Hoe, vra die negentiende eeuse skrywer, F.W.Faber, in sy boek oor geestelike groei, weet ‘n mens dat daar in jou lewe iets belangriks aan die gebeur is?
Dit is ‘n vraag wat my onmiddellik boei. Ons het tog groot ideale oor ons geestelike lewe. En om een of ander rede wil ons graag hierdie reis “meet.” Is daar werklik iets aan die gang in ons wat ons tasbaar kan weeg? Hoe weet ons dat ons geestelik volwasse word?
Ek geniet Faber se skrywe oor onbehae as ‘n eerste teken van volwasse-wording. Hy skryf ‘n paar boeiende opmerkings hieroor. ‘n Mens weet iets is aan die gebeur in jou lewe uit die onbehae in jou binneste oor die situasie waarin jy jou bevind. Jy kyk na jouself met ‘n frons op jou gesig. Iets pla jou oor jouself, wat dit ook al mag wees.
En dit gebeur omdat ‘n mens nie wil bly wat jy is nie. Jy verlang na verandering. ‘n Mens begeer om méér van jou lewe te maak. Jy is nie tevrede om die ou paaie te loop nie.
Ek dink hieroor na en besef hoe grootliks onderskat ons die gevoel van onbehae. Ons dink baie na oor wat ons graag in die plek van ons lewe sal wil hê, maar ons dink nie diep genoeg na oor die blote feit dat ons nie lekker voel oor waar ons is nie.
Ons leef selfs soms jare lank saam met hierdie gevoel van onbehae sonder dat ons dit bewustelik bedink.
Onbehae is iets spesiaals. ‘n Gevoel van ontevredenheid is ‘n teken dat daar iets diepers en groters met ons aan die gebeur is as wat ons self besef.
Trouens, wanneer ‘n mens hierdie onbehae oor jou lewe aanvoel, is dit eintlik ‘n gawe van God. God skenk dit aan ons as iets heel besonders om ons geestelike groei aan te wakker. Ons moet eintlik hierdie onbehae as ‘n genaderyke geskenk sien waarvoor ons God wil dank.
Dit moet ons dankbaar maak dat daar dinge oor onsself is wat ons nie kan peil nie en wat ons pla.
Wat ‘n ironie: onbehae moet ons nie bedruk maak nie, maar dankbaar.
Ontevredenheid, onbehae oor onsself is ‘n teken dat ons ons geestelike reis begin het en dat ons besig is om te vorder op die pad na God toe.
Vele mense wat volkome vrede gevind het, wat totaal getransformeer is, het begin op hierdie punt van onbehae. Dit is ‘n teken van die Gees wat aan die werk is.
Vir Faber is die ontevredenheid en onbehae oor onsself ‘n teken dat ons besig is om in ons geestelike reis te vorder.
Daar is egter een belangrike kwalifikasie om so positief oor onbehae te voel: ons onbehae moet ons nie in ons geestelike oefeninge, ons aanbidding, ons omgang met die Woord, ons gebedslewe, ons diens aan ander terughou nie. Dit moet ons nie angstig of bedruk maak nie.
Veel eerder is ons besef van onbehae iets wat ons nederig moet maak. Nederiger as ooit tevore moet ons ons onbehae oor onsself omkeer in ‘n soektog om nader aan God te kom. Onbehae moet omvorm word in ongeduld om geestelik te groei.
Selfs dit is nie al nie. Saam met die nederiger siening van onsself en ons aansporing om nader aan God te kom, raak ons al hoe meer dankbaar vir die goeie dinge wat ons altyd kon ervaar. So swak as wat ons eie toestand is, so goed is al die kere wat God oor ons pad gekom het. Op hierdie manier leer ons om al hoe meer te fokus op die genade in ons lewe: terwyl ‘n mens terugkyk na al die goeie tyd van guns in ‘n mens se verlede en vooruitkyk na al die goeie dinge wat God belowe. God wat so goed was, beloof aan ons ook die goeie.
Dit alles laat ons besef ons het veel, veel meer ontvang as wat ons moes gekry het. Ons begin selfs verontwaardig word: hoe kon ons! Hoe kon ons geword het wat ons is? Toe al die goeie tye in ons lewens daar was, het ons onwaardig daarmee saamgeleef. Dit is mos nie hoe dit moes gegaan het nie?
Ons onbehae lei ons na God, dan na ons eie ondankbaarheid. Wanneer dit gebeur, is dit ‘n teken van geestelike volwassewording.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.