Wednesday, November 10, 2010

Die hemel drup dou….



Ek lees vandag Deuteronomium 33, wat as opskrif het: “Die ewige God is ‘n skuilplek” (soos dit in vers 27 voorkom). In die Ou Vertaling lui die frase: “Die ewige God is ‘n woning.” “Skuilplek” het dus die konnotasie van “huis” / ”tuiste” / ”woning”.

Deuteronomium 33  is ‘n boeiende hoofstuk, veral weens die twee maniere waarop dit oor God praat. Aan die een kant word God as “ewige” uitgebeeld. Die woord suggereer ‘n beeld van God wat verhewe is. Ander uitdrukkings in die hoofstuk ondersteun die verhewe beeld: God “kom van waar tienduisende hemelwesens woon”, lui vers 2. God is ook magtig want God verdryf die vyand (vers 27) en, in die woorde van vers 29, is God die Een wat Israel verlos, beskerm, help en mag aan die volk gee. Duidelik is God die “almagtige”, om ‘n bekende woord te gebruik. God is die andere, die hoë, die een wat inisiatief neem, wat alles wil begin en wat alles kan doen.

Maar God, wat so indrukwekkend is, is aan die ander kant ook die Een wat omgee, wat uitreik, wat help en wat bemagtig. Daar is ‘n noue band tussen God en wêreld, tussen God en die mense vir wie God omgee.

Hierdie band het ‘n intense uitwerking en keer mense se lewens om: Verskeie uitsprake van Moses oor die vadere word van vers 3 af gemaak oor hoe God in hul lewens werksaam was. Elke afdeling is pragtig op sy eie. Elkeen vertel van die transformerende werking van God in die lewe van die aartsvaders. Waar God inkom en binnetreë, word alles asof met ‘n staf omgetower tot ‘n plek van goedheid en word mense gemaak to geborge wesens. So hou dit aan: Moses bid dat God Juda sterk sal maak en ‘n hulp sal wees (vers 7). Oor Benjamin word geskryf: “Wie deur die Here bemin word, is veilig by hom, skuil altyd by hom en leef onder sy beskerming” (vers12). 

Die opskrif – die ewige God is ‘n woning – kom voor in die laaste afdeling. Vanaf vers 26 volg die slot van die hoofstuk waarin die hoë en die intieme kante van God saamgebind word. Die Godsbeeld is, as klimaks, indrukwekkend mooi: “Jesurun, daar is niemand soos God nie, Hy ry deur die hemel om jou te kom help, in sy majesteit ry Hy op die wolke. Die ewige God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou. Hy verdryf die vyand voor jou uit, Hy beveel: “Roei uit!” Daarom woon Israel rustig, woon die naaste van Jakob in ‘n land van koring en wyn en drup die hemel dou. Dit gaan goed met jou Israel! Wie is soos jy? Jy is ‘n volk wat deur die Here verlos is! Hy beskerm en help jou. Hy gee mag aan jou, jou vyande kruip voor jou, en jy sal oor hulle offerplekke stap.”

God is ewig, sterk, magtig. Maar dit is juis hierdie God, die sterke inisiatief-nemer, wat na die mens haas en vir die mens ‘n tuiste word. God, die magtige, gee mag. Soos God word die mens, sterk om soos God te wees, om te gee, te bemagtig.

Om te dink: die mens woon in die ewigheid....

Spurgeon het oor die gedeelte iets geskryf waarin hy duidelik, in lectio divina-styl, fokus op die frase: “Die ewige God is ‘n woning.” Hy skryf nie oor die res van die gedeelte wat ek hierbo kortliks bespreek nie en waarin die woning-motief omraam word nie.Tog skryf hy só oor die frase dat ‘n mens voel of sy fokus op die huis-gedagte goed inpas in die gedeelte/ Kyk net hoe beeld die slotverse Israel uit: Israel “woon” rustig in ‘n land van koring en wyn. Tersefdertyd “geniet” Israel God se verlossing, beskerming en hulp. Die beelde wat hier gebruik word is kosbaar, huislik, familie-taal: hulle skep die indruk van mense wat woon in die ideale tuiste. Hul tuiste is ‘n land van koring en wyn (koring en “mos”, vertaal die Ou Vertaling dit versigtig). En waar ‘n mens alles het wat jy nodig het, waar jy te ete en te drinke het, word die uitkoms met ‘n verruklike beeld uitgespel – dan ervaar ‘n mens: die hemel drup dou! In die droeë land van Israel kan ‘n mens geen groter gawe bedink nie – sagte dou wat verkwik daar waar ‘n mens in rus by God is.

Die volk is tuis, het alles, word goed versorg en kyk dankbaar op na die hemel, doudruppend, as bron van waar alle geluk kom.

Terug na Spurgeon wat hierdie metafoor van tuiste verder ontwikkel: Daar is ‘n volheid in hierdie metafoor van huis of skuilplek, skryf hy. Ons het niks so kosbaar soos die plek wat ons ons huis noem nie. Dit is die plek waar ons veilig voel, waar ons gaan rus na die taai dag by die werk. Hier hoef ‘n mens nie jou woorde te tel nie. “Tuis” noem ‘n mens die plek waar jy gelukkig is. Maar die by tye is die huis ook ‘n werkplek. Deel van huis opsit is om ook energie in te sit.  

Herkouend rumineer Spurgeon oor die motief van die “woning.” Duidelik is hy besig om na te dink oor hoe ‘n mens dan nou van die huis-motief na die huis as metafoor vir God kan beweeg.

God, vervolg hy, is ons tuiste in dieselfde sin van die woord: In God vrees ‘n mens nie die kwaad nie – om by God te wees is om veilig te voel, soos in jou tuiste. In God ontdek ‘n mens rus. Dit is by God dat ‘n mens die lewenskwellinge kan afskud, soos by jou geliefdes. Uitgemergel deur die hardheid van die lewenspad, skryf Spurgeon, wend mense hulle tot God en gaan woon by God in vrede. Met God kan mens praat sonder om woorde te weeg, te vrees dat God mens kwalik sal neem of woedend sal word nie – soos in hul tuiste. ‘n Mens kan met God eerlike, openlik praat, al die diepste vrae blootlê, die innigste begeertes uitspreek want by God is ‘n mens in ‘n geborge ruimte.

Tuis, by die ewige God, vind mens ‘n skuilplek, ‘n tuiste. Die hemel drup dou.

Hoe kan ‘n mens deur taal hierdie ervaring van geborgenheid in die Diepere, die Verborgene genoeg konnoteer? Die Deuteronomium skrywer probeer iets van hierdie Verborgenheid vasvat deur sy metafoor van die woning. En hieraan moet ons verder herkou deur God te bedink as die Een wat vir ons die diepste geborgenheid bied. By God vind die mensehart geluk want diep vanuit ‘n mens se innerlike kom ‘n wete op dat ‘n mens nêrens anders tot rus kom as waar ‘n mens verby al die tydelike, oppervlakkige kan raaksien wat werklik saak maak en kan wees by die Een wat alles is en bied. Die dou, die milde dou wat op die donshaartjies van die grasstingel mals lê, die sinvolle van die lewe, die mooie, weet die gelowige hart, kom dan van die Hemel, van Bo...

Soveel skoonheid van eenvoud – dit moet gedurig bedink word. God, die Ewige, is ons tuiste.

Ons taal oor God moet dus skoonheidstaal word. Die manier waarop ons oor God praat, bepaal hoe ons God ervaar.

By God kom ‘n mens tuis, na al die gewoel, die stress, die rondhardloop, die sorge, die berekendheid. ‘n Mens trek die deur op al daardie woelighede agter jou toe en tree in – in in die warmte van die haard, van die plek waar ‘n mens kan skoene uitskop, agteroor kan sit, argeloos kan gesels, liefde kan toe-eien.

Só moet ons oor God praat – en dink. Só moet ons God ervaar.

In God het die mens behae, ervaar ‘n mens verrukking, God maak ‘n mens opgetoë en bly. Maar God bemagtig ook deurdat die goddelike liefde ‘n mens sterk maak. Die tuiste roep energie in ons wakker. Om oor God te dink is om oor Jesus te dink, skryf Spurgeon. En om in Jesus die gesig van lyding te sien spoor ‘n mens aan om vir God se saak te stry en om God se tuiste ‘n plek te maak waar almal wil woon. Daarom gaan daar ‘n uitnodiging van ons uit na hulle wat God nie ken nie, of nie só ken nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive