Aldus konstrueer ons twee verskillende wêrelde. ‘n Wêreld van die kwaad en ‘n wêreld van die goed. Hulle, dink ons, staan direk teenoor mekaar en het niks met mekaar te doen nie.
Die Psalms dink ánders hieroor. Psalm 34:15 leer ons inderdaad: “Wyk af van wat verkeerd is en doen wat goed is.” Ons moet inderdaad by die kwaad verbystuur. Ons geestelike reis is ‘n reis na die goeie om die goeie te doen. Tog, weet ons, is God aan die werk in plekke van goed én kwaad. Dit, skryf Waaijman, sien ons duidelik in Psalm 92.
Ek lees die Psalm en word getref deur die sterk emosies wat die Psalmdigter ervaar: Dit is opvallend hoe opgeruimd en entoesiasties en oorstelpt die Psalmdigter oor God se goedheid is. Die Psalm praat sommer aan die begin van die sinvolheid van ‘n lewe wat in goedheid by God geleef word. Die eerste twee verse vertel liries van die goedheid om by God te wees: Net vir ‘n oomblik is daar afstandelikheid as die Psalmis vertel dat dit goed is “om die Here te loof.” Maar onmiddellik word sy Psalm ‘n gebed as hy God direk aanspreek: dit is goed om “tot eer van U naam te psalmsing, o Allerhoogste.” Die lof vir God omraam sy dag. Dit is goed “om elke môre van U liefde (goedertierendheid!) te getuig, en elke aand van U trou.” Met snaarinstrumente, met harp en lier word God geloof. Dit is goed. Die Psalmis bewoon ‘n ruimte vol sin en gelaai met ‘n bewussyn van goddelike teenwoordigheid. Sy hart is ‘n wêreld vol goedheid.
Maar waarom is dit alles vir hom goed? Dit is hier waar die rede vir die lofsange na vore kom. Duidelik vertel die Psalmdigter hoe hy in die wêreld dieper, verborge, opwindende dinge raaksien en beleef. In vers 3 volg: God het groot dade gedoen. Dit besef hy deeglik, al gaan dit sy verstand te bowe: God se gedagtes is “baie diep”, “ondeurgrondelik” (verse 5-6). Al is God se dade byna te groot om te peil, het dit die Psalmis “baie bly gemaak”, dit laat hom “juig.” Nog eenvoudiger is dit: ‘n mens “ervaar” God se goedheid – jy leef uit ‘n diepe bewussyn van wie God is. Dit is die teendeel van mense met ‘n lewe sonder God: “Wie dit nie besef nie, is ‘n dom mens; wie dit nie insien nie, is sonder verstand.” Om in die wêreld van die goeie te leef, bring by ‘n mens insigte en belewenisse wat nie vir almal beskore is nie. Om in die wêreld van die kwaad te wees, dompel ‘n mens in domheid, ontneem jou insig, laat jou onverstandig lewe (vers 7). Die goeie, daarenteen, onthul aan jou die verborgene.
Dít is dan wat tel: die bewussyn van God se groot dade.
In die wêreld van goedheid sien ‘n mens God se dade raak. ‘n Mens beleef die werking van God. Wat God doen, wéét die regverdige, maak ‘n mens bly.
Helder is die gevolge van hierde belewing: As ‘n mens God se werke sien en God se naam bely, word jy so sterk soos ‘n buffel (vers 11), so sterk soos ‘n palmboom, soos ‘n hoë seder van Libanon (vers 13), sterk tot op ‘n hoë leeftyd (vers 15: “fris en lewenskragtig” is die mens). Plasties vertaal die Ou Vertaling: “Tot in die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, sal hulle vet en groen wees”! Die lewe word vir die mens wat God in die wêreld herken en beleef, ‘n fees (vers 11). Die regverdige is vreesloos, ook teenoor hulle wat sy of haar teenstanders is (vers 12). Die regverdige bevind hom of haar in ‘n wêreld van goed en kwaad, maar die kwaad kan hom of haar nie onderkry nie. Want die Here is regverdig, sonder onreg. “Die Here is my rots” (vers 16).
Die uiteinde van ‘n lewe in goedheid is geseënd. Tot in die gryse ouderdom bloei die lewe van die regverdige in ryp en ryk vrugte uit. Dit is waarom ‘n mens kan juig en bly wees (verse 1-2). Aan ‘n mens se vrugte kan ‘n mens sien in watter wêreld hy leef.
Maar vergelyk nou hiermee “die goddeloses”, “die werkers van ongeregtigheid”: Hulle verstaan nie. Hulle is dom. Hulle sien nie. Hulle herken en beleef nie. Trouens, daar is by hulle ‘n afwysing van God en van goedheid. Hulle is die “vyande van die Here” (vers 8 en 10). Hulle is die kwaaddoeners. En hierdie leefstyl wreek hom op hulle. Hulle groei wel soos plante, maar hulle uiteinde is ellendig. Hulle is wel “voorspoedig”, “almal wat onreg doen... floreer” (vers 8). Maar hulle sal “vir goed uitgewis word.” En dit word in vers 10 herhaal: “u vyande sal uitgedelg word, Here”, “almal wat onreg doen, sal vernietig word.” Die uiteinde van ‘n lewe in die kwaad is uitdelging.
Die mense wat in kwaad vasgeval het, doen dit ten spyte van God se teenwoordigheid wat hulle oproep om die kwaad te laat vaar.
Daar is dus ruimtes van goed en kwaad. En die geestelike reis staan wel teenoor die reis in die wêreld. En aan die afloop van elke reis kan ‘n mens die kwaliteit en karakter van daardie reis herken. Maar albei ruimtes het die geleentheid om God se dade te herken. Albei kan besef en beleef hoe goed en regverdig God is: In die wêreld van die goed word God se dade herken, ervaar en beleef (vers 6). Maar in die wêreld van kwaad en onreg word dit juis nie besef en verstaan nie (vers 7). God, weet ons tog, vanuit die evangelie, werk ook teen die kwaad: God roep die onregverdiges, die kwaaddoeners op tot omkeer en toekeer. “Kwaad” sou ‘n mens dus kon sê, is om God nie toe te reken vir wie God is en vir wat God doen nie.
Wat ‘n misterie: wanneer ‘n mens die goeie doen, besef en ervaar ‘n mens wie God is. Dit bring blydskap en lof. In hierdie wêreld word ‘n mens ingebring in die Verborgenheid, die Ondeurgrondelikheid en die Verhewendheid van God. Die regverdige word bewus van God se dade en ervaar bly wie God is, selfs al reik dit ver bo ‘n mens se verstand.
Eers wanneer ‘n mens in die goeie leef, by God is, tot God sing, liries oor God en met God praat, bly is in die Here, ontstaan die besef van hoe kortsigtig, hoe leeg, hoe kort en hoe vernietigend die lewe in die kwaad is. Om by God te wees, bring die besef en die wete hoe duursaam, hoe ewig en hoe onverganklik die lewe in God is.
Dit is tog ‘n verborgenheid: as ‘n mens in die goeie is, verbly ‘n mens jou daarin. Die teendeel is skrikwekkend: as ‘n mens verby die goeie leef, net op jouself ingestel is, jou in onreg begeef, tot die kwaad neig, raak jy dieper daarin verstrengel, word jou uitsig op die goeie verduister, beland jy in ‘n spiraalgang van self-vernietiging, bring jy ‘n oordeel oor jouself en vernietig jy jouself. In die wêreld van die kwaad is die kwaaddoeners besig om hulleself te vernietig. Die kwaad wat ‘n mens doen verberg ‘n mens se visie op God. Deur kwaad te doen, skuif ‘n mens juis dit wat ‘n mens vrede kan gee, van jou weg.
God is steeds oral aan die werk. God skei nie die wêreld in twee nie. God skuil nie in ‘n goeie, veilige plekkie nie. Oral val God se milde reën op beide die regverdiges en onregverdiges. Oral kan ‘n mens die verborge werking van die goeie ervaar. Oral praat God, werk die goddelike, raak God aan, roep God. Die goeie steek nie gesig weg nie.
In tradisionele taal praat ons van God se werking tot die heil en tot die oordeel.
Dit is tog ondenkbaar dat ‘n mens so ‘n harde kors om die hart van jou bestaan opbou, dat ‘n mens hierdie goedheid nie raaksien nie. En nog onbegrypliker is hoe ‘n mens deur weg te draai van die goeie, dieper wegsak in wat verkeerd loop, wat fout is, wat donker maak. Onverstaanbaar is dit, hierdie kwaad dat ‘n mens die oordeel oor jouself bring – en dit terwyl die goeie so oorvloediglike beskikbaar is en lewensvernuwend werk.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.