Wednesday, October 27, 2010

Oor liturgiese spiritualiteit. Skole van spiritualiteit (2).

Ek het al voorheen geblog oor liturgiese spiritualiteit – spesifiek oor die daaglikse offisie. Maar ‘n mens kan - en moet - veel wyer oor liturgiese spiritualiteit praat.

Die woord “liturgie” is vir die gewone kerkmense dalk nie so gelaaid met betekenis soos vir iemand wat teologies opgelei is nie. Maar in spiritualiteit is liturgie ‘n sentrale motief wat verdien om steeds weer bedink en bespreek te word. In spiritualiteit is liturgiese spiritualiteit so belangrik dat dit as ‘n “skool van spiritualiteit” beskou word.

Dalk, moet ons besef, het die begrip ook al bekender geword as wat ons dink. Charismatiese spiritualiteit met die fokus op aanbidding en lof (worship and praise) het die liturgie sterk onder die aandag van gelowiges gebring.

In spiritualiteit is liturgie in die eerste plek met heiligheid verbind. Die liturgie het veral te doen met die samekomste van gelowiges. Hierdie “erediens” as “verering” van God, die Heilige, is die geleentheid en die plek waar God en mens ontmoet. Wanneer gelowiges bymekaar kom, is dikwels gesê, gaan dit om die “bediening” van die Woord: die Heilige spreek met die gemeenskap van heiliges deur die “Heilige Geskrifte”. Dikwels kry die erediens ook verdere rykdom by wanneer die sakramente van die doop en die nagmaal “bedien” word.

Die erediens en liturgie het baie name en kante, soos byvoorbeeld erediens, aanbidding, skuldbelydenis, vergifnis, liefdesverklaring, lectio, die woordverkondiging, liefdesgawe en uitsending. Dit is ‘n byeenkoms gelaai met ryk elemente wat wys hoe veelkantig en multi-dimensioneel die ontmoeting met God is.  

Die erediens het ‘n belangrike, maar eenvoudige doel: dit is die geleentheid waar mense die Heilige ervaar. Hier word deur rituele die verborge, mistieke teenwoordigheid van God ontdek en gevier. Dit is die tyd wanneer mense genooi, ondersteun en gelei word om gereed te wees vir groter en dieper eenheid met God. Daarom word die "woord" van God verkondig en uitgelê – sodat mense God beter kan verstaan. Maar die erediens is veel meer as net ‘n intellektuele oefening. Dit is deelname aan en viering van God se teenwoordigheid onder gelowiges. Daarom vind die rituele plaas as die gebeure waardeur mense in die teenwoordigheid van die Heilige kan wees.

Die liturgie is dus ook veel, veel meer as net ‘n preek. Dit is egter selfs ook meer as net ‘n ontmoeting met God. In liturgiese spiritualiteit is die liturgie gefokus op die intrede, toetrede en die ervaring van God as die Heilige. Alles in die erediens moet die gelowiges hierop instel: elke aspek van die liturgie wil vir die deelnemers helder laat voel dat hulle by God teenwoordige is en dat hulle in hierdie heilige teenwoordigheid van God volkome rus, vervulling en vreugde vind. 

Die erediens is so gevorm dat dit ‘n sinvolle geheel uitmaak. Dit is nie maar sommer net ‘n klompie plaaslike Christene wat op ‘n los manier ‘n byeenkomsie reël nie. Die erediens is die voortsetting van wat gelowiges deur die eeue heen gedoen het. Dit het diep wortels in Bybelse tye. Dit is ten nouste verbind met wat die vroegste Kerk gevier het. Die erediens word gedra deur dieptestrukture wat die menslike psige oor eeue heen fundamenteel gevorm het. Nie net al die eeue nie, maar kerke oor die wêreld heen is onsigbare deelnemers aan elke erediens – waar dit ook al plaasvind. Die Apostoliese Geloofsbelydenis as universele belydenis illustreer byvoorbeeld hoe gelowiges saam met mense oor die wêreld heen oor hul geloof voel. Die erediens is ook ten nouste gekoppel met wat God te sê het: Die Woord is daarom sentraal. Daar is nie ‘n kerk waarin die Bybel nie die simbool is van God se onmisbare spreke in die byeeenkoms nie. Hier praat God, die Heilige deur die Heilige Skrif. In die vorme van die erediens kom so duidelik na vore hoe die kerk van alle tye verbind is aan wat God doen en sê. 

Wanneer die fokus so op God, die Heilige, val, word, onvermydelik ook oor die situasie en toestand van die mens gepraat. God is teenwoordig, ja, maar God is ook by die volk van God. Christus is teenwoordig, maar saam met die liggaam van Christus. God is die heilige, maar heilig terselfdertyd ook die mens in sy gebrek aan en soeke na heiligheid. In die erediens val die lig ook op wie die mens is as skepsel van God, binne die skepping, as deel van die gemeenskap van heiliges. Die Heilige heilig ‘n volk tot ligaam van Christus.

Kyk ‘n mens na die erediens, sien ‘n mens dus daarin die lang geskiedenis van die wêreldkerk se liturgiese viering raak. Elke deel daarvan het ‘n ryk verklaring en tradisie wat daarin opgesluit lê. En, verstommend, ontdek ‘n mens deur hierdie ou, gevestigde vorme dat jy nie op jou eentjie aan die reis is nie. God se mense oor die wêreld heen deel dieselfde elemente van die erediens: hulle aanbid, sing lofprysinge, doen smeekgebede, luister na die verkondiging, bring hulle offerandes, word versterk deur die sakramente met mense in alle kerke dwarsoor die aardbol. Dit is ‘n boeiende gedagte dat in hierdie een liturgiese gebruik soveel miljoene mense saamgebind word tot volk van God. ‘n Mens huiwer voor die mistieke impak hiervan. Oneindige skares, uit alle stamme, nasies, volkere en tale wat saam, op dieselfde manier, deur eeue-oue vorme vir God aanbid.

‘n Mens se hart krimp ineen as jy luister wat mense werklik van die “Sondagdienste” en die “preek” dink. Maar ook dit is nie nuut nie. Oor die eeue heen is daar in die hart van die mens weersin en selfs teruggetrokkenheid voor die mistieke oomblikke in die liturgie. Daarom het die liturgie ‘n uiters belangrike tweede funksie: dit moet mense uitnooi, aanspoor en intrek om deel te neem aan die feestelike viering van God se teenwoordigheid. Mense moet die tradisionele vorme as lewegewend ervaar. Die eeue-oue vorme moet vir hulle inspireer. Dit is liturgie – dit bied nie net allerhande vorme nie, maar dit omvorm en trans-form-eer.

‘n Mens kan, jammer genoeg, deelneem aan die liturgie sonder dat dit werklik transformerend is. Egte liturgie is wanneer die gemeente elke oomblik voel hoe daar iets aan die gebeur is. Die liturgie moet ‘n kragtige uitwerking op die deelnemers hê. Die gebede moet uit die hart van elke gemeentelid kom. Elkeen sing saam. Elkeen hoor in die preek die vrae van sy hart opklink, herken daarin die gesprek wat tussen God en mens moet plaasvind. En aan die einde van die erediens gaan elkeen, gevoed, voort op die geestelike reis.

Die uitkoms van die erediens is egter meer as net ‘n gevoel van vervulling. Aan die einde moet die besef by mense deurbreek: dit was ‘n tyd wat God op ‘n spesiale manier by ons was. Die tye van aanbidding word die beginpunt van ‘n lewe in dankbaarheid: die erediens in die ruimte van die kerk, saam met die wêreldkerk, bring ‘n mens tot die "erediens" in die wêreld en die week.

Terwyl ek aan die hand van Waaijman se opmerkings oor liturgiese spiritualiteit hierdie insigte bedink, besef ek hoe liturgiese spiritualiteit verder wil gaan as bloot net “liturgie” soos ons dit in ons eie opleiding “geleer” het.  In hierdie spiritualiteitsbesinning praat God nie net op ‘n “intellektuele” vlak in die preek as die “hart” van die erediens nie. God praat van die eerste tot die laaste oomblik in die erediens. Die erediens wil nie die gemeente alleen maar teologie leer, of  allerhande regte leerstellinge oor God en die Bybel verduidelik nie – hoe interssant en belangrik dit ook al mag wees. Elke keer weer wil God deur die erediens heen die gelowige deelnemer transformeer, wil die erediens die mens nader bring, meer as ooit tevore bewus van die Grotere, Diepere en Verborgene, dieper laat groei in hul verhouding tot God as deel van ‘n lang geestelike reis.

In die liturgie is daar ook nie een mens wat nader aan God is as ander of belangriker as ander is nie. Daar is nie ‘n dominee wat die saak onder beheer het en wat alles netjies “verduidelik” aan ondergeskiktes nie. Die liturgie wil juis nie afstande tussen mense skep en nuwe hiërargieë oprig nie. In die liturgie staan gelowiges in gemeenskaplike mensheid voor God – almal word uitgenooi, gegroet, bemin, veroordeel, vergewe, geïnspireer, geseënd en vervul met verlange om nader en nader aan God te kom. Almal ontvang die genade om te bid, te sing, te getuig en te gee.

Liturgie wil nie bloot “korrek” wees nie, wil nie ‘n sektariese kerk-identiteit bevorder nie, wil nie eie belang soek nie, wil nie ‘n gemeente knus laat voel nie. In die liturgie word mense aan mekaar gebind, terug in die geskiedenis in sodat hulle uit die wysheid van die tye gevoed kan word en hul erfgoed in al sy rykheid kan vashou. Liturgie vertel vir ons daarom hoe die geloofsreis ‘n proses is wat oor eeue loop en wat ons nie maar kan manipuleer soos dit ons pas en soos ons dink dit vir ons tyd “nuut” gedoen moet word nie. Maar die gelowiges word ook aan die wêreld-kerk en aan die wêreld as God se skepping verbind. Verhouding na verhouding na verhouding word deur die liturgie geseën, gesmee en as belangrik op mense se harte gelê. Liturgie wil daarom vernuwe, mense uitdaag om nuut te dink, om aan die hand van die wysheid van vele en van die voorouers, uit te daag, vooroordele af te breek, te waag en anders te wees. Die goddelike transformasie, kan mense in die liturgie ontdek, gaan soms alle verstand te bowe.

Uiteindelik egter, besef ek dat liturgiese spiritualiteit iewers wêreldvreemd is – juis omdat dit so uitgesproke ‘n ontmoeting met God in heiligheid is. Hier word die werk van die Heilige Gees veral bereken. Dink maar aan die belangrike plek van die trishagion (Heilig, heilig, heilig...) in die aanbiddingstekste in die Ou en Nuwe Testament (bv. Jes. en Op.4-5) Al is die erediens ‘n vreugdevolle tyd, is die kerk nie ‘n plek van vermaak waar mense gesellig bymekaar is nie, asof in konserte of in kultuurfeeste nie. Dit bly ‘n vreemde plek, voor ‘n vreemde, ontasbare, oneindige God wat mense wil heilig van onreinheid, van sondige vervreemding van hul egte tuiste. God se heiligheid impliseer steeds weer reiniging, verwerping van wat onsuiwer is, wat blok, verstop, bevuil en belas. 

In die kerk staan God nie alleen in die sentrum nie, al gaan dit om die gelowige aanbidding van God. Die liturgie wil ook nie die kerk aan ‘n aktivisme en ‘n obsessie met die wêreld uitlewer nie. Liturgiese spiritualiteit wil veral die intieme, onlosmaaklike band tussen God en die mens onderstreep: In die liturgie vier ons die vreemde, heiligende liefde van God wat volkome aan die mensdom gegee word sodat vyande van God tot egte menslikheid gereinig en omvorm sal word. 

Heiligheid is nie verniet ‘n kernwoord in Spiritualiteit – en dus in liturgiese spiritualiteit nie. Dit is ook veelseggend dat ons God ook trinitaries benoem as die Heilige Gees – die een wat mense suiwer, vertroos, geborge laat voel en wat in die mens se diepste wese woning maak.  Maranata, Kurie Eleison is in die liturgie kragtige simbole van waarom die erediens werklik gaan. 

Ten slotte: hoeveel Sondae kom mense tuis en praat oor die "preek". Liturgiese spiritualiteit bied 'n goue kans om gelowiges se visie te verbreed om die liturgie eerder te ervaar as 'n ontmoeting met die Here. 

En, vir vele voorgangers herinner liturgiese spiritualiteit daaraan dat die voorbereiding vir die erediens nog lank nie klaar is as die laaste woorde van die "preek" bedink en beskryf is nie. Dan, eers, begin die biddende instelling en voorbereiding en beskikbaarstelling van die liturg vir God, sodat die erediens inderdaad deur sy of haar beskeie leiding 'n ontmoetingsgeleentheid met God wordl



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive