Thursday, November 11, 2010

Die kosbaarste dinge is die dinge waaroor 'n mens nie kan praat nie.


Dit was een van daardie volsomer-dae, vertel hy my, wat ‘n mens op God se aarde net in Stellenbosch so onoortreflik kry. Voller en ryker en deurtrek met die allermooiste lewensdrif en –energie kan dit nie.

So het dit in Eden gelyk, daar in die oertuin tussen die vier riviere, glimlag hy – hierdie predikantsvriend van my.

Hy vat my saam terug op ‘n lewensreis, besef ek. Hy wil met my praat oor iets wat hy nog nie vir iemand só vertel het nie, sê hy.

Ja, mymer hy, hy het dit wel baie in die algemeen losweg met ander bespreek, maar daar was altyd iets wat hy teruggehou het. Iets wat na sy gevoel té intiem was om vir iemand te sê – selfs teenoor hulle wat die naaste aan naby aan hom was.

Ek weet, dink ek terwyl ek na hom luister. Ek weet – daar kan ‘n oomblik, miskien jare daarna, kom dat die tyd ryp word om daardie dieper kante ook uiteindelik te vertel. Soms wil ‘n onafgeronde verhaal wat in jou bly broei tot afronding, closure gebring word. Wanneer so 'n oomblik van invulling en afronding kom, wanneer die verhaal afgesluit word, is daar soms iets mistieks aan die werk.

My gesprekmaat begin sy verhaal: Hy en sy vriend het daardie volmaakte oggend golf gespeel, soos hulle dikwels vantevore gedoen het. En elke keer weer het hulle dit met groot oorgawe en lekker-kry gedoen. Dan het hulle nie net maar hulle afslane, hulle houe en hul punte-telling bespreek nie. Maar hulle het ook so bietjie filosofies en, soms, selfs so bietjie vroom, gepraat oor hoe hulle juis dáár in die mooi plek kon golf speel. Hulle was inderwaarheid albei toe al mense wat geestelike dinge ernstig opgeneem het.

Op die Stellenbosse golfbaan, het hulle een keer vir mekaar vertel, speel jy nie net golf nie. Jy stap deur die paradys-groen baan, die een putjie so altyd-nuut en kraakvars en mals groen soos die volgende een. Maar jy is steeds weer bewus van die groter prentjie om jou, het hulle op ‘n keer vir mekaar gesê. Want daardie baan is ingeweef in ‘n tapisserie van skoonheid – ‘n punt in ‘n droom-wêreld wat die golfbaan omraam en afrond. Rondom jou steek die Pieke bietjie veraf hul kleim op jou aandag in – nooi byna uitlokkend jou oog om net weer na hulle te kyk en hulle met ‘n blik te streel. En jy stap, wandel, al geselsende, met hemel in en om jou: Rustig loop die Hottentots-Holland berge saam met jou, lekker geselskap, maar mik ook dan verby jou, see-toe, Strand, Gordonsbaai toe, Kleinmond toe en dan sommer lus om Hermanus, Gouritsmond toe af te sit. En daar is nog veel meer – daar is nog Simonsberg, die berg met die naam van daardie ou Franse knorpot-predikant wat op sy rug in ‘n rus van die eeue lê: hy vou sy arms plegtig op sy bors, ruik deur sy neus onder sy hoed uit, die hoed wat oor sy wysbroue getrek is, al die somerreuke, in en uit in diep asemteue, en hy voel salig-op-sy-rug vere vir jou op jou golf-tog – hoe verruklik dit jou ook al mag laat voel.  Botmaskop, Stellenbosch-berg wat lê en wag om met skemer in sy ligroos-pak te spog, en Papegaaikop is die kersies op die koek, te veel, te ryk omring hulle, sit hulle rustig terug, gee hulle goeie geselskap. Tussen die berge...  En om jou en bo jou en ook in jou is daar die helderblou van die Afrika-son, die geel, blye kleur van die warm, luierende, lomerige somerson.

Volmaakte dae, sê my gespreksgenoot tevrede, in ‘n volmaakte wêreld. En hy drink dan genoeglik aan sy drinkdingetjie wat die kelner koud-koud vyf minute gelede hier voor ons kom neersit het.

Maar daardie spesifieke volsomer-dag moes daar, seker, soos in ‘n amper te volmaakte tyd, te verwagte was, ook iets haper – want dit was alles amper te goed om waar te wees. Soos hy en sy vriend die balletjies van die bowwe afslaan en weer verder slaan, besef hy dat sy maat, normaalweg praterig, stiller as gewoonlik is. Hy’s nukkerig, dag hy naderhand, half ongeduldig omdat dit die dag wil-wil bederf. En omdat sy vriend normaalweg nie ‘n nukkerige tipe is nie, vind hy dit meer vreemd as gewoonlik. Naderhand werk hy hom daaroor op en begin self vieserig minder praat.

Hy onthou nog helder hoe hy teen middagete by die huis afgeklim het met die gevoel van onbehae dat die perfekte dag so skeef geloop het.

Die volgende aand teen skemer lui sy foon. Hy, vertel sy vriend se pa hom, lê kritiek siek in die hospitaal in Kaapstad. Die dokters is besig om te besluit wat hulle kan doen om sy lewe te red en beplan vir vroeg die volgende oggend ‘n nood-operasie.

Kan nie wees nie, sê hy, dink hy al die dinge wat so ‘n skok-vertelling by mense maar oproep: Iemand wat rugby speel, krieket speel, tennis speel, fiets ry, draf, swem en golf speel, iemand wat 22 jaar oud is, word nie kritiek siek nie. Gister dan nog was hulle sorgeloos saam.

Toe hy ‘n driekwartier later in die hospitaal instap, is dit om en by ‘n uur of nege. Besoektyd is verby. Die hospitaalgange is stil, selfs verlate. Van die ligte is al afgeskakel. Die gewoel van die dag is verby. Die nodigste nagpersoneel is aan diens. Hier loop iemand op sagte rubbersole om ‘n draai. Daar sit ‘n suster en skribbel iets karigs op ‘n vorm. Iewers, ver af in die gang, roep iemand. Gedempte, maar rustige klanke, sou ‘n mens dit kon beskryf.

My gespreksmaat sit ‘n bietjie terug in sy stoel terwyl hy meer van die aand wil onthou om vir my te vertel. Hy trek ingedagte met sy vinger ‘n streep deur die koel damp wat aan die buitekant van die glas gekondenseer het.

Hy was bly toe hy sy vriend se kamer ingaan en sien dat hy nog wakker was, sit my gespreksgenoot sy verhaal voort. Soos altyd, so gesond, het hy gelyk. Nie soos iemand wat kritiek siek was nie.

‘n Gevoel van verligting het in hom opgekom – ‘n gevoel van dankbaarheid dat dinge dus nie tog so sleg is as wat hulle hom vertel het nie. En dat hy nou, soos altyd, lekker sal kan terugsit en met sy ou vriend hul praatjies kan maak.

Hulle het toe al ‘n hele paar jaar saam sakke sout opgeëet. Saam, sê hy, het hulle skool gegaan, universiteit toe gegaan, saam gestudeer, eksamens geskryf, tennis gespeel, golf gespeel, na meisies gevry, verloof geraak, graad gevang, motors gekoop, begin werk en saam-saam in dieselfde tyd uiteindelik met hul vrouens getrou. Maar – dit was die hart van hulle vriendskap – hulle het hierdie jare deurgesels, deurgedink, deurgepraat. Alles uitgepluis, vir mekaar verduidelik, geargumenteer, saam gespot, gelag en die lewe mooi onder die knie gehad. Fyn, geweegde, berekende, logiese en netjies taal. ‘n Mens tel nie maklik sulke vriende op nie, voeg hy onnodig by.

Hy het dus langs die bed gaan staan en nonchalent, na die oneindige gevoel van verligting, gegroet.

Maar, sê hy, dit was toe sy vriend sy mond oopmaak dat hy besef het hier is ‘n groot gemors aan die gang. Sy vriend het begin praat, woorde met verminkte klanke, gebroke, uitgewurgde sinne waarvan hy nie kop of stert kon uitmaak nie.

Daardie eerste paar klanke het boekevol gedagtes deur sy kop laat flits. Dit het hom soos ‘n vuis in die gesig getref: sy vriend, ‘n broer van jare, die een met die baie praat en die diep praat, die een wat gister nog golf gespeel het, die een wat deur dik en dun lewenservarings met hom gedeel het, is doodsiek.

En hoe meer sy vriend desperaat met hom met verwronge stem probeer praat het, hoe duideliker het die besef geword en hoe dieper het die vrees in hom ingesak. Sy vriend was kritiek siek en is sterwend.

‘n Yskoue hand, kouer as die glas waarop sy vinger nou ingedagte strepe trek, het sy hart vasgegryp.

Hy vertel my aan hoe baie dinge hy op daardie oomblik gedink het. Aan sy vriend se vrou. Sy ouers. Aan hul vriendskap. Maar daar was meer: Hy vertel my hoedat hy ook die vrees en onsekerheid in sy vriend se oë raakgelees het. Hy praat oor die desperate pogings wat sy vriend aangewend het om te bly praat, so asof hy beheer oor alles wou herwin. Maar hoe meer sy vriend gepraat het, sê hy, hoe kouer het dit in hom geword. Want hy kon met amper elke woord steeds minder uitmaak wat hy sê en steeds dieper het die helder, kil wete van wat eintlik hier aan die gebeur is, tot hom deurgedring.

Toe het hy iets gedoen wat hulle nog nie saamgedoen het nie.

In daardie stil, soel someraand, in die bleek halfskemer van die onderbeligte kamer, het hy sy vriend se hand geneeem waar dit langs hom op die wit laken op die hoë hospitaalbed gelê het.

En vir hom gebid.  

Vreemd, sê my gespreksmaat vir my. Eintlik is dit so ‘n eenvoudige ding – dat hy sy vriend se hand geneem het en dat hy en sy vriend saamgebid het.

Dit is tog wat ‘n mens van twee gelowige mense sou verwag.

En tog, kon hy nooit daaroor praat nie...

Só, asof dit oomblikke was wat hy in sy binneste opgesluit moes hou. En ook dit was vreemd – want sulke oomblike is tye van vrede, van berusting, van by-God wees wat ‘n mens tog rustig met ander kan deel.

Vandag, sê hy, probeer hy verstaan waarom hy nooit oor daardie oomblike, oor die gebed, met ander mense kon praat nie. Miskien was dit omdat die patriargale kultuur met sy georganiseerdheid, sy beheersdheid en sy nugterheid maar altyd die wenkbroue vir emosies optrek. En in daardie gebed van hom langs die hospitaalbed van sy sterwende vriend is sy hart aan flarde geruk.

Miskien was dit omdat hy nog nooit ‘n groot voorstander van ‘n oordrewe vroomheid was nie. Hy, sê hy, kon altyd verstaan waarom Jesus gesê het mens moet in jou binnekamer loop bid en nie uitstallerig met jou gebede wees nie. En om ook dan oor spesiale gebede, uit jou hart geskeur, uit te praat kan al te veel vertonerig word.

Miskien wat dit omdat daardie oomblikke sy tydelikheid vir hom onthul het. En hoe praat ‘ n mens oor hierdie intieme ervaring van jou sterflikheid – oor die angs wat wild in jou losbreek?

Of, sê hy, dit kan ook wees omdat ‘n mens nooit die waarde van vriendskap peil voordat jy dit verloor het nie. En gevoelens van egte vriendskap is naby aan jou. Dit is soms so naby aan jou dat jy dit nie eers met jou vriend self deel nie. Dit is asof ‘n mens ‘n vriendskap ontluister deur daaroor te praat, eerder as om dit te ervaar.

Miskien, voeg hy by, was dit alles nie so diepsinnig nie. Dalk het hy maar net op die ou end sy vriend se hand geneem en gebid omdat woorde hom in sy skok en desperaatheid ontbreek het en daar eintlik niks anders was om te doen nie. En hoe praat ‘n mens oor só iets?

Miskien sou ‘n mens dit tog selfs nog dieper, miskien meer gelowig kon bedink. Die oomblikke van angs was die oomblikke dat hy God in die oë gekyk het in ‘n coram Dei moment. Alles wat altyd geestelik in sy lewe en in hul vriendskap bepraat en bedink is, is skielik daadwerklik aan ‘n kritieke toets onderwerp. Hy het geweet – en, voeg hy met ‘n glimlag by – hy het dikwels gesing God is ‘n toevlug in die nood. En, toe in ‘n eksistensiële oomblik van angs het hy, fel gestroop van alle woorde en gepraat, met daardie angs na God gevlug. En, besef hy, vertel hy, hy kan nou ook verstaan waarom mistici nie maklik praat oor hul intieme oomblike van by-God wees nie. Dit is genoeg dat hy kon bid en dat hy toe by God kon wees. God weet, en dit is genoeg.
 
Ek kyk vewonderd na my gespreksgenoot wat met my sit en gesels oor ‘n oomblik wat vir hom so uniek was.  Ek kyk met nuwe oë na hom. Meer nog, ek verloor my in die manier waarop God ‘n lewensreis met ons loop. In sy praat sien ek iets nuuts raak van God se wandel met ons. Dit raak my.

En ek besef hoe universeel hierdie vertelling is. Die kosbaarste oomblikke is soms die oomblikke wat ons in ons binneste toesluit, waarvan niemand anders weet nie. Dit is oomblikke wat ‘n mens in die teenwoordigheid van God gebring het.  

En tog, op ‘n dag is ‘n mens soms ryp om oor hierdie kosbare dinge te praat. En in die praat daaroor is, vreemd genoeg, God weer aan die werk.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive