Friday, November 05, 2010

Aan die einde van die gang 'n kruis. Oor Vincent van Gogh en die Oop Bybel.



Elke keer as ek in die Van Gogh museum in Amsterdam Van Gogh se skildery van die “Oop Bybel” bekyk het wat hy in 1885 geskryf het, het ek my verwonder aan die donker kleure waar in dit geskilder is, veral as ‘n mens dink aan sy latere, ligte werke. Vincent, wat 32 jaar oud was toe hy dit geskilder het,  het in ‘n brief aan sy broer, Theo, laat blyk dat hy doelbewus die donker kleure gebruik het – soos bv ook in sy ewe bekende die Aartappel-eters.

Hoewel die Bybel oop geteken word in “gebroke wit” kleure en met so ‘n spatsel suurlemoen-geel, soos van Gogh dit self beskryf, verbind hy dit ook met swart, donker kleure. Hy wou daarmee bewys dat ‘n mens met swart wel ‘n goeie stuk werk kan lewer.

Die donker kleure het Theo van Gogh, Vincent se broer, lees ek vandag, opgeval. Hy het gedink die kleure is te somber. Hy het vir Vincent aangespoor om ligter kleure te gebruik.

Op hierdie stadium was Vincent egter nog onder die indruk van so ‘n kunstenaar soos Frans Hals (17e eeu). Hals se werk, skryf hy vir Theo, wys tog hoe mooi swart kan wees. Later het Vincent erken dat hierdie Oop Bybel skildery seker dan maar op ‘n ouderwetse manier geskilder is.

Teen die tyd dat Van Gogh hierdie skildery geteken het, was hy nie meer aktief deel van die tradisionele Christendom nie. Juis daarom is dit so interessant dat hy hierdie toneel skilder. Die pragtige groot Bybel oorheers die toneel. Maar wat dit so merkwaardig maak, is dat dit oop is by Jesaja 53. Hierdie hoofstuk was en bly vir Christene die belangrikste heenwysing na die Man van Smarte – die lydende kneg op wie Christus se lewe in die Evangelies geskoei word. In hierdie skildery, altans dan, staan die Bybel vir hom in die teken van lyding. Dit is sy invalshoek daarop.

Die Vincent van Gogh museum skryf in hulle nota’s oor die skildery dat dit betekenis daarvan ‘n raaisel bly. Soos vele ander, noem hulle die standpunt van sommiges dat die stuk simbolies is van Van Gogh se siniese houding teenoor die Christendom en van sy voorkeur vir die lewe van vreugde in die Franse samelewing van sy tyd. (Hy skryf byvoorbeeld aan sy suster: “Godsdiens het my so baie oor baie jare heen al verskrik”). Hierdie interpretasie van die Oop Boek skildery word nou skynbaar ondersteun deur die roman van Emile Zola: “Le Joie de Vivre” (“lewensvreugde”) wat Van Gogh naas die Bybel teken. (Mooi voorbeeld van intertekstualiteit!). Sou hy dan sy pa se tradisionele, somber godsdiens afsweer ten gunste van iets blyers, ligters – vol lewensvreugde?

Nog verder druk sommiges hierdie siening: die Bybel, Zola-boek en die uitgesnuifde kers is ‘n tipiese stil lewe skildery. Dit was ‘n onderwerp wat baie gewild was in 17e eeuse kuns waarin, vreemd genoeg, die ydelheid (“Vanitas” was die Latynse term vir die genre) van die menslike bestaan uitgebeeld is. Alles is tydelik, dit is net geloofsake wat ewigheidswaarde het. Van Gogh, word dan geargumenteer, het hierdie tema gedekonstrueer: tradisionele godsdiens word nou die ydele, die verganklike wat soos ‘n uitgesnuifde kers blote reliekwaarde het en die roman van Zola simboliseer dit wat regtig saak maak – ‘n lewe van aardse vreugde.

Maar wat nie altyd in ag geneem word nie, is dat die heldin van Zola se boek, Pauline, se lewe deur intense lyding gekenmerk word. Sy is ‘n soort Christus figuur wat lyding ervaar en toe-eien. Van Gogh het, weet ons voorts, Zola bewonder omdat hy geglo het dat die boodskap van die Bybel daarin nuut en anders in ‘n nuwe tyd geïnterpreteer is. Hy het die roman juis hoog aangeprys as ‘n soort “bybel van die moderne lewe.”

En ook word nie altyd bedink dat 1885 ‘n belangrike jaar in Van Gogh se lewe was. Sy pa, die Gereformeerde dominee, is toe skielik dood. Die Bybel was sy pa se Bybel en staan dus iewers as simbool van die godsdienstige tradisie van sy familie. Die kers, in hierdie raaiselagtige skildery, sou dus ook ‘n simbool kon wees van sy pa se lewe wat uitgesnuif is.

Dit is in hierdie motief van lyding dat die sleutel tot die Oop Bybel skildery gevind word.

Kathleen Powers Erickson skryf in haar artikel, From Preaching to Painting: Van Gogh’s Religious Zeal  (http://www.religion-online.org/showarticle.asp?title=752), dat sy dink die Bybel en Zola se boek deel juis hulle fokus op lyding. Van Gogh, skryf sy, het dikwels sy lewe gesien in terme van Christus se lydensweg. Christus, skryf van Gogh, “is die Meester wat ‘n mens troos en bemoedig, ‘n arbeider met ‘n harde lewe. Hy is die Man van Smarte wat ons lyding ken. En God wil dat die mens in navolging van Christus nederig moet leef en nie deur die lewe gaan met die doel om tot die hemel op te reik nie. Die mens moet deel wees van die lewe op aarde en leer van die Evangelie om sag en nederig van hart te wees.”  

Dít – in sy eie woorde!

Erickson voeg by hoe Van Gogh ‘n pieta geteken het van Jesus in die arms van Maria. Maar Jesus skilder hy met sy eie gelaatstrekke en met ‘n rooi baard. Duidelik sien hy in sy eie lewe ook die lydensweg van Christus afgeteken.



Die Oop Bybel vertel dus ‘n merkwaardige verhaal: Van Gogh teken hier ‘n stil lewe waarin lyding sentraal staan. Terselfdertyd wys dit hoe die lydende Christus, die kneg van die Here uit Jesaja 53, hom bybly. Al het hy, soos hy skryf, nie veel erg aan die tradisionele Christendom gehad nie, het hy steeds weer vasgehou aan Christus as die lydende en nederige een wat mense se ellende ken en aan wie mense in hul lyding troosvol kan vashou.

Ek wil dit nog baie bedink: die dag toe Van Gogh hierdie skildery geskilder het en besluit het om ‘n Bybel te teken. ‘n Oop Bybel! En toe Jesaja 53 as die bladsye kies wat hy wil skilder.

Ek lees Erickson se beskrywing met aandag. Ek merk in haar artikel dat Van Gogh ook na Beecher Stowe verwys het. Dit boei my onmiddellik. Ek speur so bietjie en kom af op ‘n brief wat Van Gogh aan sy suster geskryf het – ‘n jaar voor sy dood (1889). Hy praat reeds daarin van self-doding.

Kyk net sy ellendig omstandighede waarin hy hierdie brief skryf (soos in die Van Gogh museum se uitgawe (http://www.vangoghletters.org/vg/letters/let764/letter.html):

As for me, I’m going for at least 3 months into an asylum at St-Rémy, not far from here.

In all I’ve had 4 big crises in which I hadn’t the slightest idea of what I said, wanted, did.

Not counting that I fainted 3 times previously without plausible reason, and not retaining the least memory of what I felt then.

Ah well, that’s quite serious, although I’m much calmer since then, and physically I’m perfectly well. And I still feel incapable of taking a studio again. I’m working though, and have just done two paintings of the hospital. One is a ward, a very long ward with the rows of beds with white curtains where a few figures of patients are moving.  

The walls, the ceiling with the large beams, everything is white in a lilac white or green white. Here and there a window with a pink or bright green curtain.

The floor tiled with red bricks. At the far end a door surmounted by a crucifix.

It’s very, very simple. And then, as a pendant, the inner courtyard. It’s an arcaded gallery like in Arab buildings, whitewashed. In front of these galleries an ancient garden with a pond in the middle and 8 beds of flowers, forget-me-nots, Christmas roses, anemones, buttercups, wallflowers, daisies &c.

And beneath the gallery, orange trees and oleanders. So it’s a painting chock-full of flowers and springtime greenery. However, three black, sad tree-trunks cross it like snakes, and in the foreground four large sad, dark box bushes.





Hier is ‘n man, baie siek, sy lewe deurtrek met lyding, maar hy teken in ligte, helder, kleure ‘n skildery met blomme en tuine.

Maar kyk net hoe skryf hy dan:

I’ve re-read Beecher Stowe’s Uncle Tom with extreme attention precisely because it’s a woman’s book, written, she says, while making soup for her children, and then also with extreme attention Dicken’s Christmas Tales.

I read little so as to think about it more. It’s very likely that I have a lot more to suffer. And that doesn’t suit me at all, to tell you the truth, for I wouldn’t wish for a martyr’s career in any circumstances.

For I’ve always sought something other than the heroism I don’t have, which I certainly admire in others but which, I repeat, I do not believe to be my duty or my ideal.

Dit is duidelik: Van Gogh is nie ‘n martelaar of ‘n masochis nie. Trouens, juis in sy ellende is hy nog die ywerige, versigtige leser van groot werke.

En hoe sterk hy verby sy lyding leef, getroos deur alles wat hy nog kan lees en skilder, sien ‘n mens in die volgende stuk wat hy skryf, onder andere oor die beroemde werk van Ernst Renan oor die lewe van Christus:

I haven’t re-read those excellent books by Renan but how often I think of them here, where we have the olive trees and other characteristic plants and the blue sky. Ah, how right Renan is and what a fine work his is, to speak to us in a French like no other person speaks. A French in which, in the sound of the words, there’s the blue sky and the gentle rustling of the olive trees and a thousand true and explanatory things in short that turn his history into a resurrection. It’s one of the saddest things I know, the prejudices of people who through bias oppose so many good and beautiful things that have been created in our time. Ah, the eternal ‘ignorance’, the eternal ‘misunderstandings’, and how much good it then does to happen upon words that are truly Serene...

Mooi: “‘n Frans waarin, deur die klank van woorde, die blou hemel en die sagte geritsel van olyfbome en ‘n duisend ware en insigryke dinge is wat sy geskiedenis in ‘n opstanding omkeer....”

En dan volg Van Gogh se dieper insig:

For myself, I quite often worry that my life hasn’t been calm enough, all these disappointments, annoyances, changes mean that I don’t develop naturally and in full in my artistic career.

In die eerste blog hierbo oor Van Gogh het ek sy opmerking aangehaal hoedat sy kuns hom energie gegee het en hoe dit hom getransformeer het. Hier merk ‘n mens die prosesmatige van sy transformasie. In sy ellendige lyding wou hy nie ‘n martelaar of held wees nie. Hy wou kunstenaar wees. Hy verloor hom totaal in sy kuns. Dit gee hom kalmte, bring energie, gee hom kontak met die waarheid. Iewers spits hy hom daarop toe om sy eie situasie te transendeer. In die proses is hy op reis met al die groot kunstenaars van sy tyd: Met Zola, Frans Hals, Renan, Beecher Stowe en Charles Dickens – mense wat oor die lewe in al sy naaktheid en in sy lyding nagedink het – en daarby verby kon leef.  Hy lees hulle, skryf hy, met “ekstreme” aandag. Die lectio is intens. En dan lees hy weer net ‘n bietjie sodat hy kan “dink”( “I read little so as to think about it more”!)  – kan mediteer oor wat hulle eintlik sê. Hy lees hulle ook omdat hulle vir hom omvorm van ‘n angstige tot ‘n berustende mens: “But the memory of that often sustains me in the uncomfortable and unenviable hours and days or nights.” En hy kwel hom dat sy lewe nie kalm genoeg is nie – woorde waarin die oratiewe dimensie gehoor word. (“For I’ve always sought something other than the heroism I don’t have”!). Die verlange na die diepere, hoëre, ewige. Om dan, in die fokuspunt van ‘n skildery van ‘n hospitaalgang ‘n kruis te teken. Dan word blote geskiedenis, feite omgetower tot ‘n opstanding.

Die kruis, simbool van lyding, fokuspunt van die skildery, staan hard geskryf oor die lewe van Van Gogh. En tog, kon hy ook verby die kruis na die ewige lewe kyk. Daaroor volgende keer mee. Intussen nog die woord: spiritualiteit is nie goedkoop self-verbetering en oppervlakkige dwepery nie. Dit worstel met die diepste vrae – met ‘n wêreld in al sy somberte in donkerheid. Maar in hierdie worsteling met die donker nag van die siel, is spiritualiteit gedurig bewus van die dieper waarheid dat lyding nie die laaste woord spreek nie. Dat juis in lyding, paradoksaal genoeg, as ‘n mistieke antifrase, die mens gereinig en God teenwoordig is.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive