Monday, November 01, 2010

Die vervulling van ons bestaan lê in ons ontmoeting met God. Ruusbroec en adventstyd.








Jan van Ruusbroec, uitnemende mistikus uit Vlaandere (14e eeu) het heel eenvoudig geskryf: “Die vervulling van ons bestaan lê in ons ontmoeting met God.”

Dit lyk so eenvoudig. Maar dit is natuurlik ook vreemd. Want ons sal graag baie ander dinge wil byvoeg by wat ons bestaan volledig en sinvol maak.

Maar Ruusbroec stuur by al daardie dinge verby. Alles gaan uiteindelik om God te ontmoet.

Nou voer Ruusbroec die gesprek verder: Hoe ontmoet ‘n mens God, dan?

Ons moet nie te gou dink dat Ruusbroec in sy tyd makliker hieroor kon dink nie. Deur al die eeue heen is hierdie vraag ‘n moeilike een: hoe bereik ‘n mens God?

Ruusbroec het geen twyfel nie: God word nie bereik nie. God reik eerder uit na hulle wat op God wag. Niemand kan deur versigtige studie van God se woord by God uitkom nie. Allerhande insigte bring niemand in die teenwoordigheid van God nie.

God word bereik die oomblik wanneer God met mense “praat”. Die ontmoeting met God is wanneer God mense deur die woord “aanraak.”

As mense egter nou die woord “God” hoor, dink hulle onmiddellik aan die hemel. God troon bo die aarde en die skepping uit. Hoog verhewe, en dus onbereikbaar, voel hulle, is God. En van uit daardie verre oord kom die “woord” tot ons en moet ons dit probeer verstaan.

Só was dit in Ruusbroec se tyd en só is dit in ons tyd nog: mense tóé en mense nóú verstaan God ook as ver verhewe bo die mens. En in ‘n sekere sin styg God inderdaad ver verby ons gedagtes uit.

Maar, nou in adventstyd, word ons herinner aan ‘n ander beeld van God: God het, word in die kerstyd gesê, nader aan ons gekom as wat ons ooit kon dink het. God het, soos met die skepping gepraat. God se Woord bring tot stand. Wanneer God praat, gebeur iets. In die mens. Wanneer God met die mens in gesprek tree, tree God in die mens se innerlike bestaan in en neem daardie ruimte in besit.

Met die herskepping in die kerstyd, word die Woord vlees, mens, bely ons in die adventstyd. Die goddelike Woord word volledig een met die menslike.

En Ruusbroec  gee daarom die antwoord op die vraag hoe ‘n mens God ontmoet, ‘n egte mistieke antwoord: “Soek God nie ver bo jou nie. Maar soek God diep in jou innerlike.”

Aldus lees die Bybel: Die “Woord” het vlees geword en onder ons kom woon.”  God verlig die mens wanneer die Gees van Christus in mense kom inwoon.

In die “kers”tyd is daar nog ‘n dieper dimensie aan God se inwoning onder en in die mens. In die geboorteverhale verbind die Evangelies, in diepe mistieke sin, die koms van die Verlosser met ‘n helder ster. God, vertel die Skrif, gee lig – veral in die koms van die kerskind. Van God kom daardie Lig wat die duisternis in mens en wêreld verdryf. Die Kerskind is, aangrypend, vanaf die eerste tye die vonkelende, helder Môrester wat die einde van die donker nag aankondig. God bring die dag, maar meer nog: God is die dag wat in ons innerlike die duister afweer en weghou.

Daardie goddelike lig brand, geestelik, in harte en in die gemoed van die mensdom.  God gee die Lig sodat mense kan “sien.” En wie “sien” leef in en by die Lig. Die Woord vertel dit keer op keer.

Die Woord wil mense dus laat nadink oor hoe mense God ontmoet: God praat met mense oor die Ewige Lig wat in mense skyn en bly skyn. En die Woord, ook die geskrewe Woord, laat mense besef wat werklik saak maak, wat die menslike bestaan vol maak. Méér nog, die Woord, die Lig, is in die mens en die mens is in die Woord en die Lig. Die eenheid is volmaak. Niemand kan dit ongedaan maak, hierdie eenheid uitmekaar ruk nie.

Wat help dit, as mense die Woord hoor, en hoor, en die Woord word nie deel van mense nie, kom woon nie in mense nie, is by die een oor in en die ander oor uit. “Ek is die Lig...” vertel die Môrester. En daardie Lig wil in die mens skyn, ewiglik.

Ruusbroec skryf: “Altyd sal ons verenigd met God bly. En altyd sal ons met God en alle heiliges ewig uitvloei in alomvattende liefde. En altyd weer sal ons in dankbaarheid en lofprysing inkeer. Altyd weer sal ons in liefde van onsself wegsink in egte rus. Dit is die rykste lewe wat ‘n mens kan ken.”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive