Saturday, October 02, 2010

'n Week in die stad van die Tsare

Twee keer tydens my verblyf in St Pietersburg word ek vir aandete by families uitgenooi.

Ek geniet die spesiale Ukraïniese dis wat my eerste gasheer vir my voorsit. Hulle het in die beskeie woonstel, gemeet aan "ons" standaarde: daar is wel ‘n moderne kombuis met ‘n sitkamer, twee slaapkamers in ‘n reuse-kompleks. Hulle het in die ruimte hul vier kinders grootgemaak. Vir Russiese voorstellinge is dit ‘n gemaklike woning, selfs middelklas. Dit is egter die kompleks waarin die woonstel is, wat ‘n mens verbyster. Dit is enorm. Die buitekant van die gebou is in plekke vervalle, dit is ongeverfd en die voordeure is van staal. Vertel  my gasheer: jy betaal al ‘n plasie se prys vir die woonstelle.  Maar die gesellige aand by hulle en hulle oorvloedige vriendelikheid val ‘n mens des te meer op, hier in hul beskeie plek te midde van een van die grootste geboue-komplekse in die stad.

My tweede besoek is aan ‘n predikant wat saam met sy vier kinders in ‘n tweekamer-woonstel woon. Hierdie plek is selfs nog meer, in ons konteks gesien, beskeie. Daar is ‘n slaapkamer waar die vier kinders op twee stapelbeddens slaap. Die slaapkamer is in twee verdeel, sodat hy ook sy studeerkamer daar kon inpas. In die ander kamer slaap die ouers.

Ons (ek, hy en sy vrou) sit en gesels in die kombuis. Daarna eet ons om die tafel waar ons drie net-net inpas. Die leef-omstandighede sou vir ons beskeie wees. Hulle is gemaklik daarmee - dit is hul stad en hul realiteite. 

Die volgende paar dae loop en bedink ek hierdie ervaringe van my in die groot en beroemde ou stad. Die laaste aand van my verblyf des te meer: ek woon ‘n uitvoering van Giselle by. My gashere het vir my ‘n kaartjie  gekry vir die spesiale gebeurtenis in die Hermitage. Die teater is in 1783-1787 deur die befaamde Katarina die Tweede op die terrein van die winterpaleis van Keiser Pieter die Derde gebou. Dit is ‘n intieme teater waarin 20 tot 100 mense kan sit, maar oorweldigend luuks. Dit is goud, skitterglas, marmer, beelde en weelde sonder weerga.

Ondenkbaar: hierdie ongebreidelike luuksheid, te midde van die armoede en beskeie leefstyl van miljoene mense.

Op my laaste dag kry ek darem kans, na ‘n lewendige, laaste besprekingsessie met die studente, om vir ‘n skrale twee uur lank ikone te gaan kyk in die Russiese museum. Dit is net so ‘n oorweldigende, luukse en verstommende mooi gebou (sien foto hieronder). Een van die studente word afgevaardig om as my gids op te tree. Hy is ‘n stil, innemende mens wat tot bekering gekom het toe hy 18 jaar oud was. Hy het ontwerp bestudeer totdat hy op ‘n dag gevoel het hy moet teologie gaan studeer.  Ook hy het duidelik ‘n beskeie lewensstyl. Dit is nie mense wat dit breed het nie.

Maar dit is die besoek aan die Russiese Museum wat my weer aan die beskeie woon-omstandighede van my gashere laat dink:  die weelde van die meubels wat hier uitgestal word, die marmerbeeld van ‘n vadsige en opgedolliede bekende uit die geskiedenis en die reuse skilderye (sien foto) laat my die weelde-kant van die Russiese samelewing sien.

Katarina die Grote het ongekende kunsskatte vir die Russiese Ryk versamel. ‘n Mens bring net ‘n dag deur in die Hermitage om te besef hoeveel sy gedoen het vir die kunste en watter onskatbare bydrae sy gelewer het tot die behoud van meesterstukke. 

Maar dit is skatte van totale weelde. Die ryk geboue, die Hermitage en die Russiese museum, en die duur kunsskatte is wêrelde verwyder van die enorme geboue-komplekse en die beskeie tweekamer-wonings waar ek gekuier het.

Weelde en armoede is die twee gesigte van Rusland.

Bedagsaam kry my gashere vir my ‘n taxi om my Vrydagmiddag na die lughawe toe te neem. Die groot bestuurder sit die voorste sitplek vol. Die asbakkie staan oop en hang-lê skeef onder die hoop stompies en as. ‘n Sigaretrook hang swaar oor die binnekant van die motor. Russe, sien ek oral in die strate, rook baie.

By die lughawe staan ons in ‘n lang ry. Ek moet omtrent 35 minute in die tou wag voordat ek uiteindelik deur die sekuriteit beweeg. Die vrou agter die toonbank vir paspoort-beheer, waar ek ook nog ‘n 20 minute lank in die ry moes wag, het knyp-lippe en staar vir omtrent vier minute na my paspoort voordat sy uiteindelik ‘n tjap gryp, die paspoort ‘n woeste tjap gee en dit vir my deur die venster neerplak.

Toe ek uiteindelik op pad is London toe met die drie uur lange vlug, besef ek hoekom ek vir die eerste keer weer werklik ontspanne is: ek voel donker oor die groot gaping tussen arm en ryk in die stad van di tsare en die kommuniste. Ek voel ingetrek in die lewens van die studente by die Universiteit met hul swaar geskiedenis, hul beskeie lewensstyl en hul erns vir hul roeping. Maar ek voel onseker, besef ek, omdat ek nie die taal kon praat nie, omdat Rusland ‘n verskriklike groot smeltkroes is van verskeie nasies (jy sal alle gelaatstrekke daar raaksien – van Kaukasies tot Asiaties tot selfs, maar baie min, Afrikane), omdat daar sulke uiteenlopende wêrelde is, omdat die geskiedenis soms vir soveel miljoene mense wreedweg aan die ander kant van weelde en gemak plaas.

Sesuur vanoggend, ver wag van die beroemde stad van die tsare, trek die son ‘n rooi smal-strepie oor die Afrika-kontinent toe ek wakker word en by die venster uitkyk.

Ek herken die Afrika-son. Broeder son, a la Franciskus, roep my hart bly uit. Dit is ‘n somerson, kan ek sommer net sien, hier op die kontinent van somerson en somer-lig.

Ons land in ‘n moderne Johannesburgse lughawe gebou. Die doeane is flink. Ek is binne ‘n minuut of twee daardeur. Ek wag skaars vyf minute vir my koffer.

Ek stap oor vir my Kaapstadse vlug, waar al die personeel agter die toonbank swart  en kompetent is. Weer wag ek skaars.

Ek gaan deur sekuriteit. Voor my is ‘n jong swart student wat argeloos haar selfoon sommer in ‘n groot swart houer vir die handtasse en baadjies wil sit. ‘n Flink, ook swart, sekuriteitswag kom aangestap en stop haar. A nee a, roep hy ferm, maar vrindelik uit, jy moet mos die kleiner tasse vir selfone gebruik. Hy haal een af en gee dit vir haar aan. ‘n Tweede keer betig hy haar byna vaderlik: “You are young, you can help yourself and do the right thing.” Ek keer gemoedelik vir haar part: “But you were not here. There was no one to help her.” Hy antwoord, duidelik in sy skik met homself omdat hy so ‘n goeie punt beet het,  sonder om twee keer te dink: “She is young. She should know this herself. She must learn to help herself. You should not wait for other people to help you.”

Ditsim dag ek.

Wat ‘n gemeste-kalf tuiskoms.

Op die vliegtuig na die moederstand van die wêreld en my dorp tussen die pieke, word ek bedien deur ‘n swart kelner. Hy neem rustig sy tyd, hierdie jong swartman. Vra geduldig en vriendelik vir elkeen wat hulle wil eet en drink en staan dan op sy tyd en help hulle gemoedelik en toegeneë. Die swart lugwaardin, daarenteen, is ‘n besige by. Terwyl hy netjies en flink vir almal bedien, zoem sy heen en weer en maak op om uit te kom by al die gaste wat hy nie sal kan bedien nie. Dit is Woolworths-kos. Ek kry ‘n vroeg-oggend pannekoek, uit die boonste rakke, met ‘n kontinentale vrugtesap.

Dit is bederf-tyd.

Ek is tuis.

Maar ek weet ook, toe ek uiteindelik van die Kaapstad lughawe huis toe ry, al langs die opslaan-huisies in die townships langs die N2, dat ons land onder die top 10 lande van die wêreld is as dit kom by die verdeling van rykdom.

En ek het die hele tyd, die week in die stad van die keisers, soms teruggedink aan die vriendelikheid van ons mense. Dit is asof die swaarkry van armoede dit nie kon blus nie.

You should not wait for other people to help you....






'n Vliegtuig trek 'n wit streep oor hierdie imposante gebou in Nevskie Prospect



Die Hermitage - pure weelde




Die orkessie speel betowerend in die voorportaal van die teater




Deur die venster sien 'n mens die katedraal van St Pieter en St Paulus - waar die tsare begrawe is



Die ingangsportaal tot die teater. Twee Afrikane in bloedrooi uniforms was deurwagte...




Kristal - kandelaar. Openbaring 18.




Die verhoog van die teater



Dansers - in wit



Die Hermitage, laataand, na die uitvoering.




Die Russiese Museum. My gids is uitgelate want die dag is somerwarm.




Ek het lank by hierdie dertiende eeuse ikoon van Johannes die Doper gestaan. Dit is ongeveer 3 meter hoog.




Enorm, enorm was hierdie skildery van die Brander.





Menshikow se borsbeeld van Ivan Vitale....



Weelde...


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive