Ek lees opmerkings van Peter Zimmerling oor spiritualiteit in die Protestantisme in 'n boek van hom wat ek al ‘n rukkie terug gekry het, maar eers nou kon begin lees.
Dit titel van sy boek is “Evangelische Spiritualität. Wurzeln und Zugänge.” Dit het in 2003 verskyn. Die titel is duidelik genoeg om te weet waaroor die boek gaan: die skrywer wil oor 'n spesifieke spiritualiteitstradisie skryf. Hy wil nadink oor Christelike spiritualiteit en dan veral in 'n protestantse konteks. Bekende name soos die van Luther, Teresa van Avila en boeiende temas soos vas, pelgrimsreise, gebed en persoonlike bybellees kom daarin ter sprake.
Hy bespreek, soos 'n mens eintlik kan verwag, in die inleidende paragrawe die geskiedenis van mistiek (as “fokuspunt” van spiritualiteit) in Protestantse geledere. Die Protestantisme kon by tye hard oordeel oor spiritualiteit. Zimmerling verwys veral na Luther wat maar agterdogtig was oor spiritualiteit omdat hy geglo het dat geloof ten nouste verbind is met die Woord en sakramente en nie met die mens se geestelike ervaringe nie. Waar die mens se ervaringswêreld te sterk na vore kom, het Luther geglo, word werkheiligheid bevorder. Daarmee word na sy sin die evangelie van suiwer genade bevraagteken.
Sulke harde oordele moet 'n mens altyd in 'n bepaalde konteks verstaan. Tereg wys Zimmerling daarop dat Luther se teensin teen die mistiek veral verstaan moet word in samehang met sy stryd teen die geesdrywers van sy tyd, veral die doperse bewegings (bv. Muntzer en Karlstad). Hulle het ‘n politieke agenda gehad waarvolgens hulle die bose uit die wêreld wou uitroei en hulle vir hul aansprake beroep het op openbaringe wat die Gees aan hulle sou gedoen het. In die proses het hulle hulle omgewing letterlik en geestelik behoorlik op hol gehade.
Teenoor hierdie geloofsdwepers wat soms wilde aansprake en spesiale openbarings voorgehou het, beklemtoon Luther die belangrike inisiatief en werking van God: Genade alleen geloof alleen, was Luther se bekende motto’s, en enige menslike aansprake wat dit in gedrang gebring het was vir hom ‘n probleem.
Maar Luther se eie standpunt was ook problematies. Dit het gelei tot ‘n sekere distansierende en afstandelike siening van geloof. Sy fokus op die geloof alleen, het later al hoe meer die rol van die menslike verstand in die kollig geplaas: geloof word algaande ‘n kwessie van sekere geloofswaarhede wat onderskei en vasgehou moet word. Hierdie verstandelike instemming met geloofswaarhede is wat vir Luther belangrik was. Juis daarom bevraagteken hy enige aktiwiteit waarvolgens God op ‘n verborge, onverklaarbare, mistieke manier direk beleef word.
Nog later het sommige Duitse teoloë die mistiek nog meer hartgrondiglik verwerp. Hulle verdere argument was dat die mistiek die grens tussen God en mens uitwis. Hulle kritiseer veral mense wat geglo het dat ‘n gelowige ‘n goddelike vonk in hom of haar het. Die verhouding met God, is deur mistici beweer, is die resultaat van hierdie goddelike element in die mens. Dit beteken dat nie Jesus se heilwerk ‘n mens se geloof begrond nie. Onder hierdie kritici was daar invloedryke teoloë soos Karl Barth.
Later, skryf Zimmerling, het Barth sy harde uitsprake teen die mistiek begin aanpas. Geloof gaan om baie meer as net intellektuele instemming. Barth het al hoe meer begin nadink oor die fundamentele vraag: hoe ervaar ‘n mens God in die wêreld? God, vertel hy ('n jaar voor sy dood), is tog in die wêreld teenwoordig en God word in die wêreld ervaar wanneer God daarin aan die werk is. Hoe dit gebeur, word deur die mistiek bedink.
Daarmee het Barth ‘n ou kwessie aangespreek: al is dit waar dat ‘n mens deur geloof alleen geregverdig word, bly die vraag nog wat geloofservaring in die hede en in ons wêreld is. Op watter manier bestaan die gelowige mens wat uit genade geregverdig is in die praktyk en op aarde? Nie net die werklikheid van genade alleen is belangrik nie, maar hierdie genade moet ook beleef word. Geleefde ervaring is dus belangrik.
Luther, voeg Zimmerling by as hy daarop gewys het hoe daar eintlik ook positiewe insigte oor die mistiek bestaan het, skryf: “Tot dusver het ek gehoor en geglo dat Christus my Heiland is wat vir my my sonde en die dood oorwin het. En tog is ek nou ook nog dikwels in doodsangs en in die strikke van die duiwel vasgevang. Maar nou weer het Christus my gehelp en vir my verseker dat hy my lief het en dat alles waar is wat ek glo.”
Op die manier gebeur met die mens twee dinge: aan die een kant word ‘n mens gelowig op grond van die heilsverdienste van Christus. En dit is waaroor geloof gaan. Maar in die alledaagse lewe ervaar ‘n mens God se teenwoordigheid in die lewe en in 'n mens se bestaan. In die lewenswerklikheid ontmoet die gelowige vir Christus wat die mag het om sonde, die bose en die doodsangs te oorwin. ‘n Mens is bewus van die genade soos dit geskenk word. Maar ‘n mens is ook bewus van die voortdurende werking van God se genade in die lewe. Die genade is teenwoordig in ‘n mens se lewe!
Hier is die klem nie net op wat God een maal vir die mens gedoen het nie. ‘n Mens ervaar voorts in hart, siel en verstand die teenwoordigheid van God se werking in ‘n mens se lewe. God is hier, in die bestaan van ‘n gelowige, teenwoordig, aan die werk. Dit word beleef. Dit is 'n ervaarde werklikheid.
Zimmerling skryf dat sulke opmerkings toon dat Luther se teologie tog by tye ‘n mistieke karakter gehad het. Hy kom tot die slotsom dat Luther nie teen die mistiek was nie, maar dat hy teen ‘n mistiek was wat die plek van die goddelike woord en die sakramente in gedrang gebring het. Dit kan dus wees, sou ‘n mens kon sê, dat Luther gemaklik sou wees met mistieke ervaringe wat uit die Woord en die sakramente gebore word of wat nie in stryd staan daarmee nie.
Ek geniet hierdie opmerkings van Zimmerling. Hy maak ‘n mens bewus van die belangrike vraag watter aspekte van die mistieke ervaring in ‘n protestantse konteks opgeneem kan word. Ek sien uit om meer hieroor in Zimmerling se boek te lees.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.