So tussen alles wat daagliks oor my pad kom, lees ek so af en toe in Anton Wessels se uitstekende boek oor Vincent van Gogh as evangelis (titel: “A Kind of Bible”).
Onder die opskrif, “Vincent se preke”, haal Wessels aan uit ‘n brief van Vincent aan sy ma. Die brief dateer uit die tyd toe hy nog in die bediening was en gereeld gepreek het. Daarin skryf hy oor ‘n preek wat hy gehou het oor die teks, “Hy het my gestuur om die evangelie aan die armes te verkondig” (Lk.4).
Dit val my op dat hy hierdie vers uitgekies het. Reeds baie vroeg in sy lewe het hy dus rondgeloop met gedagtes oor die evangelie wat so kragtig met die armes verbind is. Kunstenaar wat hy was, besef ek, kon hy dit nie miskyk nie – dit is té uniek, té ongewoon, té vreemd. Immers, vertel die vers, God stap verby die troonsale, die paleise, die rykmanstuine, die groot tempels om te gaan klop aan die deur van die arm manshuisies.
Dan skryf Van Gogh verder in sy brief: “Maar enige een wat die evangelie wil preek, moet dit eers in sy eie hart omdra.”
Afsak, afsak vanuit die wete, die brein, die intellek, na die innerlike. Daar waar die gedagtes hulle tuismaak en deel van jou bestaan word.
En as hy die sinnetjie aan sy predikantsvrou ma geskryf het, voeg hy onmiddellik ‘n volgende een, vol verlange by, waarin hy die gedagte verder uitbrei:
“O, dat ek dit mag vind, want dit is net die woord wat in eenvoud gespreek word en wat uit ‘n vol hart kom, wat vrug dra.”
Daarmee het Van Gogh ten minste drie kern-aspekte van spiritualiteit aangeraak: self-implikasie, wat te doen het met die noodsaaklikheid om deel te wees van alles wat jy sê. ‘n Mens se hart moet in jou woorde wees. Hierdie aspek raak die spirituele houding van opregtheid aan. En dit bevraagteken die oersonde van skynheiligheid.
Tweedens is ek geboei deur sy verwysing na eenvoud. Hy koppel dit waarskynlik aan die teks dat die evangelie aan die armes verkondig word. So eenvoudig is God se woord. Sonder vertoon en afwyserigheid, wat die teendeel van eenvoud is.
Derdens praat hy oor “oorvloed.” ‘n Hart wat oorvloei is nodig om die evangelie te verkondig. ‘n Hart wat aan bloedarmoede ly, kan nie ‘n blye woord uitdra nie.
Terwyl ek hieroor nadink, besef ek dat al drie hierdie fasette van spiritualiteit deel is van Van Gogh se skilderye. Dit is duidelik dat hy met sy hele hart in sy skildery betrokke is. Hy het hom nie gesteur aan die konvensies van die skilderkuns van sy tyd nie. Hy het nie die indrukwekkende, dramatiese Bybeltonele van Rembrandt, Velasques en Caravaggio nie. Hy het met hierdie lang tradisie gebreek. Hy wóú anders skilder as al die ander “grotes” voor sy tyd. Dit was ‘n groot waagstuk om so weg te breek van wat gevestig is en wat ‘n magsgreep op die kunswêreld uitgeoefen het. ‘n Kunstenaar wat te maklik die groot ouens se tradisies systap, vat ‘n kans. Hy durf die ongewone aan en stap eenvoudig verby dit wat mense as kanon voorhou. Maar Vincent het dit gedoen, want dit is wat sy hart hom voorgesê het.
Hy het voorts eenvoudig geskilder. Hoe gefokusd is sy skilderye nie: die een of twee karakters wat hy uitbeeld. Maar nie net formeel nie, ook inhoudelik teken hy eenvoudiges: die boere, die boerinne, die armes en die eenvoudiges – die uitskotte van die maatskappy.
En wie ook al die oorweldigende kleure van Van Gogh se skilderye bekyk, weet dat slegs ‘n oorvloedige hart soveel energie, rykdom en inhoud deur ‘n botteltjie verf en ‘n verfkwas op ‘n leë doek kan oordra.
Dit word vertel dat Van Gogh op ‘n stadium al sy klere vir mynwerkers uitgedeel het. Hy was toe besig om geestelike werk te doen. Maar die kerk het hom afgewys en sy bediening het teen 1876 se kant tot ‘n einde gekom. Dit is toe dat hy sy skilderye van die arbeiders en die ongerekendes begin maak het. Maar hierdie ontnugterende ervaring van die jong man met die kerk het hom nie ondergekry nie. Die skilderwerk wat hy toe begin doen het, skryf Van Gogh, het ‘n energie in hom losgelaat. Hy skryf hoe sy skilderwerk vir hom in die diepe ellende wat hy in die armes se lewens raakgesien het, ‘n transformasie laat beleef het. Hy skryf hieroor: Selfs in daardie diepe ellende het ek gevoel hoe my energie terugkom. En ek het vir myself gesê ek sal weer opstaan, ten spyte van alles wat met my gebeur het. Ek sal my potlood opneem wat ek na my teleurstelling gelos het en ek sal met my skilderwerk aangaan. En toe – van daardie oomblik af – het alles vir my totaal getransformeerd gelyk.”
En aldus ontdek ‘n mens ook in Van Gogh se lewe dinamiese spirituele inhoude.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.