Thursday, October 07, 2010

Is daar dan geen ontferming nie?

Noudat ek Luckhoff se dagboek deurgewerk het, sit en wonder ek wat bly daarvan veral in my oor en watter gedagtes styg uit. 

Ek het my verlustig aan sy aardsheid – hoe hy hom vervies vir die mense wat soos agies om sterfbeddens saamkoek en hoe hy by herhaling hulle sommer net daar aanvat en verjaag. 

Ek kan my lag nie hou oor sy beskrywing van die kamp-dokter nie. Hy kan die man kennelik nie verdra nie. Hy is verontwaardig want die dokter bedrieg mense deur hulle ‘n reuse-som geld vir water te vra. Summier is sy gevoel: “The quack doctor deserves to be kicked.” (25). 

Ek kan ook nie help om te glimlag oor Luckhoff se ongemak met sy eie harde, "onwaardige" woorde in die dagboek nie (sien sy voorwoord). Hy wil nie so oor die doktor voel nie, maar darem.... 

Ek staan verwonderd oor hoe Luckhoff, net so aards, oorleef deur aan die eenvoudigste dinge vas te hou – die varsheid van die reën, ‘n koppie sjokolade-melk, vetkoek, pannekoeke, briefies van die huis en dan veral die aanbreek van die aand, die stilte van sy tent en die soetheid van nagrus. 

Maar ek dra tog iets anders in my om: Elke keer as ek die dagboek deurlees, sny die lyding wat Luckhoff gedurig ter sprake bring, deur my. Dit tref my ook hoedat hy keer op keer deur die lyding om hom oorweldig word. 

Sy geloof kan nie maklik daarby verby leef nie. Dit is nie tyd vir goedkoop vertroue nie. Hierdie pastor, hierdie mistagoog van die sterwendes en die rouendes, word deur sy geloof getreiter. Hy drink die beker tot die droesem. Sy vraag op bladsy 35 is: “Why so much sorrow?” Ek sien hom in sy donker nag as hy hierdie vraag vra en op elke bladsy worstel met die eindelose gesigte van lyding. 

Twee keer word die nag vir hom ondeurdringbaar swart: Op ‘n stadium wil hy die ondenkbare donker twyfelwoord uiter as God nie sy ernstige gebed vir ‘n kind se genesing verhoor nie: “I am tempted to think that after all, God – No! I won’t write it, because I believe this is a temptation of Satan!” 

Maar die rouste oomblik in die boek, is sy vertelling oor sy besoek aan die sterwende mevrou Meintjies. Sy yl van die koors. Luckhoff bid vir haar, roep haar op haar naam na sy gebed klaar is. Sy kom vir ‘n paar sekondes tot haar bewussyn. Luckhoff vertel dan hoe haar man in trane uit die tent storm. Vertwyfeld vra Luckhoff: Nou wat kan ek doen? En dan vervolg hy met die enkele sin van die huilende man: “Is daar dan geen ontferming in die wolke wat in die dieptes van ons rou kan sien nie?” (“Is there no pity sitting in the clouds can see into the bottom of our grief?”). So gebroke soos die sin, so gebroke is die lewe op die oomblik. 

Stukkender kan dit nie. 

Wat my laat besef wat nie genoeg herhaal kan word nie: Oorlog is sleg. Miskien is dit die ding wat die langste by my sal woon - hoe ons, wat so graag as dapper mense vir volk en vaderland wil baklei, en sommer vir baie ander dinge ook, onsself daardeur in die duisternis intrek.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive