Simone Weil
Simone Weil, gebore in Parys, Frankryk op 3 Febuarie 1909, was maar 34 jaar oud toe sy op 24 Augustus 1943 tydens die tweede wêreld-oorlog in Engeland gesterf het. Sy kom uit ‘n welaf Joodse gesin, maar godsdiens het nie in haar lewe ‘n groot rol gespeel nie. Sy het haar lewe lank aan swak gesondheid gely, maar was ook ‘n mens wat ‘n eksentrieke, stil en asketiese bestaan gesoek het.
Sy het bekend geword as ‘n filosoof en ‘n stryder vir maatskaplike geregtigheid. Dit was veral haar kampanje’s vir werkers se regte en welsyn wat haar besonder bekend en ook omstrede gemaak het. Sy was aktief in die werkersbeweging, waar sy veral aan betogings en verspreiding van literatuur deelgeneem het. Sy is ook bekend omdat sy in 1934 haar werk as onderwyser tydelik opgeskort het en in ‘n fabriek as ‘n gewone werker gewerk het. Sy het gedink dat sy deur hierdie fabriekswerk die omstandighede van die werkers eerstehands sou beleef. Merkwaardig genoeg het sy tydens die Spaanse oorlog teen Franco se magte gaan veg – al was sy tot laat in haar lewe ‘n pasifis. Uit haar lewensverhaal blyk dus hoe sentraal lyding vir haar was. Sy het, trouens, onderskei tussen lyding wat maar net fisiek was en lyding wat ‘n mens baie dieper as bloot die fisieke aangetas het. In hierdie diepe lyding het sy later in haar lewe haar ervarings van liefde en godsdiens gehad.
Sy wou veral elke godsdiens op sy eie verstaan. Vir haar was daar in elke godsdiens iets besonders oor die ervaring van God te vinde. Maar sy het nie ‘n new age-tipe benadering gehad waar sy eklekties uit alle godsdienste iets goeds gaan haal het en deurmekaar gemeng het nie. Sy was juis daarteen, want so ‘n sinkretisme het in haar oë die unieke karakter van elke godsdiens aangetas.
Maar Simone Weil is oor die hele wêreld bekend vir haar mistieke ervarings. Sy het nooit mistieke boeke gelees nie, het sy op ‘n stadium geskryf. Daarom was haar eie mistieke ervarings so ingrypend vir haar. Sy het niks gehad wat haar daarop kon voorberei nie. Ook haar baie vriende in nie-godsdienstige kontekste moes vreemd opkyk by wat sy ervaar het.
En sy het hierdie mistieke ervaring gehad in 'n konteks van ekstreme lyding - nie net haar persoonlike lyding nie, maar ook die lyding van die tweede wêreldoorlog. Boeiend is dit dan nou om te sien hoe die lyding uiteindelik deur die Liefde gerelativeer word. Dieper as alles is wanneer God 'n mens opsoek en jou aanraak. Onbeskryflik is die moment dat 'n mens geroer word deur wat mooi en skoon is, tot die Liefde, die Absolute, die Onherleibare, dit wat alles te bowe gaan, tydloos, duursaam en ewig bly.
In 1936 het sy haarself in die kombuis by die stoof verbrand en toe na Assissi gegaan waar sy wou herstel. Daar het sy in die klein kapelletjie waar Franciscus van Assissi dikwels vergader het, op ‘n dag ‘n heel spesiale ervaring gehad.
Sy skryf: “In 1937 het ek twee wonderlike dae in Assissi deurgebring. Daar, alleen in die kapel van Santa Maria degli Angeli, ‘n onvergelyklike wonder van reinheid waar Sint Francis dikwels gebid het, het iets sterker as ek my op my knieë gedwing om vir die eerste keer in my lewe te bid.”
In 1938, die volgende jaar begin sy die gedigte te lees van die Engelse digter, George Herbert (1593-1633). Sy skryf hoedat sy sy gedig “Liefde” gelees het en hoedat dit ‘n gebed geword het. Terwyl sy dit gelees het het sy ontdek hoe, “vir die eerste keer,” “Christus gekom en haar geneem het.”
Hier het haar besondere band met die Christendom ontstaan.
Hier is die gedig “Liefde” (sien ook gister se blog).
Liefde
Liefde het vir my gewink; tog het my siel teruggedeins,skuldig, vol stof en sonde.Maar Liefde wat so goed oplet, wat merk ek word tamna my eerste omhelsing,het tot my genader, terwyl dit sag vraof iets my ontbreek.“‘n Gas,” het ek geantwoord, “waardig om hier te wees.”Liefde het gesê: “dit sal dan jyself wees.”“Ek, die harde, ondankbare een? Ag, my liewe,ek kan jou dan nie eers in die oë kyk nie.”Liefde het my hand geneem, met ‘n glimlag geantwoord:“Wie het jou oë gemaak, maar ek?”“Dit is so, Here; maar ek het hulle geskend; laat my skandemy neem waar ek verdien om te wees.”“Jy weet mos,” sê die Liefde, “wie het die blaam gedra?”“My liewe, dan sal ek dien.”“Jy moet kom sit,” sê die Liefde, “en my liggaam proe.”Toe het ek gesit en eet.
Hier is die Engelse oorspronklike:
Love
Love bade me welcome; yet my soul drew back,Guilty of dust and sin.But quick-ey'd Love, observing me grow slackFrom my first entrance in,Drew nearer to me, sweetly questioningIf I lack'd anything.“A guest,” I answer'd, “worthy to be here.”Love said, “You shall be he.”“I, the unkind, ungrateful? Ah, my dear,I cannot look on thee.”Love took my hand and smiling did reply:“Who made the eyes but I?”“Truth, Lord; but I have marr'd them; let my shameGo where it doth deserve.”“And know you not,” says Love; “who bore the blame?”“My dear, then I will serve.”“You must sit down,” says Love, “and taste my meat.”So I did sit and eat.
Sy het die gedig gememoriseer, oor en oor opgesê – en toe, op ‘n dag, het dit ‘n gebed geword. En het sy, heel mistiek, gevind hoedat God deur die gedig in die figuur van Jesus in haar lewe inkom. Die lectio, meditatiewe, die oratiewe en die kontemplatiewe het in haar lewe byeengekom en so spesiaal gewerk, dat hierdie gedig deur die lewe van Simone Weil een van die bekendste gedigte van ons tyd geword het.
Die Liefde, in hierdie gedig, dring homself saggies, maar beslis op aan die Beminde wat dink dat hy of sy geen eie waarde het nie. Elke keer weer het die Beminde ‘n antwoord, soek dit 'n verskoning om die Liefde weg te hou. Keer op keer is daar die belydenis van eie sondigheid en eie gebrokenheid.
Daar is uiteindelik tog die omkeerpunt: Dit is net as die Beminde herinner word daaraan dat God die blaam gedra het vir die skandvlek in die Beminde se lewe, dat die Beminde oorgehaal word. Die goddelike, die Liefde bring die mens tot Liefde deurdat die goddelike self die on- en nie-menslike sondigheid wegneem. God maak dit moontlik vir mense om die Goddelike Liefde te kan ervaar. Dit is die draaipunt. Dit bring, dryf en trek 'n mens - hierdie allerskone moment.
Maar kyk net hoe verlang die Liefde in hierdie gedig tog: Nie net roep die Liefde na die mens nie, die Liefde bly praat, bly argumenteer, bly aandring. Die Liefde gee nie op nie. Dit neem blaam weg, maar gaan dan uit die pad uit om die Beminde te herinner daaraan dat die in die Liefde moet wees en leef.
Uiteindelik kom die oorwinning dan: die Beminde is bereid om die Liefde te dien en word dan tot die hoogste uitgenooi: tot die nuttiging van die liggaam. Liefde is om God te dien, om jouself terug te gee in gehoorsaamheid. Maar dan, waar dit gebeur, is die eenheid volkome: kom eet my vleis, my liggaam. Wat ek is, is joune. Daar is volmaaktheid in ons eenheid. Ek is jy, wederkerig, en jy is ek.
Met hierdie sakramentele taal word die ruimte vir die kontemplatiewe oopgemaak, die plek vir God se werking is daar. God, die Liefde, kom woon by ons. Ons geniet die Liefde letterlik, vlees van ons vlees, Liefde van ons Liefde.
So lyk mistieke ervarings in ons tyd dus.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.