Friday, October 08, 2010

Om verlangend op soek te gaan na die Liefde

Wat is dit tog dan met ons? Ons besef ons mis iets in ons soeke na geestelike diepte. Iewers, besef ons op 'n dag in gesprek oor spiritualiteit en mistiek, ontbeer ons in ons geestelike reis hierdie intimiteit. Ons word opnuut, en op 'n vars manier, herinner aan die geborgenheid van die lewe by God. 

Ons voel die magnetiese aantrekkingskrag daarvan. Hier word gepraat oor alles waarna ons hart smag: Vandag vertel Judy Coyly in haar aanbieding by Spirasa se konferensie juis hoe sommige mistici die intimiteit van die mistiek in terme van liefde tussen man en vrou uitdruk. Huwelikstaal, soos in Hooglied, druk die eenheid tussen God en mens uit. Dit is hoe intiem, vervullend en selfs hoe konkreet, transformatief, die mistici hul verhouding en eenwording met God beleef het.

Ons hoor daarvan: iets daarvan roer in en aan ons harte: Hier is dit dan wat ons aanvoel ons ontbeer. En wat ons nie altyd onder woorde kan bring nie. 

Ons het dit nodig. Dit is die diepte verby die vlak dinge, die anker vir die troebel tye, die helder, suiwer, skynende lig in die verduistering wat oor ons toegesak het. Dit is dan, voel ons aan, wat ons nog nie regtig voluit kon beleef nie of wat ons iewers langs die pad kwytgeraak het. 

Ons hoor. En dan loop ons weer ons koers. 

Vir ‘n oomblik roer die Gees aan ons, nooi ons uit, staan agter die gordyn, a la Waaijman, en bekoor ons as die Beminde. Ons is vir die moment betower deur die Bruid met haar skoonheid en met haar liefdesroep na ons. 

Die Gees nooi ons uit vir die Bruilofstyd, om dit te beleef wat ons liefdesliedere sal laat sing. 

Maar so gou, so gou is ons weer op die ou paaie. Loop ons weg, met hierdie wete en al, van wat ons aanspreek.  En die Beminde bly agter. En by haar, die liefde wat ons lewe kan vul. 

En niks word getransformeer nie. Dan is dit weer ou laai en terug na ou, verslete gesprekke, ingestel op alles wat ons aandag aftrek van die reis wat eenvoudigweg moet begin: Jammerklagte oor ons geestelike verval, hou ons terug. Selfs subtiel smous met ons eie hardheid en verlamdheid keer ons om in die pad te val, na die bruilof toe. Of: Vingerwys na hulle wat net so leeg is soos ons, staan en beduie ons vir mekaar, terwyl die pad uitgewys is. Vingerswaaiend oor al die –ismes in die kerk, oor die rusies en die spanning, die agterdog en die beskuldigings, draai ons ons rug op die pad na volheid. Vuis-wys na hulle wat ons pad vol dubbeltjies strooi, kom ons nie tot die punt om alles agter te laat vir die reis na die Een met die oop arms en die liefdeshart nie. 

Ons pak ons koffertjie van geestelike bagasie, reeds so vol niks, verder propvol met al hierdie groot klompe niksseggendhede - al daardie verslete en voos verhale oor ons geestelike verstarring en verlamming. 


Ons kom nie by die reis uit nie. Ons val nie in die pad nie.

Die bekoring van die Beminde was net vir ‘n oomblik daar. Mooi, selfs pragtig, selfs roerend. 

Dis saad wat opkom en dan met die eerste hitte van die oomblik verwelk.

Dit bly een van die merkwaardige gelykenisse van Jesus - die verhaal van die saad wat in al daardie soorte grond beland het en tot niet gegaan het. Om te dink - Jesus praat daarin van hoe gelowige mense se geestelike reis skeefloop - of eintlik nie regtig begin nie. 

Vanmiddag hou Johan by die Spirasa byeenkoms ‘n Adoramus-diens in die stil, intieme kapel aan die einde van ons program. Dit is 'n tyd vir sobere, eenvoudige sang, lang, rustige stilte, ‘n enkele gedagte. Dit is skoonmaak-tyd, die oop-word vir die kontemplatiewe, vir daardie rare aanraking van Bo wat ons hart soekend afwag. Die reis begin.

Gedurigdeur is daar die paraklese: Maranatha. "Kom, Here Jesus."Die brein sukkel om daaraan vas te hou. Wat dan nog van die hart....

Johan se boeiende DVD wat hy voor die Adoramus ("Ons aanbid U") wys, van Freeman, beklemtoon: die Maranatha as hartsgebed moet aan ‘n enkele, eenvoudige woord vashou, as ‘n beeld, ‘n simbool om gereed te wees vir die goddelike omarming wat aan ‘n mens geskenk word. Die woord word met passie geuiter (lectio!), met gefokusheid bedink, want die Een aan wie ons dink en oor wie ons so baie praat, word tot die sentrum van ons bestaan binnegenooi. Die reis gaan nie meer oor Hom nie. Die reis begin in afwagting op Hom.

Op baie maniere, inspannend, toegewyd, moet hierdie koms van die Bruidegom, van die Beminde gedurig afgesmeek word. Die Adoramus word vir my die lakmoes-toets, die beskrywing van hoe die lewe in God moet wees, die plek waar hierdie vertelling waar word, begin gebeur. 

Die hele program van die dag word vir my hier, in die kapel, tot vrug gevorm. Ek verloor my in die rykheid van die ervaring.So maklik, besef ek, sou ek dit kon geskiep het, hierdie adoramus aan die einde van die dag. Dit is die genade: dat ek daar kon wees. Dit word nog 'n baken wat ek geplant sou wou sien op die reis wat ek normaaalweg opsyskuif, wat ek dikwels bedink en nie begin nie, of wat ek so skoorvoetend bewandel. 

Die diens word nog 'n liefdesmoment, 'n ervaring wat my uitnooi om die Beminde verder af te wag. 

Ek besef: die dag se lang program is maar die klein begin: Nou is dit, na al die gepraat, tyd vir waaksaamheid, tog - om voet in die pad te slaan. Dit is nou die oomblik om die program vir die dag hart toe te laat afsak. Dit word die tyd dat ons wete, ons wankelende insig, insink, in sagte, ryk, vrugbare grond val en ontkiem, wild groei, na bo uitbreek en uitreik. 

Ek beleef hierdie wonderskone oomblikke in die kapel en besef: al ons gepraat, selfs die ontnugterende insig dat ons die mees Wesenlike ontbeer, is einliks niks nie. Daardie groot woorde moet juis niks word, soos ons aanreis na die Een wat nie woorde is nie, wat nie in woorde vasgevang kan word nie en nie deur woorde gestuur kan word of geken kan word nie.

Trouens, wonder ek, is dit nie juis gevaarlik nie - hierdie gesprekke oor die afwesigheid van die mistiek in ons lewens wat eintlik op niks uitloop nie? Is dit nie juis dubbel rampspoedig nie: dat ons weet waar dinge verkeerd loop, dat ons selfs die rigting aangedui kry om dit te gaan soek, en dan tog nie die voete op die pad sit nie en die reis met die Bruid begin nie. Watter ironie: om so oor die mistiek te praat en te bly praat...

Judy Coyle vertel hoe hulle as nuwelinge die mistieke tekste bestudeer het in afwagting dat dit wat die mistici sou beleef het, ook vir hulle beskore sal wees. Die tekste word maar die middel, die aansporing om self die pad te loop, verby die bloot bedink daarvan.

Dit is die kwessie dan - dat ons die mistieke weg voor ons uitgespel sien. En bly kyk, vir die oomblik. Maar ons bly kyk, al weet ons dit werk nie so nie, daar moet meer wees. 

Dit is 'n ou kwessie. Paulus het daarmee ook gesukkel. Hy praat van die dubbele slae gepraat. Ons ken die weg sonder om dit te bewandel.

Dit is erg, het die Een wat weet, vertel, dit is soos nuwe wyn in ou sakke gooi. Die hart kom nie by nie. En bly dor.

Self-implikasie, vir my 'n sleutelwoord, is dus nie regtig die antwoord nie, besef ek. Want 'n mens kan ook baie praat oor die feit dat 'n mens self die pad moet vat. Ek kan goed weet daar kom ‘n tyd dat ek deel moet word van die reis. Dit moet vir mý wees. En al wat soms gebeur is dat ek van die Verborgene hoor, van intimiteit verneem, vir 'n oomblik daarna verlang. En dan is dit verby. 

Maranatha, die hartsgebed in die tyd van adoramus, in die lewensreis van aanbidding, beteken gedurig, aanhoudend, soekend, smekend vra, in afwagting, volhardend, toegewyd, waaksaam op reis gaan. Die intieme eenheid, God in die mens en mens in God, val nie sommer uit die lug nie. Dit kom na en oor hulle wat hart en siel inspan, hulle wat hulleself in die liefdesverhouding uitstort, dae-lank, weke-lank, jare-lank, in die liturgie, in gebed, in gemeenskap met mekaar.



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive