Skryf die NYT: toe
die bekende Amerikaanse sportster, Tim Duncan, vir die vyfde keer deel was van
‘n groot sport-oorwinning, het hy skaars geglimlag.
Dit is deel van die kultuur in daardie
sportwêreld. Uitbundige vieringe is bietjie verdag. Trouens, die beheerliggaam
van een sport beboet hulle spelers met R5000 as hulle te wild aangaan: dit word
dan, volgens hulle sining, uitdagende gedrag en oordadige feesvierings.
Dit is reëls, skryf die artikel, wat
die Puriteine sou waardeer.
Puriteine het nie ‘n goeie naam nie. En
‘n Puriteinse streep loop inderdaad sterk deur vele kulture in die Weste.
Hier is ‘n paragraaf uit die artikel:
The N.F.L. probably has the most
celebrations in American sports, but the rule book discourages nearly all of
them. It is considered excessive celebration if “two or more players engage in
prolonged, excessive, premeditated or choreographed celebrations.” Individual
players are strictly barred from “prolonged gyrations.”
Sommige van ons minder beheersdes sal
van suurvye praat as hulle sulke reëls lees. Daar is ander leliker woorde vir
mense wat nie in staat is om blydskap aan die lewe te hê nie.
Mense het immers ‘n groot behoefte aan
blydskap.
Maar hoe nou? Lewensvreugde kan
uitbundig beleef word. Met groot gestorm na ‘n doel, met danspassies van die
span, met gebare van die speler aan sy geliefde en sy vrou.
Wat dit so interessant maak, is hoe die
vreugde uitgedruk word. En dit is dan dat die dieper dinge na vore kom. Die
Argentynse sokker-ikoon, Messi, suig na sy doelpunte aan sy duim ter erkenning
van sy kinders. Ander spelers soen hulle ringvingers as erkenning van hulle
vroue.
Uitbundige lewensvreugde, blydskap oor
prestasie, maar ook ‘n interessante openbaring wat vir ‘n speler werklike
belangrik is. Op een van jou blyste oomblikke, met een van jou topprestasies,
neem jy jou familie saam met jou.
Dit is lewensvreugde wat oor jou kom in
‘n gevoel van blydskap, verbintenis met en liefde vir mense om jou en naby aan
jou. Gedeelde vreugde. Gerig op ander, ‘n gawe van jou prestasie vir hulle wat
vir jou belangrik is.
En tog, is dit ook weer ‘n vraag of
uitbundigheid noodwendig vreugde wys. Neem maar hoe “stiller” die rugby in ons
midde loop. En tog: wat van die speler
wat sierlik sy drie gaan druk – onnodig meters deur die lug duik om sy punte
aan te teken? Dit is tog ‘n mooi, bedekte manier om die afronding te vier? Of
die speler wat stil-weg ‘n vinger in die lug steek, erkentelik?
Lewensvreugde kan op baie maniere
beleef word. Ook op ‘n gradeplegtigheid
waar daar nie gejodel word nie. Waar daar ‘n foto geneem word en in die
sitkamer sy plekkie kry, of, die familie-ete daarna, of die sertifikaat teen
die muur – netjies geraam…
Wat dus tel is dat ‘n mens daardie
blydskap sal soek en beleef – hoe maak nie saak nie. Daardie innerlike, stil
blydskap is immers durend. Die wete moet gesoek, verlang word: om alles met vreugde te ontvang: Soms
miskien uitbundig, soms selfs met ‘n hartseer – maar altyd bewustelik beleef word oor die wonder
van die lewe.
Dit kan suiwer vreugde, puriteinse blydskap word…