Wednesday, October 27, 2010

Tent opslaan en altaar bou. ‘n Geestelike lees van Genesis 12:8-9.



 

 

Hier is ‘n deel uit die eerste Bybelboek wat ‘n mens sommer so as ‘n “verhaaltjie” sou kon beskryf:

Van daar af het Abraham verder getrek na die bergwêreld toe, oos van Bet-el, waar hy tent opgeslaan het met Bet-El aan die westekant en Ai aan die oostekant. Daar het hy ‘n altaar vir die Here gebou en die Naam van die Here aangeroep. Toe het Abraham kamp opgebreek en al gaande na die Suidland versit.

Gewoonlik trek die hoofstuk eerder aandag oor Abraham vir sy vrou sê sy moet haar as sy suster bekend stel omdat Egiptenare hom sal doodmaak om haar te kan inpalm – so mooi was sy. Maar die hoofstuk trek ook aandag omdat die land Kanaän aan Abraham beloof word. Dit is ‘n indrukwekkende belofte aan die 75-jarige Abraham. Hy sal ‘n groot nasie gemaak word. In Naby-Oosterse denke is ‘n groot nageslag ‘n teken van buitengewone seën.

Maar voor hierdie verhaal van bedrog deur die aartsvader en na die uitsonderlike belofte, is daar die beskrywing van Abraham se rondreisery. Hy is nou in die land Kanaän en hy, vertel die gedeelte ons terwyl ons vinnig daardeur rits, trek in die land rond.

Met die tong in die kies wil ‘n mens amper dink dat ‘n simpatieke Bybel-leser vandag dalk vir ‘n oomblik by Genesis 12:8-9 stilstaan en dit met genot wil lees: miskien, sommer dan onwillekeurig, om te dink aan ‘n naweek se lekker uitbreek. Sulke tekste is vir ons prikkelend: Jy laat die stad agter. Jy vergeet die druk program wat jou elke dag jaag. Jy gaan lekker tent opslaan in die boendoes en die stilte om die kampvuur geniet. Daar is nie fout met ‘n lekker wegbreek om te gaan uitkamp nie. Maar die teks wil nie regtig sulke soort dinge kommunikeer nie. Hier is iets anders ter sprake as wat die teks op die oog af vertel.

Eintlik is die tong hier in die kies omdat ‘n mens onwillekeurig wonder oor die roete-beskrywing wat hier in die teks voorkom tussen twee sulke belangrike vertellings. Waarom moet ons nou weet van die plekke wat Abraham besoek en sy tent-opslanery en altaarbouery?

In ‘n sekere sin is die roete-verhaal nie nuut nie: Abraham is in Genesis die groot rondtrekker. Hy is gedurig onderweg.

Hy is, soos ons dit beskryf, ‘n tipiese voorbeeld van ‘n nomade. Nomade’s kan ‘n mens in die geskiedenis van die Nabye Ooste oral raaklees. Hulle is tent-mense. Soos hulle met hul vee agter weiding en water aantrek, slaan hulle hul tente op. Lot, vertel Genesis 13 ons, het juis die Jordaanstreek gekies toe sy “veewagters” met Abraham begin baklei het en hulle besluit het om om vredeswil uitmekaar te gaan. In die Jordaanstreek, sê Genesis 13:10, was daar volop water soos ‘n tuin van die Here!

Hierdie nomadiese bestaan word in Genesis 12 beskryf.

Nou kan ‘n mens hierdie storie oor Abraham in Genesis 12:8 op baie maniere lees. Een manier sou wees om te probeer vasstel waar Bet-El en Ai was en hoe dit inpas in Abraham se groter reise. Dit sou ‘n historiese en ‘n geografiese lees wees. ‘n Mens sou die teks literêre kon lees: hoe pas hierdie gedeelte nou in die groter prentjie van Genesis in. ‘n Mens sou die teks ook ideologies-krities kon lees: watter magstryd is hier aan die gang as Abraham grond van ander mense inneem en gebruik? Baie wyshede sou ‘n mens hieroor kon skryf.

In ‘n spirituele lees van die Bybel word gefokus op die geestelike ervaring wat in die gedeelte uitgespel word. Wat sê die gedeelte vir ons van Abraham se ervaring van sy geloof?

Vir hierdie gedeelte kan ‘n geestelike lees nie op “teologiese” inhoud reken nie. Op die oog af is die gedeelte te “eenvoudig” daarvoor. Die skrywer van Genesis laat nie vir Abraham praat oor diep teologiese sake as hy so rondtrek nie. En die skrywer van Genesis voeg nie diepsinnige teologiese inhoude in sy vertelling nie.

Al wat hier staan is dat Abraham na sekere plekke toe trek.

Maar ‘n geestelike lees van die Bybel herken hoe sekere eenvoudige dinge vir ‘n mens insig gee in die geloofservaring van Abraham. In hierdie gedeelte is daar naamlik drie belangrike opmerkings.

1.  Abraham slaan ‘n tent op. So eenvoudig soos wat dit klink, so dood-eenvoudig was die voorkoms van ‘n tent inderdaad. Normaalweg was dit maar net ‘n klomp velle of geweefde doeke wat oopgespan is. Die nomadiese bestaan was ‘n ligte, maklike saak. As die skape na nuwe weiding geneem moet word, word daardie velle opgevou en word getrek. Net sommer so. Nietemin het die nomade moeite gedoen om ‘n tuiste deur hierdie velle en afskortings te skep. Prakties het dit skuiling gebied – teen die elemente en teen bedreiginge.

Tog was ‘n tent nie maar net ‘n plek waar die mense so bietjie privaat en afgeskerm kon wees nie. ‘n Tent was inderdaad ook ‘n woonplek in die egte sin van die woord:  Hier het die familie bymekaar gebly. Dit word die veilige ruimte waar hulle saam is, saam eet, gesels, kuier, slaap, bid, raas, fees vier, werk, beraadslag, siek word, verpleeg, genees raak. Binne die skamele bedekking was ‘n hegte familie-lewe aan die gang. Om tent op te slaan beteken dat ‘n mens deel was van ‘n gemeenskap waar almal geborge en verbind is aan mekaar. Dit is ‘n teken van ‘n gemeenskaplike lewe en lot. Mense loop nie sommer maar net en slaap iewers op ‘n los plekkie nie. Om tent op te slaan wys op onderlinge verbondenheid en wedersydse ingesteldheid.

Toe Abraham tent opgeslaan het, het Kanaän ‘n woon-ruimte vir hom en sy familie geword waar hulle saam was en waar hulle as groep behoort het. Dit was in ‘n sekere sin dus ‘n heilige ruimte – die plek waar hulle deur die onsigbare familie-band van liefde aanmekaar gebind is. Hier het hulle ‘n holte vir hulle voet gevind, ‘n plek om kop neer te lê en te rus en ‘n geborge skuiling waar hulle mekaar in die oë kon kyk.

2. Abraham het ‘n altaar gebou. Abraham weet egter ook daar is belangriker dinge as om weiding vir jou vee te vind en ‘n woonplek reg te kry. Die oomblik dat hy weiveld kry en tent opslaan, word hy ook besig met geestelike dinge. Hy kyk dieper en verder as net sy materiële, liggaamlike en selfs sy familie-behoeftes. Hy bind hom en sy familie aan dieper, geestelike dinge.

Dink net konkreet: moeg na dae lank se getrek en na die woeligheid van tent opslaan vir ‘n klomp mense, moet daar nou altaar gebou word. Tent opslaan en altaar bou is die hoogste prioriteit. Die familie het nie net ‘n woonplek bymekaar nie. God moet ook ‘n woonplek by hulle hê. Boeiend is dat Israel later die tabernakel / die tent van die tabernakel ook op dieselfde manier oral met hulle sou saamneem. God bewoon ‘n duidelike ruimte onder hulle. Die weiding vir die vee en die heilige ruimte vir diens aan God hoort saam. Die lewe word verdiep deur plek te maak – letterlik – vir God. Hier op die altaar sou Abraham en sy familie aan God offers bring, hulle lewe wy aan die diens van God.

3. Abraham het die Naam van die Here aangeroep. Met hierdie opmerking in Genesis 12:8 word die liturgiese ruimte van die altaar oratief gevul. In die ruimte van heiligheid waar offers aan die Here gebring word, word biddend na God geroep. Abraham weet hy en sy familie is in ‘n nuwe, onbekende en dalk selfs gevaarlike plek.

Om die Naam van die Here aan te roep, is om te vra: Here, wees hier by ons, by my en my familie! (Weser, a la Waaijman). Here, seën en behoed ons. Laat U aangesig oor ons skyn. Wees hier vir ons. Later, veel later, in Handelinge, sou ons weer hoor dat elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word. Want die “Naam”, veral in ‘n Naby-Oosterse konteks, het magiese krag. Om iemand se naam te ken, is om daardie persoon se mag in jou lewe in te trek.

Die gerigtheid na Bo word ‘n gebed om transformasie: verander hierdie nuwe plek van ons, hierdie onbekende terrein, tot ‘n Bet-El, ‘n huis van God, waar God woon en waar ons, soos in ons tent, veilig en geborge en in liefde bymekaar is. God, kom slaan tent op in hierdie ruimte by ons wat ons vir U reggemaak het. Om naby U te woon, is om veilig te wees!

Op die manier lees en verwerk ons die eenvoudige, konkrete opmerkings in Genesis 12 geestelik. Hulle is so kripties genoem, so in die verbygaan ingeskryf, dat ‘n mens hulle amper nie raaksien nie. As ons hulle bedink, daaroor mediteer, juis omdat ons ingestel is op die geestelike betekenis van die teks, openbaar die teks vir ons die dieper geestelike reis van Abraham en sy familie.

Spirituele hermeneutiek wil die verborge dinge raaksien. Dit wil die impak van eenvoudige, alledaagse dinge bepaal. Dit wil nadink oor die geestelike dinge wat verskuild lê in die gewone gang van sake. Want die eenvoudigste dinge wat ons doen kan besondere geestelike betekenis hê. Geestelike hermeneutiek wil in al die konkrete, materiële dinge raaksien wat anders is, wat anders maak.

 ‘n Mens kan interessante dinge navors oor waar oral Abraham gereis het en hoe Genesis hom as ‘n nomade teken en hoe hy die grond van sy teenstanders, die Kanaaniete (Gen.12:6) ingeneem het. Die Bybelwetenskappe kan op baie maniere hierdie gedeelte verklaar. En in hierdie verklarings sal ‘n mens seker ook nog nuwe geestelike insigte kan ontdek en raaksien.

Maar al die historiese, geografiese, sosiale en teologiese dimensies dien uiteindelik die geestelike sin van die teks. Hulle help ons om ons in te dink in wat aan die gang was in Abraham se lewe nadat God hom geroep het en vir hom ryke seëninge beloof het.

In hierdie eenvoudige reisvertelling van ‘n nomadiese familie, is daar genoeg inligting om ‘n mens te laat besef met watter geestelike instelling ons voorgeslagte in die oudste tye geleef het. Waar hulle ook al gegaan het, met al hulle aardse sorge, het hulle God nie vergeet nie. Abraham, die groot aartsvader, wat die goddelike belofte ontvang het, het op sy eenvoudige manier digby God geleef – te midde van sy familie.

En dan weer, was dit hierdie getroue man van God, wat net op die volgende reis weer sou lieg en bedrieg. Na die ekstase van die Goddelike aanraking wat hy moes ervaar het toe hy van God die goeie woorde van die beloofde land gehoor het en na sy gehoorsame reis en diens aan God, kom die oomblikke van verraad en donkerte toe hy Sara as sy suster aan Farao voorstel.

Geloof is soms so kragtig en transformerend. En dan weer, hoor ons, is die mens in sy geloof so weifelend, so feilbaar. Tyd om weer by die altaar die Naam van die Here aan te roep...

Lees ook:

http://www.bible-architecture.info/Housing.htm
TENTS were used by
     * nomadic people, who followed their flocks to pasture and water, and moved around according to the seasons
     * semi-nomadic people, who were based in a village but lived part of the year in upper or lower pasture areas.

TWO SEPARATE AREAS
The tents were larger than most modern tents, and had two separate sections.
The front section was used for work. It was the public area of the tent, open to visitors. The men of the family lived here, gathered here with family members or friends, and conducted business here if necessary. The men ate their meals in this area. The front part of the tent would be left open in warm weather.

The second or rear part of the tent was private. A dividing curtain separated it from the front area. It was here that the women, children and babies lived and slept. 

MANUFACTURE OF TENTS
These tents were made from goats' hair or dark sheep's wool, woven in rectangular strips on large looms. Women wove the fabric for the tents, stitched them together, and kept them in good repair. They also made the ropes that tethered the tents to the ground. In effect, they were the craftspeople who produced the housing. 

 SETTING UP THE TENT
They also set up the tents each time the clan/tribe moved to a new site.  They selected a suitable site - on hilltops in summer to capture the breeze, and in winter on the leeward side of valleys, just above the base where flash floods could occur. They used wooden mallets and tent pegs they hoisted up and secured the unwieldy tents. When it was time to move on, they took down the tents, folded them and stowed to for the journey. This would seem heavy work to us, but the Hebrew women were sturdy and skilled, and they worked as a group.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive