Saturday, October 30, 2010

Wanneer God die huis van die tollenaars binnekom. Oor roeping.



Caravaggio het sy beroemde skildery oor die roeping van Matteus in 1600 klaar geskilder. Dit is gedoen vir ‘n kapel in Rome. Hy neem as teks die gedeelte uit Matteus 9:9 waar Jesus ‘n man “met die naam Matteus by die tolhuis sien sit” en vir hom sê: “Volg my!”

Dit verbaas my hoe baie daar oor hierdie skildery geskryf is. Dit moet een van die bekendste skilderye van Carvaggio wees. En dit moet sekerlik een van die beroemdste skilderye ooit wees.

Ek besef, toe ek die gedeelte lees, hoe dikwels het ek die frase “by die tolhuis” in Matteus 9:9 misgelees. Dit is eers toe ek Caravaggio se skildery van die tolhuis van nader bekyk dat die woorde by my so bewustelik en spesiaal registreer.

Die skildery wys vyf tollenaars wat om ‘n tafel vol geld sit. Hulle bereken die som geld wat hulle aan die Romeine moet afstaan. Matteus, die hoof-figuur met ‘n lang, vol baard, word aan die linkerkant geteken. Hy is aangetrek soos ‘n welaf persoon – hy dra selfs ‘n fluweelpet. Sy tafelgenoot aan sy linkerhand, ‘n jong outjie, is selfs nog meer uitgevat – met ‘n deftige volstruisveer wat sy hele kop bedek. Aan Matteus se regterhand is ‘n ouer persoon en nog iemand wie se hele bestaan ingestel is op die geld wat voor hulle op die tafel lê. Hulle sien nie eers vir Jesus raak nie. Trouens, die binnekoms van Jesus en die lig wat Hy uitstraal laat hulle twee net dieper wegsak in die geld voor hulle. Een van hulle het selfs ‘n vergrootglas beet om die geld beter te kan sien.

Matteus, ook bekend as Levi, is in die middelpunt van hierdie groep van volgelinge van Mammon. En voor hom en sy groep, in die sentrum van hul bestaan as groep, op die tafel lê hulle Bybel: die kwitansieboek, die inkomstestaat van hul geldopbrengs waarin Matteus al sy belangrike geldsake neerskryf.

Caravaggio teken Matteus en sy mede-tollenaars as welgestelde mense. Hulle is behoorlik vatserig en modieus geklee.Hulle, die bevoorregtes, is egter eintlik nog in die donker, omring deur geslotenheid, in hul eie klein, duister wêreld vol geld.

Aan die regterkant staan Jesus met Petrus by hom – maar van agter gesien. Petrus trek nie die aandag weg van Jesus nie. Soos Jesus is hy eenvoudig aangetrek en sonder skoene. En soos Jesus roep hy ook na Matteus – al is sy uitgesteekte hand kleiner, fragieler, bloot nabootsend, duidelik minder as Jesus se hand. Trouens sy kleiner gebaar beklemtoon juis die grootheid en goddelikheid van Jesus se uitstrekkende, uitnooiende hand. God, besef die kyker as hy of sy Jesus se hand bedink, is dit wat hier roep.

Vanuit Jesus straal lig die donker vertrek binne. Dit is ‘n spanningsvolle balans: Jesus en die lig wat intens inwerk op die donkerte van die uitstallerige tollenaars. Hoewel hulle geld het, mis hulle die innerlike lig. Jesus word geteken as ‘n stil, eenvoudige karakter. Hy straal die lig van geloof uit.

Veral opvallend is dat die venster aan die bokant van die skildery, so dominerend as voorwerp, dof en vaal is. Die lig straal nie deur die venster in die kamer in nie. Dit straal vanaf Jesus in die kamer in. Nog meer: in die venster sien ‘n mens ‘n kruis raak. Die kruis is reg bo die hand van Jesus. Dit is ‘n donker kruis, sonder enige lig, maar dit is ‘n belangrike, noodsaaklike item in die skildery. Iewers is die hand wat uitgesteek word, die hand wat aan die kruis vasgeslaan sou word. Die navolging is navolging tot die kruis.

Maar daar is iets baie meer aan Jesus se uitbeelding: sy gesig wat net-net bo Petrus se skouer uitsteek, is deels in skaduwee gehul. Dit vertel iets van die diepe verborgenheid van hierdie figuur wat stilweg in die huis van sonde instap. Bo sy kop kan ‘n mens net fynweg ‘n stralekranse sien – asof Caravaggio die diepe verborgenheid met ‘n aksentteken wou onderstreep. Hoe vreemd, hoe verborge, hierdie goddelike figuur wat 'n tolhuis instap om vir Hom 'n dissipel te gaan haal! Hoe peil 'n mens God se weg in ons midde? Verby ons, die geestelike rykes, na hulle wat geestelik bankrot en afgode-, Mammon-dienaars is?

Hier onderbreek Jesus die besige aktiwiteit van die tollenaars. Heiligheid kontrasteer met materialisme, self-verryking, self-ingenomendheid en self-gesentreerdheid. Teenoor die self-sug van die groep om die geld, staan die uitreikende goddelikheid van Jesus.  Immers, onthou ons, dit is juis in Matteus 6:24 wat Jesus sê: Julle kan nie God en mammon dien nie. 


