Friday, October 29, 2010

Eenvoud.

Die laaste tyd begin ek meer bewustelik uitkyk na wat spiritualiteit konkreet beteken, veral in terme van inhoude, kernwoorde en sekere sentrale motiewe. 

'n Mens kan oor spiritualiteit praat in terme van verhoudinge, transformasie en 'n uitgestrekte geestelike reis. Maar dan moet 'n mens die pad verder loop: want wat gebeur met 'n mens tydens die reis. Hoe lyk God wat na mense uitreik en hoe lyk 'n getransformeerde mens? Wat is die geestelike houding en die geestelike kenmerke in spiritualiteit? 

Dit gaan dus om die materiele kant van spiritualiteit. 

My lysie vul ek aan, maar terwyl ek vandag 'n essay van Welzen lees, kom ek af op die houding van eenvoud. 

Ek lees 'n bietjie na: Dit verras my hoe 'n belangrike plek dit in die lewe van Jesus inneem.

Wie dink nou ooit aan eenvoud? Veral in ons gekompliseerde bestaan?

In Matteus 11:25-30 sê Jesus:

“Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit U welbehae.”

Die nuwe vertaling van hierdie gedeelte lui:

Ek prys U, Vader van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slime en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.”

Hierna nooi Jesus mense uit om sy juk op hulle te neem en van Hom te leer, want Hy is sagmoedig en nederig van hart. By Jesus sal mense rus kry vir hulle gemoed. Jy juk is sag en sy las is lig.

Hier hou ek van die Nuwe Vertaling want dit help om helderder te verstaan waarom dit gaan. Tog is die Ou Vertaling ook nuttig. Deur hulle met mekaar te vergelyk kry ons die volgende teenstelling: Kindertjies en eenvoudige mens ervaar wat slim en geleerde mense nie kan ervaar nie.

God se verborge dinge word aan mense geskenk wat ‘n houding van eenvoud het. Dink net aan die kontras en die totale omkering van verhoudinge wat hier afspeel: Die Here van die hemel en die aarde, die Een wat Skepper en Heerser is, die Een bo alle mag, die Alwyse Een, is juis nie verhewe bo die eenvoudiges nie. Die Een wat ver bo die skepping staan, reik uit na skepsele wat in eenvoud voor God lewe.

God word nie deur allerhande insigte, kennis-sisteme en wyshede geïmponeer nie. Juis nie. Natuurlik is al ons kennis belangrik. En kennis en wysheid kan in 'n Christelike konteks deurslaggewend en positief werk. Teologie kan ook nie sonder kennis wees nie. 

Dit is nie kennis wat die probleem is nie. Dit is watter funksie en rol kennis het.

Vooor God tel eenvoud, lees 'n mens in hierdie teks.

Dit klink vreemd, maar dit word verhelder wanneer ons die twee vertalings met mekaar vergelyk en sien dat die “eenvoudiges” ook as “kindertjies” verstaan kan word. Om ‘n houding van eenvoud te hê is om die houding van ‘n kindjie in te neem. Welzen verduidelik die Griekse woord nepioi as volg: Dit is jong swak kinders wat nie kan praat nie. Maar hulle het die vermoë om te leer. 

Die wyses en slimmes en geleerdes, daarenteen, is daardie mense wat volleerd is. Hulle het in hierdie vergelyking van Jesus nie meer ‘n openheid vir God nie. Hulle houding is afgeslote. Niks of niemand, selfs nie God kan hulle iets leer nie. In hulle lewensruimte is daar nie plek vir die ervaring van God nie.

Ek besef terwyl ek die gedeelte lees, hoe donker ‘n mens se bestaan kan wees. In ons verligte tyd, waar die mens die mees komplekse dinge kan ontrafel, is daar min ruimte vir eenvoud. Ons verwar eenvoud met eenvoudigheid. Ons dink dit is die minder ontwikkeldes wat voor God staan en verlang om deur God aangeraak te word. Dit is so bietjie laag vir mense wat darem nou al van beter weet en godsdiens na hul sin kan verklaar en buig.

Die uitgeputtes en oorlaaides word deur Jesus uitgenooi om eenvoudiges te word. Hulle moet omvorm word van slim mense in beheer van die lewe tot afwagtende en verlangende soekers. Hulle kennis mag nie in die pad staan van wat God vir hulle te kenne wil gee nie.

Wat, dan is hierdie kennis, hierdie verborgene wat "openbaar" gemaak word deur Jesus? 

Wanneer hulle die Een wat nederig van hart is, volg, sy juk en las opneem, sê Jesus, sal hulle onmiddellik weet: hoe lig is die las tog, hoe liggies en hoe sag is die juk dan, so sag. Die mistieke antifrase is weer hier sigbaar: in die opneem van die juk, kom die rus. In die uitstrek na God, verby alle verworwe slimmighede, kom eenvoudig net vrede. Sag is die juk van die sagmoedige God (vers 29).  

Aan hulle word die liefdevolle omgee van God onthul. 

Dit is boeiend om die kontrasterende beeld van God en mens in hierdie gedeelte uit te lig. Dit is onverstaanbaar, bo begrip dat God, so alwys, nie soortgelyke geselskap onder die genieë van ons wêreld opsoek nie. God kom tot hulle wat eenvoudig oop is en wag op God, wat besef dat die ware wysheid te vind is in die vrees vir die Here.

Eenvoud neem ‘n mens die paradys in.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive