Tuesday, November 02, 2010

Oorlog.

In sy boek oor Battles of the Boer War”, gee W. Baring Pemberton inligting oor die Engelse weermag soos wat dit gelyk het met die uitbreek van die Boere-oorlog. Ek lees die boek met meer as gewone belangstelling, veral omdat ek die afgelope tyd die tyd nagevors het (dagboeke van Rensche van der Mescht en A.H. Luckhoff). Boonop skryf hy met tipiese Britse humor en insig oor hierdie interessante geskiedenis.

Tot op die Boere-oorlog, skryf hy, was die Britse weermag eintlik net ‘n skare mans in uniform. Hulle was nie ‘n oorlogsinstrument nie, maar eerder ‘n instelling waarvoor meestal minder geskoolde werkersklas mense gewerf is. Ongeveer helfte van die weermag was óf te jong, óf the siek om oorsee te gaan veg. Soldate het ure op die paradegrond spandeer en min voorbereiding is in die voer van oorlog self ingesit. Op die paradegrond is ‘n paar drilbewegings uitgevoer. Die soldate se aandag was nie regtig daarby nie. Na die parade-sessie in die oggend het die soldate meestal die barakke skoongemaak of die graspolle op die grond om die barakke uitgetrek. Skryf Pemberton: As ‘n soldaat kon marsjeer en nooit ‘n swart merk met inspeksies kry nie, is gereken dat hy die volmaakte soldaat was!

Dit was belangriker dat ‘n soldaat ‘n geweer kon presenteer as wat dit was om met die geweer te skiet. In elk geval het ‘n soldaat elke jaar net 200 patrone gekry om te skiet. Met 50 patrone moes hy na ‘n teiken mik en die res is saam met mede-soldate in ‘n gesamentlike oefening afgevuur: die voorste linie het gekniel en die agterste linie van soldate het, staande en skouer aan skouer, geskiet presies op daardie oomblik dat die offisier die bevel gegee het om te skiet.

Vir 20 dae in ‘n jaar het soldate origens vir 5 uur op ‘n dag veld-oefening gedoen. Die troepe het dan in geslote formasie in een linie vorentoe beweeg. “Die gedagte”, skryf Pemberton, “dat ‘n soldaat skuiling sou opsoek is as effens vernederend beskou”! Die strategie was duidelik om die vyande te konfronteer.

Soldate is nie geleer om hulle visie te ontwikkel nie en om afstand te skat nie. Hulle het omtrent niks geweet van skuilings bou nie. Om nie in ‘n reguit opmars die vyand aan te vat nie of om hulle te probeer omsingel, was soos om op ‘n jagtog deur ‘n hek te wil gaan loop eerder as om oor die heining te spring – al is die heining hoe hoog! Min dinge was minder effektief vir die guerilla strategie van die Boere.

Ek lees verbaasd hierdie beskrywing van Pemberton waarmee hy wil uitwys hoe onvoorbereid die Engelse soldate vir die intense oorlogvoering met die Boere was. Uit hierdie beskrywing kom duidelik na vore hoe geweld en uitwissing nie regtig die eerste prioriteit van die weermag was nie. Kan dit waar wees?

Maar dit is die volgende beskrywing van Pemberton wat my veral interesseer. Dit was vir die meeste soldate ‘n familie tradisie om by die weermag aan te sluit, skryf hy. Hulle het daardeur deel geword van ‘n gesellige klub van here waar daar uitstekende sport- en ander ontspanningsgeriewe was. As hulle buitendien oorsese diensplig verrig het, was daar nog die verdere beloning van jagtogte en die speel van polo. En tuis in Engeland is hulle juis nie toegelaat om deel van die polo-spanne te wees nie.

Pemberton kyk ook so bietjie rond om die Britse soldate met ander lande te vergelyk. In vergelyking met die Franse en Duitse soldate het die Britse soldate hulle pligte ligtelik opgeneem. Die gesprekke tussen soldate was dikwels ligsinnig. Ernstige opleiding is as onnodig en tydmors beskou. Hulle het byvoorbeeld “geleer” uit veral twee “groot” oorloë, naamlik die Amerikaanse burger-oorlog en die Frans-Prussiese oorloë. Maar, vra Pemberton, hoe kon hierdie oorloë ooit vir hulle voorberei vir teenstanders in die Boere-oorlog wat hulle op perde oor groot oop vlaktes, met hier en daar ‘n koppie en onsigbare donga’s, sou jaag met gewere wat tot op 2 000 meter kon doodskietl

Ek verstaan nou ook beter waarom die Boere-oorlog in die geskiedenis van oorloë so ‘n impak gehad het – veral weens die rol van guerilla-taktiek. Wat weer eens wys: oorlog, op watter uithoek van die wêreld ookal, het die manier om meer geweld uit te lok. In plaas van om vrede te dien, trek oorlog en geweld  die mensdom telkens weer dieper in in meer oorlog en geweld.

Maar ook boeiend is wat Pemberton oor die algemene politieke houding teenoor oorlog sê. Wat die Britse politici betref, skryf hy : Hoe groter die ondoeltreffendheid van die weermag, hoe meer tevrede was hulle skynbaar. Politici was bekommerd dat ‘n ywerige en effektiewe weermag die land net makliker in oorlog sou betrek. Hulle wou byvoorbeeld niks te doen hê met voorstelle dat ‘n Generale Staf, geskoei op die Europese lees, oorlog tot in die fynste detail sou ondersoek. Só ‘n instelling sou onvermydelik lei tot militarisme en ‘n oorlogsugtigheid indra in die buitelandse beleid van die land. Boonop sou dit bloot net heeltemal te duur wees. ‘n Eerste minister uit die tyd, Sir Bannermann, het byvoorbeeld opgemerk dat ‘n land eerder deur ‘n oorlog moet sukkel as om daarvoor te beplan. Om militêre beleid te wil ontwikkel kan maklik lei tot ‘n wens om oorlog uit te lok.

Dit is veral die laaste paragraaf hierbo wat my interesseer. Pemberton, is duidelik nie ‘n jingo nie. Hy skryf ook insigryk en billik na albei kante van die opponente in die oorlog. As ‘n gesoute skrywer van militêre geskiedenisboeke  maak hy veral interessante opmerkings byvoorbeeld oor die dapperheid en vindingrykheid van Boere soldate. Hy takel gou in sy boek allerhande stereotiepe oor die sogenaamde agterlikheid van die Boere af. Hy gebruik nogal indrukwekkende bronne om sy boeke na te vors.  

Dit boei my dus dat hy as ingeligte skrywer die amateur-agtigheid van die Britse soldate uitlig. En dit is net so boeiend om te sien hoe wantrouig die politici oor oorlog volgens hom was. In teenstelling met Europese lande waar oorlog ‘n groot kultuur was, is die Britte met die aanvang van die Boere-oorlog nie ‘n volk met ‘n massiewe oorlogskultuur nie.

Ek bly hieroor nadink. Want as dit alles waar is, maak dit die Boere-oorlog soveel tragieser: Behalwe dat die Engelse soldate so gelyk het, vertel Pemberton hoe terughoudend die Boere was met die begin van die oorlog. Die Britse soldate het selfs gepraat oor die feit dat die Boere nie maklik tot die aanval oorgegaan het nie. Aan weerskante dus, vreemd, was daar nie regtig ‘n ywer tot bloedvergieting nie. Aan beide kante is daar geen uitgesproke krygslus nie. Dit is asof die oorlog begin het omdat dit onvermydelik was en nie omdat mens lus was vir doodmaak en uitmoor nie.

En toe – toe duur die oorlog van 1899 tot 1902, en dit terwyl sommige Engelse gesê het dit sal binne 14 dae verby wees. En toe ontstaan die konsentrasiekampe waarin 15% van die Boere bevolking gesterf het. En die meeste van hulle was kinders. En uit hierdie oorlog volg omvattende verarming, afgebrande plase, met hemelhoë oorlogskuld.

Oorlog leef op homself. Dit het ‘n manier om ‘n immergroeiende houvas op mense te kry. En soos dit groei, word die geweld meer. Die Britse premier van destyds wat gesê het dat ‘n militêre beleid die wens tot oorlog uit kan lok, het iets belangriks oor oorlog verstaan.

Daar is iets totaal waansinnigs aan oorlog.

Maar daar is in hierdie leeswerk vir my ook ‘n keerkant van die saak: Eintlik, dog ek toe ek hierdie bladsye lees is dit merkwaardig dat ons diep in ons iewers nie werklik oorlogsugtig is nie. Levinas was reg. Anders as wat baie dink, is ons nie inherent geneig tot geweld nie. Ons word tot geweldenaars gemaak. As ‘n mens in die spiraalgang van geweld opgeneem word, kan jy die suigkrag daarvan nie weerstaan nie. En in die proses word die inherente menslikheid tot niet gemaak of tot op die grond afgebreek.

Oorlog het op geen manier sin nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive