Saturday, October 09, 2010

Die waarheid van die Evangelie is groter as die kerk en sy leiers. Bybelstudie oor Openbaring (15).

“Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is.” Openbaring 2:2.

Die Mensesun, het ons in die vorige nadenke gesien, waarsku die gemeente in Efese. Moenie té gou die kwaad buite die kerk soek nie. Die kwaad woon in die kerk. En die beste teken daarvan is liefdeloosheid.

Die Menseseun is egter ook lief vir die gemeente. Hy prys hulle, want hulle is toegewyd: hulle werk hard. Hulle probeer hul bes: hulle volhard. Twee keer word dit van hulle gesê dat hulle nie sommer tou opgooi nie! Hulle is boonop ook regverdig: hulle hou nie van slegte mense nie (Openbaring 2:2, 3).

Maar die Menseseun, sê die brief, merk ook op hoe die gemeente hulle nie maklik om die bos laat lei nie. Soms kom daar heel “belangrike” mense by hulle aan. Hulle stel hulle as “apostels” voor.  

In die vroeë kerk was ‘n apostel een van die belangrikste leiers. Paulus het byvoorbeeld in sy briewe van homself as “apostel” gepraat wanneer hy sy gesag wou handhaaf. Dan is hy nie meer sommer net nog ‘n leier nie. As apostel het sy woorde spesiale gesag. In Galasiërs beklemtoon hy juis dat hy nie as apostel deur mense aangestel is nie, maar deur God.

Ons weet uit die Nuwe Testament dat daar nie net 12 apostels was nie. Daar was ook baie ander apostels. Barnabas, Andronikus en Junia was byvoorbeeld ook apostels (Hand.14:14; Rom.16:7), al was hulle nie onder die 12 dissipels van Jesus nie. 

Apostels het die evangelie verkondig op hul sending-reise. Hulle het aansien geniet.

Tog was daar groot kwessies oor apostels. Ons weet dat daar in die vroeë kerk “valse” apostels was (2 Kor.11:13). Paulus skryf dat sulke apostels “oneerlik te werk gaan deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is.” Paulus draai nie doekies om nie: hulle laat hom dink aan Satan wat voorgee dat hy ‘n engel van die lig is.

Paulus weet: Mense wat die Evangelie verkondig kon gevaarlik wees. In Handelinge 20:29 praat Paulus van “wrede wolwe.” Hulle gaan gelowiges in Efese met leuens verlei en bedrieg. Paulus herinner hulle hoeveel tyd hy aan die mense in Efese bestee het. Drie jaar lank. Aanhoudend. Dag en nag. Soms met trane. 'n Apostel skop 'n mens nie sommer agter 'n bos uit nie. Hy of sy (Junia!) is 'n leier wat met integriteit, diep insig en toewyding vir mense in die verborgenheid van die Evangelie inlei en inwy.

Die Evangelie is nie sommer net kitskos nie. En 'n apostel moet die uitnemende simbool hiervan wees.

Valse “apostels” was daar volgens Openbaring dan inderdaad in Efese. Later sou die kerkvader, Ignatius, ook van valse apostels in ‘n brief aan Efese praat (7:1; 9:1). Hulle het hulle teenwoordigheid al te duidelik laat geld. Hulle het veel vir die gemeentelede in Efese te sê gehad.

Maar om een of ander rede was die gemeentelede in Efese nie liggelowig nie. Hulle het sulke mense fyn “ondersoek.”

Hulle was nie so uniek nie: In verskeie tekste word gelowiges gewaarsku om lig te loop vir valse boodskappe. Hulle moet predikers “toets”: 1 Joh.4:1; 1 Thess. 5:20; Matt.7:15-16. Maar die gelowiges in Efese was tog 'n goeie voorbeeld van hoe hierdie toetsing ernstig opgeneem is.

Hierdie kerk in Efese was dus “waaksaam” soos  dikwels van gelowiges gevra is. Maar hulle is waaksaam in ‘n spesifieke sin van die woord. Hulle laat hulle nie sommer mislei nie. Ons sou hulle as “teologies” waaksaam kon beskryf. Hulle sorg dat hulle die regte leer vashou. Daar is vir hulle dus dinge wat reg is en ander dinge wat nie reg is nie. Alles kan nie maar sommer net geleer word nie. Die Gees is immers die Gees van waarheid wat mense in die waarheid inlei.

‘n Mens kan op baie maniere waaksaam wees. ‘n Mens moet byvoorbeeld waak daarvoor dat ‘n mens nie in jou ywer vir die Here verslap nie. Of, ‘n mens kan, soos hier, waak dat jy nie deur onwaarhede verlei word nie. In Efese het gelowiges die leuen nie verdra nie. Selfs al het dit konflik gebring. Selfs al moes hul hul eie leraars betig.

Geloof is nie ‘n hutspot van ‘n klomp goed wat deurmekaar geklits word nie. Dit is ‘n baie ou tradisie in die kerk: waarheid maak saak.

Die vreemde hier is dat ‘n mens selfs binne die kerk moet waak vir die waarheid. Dit het gelowiges in Efese gedoen. Hulle het nie gehuiwer om mense uit eie geledere te toets nie. Mede-gelowiges kon nie sommer maar net in die naam van die Here boodskappe bring nie. 

Wat my laat dink: twee kollega’s vertel my hoe die kerkraad in Nederlandse gemeentes waar hulle gepreek het, na die diens ‘n bespreking van die preek hou. En die kerkraad huiwer nie om hul sê te sê oor dinge waarmee hulle nie saamstem nie. Predikante, hoor ek, is nogal lugtig vir daardie gesprek na die erediens.

Goed so.

Gelowiges in Efese het besef: die waarheid van die Evangelie is groter as die kerk en sy leiers. Hulle het hul leiers gerespekteer. Maar hulle het hul leiers ook deeglik getoets. Hulle het nie vinger gewys en verskonend hul "slegte” leiers geblameer vir alles wat verkeerd is nie. Hulle het die leiers summier as leuenaars in die pad gesteek toe dit nodig was.


Die geestelike weg is ‘n weg in waarheid. Dit vra van gelowiges om waaksaam te wees. Want, uiteindelik, kom egte transformasie slegs deur die egte wete en ervaring van God.

Trouens, een van die moeilikste aspekte van die geestelike reis is dat ons dikwels, dikwels ‘n lig volg wat ons dink ‘n lig van ‘n engel is. Dikwels, egter, is die engel van die lig in werklikheid die Satan.

Deur die eeue het mistici gestry teen valse ervaringe, misleidings, wanvoorstellinge en wanpersepsies van wie God is. Hulle het goed geweet dat die leuen met groot gesag in die kerk en in hul eie hart kan leef en regeer.  En hulle het goed geweet hoe deformatief die leun in hul lewens gewerk het.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive