Nouwen skryf in sy dagboek (Drie Minute Stilte) op 3 Januarie gedagtes oor die kwesbaarheid van die lewe.
So lui die gedeelte:
Die lewe is kosbaar. Nie omdat dit so sterk en ewig soos 'n diamant is nie, maar omdat dit so verwondbaar is, so kwesbaar en weerloos soos 'n kuikentjie.
Om die lewe lief te hê, beteken om te aanvaar dat dit verganklik is en verwondbaar; dat dit versorg en beskerm en gekoester moet word; dat dit vra om aandag, en leiding, en ondersteuning.
Lewe en dood word deur verwondbaarheid verbind. Sowel die pasgebore baba en die sterwende ouer mens herinner ons aan die kosbaarheid van die lewe.
Laat ons die kosbaarheid en die kwesbaarheid van die lewe nie vergeet in die tye wanneer ons sterk, suksesvol en gewild is nie.
Hy gebruik vir hierdie gedeelte die gedagte van “kosbaarheid.” En kosbaarheid verbind ons gewoonlik in die gang van sake met iets duursaams. ‘n Diamant of ‘n pêrel of ‘n goue ring is vir ons kosbaar. Dit het groot geldwaarde.
En tog praat ons ook van die lewe as kosbaar. En dan bedoel ons juis die teenoorgestelde as die normale betekenis van die woord. Die lewe is so kosbaar juis omdat dit nie so ewig soos ‘n stuk juweliersware is nie. Juis omdat dit nie gekoop kan word nie.
Enige oomblik kan die lewe van ons weggeneem word. Ons kan in ‘n sekonde ons lewe verloor. Die lewe is so kosbaar omdat dit in een kort oomblik tot niet kan gaan of tot niet gemaak kan word.
Die kwessis is dat ons so maklik hiervan vergeet. Die kere dat ons bewus word van die kosbaarheid van die lewe is wanneer ons die nuus hoor van iemand wat gesterf het of wanneer ons onbeseerd uit die wrak van ‘n motor na ‘n ongeluk klim of wanneer ‘n mens ‘n hartaanval oorleef.
Ons besef dus die meeste van die tyd nie hoe spesiaal dit is om te leef nie.
Ons kla eerder oor die lewe. Of ons sleur maar van die een week voort na die ander week, van die een jaar tot die volgende jaar – so asof ons nog baie lewens gaan kry om te lewe.
Wanneer ons egter besef hoe kosbaar die lewe is, kyk ons met ander oë daarna. Jou hele houding verander. En dit is nou wat my in Nouwen se gedagtes tref: ‘n mens gee aandag aan iets kosbaars. Jy versorg dit, beskerm dit, koester dit en vertroetel dit. Jou hele lewensstyl verander.
Argeloos lewe ons. So sonder veel omgee. Vandag is maar net nog ‘n dag soos gister en môre. Vaalheid volg op vaalheid. Gejaag na wind vervang gejaag na wind. Leë grepe in die lug vul ons dae.
Maar as ons besef hoe kosbaar elke oomblik van ons lewe is, verander alles. Ons kyk met nuwe oë na elke sekonde van die dag.
Elke oomblik konfronteer ons met hierdie één oorweldigende uitdaging: Is dít wat jy met jou lewe wil maak?
Ons sit gister na ons muurbal-wedstryd en gesels oor die toekoms. My muurbal-maat moet groot besluite neem. Hy moet besluit oor ‘n werksonderhoud.
Sê hy vir my : “Ek moet besluit of ek iets nuuts gaan probeer waarin ek gelukkig gaan wees. Of ek moet besluit om terug te gaan na my ou werk en weer van voor af ‘n gevangene sal bly van wat ek daar gedoen het.”
Elke oomblik vra aandag, vra om geweeg te word, om voluit geleef te word.
Hoe jy oor die lewe dink bepaal hoe jy jou lewe leef.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.