Daar is op die oog af geen emosionele uitdrukking op Jesus se gesig nie. En tog: ‘n mens voel die intensheid aan en word ingetrek in sterk emosie. Jesus kyk direk, intens, gelaaid na Matteus. Maar daar is ook ‘n sagtheid aan sy uitdrukking wat byna met ‘n teerheid vir ‘n mens aantrek en uitnooi. Daar is iets so onbedreigend en so stil, nederig, ongekunsteld in wie Hy is: Die onopgesmukte eenvoud van sy kleed kontrasteer sterk met die afwyserige klere van die ryk tollenaars. Jesus het selfs nie skoene aan nie. Iemand verklaar dit as ‘n symbol van sy heiligheid. In ‘n wonderlike, sublieme, maar sterk gebaar lig hy sy hand op en wys na Matteus. Sy gebaar is juis so goddelik omdat sy voorkoms, houding en selfs sy roeping van mense so spesiaal is.




En Matteus? In hierdie oomblik van "ongeloof", is daar ook al weer iets aan die gebeur, word geloof gebore. Want anders as met sy tafelgenote wat óf op die geld fokus, óf passief na Jesus sit en kyk, reageer Matteus - al is sy hand nog op die geld en die beursie voor hom op die tafel. Hy hoor hoe Jesus hom roep. Sy hand is, in reaksie, opgelig. Dit wys na homself, asof hy wil vra, byna in ongeloof: Roep U vir my?


Sy lewe is onderbreek. Hy sou nooit weer dieselfde wees nie. Sy geestelike reis het begin. En op daardie oomblik vind die breuk plaas – sy aandag is weg van die geldtafel, gedraai na die lig. God roep hom, raak hom aan en omvorm hom, sommer net daar in sy gewone lewe.

Roeping.

Matteus vertel dat hy toe inderdaad vir Jesus gevolg het. En die tradisie vertel dat dit hierdie Matteus is wat die Evangelie geskryf het. Die ou inkomste-boek, die geldsake-storie, die kwitansie-boek is vergete. Hy skryf nuwe dinge… 

Ek bedink die skildery omdat dit ‘n dieper geestelike insig en ervaring wil uitbeeld. Vir Barok kunstenaars soos Caravaggio was roeping ‘n belangrike motief in hul skilderye. Hulle besef hoe ‘n mens se gewone, alledaagse lewe op ‘n sekere stadium onherroeplik onderbreek kan word en omvorm kan word. Dinge kan nooit weer loop soos voorheen nie. Dit is waarom hulle graag Paulus se roepingsvisioen op die pad na Damaskus geskilder het, maar ook die visioen-ervaringe van Teresa van Avila.

‘n Mens assosieer “roeping” met ‘n ekstatiese en bo-natuurlike ingryping. Barok kunstenaars het besef dit hoef nie noodwendig so te verloop nie. Matteus die tollenaar en geldmaker, uitgedos in die nuutste mode wat hy maklik met sy rykdom kon bekostig, is besig met sy daaglikse taak – om met geld te werk. En dan verskyn ‘n ander "mens" op die toneel. Geen engel, nie ‘n indrukwekkende figuur nie. Trouens, hy is kaalvoet, ‘n liefdevolle figuur - maar een wat juis in alle eenvoud soveel goddelike krag uitstraal dat Matteus dit nie kon weerstaan nie.

Navolging kom soms in die eenvoudigste van oomblikke aan die gang. Die navolging sou Matteus ook die wêreld inlei. Hy sou sy lewe vir Jesus gee - met soveel gevolge. Die roeping sou uitkring en na baie ander oorgegee word: Later sou mense met sy evangelie die ryk, ryk woorde bly vereenselwig: Gaan dan heen, maak dissipels van alles nasies en .....

Roeping is ‘n grondmotief in spiritualiteit. Dit is die oomblik wanneer jou lewe tot volle ontplooing begin kom. Alles wat 'n mens altyd begeer het, begin gebeur, kom in sig. Roeping is die beginpunt van die reis na ‘n wêreld vol nood.

En om te dink: die roeping kom tot ons terwyl ons vatserig en uitstallerig oor die tafels van ons self-ingekeerdheid gekeer is. God roep mense in hul oomblikke van kontradiksies en teensprake, in hul lewens van ingekeerdheid en beperktheid. Soos iemand skryf: God roep mense terwyl hulle hul vergryp, juis terwyl hulle nog met een hand op die beursie sit en nog wil skryf in die ou boeke van hul verknegting.

Roeping bring die mens voor groot keuses. Soms word beklemtoon dat hierdie skildery geen handeling uitbeeld nie. Dit is asof alle tyd tot stilstand gekom het. Daar is ‘n oomblik van versteendheid. Dit is die heilige oomblik wanneer God instap en die ewigheid in balans is: hoe gaan hulle wat geroep word, reageer? Hoe gaan die een wat geroep word, reageer? Soos wie in die skildery loop 'n mens se lewe wanneer die goddelike op die toneel verskyn met 'n roeping?

En ook is daar nog die goddelike moment wat 'n mens nie te vinnig moet verby laat gaan nie: die twee wêrelde van duisternis/geld en lig/eenvoud wat in so ‘n sterk kontrasterende balans tot mekaar staan, word verbind – deur die hand van Jesus. Hoe gaan mense op God se roeping reageer, vra hierdie swanger stillte. 

In die groot leegte van die ewige oomblik van beslissing, staan Jesus se hand uitgesteek: om uit die duisternis tot die lig te kom, moet hierdie hand vasgegryp word...Dit is die kragbron, die leweskeppende hand van God. Keer op keer vertel kommentatore hoe Jesus se hand nageteken is volgens die hand van God wat Adam skep soos Michelangelo dit in die Sistynse Kapel uitgebeeld het. Jesus, wil dit sê, se roeping van Matteus is terselfdertyd sy herskepping tot ‘n nuwe mens.Die goddelike aanraking is die begin van nuwe lewe, die oomblik van transformasie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive