Ds Luckhoff gee aan sy aangrypende dagboek die titel “Woman’s Endurance.” ‘n Mens is verbaas hieroor. Dit was tog ‘n tyd van oorlog, van die groot politieke stryd om vryheid, om onafhanklikheid. En hoe nou – hierdie vroue volharding?
In die inleiding wat hy later tot die dagboek voeg (September 1903), vra hy die vraag watter goed deur die dagboek gedien sal word. Hy is die denker – die een wat besef dat sy vertellinge op baie maniere ook destruktief sou kon werk – woede kan opwek, bitterheid kan aanwakker, haat kon dryf. En tog, hy soek nie die afbrekende nie. Hy wil juis die verborge dinge na vore haal. Die “enigste” antwoord wat hy kan kry op sy vraag waarom hy dan sy ervaring sou wou deel, skryf hy, is dat sy werk die vrou se deursettingsvermoë vereer: “womans’ endurance”.
Agter al die ellende, selfs agter al die politieke dinge wat konsentrasie-kamp dryf en die vryheidsoorlog kenmerk, onthul sy dagboek vir hom ‘n heel merkwaardige “goeie” ding. ‘n Mens ontdek die “menslike” te midde van die lyding, die chaos en die dood. Laat ons dit raaksien, “see beyond into the human”. En die goeie is die deursettingsvermoë en die volharding van die vrou.
Om te sien “beyond”, verby, agter die lyding, in die menslikheid in. Om verby al die dinge in menslikheid vas te kan kyk....
En dit is waar. Die vrou se toewyding, volharding, vasbyt is eintlik oorweldigend: want die 22 000 kinders wat dood is, is aan die dood afgegee veral deur hul ma’s wat hulle moes versorg het met die minste van voorraad, terwyl hul kinders uitgeteer en siek was, terwyl hulle mans op die oorlogsfront was.
Grafies is sy vertellinge wat hierdie volharding van vroue illustreer: Luckhoff vertel op 1 September van ‘n Mevrou de Lint wie se kinders almal siek is. Hy sien verby die kinders se siekte ‘n vrou raak wat diep deur haar kinders se hulpelose lyding geslaan word. Hy is so jammer vir haar, besef hy die aand as hy aan sy besoek terugdink en dit in sy dagboek aanteken. Hy onthou: Daar is diep kringe om haar oë – iets, trouens, wat ‘n mens dikwels sien. Kringe wat getuig van nagte van waak, van waak met ‘n angstige hart. “Mag God genadig wees”, breek hy uit in ‘n oratiewe oomblik as hy so aan die skryf is oor sy besoek aan die ma wat waak in haar tent van siek kinders.
‘n Mens kry ook ‘n heel grafiese voorstelling hiervan in sy inskrywing op 30 Augustus as hy vertel hoedat hy in ‘n tent vol treurende, huilende vroue vir ‘n dogtertjie bid net voordat sy sterf. Die ma, skryf hy, is rasend (frantic). Moeilik, bitter moeilik, voeg hy by, is dit om te weet hoe om haar die beste te troos. En dan volg sy woorde:
‘n Vrou is ‘n wonderlike netwerk van ineengestrengelde drade. Wanneer hierdie drade ontstrengeld raak of ontrafel, is die gevolg baie ontstellend. Waar dit gebeur, is ‘n mens hopelooslik verlore en al wat ‘n mens kan doen is – wegloop. En tog, vir pure, aanhoudende volharding – vir stille worsteling – vir stil, geduldige lyding- wys my na ‘n vrou. Wat sou van die man sonder die vrou word (15).
Watter radeloosheid sit daar nie in sy enkele opmerking: ‘n mens kan net wegloop wanneer alles uitmekaar val in die lewe van ‘n ma wat nie verder kan nie.
Uiteindelik peil hy hierdie volhardende gewaak van die vrou op ‘n eenvoudig manier in nog ‘n aangrypende vertelling. Op Woensdag 4 September het hy 18 begrafnisse wat hy behartig met “En God sal alle trane van hulle oë afvee” as teksvers. (18 begrafnisse! – wat ‘n oorlog – en dit sonder dat ‘n enkele skoot geskiet word – en dit van kinders....). Hy skryf:
“Hoe kan ‘n mens se hart hard bly? Kan ‘n mens ooit onbeweegd bly as jy huilende, rouende ma’s sien kniel in smart langs die kindergrafte?”
Hy weet en hy skryf dit dan neer, dat hierdie rou gedryf word deur die grootste mag van alles: “Liefde is per slot van sake die grootste en die mees verborge van alle dinge.”
Dan gaan hy in op die “verborgenheid”. Hoekom is die liefde dan so vreemd? Verby alle verstand? Hoe kom ‘n mens by ‘n punt dat ‘n mens verstomd staan by ‘n vrou wat huil oor ‘n situasie wat vir jou nie eintlik sin maak nie?
“Verklaar dit dat ‘n ma kan vasklou aan ‘n hulpelose, vertraagde, misvormde seun van 14 jaar en hom van mond tot mond voed! Verklaar dit dat ‘n ma dag en nag kan wakker bly, nag en dag, by haar siek kind! Kyk na daardie versonke oë, versonke in smart, hulle vermoeidheid weens die vesorging, en verduidelik vir my wat is hierdie Liefde wat alles verduur?
“Twee dinge het ek die afgelope veertien dae geleer wat tot nog toe vir my pure verbeelding was – die betekenis van Liefde en van dit wat godsdiens genoem word.”
“Woman’s endurance.” Deur die lyding staan die swakstes sterk, want hulle leef in die Liefde. En watter ironie dat juis in die allerellendigste oorlogsomstandighede ‘n mens die Liefde as die diepste realiteit van die menslike bestaan herken. Ons kan romanties oor die liefde fantaseer. Maar niks is so verborge wanneer die Liefde voor jou kom staan in ondenkbare vorme en vir jou sê – Kyk, hier is ek. Kyk of jy dit kan peil. Maar ek is hier.
“Godsdiens”, die naam wat mense gee om hul verhouding met die Verborgene uit te druk, vind sy diepste betekenis in die Liefde. En dit is ‘n nugtere Liefde, nugter, nugter – soos dit swoeg deur die donker nagte, soos dit deur die dood bedreig word. Die Liefde wat jou laat vashou aan die swakste en ongerekendstes: daardie veertienjarige vertraagde seun. Wat ander nie kan peil nie, is by jou vanselfsprekend, want dit gaan om die Liefde.
Die Liefde dring so diep in die hart van hulle wat aan God behoort, dat dit hulle ongekende krag gee. Maar meer nog: die Liefde maak nie net sterk nie, ystersterk nie. Dit laat ons, te midde van die bose gesig van oorlog, die skoonheid van ons kind, die verminkte kind wat uit ons gebore is, bemin. Die Liefde laat ons skoonheid ontdek, goddelikheid raaksien, waar ander net graf-donkerte bekyk.
Dit is nie verniet dat Luckhoff elke keer die woord Liefde met ‘n hoofletter L skryf nie.
Hy weet. En die ma wat lief het weet. Ons kan so liefhê, omdat ons as God se verminkte, vertraagde kinders soveel Liefde ontvang het.
Ons kan allerhande politieke speletjies speel. Op die tromme van vaderlandsliefde slaan, vryheidsvlae hys en volksliedere sing. Ons kan vir onsself lief hê en dinge opeis. Ons kan so vroom en godsdienstig wees.
Maar die groot toets of God in ons lewens inwoon, is of ons in die Liefde is – die Liefde vir die swakstes onder die swakkes – soos ons in die Liefde deur die Groot Minnaar gevind is.
As ons só is, in die Liefde woon, word ons getransformeer van wreedaards, gulsig vir oorlog, tot menslikheid.
Om verby alles, in menslikheid in te sien....
(Sien ook my blog van 4 April 2009).
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.