Sunday, October 03, 2010

“Ek was stom en het nie my mond oopgemaak nie.”


Kort na die vryheidsoorlog, in 1904, verskyn daar, in Engels, ‘n dagboek met die titel “Woman’s Endurance.” Dit is geskryf deur ene A.D.L. (B.A.) wat homself beskryf as “chaplain in the concentration camp, Bethulie, O.R.C. 1901.”

Die skrywer was Ds. A.D. Luckhoff. Hy was in die twintigste eeu een van die bekendste predikante in die N.G.Kerk, veral weens sy opheffingwerk onder arm Afrikaners. Hy is uit ‘n geslag van Rynse en Wesleyaanse predikante en sendelinge en tel onder sy voorgeslagte ook predikante van die N.G.Kerk. Hy is in 1874 in Colesberg gebore, waar sy pa die predikant was. Nadat hy sy teologiese studie in Stellenbosch in 1900 afhandel en na ‘n ses-maandelange toer in Europa, het hy op uitnodiging van Sir Hamilton Goold-Adams as kapelaan in die berugte konsentrasie-kamp te Bethulie gewerk.

Op die oog af was sy betrokkenheid in die kamp maar net vir ‘n skrale twee maande en 10 dae (van 21 Augustus tot 1 November 1901). Sewe maande later sou die oorlog verby wees. En tog, as ‘n mens hierdie dagboek lees, bring dit ‘n mens te staan voor die bitterste tydperk in die geskiedenis van die Boere republieke.

As ‘n mens die dagboek lees, begryp ‘n mens eers werklik die geskiedenis van ons land.

Uit Luckhoff se lewensgeskiedenis blyk hoe hy as predikant op ander se nood ingestel was. Luckhoff het na die oorlog groot bekendheid verwerf in die omgewing van Namakwaland en die Noordkaap in dorpe soos Kenhardt, Upington and Kuruman waar hy gehelp het om skole en koshuise op te rig. Onder sy leiding het die getal skole in ‘n kwessie van vier jaar van drie tot 26 gestyg. Hy was Sekretaris van die Diens van Barmhartigheid van 1916-1943. Vir 27 jaar sou hy in die amp ‘n reuse bydrae lewer om armoede te verlig, o.a. tydens die griepepidemie en groot droogtes. Hy sou ook ‘n belangrike rol speel in die hervestiging van Afrikaans-sprekendes uit Argentinië in Suid-Afrika (Pretorius 2006:iv-v). ‘n Jaar voor sy dood in 1946 het die Universiteit Stellenbosch vir hom in eredoktersgraad toegeken.  

Dit is duidelik waarom hy ‘n predikant geword het. Hy het omgegee vir ander, veral die weerloses en die magteloses.

Die vryheidsoorlog (1899-1902) is bloot in terme van getalle een van die dodelikste oorloë in die moderne geskiedenis. In die oorlog is 27 927 Boere-krygsgevangenes in 34 konsentrasie-kampe waar 110 000 mense aangehoud is, dood. Op die oog af lyk dit nie veel nie, maar dit was ongeveer 15% van die totale bevolking van die Boere Republieke. Die getalle is soveel meer traumaties omdat 26 252 vroue en kinders was, waarvan meer as 22 000 kinders onder 16 jaar was.

Die getalle het ‘n hoogtepunt bereik tussen Augustus en Oktober 1901. Ds. Luckhoff se termyn in die Bethulie kamp het dus saamgeval met die mees traumatiese deel van die vryheidsoorlog.

Luckhoff vertel in die inleiding tot die dagboek hoe hy al die eerste dag van sy aankoms in die kamp gedink het hy moet sy gedagtes neerskryf omdat hy in die toekoms sy ervaringe sou wou herroep. Daarom het hy elke aand ‘n dagverslag neergeskryf – en daarvoor het hy nota’s wat hy deur die dag gemaak het, geraadpleeg (1). Hy was ‘n deeglike skrywer en iemand wat ingestel was daarop om die werklike toedrag van sake te rapporteer.

Hy praat van baie onwaardige uitsprake wat hy aangeteken het, veral omdat die omstandighede so benard en hy saans moeg was. Kennelik was die situasie so sleg en so ellendig, dat hy homself by tye nie kon beheer nie. Normaalweg, kom ons agter, is hy iemand wat kalm en rustig aandoen. Maar soms kon hy die situasie nie hanteer nie en het hy boos gereageer.

Merkwaardig is wat hy dan in sy inleiding byvoeg: vir byna ‘n jaar lank het die dagboek in sy lessenaar gelê voordat hy die moed bymekaar kon skraap om dit weer te lees. Voordat ‘n mens ‘n enkele woord uit die dagboek gelees het, kom ‘n mens agter hoe erg die tydjie vir Luckhoff was. Hy kon homself nie eers sover kry om sy eie woorde oor sy ervaringe te herlees nie.

Hy het op ‘n dag en op versoek die dagboek aan ‘n vriendin gestuur en terwyl hy besig was om dit vir haar leesbaar te maak, het hy besef dat dit gepubliseer moet word. As rede gee hy aan dat hy daarmee die uithouvermoë (endurance) van die vrou wou vereer. Hierdie uithou- en deursettingsvermoë is een van die edeler kante van die oorlog. “En is hierdie begeerte nie genoeg nie? Kan ons nie soms maar die politieke kante van dinge vergeet om die menslike raak te sien nie?” Tog, sluit hy af, was dit nie maklik om die dagboek die lig te laat sien nie. “Daarom moet dit gesuggereer word hoe moeilik dit is om by geleentheid die naakte siel binne-in ‘n mens bloot te lê.”

Die uithouvermoë van die vrou. Hy het besef wat mense in tye van uiterste ellende aan die gang kan hou – hoe weerloos hulle ook al mag wees.  

Hierdie dagboek trek ‘n mens van bladsy een in in ‘n oewerlose situasie van lyding en ellende. Op Woensdag 21 Augustus 1901, die dag van sy aankoms, skryf hy heel eerste hoe ‘n siek dogtertjie, uitgeteer van honger en koors, wat saam met hom op die trein was, droewig vir haar pa gehuil het (“Pappa, ag my ou pappa”) en uitgeroep het van pyn elke keer as iemand aan haar geraak het. Dwarsdeur die dagboek kom dit telkens na vore hoe hy die lyding van kinders raaksien en aanvoel. By sy tent aangekom, sien hy net stof en ellende (dust; misery). Dit is bitter koud met ‘n bitter kou windjie wat waai. Reeds op die eerste dag voel hy alleen en eensaam.

Die volgende dag spring hy dadelik weg met besoeke aan kamp-inwoners. Weereens noem hy veral die kinders en hul toestand. Maar hy sien ook ander dinge raak: Die plek is toe onder stof, die vloer is nat en die binnekant is in chaos.  En as hy die aand in die bed klim, hoor hy die geraas en gekreun uit die hospitaal wat naby sy tent is. Ellende is nooit buite sig en buite hoorafstand nie.

Kort en kragtig is sy laaste sin: vyftien mense is daardie dag begrawe.

Vyftien mense? Hoe, vra ‘n mens, is dit moontlik? Watter soort van maghebber kan so iets onder sy neus laat gebeur?

Hierdie jong pastor, pas ‘n jaar of 27 oud, sonder enige gemeente-ervaring, stap in in ‘n vuil, afgeleë, misrabele konsentrasie-kamp in die middel van die winter in Bethulie. En op die eerste dag al word 15 mense begrawe.

Vyftien.

Ek bekyk sy dagprogram op Vrydag 23 Augustus, sy derde dag in die kamp. Op die oog af is dit ‘n halwe bladsy vol enkel sinne waarin hy kort en kripties ‘n lysie maak van alles wat hom besig gehou het.

Dit is onvoorstelbaar:

Hy staan vroeg op, skeer, drink ‘n koffie en sien dan ‘n “patetiese” toneel van ‘n ou man wat sy vrou uit die hospitaal terugneem na hul tent. Dit is een van die min kere dat hy van volwassenes praat. Hy hoor dan dat die Hugo’s se seun pas dood is en besoek hulle terstond. Hy het middagete en rus eers ‘n bietjie voordat hy ‘n sigaar rook. As hy teen 14h15 reg is vir sy besoeke, is dit nadat hy drie Rooi Kruis dose uitgepak het. Dan besoek hy ‘n sterwende kind met ‘n “gebroke” ma. Daarna, by ‘n sterwende ma van ‘n gesin, doen hy ‘n gebed. Dan gaan hy na ‘n vrou wie se man die vorige nag aan ‘n hartaanval gesterf het. Hy besoek ‘n kind (wat dieselfde dag nog sterf), en ‘n siek kind met ‘n “pragtige” gesig. Na besoeke aan twee ander siek kinders, hoor hy ‘n gehoes in ‘n tent. Binne tref hy ‘n man aan, gebroke na die dood van sy vrou en met drie baie siek kinders – waarvan die jongste sterwende is. Hy gaan troos dan ‘n vrou na die dood van haar kind. Hy woon dan sewe begrafnisse by in ‘n begraafplek, skryf hy, waar daar reeds al 120 grafte is. Oral sien hy huilende vroue. Hy gaan ook na ‘n sterwende kind waar hy, in sy woorde, ‘n “gek” maak van homself toe hy tydens sy gebed begin huil. Een sin skryf hy dan: “die hulpeloosheid in die teenwoordigheid van die Dood.” Teen daardie tyd is hy hees en doodmoeg. Hy gaan terug na sy tent waar hy “mediteer”, “oortuig dat hierdie werk die moeilikste in die wêreld is.” Hy hoor later van die dood van nog ‘n kind en van veertien lyke in die hospitaal se lykshuis.

En aan die einde van die dag. skryf hy, hoor hy plek-plek mense Psalms sing.

Op die manier verloop sy werksdag in die konsentrasie-kamp.

Sy kollega, Ds Becker, het op die dag die sewe begrafnisse gehou. Luckhoff teken telkens die teksverse vir sulke geleenthede aan. Hierdie dag, skry hy, was die teks: “Ek was stom en het nie my mond oopgemaak nie...”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive