Sunday, October 31, 2010

Jesus se woede.


Nie almal het geduld met kinders nie. Daar is sommige mense wat selfs hulpeloos en gefrustreerd word as hulle met kinders in aanraking kom.

Markus vertel die verhaal van die mense wat hul kinders na Jesus gebring het. En toe raas die dissipels met hulle. Hulle het nie net die mense gestop nie, maar hulle boonop “bestraf” of met hulle “geraas.” Dubbele afwysing. Dit is ‘n laagtepunt in die dissipels se geestelike reis: hulle, gedeformeerd, wys af, sluit uit, hou terug, stuur weg.

Maar kyk nou hoe leer ‘n mens Jesus ken. Want dit is Jesus se reaksie hierop wat ek vanaand raaklees en bedink. In Markus 10:14 staan daar dat Jesus hulle “kwalik” geneem het omdat hulle die kinders van hom wou weghou. Die Nuwe Vertaling skryf dat Jesus verontwaardig was.

Die Engelse vertalings van die Griekse woord wissel nogal: Jesus was verontwaardig (NIV; ESV;  NASB; ASV; ERV; WNT; WEB); hy was woedend of kwaad (NLT;  ISV), geïrriteerd (GWT; ); ontevrede (NKJV; DRB; WBT; YLT).

Jesus was dus behoorlik opgewerk – soos maar te deeglik uit die res van die gedeelte blyk. Hy, omring deur skares mense, sien die kleinstes raak. Niks ontgaan sy blik nie. Hy is die Een wat omgee, veral vir die kleinstes van kleines.

Maar Jesus is verder ook die leermeester. Dit sien ons wanneer Markus die verhaal verbind met ‘n dieper geestelike betekenis. Dit is duidelik wat vir Jesus op die spel was. Hy, anders as die dissipels, verstaan. Die koninkryk van God, leer Hy hulle nou, behoort aan mense soos kindertjies (vers 14). Dit is dus nie dat Jesus meer geduldig was as sy dissipels nie. Asof hy kindertjies beter kon hanteer as sy dissipels nie. En Jesus is ook nie ontsteld omdat hulle nie met die kindertjies kan werk nie. Hier is ‘n diep geestelike saak ter sprake. Hy begryp wat God se wil is.

Die kwaai reaksie van Jesus is verstaanbaar as ‘n mens onthou Hy is verontwaardig omdat sy eie dissipels mense van Hom weghou. Deur mense van Jesus weg te hou, hou sy dissipels mense uit die koninkryk. Hoe durf julle mense goddelike seën ontsê. Kwaad is Jesus: weet julle wat op die spel is? Kan julle dan nie sien dat dit hier om die koninkryk self gaan nie? Geïrriteerd is Hy ook: hoe kan julle wil God speel en besluit wie is goed genoeg om geseën te word? Kyk, sê Jesus, verontwaardig – wat waag julle om te doen! Julle sluit dan juis mense uit wat God wil insluit? En by implikasie sê Jesus: Wie is die disspels dan om te oordeel? Hoe kan hulle namens God besluit?

Daar was soveel op die spel dat Jesus intense emosies ervaar het.

Hoe vreemd is hierdie reaksie van Jesus as ‘n mens nou verder bedink oor wie Hy hom so ontstel. Waarom was die kindertjies dan so spesiaal? Hulle was nie aansienlik of invloedryk nie. Die kindertjies het nie eers uit hul eie na Hom gekom nie. Hul ouers het hulle gebring. Tog kon Jesus begryp waarom dit gaan: Die ouers bring hulle kindertjies “sodat Jesus hulle kon aanraak.” Die ouers begeer God se seën vir hul kinders. Die oratiewe moment, die verlange, is soveel sterker omdat dit nie net om die ouers gaan nie, maar omdat daar in die ouers se verlange ‘n onselfsugtige begeerte is om die geestelike welsyn van hul kinders. Jesus is so belangrik vir hierdie ouers dat hulle verlang dat ook hulle kindertjies deur Hom aangeraak sal word.

Jesus illustreer dus eintlik vir ons hoedat God ons verlange na seën herken en erken, ook en veral namens mense om en naby ons. Wie verlang na God, ook vir ander, ondervind hoe God inderdaad uitreik na hulle.

Hierdie ouers, vertel die verhaal, begryp dus wat die dissipels nie verstaan nie: hulle weet dat egte geluk te vind is in die nabyheid by God. Hulle soek ook vir hul kinders die verborgene, die diepere, die geestelike.

Die kontemplatiewe moment in die verhaal is nou wanneer Jesus juis aan die kindertjies, onbevoeg in die oë van die godsmanne aan sy sy, God se seën skenk. Nadat Jesus sy dissipels kwaai teregwys en die kindertjies terugroep waar hulle bedremmeld wegstap, raak Hy hulle nie net aan nie. Hy slaan die arms om hulle. Hy lê die hande op hulle. Hy seën hulle. Driedubbeld wend Jesus hom na hulle wat met groot geraas weggestuur en verwerp is.

Hierdie is, tog, uiteindelik,dan, nie ‘n verhaal oor die kindertjies of die dissipels of selfs Jesus nie. Wanneer Jesus sy dissipels “kwalik neem” herhaal hy die oomblikke toe hy Petrus in Markus 8:29 bestraf het. Nadat Jesus kwaai vir Petrus as Satan aangespreek het, het hy hierdie onvergeetlike woord gesê: “Jy bedink nie die dinge van God nie, maar dié van mense.” En dit terwyl Petrus so mooi vroom probeer het om Jesus teen sy dood te beskerm!

Dit is ‘n leerskool wat ‘n mens uitdaag – om die dinge van God te bedink. Ook die dinge van God wat die geringstes onder ons raak. Ons het klaar so min geduld met die geringes. Nog minder word ons geduld wanneer ons God teen die geringes beskerm....


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive