Ek ken jou armoede – maar jy is ryk.... Openbaring 2:9.
In die vorige studie oor Smirna het ek nagedink oor die teenstanders van die gelowige Christene in die stad. Dit is hartverskeurend dat hulle as Christene deur hulle Joodse mede-gelowiges belaster en getreiter is. Hulle as Christene ly nie onder die heidense Romeinse staat nie, maar onder mense wat deel is van hul eie godsdienstige tradisie.
Tragieser kan dit nie...
En tog, het dit geblyk, kan die Smirna-gemeente weet dat God hulle omstandighede ken. Hulle is nie alleen nie. Terwyl hulle deur Joodse gelowiges vervolg word, is God in werklikheid by hulle en hou ‘n goddelike hand van bewaring oor hulle.
Maar dit was die negatiewe kant van hul bestaan as gemeente: hoe hulle moes ly onder mense wat eintlik hulle geloofsbroers was.
Opvallend is die positiewe kant van hul bestaan as gemeente: Dit kom op ‘n baie onopvallende manier in die brief na vore. In een enkele kort frase skryf die Menseseun oor iets anders as die lyding en verdrukking wat die gemeente ervaar. Daar staan, “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede.”
Verdrukking en armoede word saamgegroepeer. Op die oog af is dit twee woorde wat op swaarkry wys. Armoede staan dus in die teken van ‘n lewe onder druk.
Maar in die geval van Smirna is die woord ryk aan betekenis. Veral omdat dit onmiddellik gekoppel word aan ‘n kort, kragtige opmerking: Maar julle is ryk!
In hierdie woorde sien ons God se hart van ontferming warm aan die klop. Dit is sagte woorde wat totaal kontrasteer met die harde woorde wat die Menseseun later oor Laodicea se ryk kerk kwytraak (Open.3:17).
Die gemeente is onder druk: hulle word deur Joodse gelowiges belaster en getreister. Maar die “duiwel”, die bron van alle kwaad, die aanstigter en aanklaer van God se mense, is hewig aan die stry teen die gelowiges. Dit is hy wat ons later in Openbaring 12 sal leer ken as die groot, vuurrooi draak wat God se groot teenstander is en wat oorlog maak teen die vrou, die bruid van Christus, die gelowiges (Open.12:9). Hier val hy Smirna aan en sorg dat hulle in die tronk beland (Open.2:10). Hier word die gelowiges deur die bose op dubbele manier getreiter en aangevat.
En dan is hulle, derdens, nog arm ook. Dit is ‘n boeiend opmerking: die Christene het dit nie breed gehad nie. Maar uit hierdie liefdesbrief aan hulle kom ons agter hoe na was hulle aan God se hart. Hulle was arm, maar naby aan God.
Daarom voeg God by: “maar julle is ryk!”
Dit is heeltemal merkwaardig dat daar net twee briewe onder die sewe briewe is waarin die gemeentes nie gekritiseer word oor foute of sonde nie. Smirna is een van die twee. Dit is ‘n kort brief, maar dit is ‘n brief vol bewondering vir hul getrouheid en geloof. Nog meer: in die brief sien ons dat hulle nie veel gehad het nie. Hier was geen welvaartsteologie nie. In die gemeente was daar nie sagte tapyte, duur houtwerk, ‘n manjifieke orrel, ‘n gesofistikeerde klankstelsel, kollekte-bordjies vol sagte note, ‘n vriendelike, komplimenterende prediker nie, mense sierlik in die nuutste modes uitgedos met die vierwielaangedrewe luukse motors wat buite voor die kerk geparkeer staan nie.
Dit was ‘n gemeente wat moet hoor dat hulle getrou moet bly “tot die dood toe” (Open.2:10), dat hulle verdrukking gaan lei en in die tronk gaan beland. En wat boonop arm is.
En tog: vertel die Menseseun, “julle is ryk.”
Daar is net twee sagte briewe in die sewe briewe van Openbaring 2-3. En een van hulle is Smirna, die arm-kwas gemeente wat deur ander so kwaadwillig belaster is. Van buite verag, mishandel en na binne sonder enige aardse luukshede en voorregte.
Net twee uit die sewe! Soms kan dit goed gaan in ‘n kerk, leer ons hieruit. Soms gaan dit in die kerk baie goed as daar min geld is, as ‘n mens moet opoffer vir jou geloof.
Dit is dan dat die goddelike briefie van bewondering in die posbus beland.
Die Menseseun noem hierdie armes “ryk”. Hulle hoor dat daar nog meer rykdom op hulle wag: selfs al sterf julle, sal julle nie die tweede dood ervaar nie (Open.2:11). Hierdie gemeente leef uit die belofte en sekerheid: Hulle sal die “kroon van die lewe” ontvang.
Ek lees dikwels graag die brief van die Menseseun aan Smirna, die minderbevoorregte en geminagde gemeentetjie van tronkvoëls en verdruktes. Want dit is ‘n brief wat my laat sien hoe goed God is: want God sien baie dieper as wat die gelowige volgelinge van God ooit wil sien. Terwyl hulle verwerp, kwaadspreek en doodmaak, vertroos, bemoedig en prys God. Verby die eenvoud, die armoede, sien God die rykdom in die hart raak. En in ‘n enkele woord trek God die armes nader in ‘n omhelsing van liefde.
God praat die gemeente stilweg verder moed in: Moenie bang wees. “Vrees niks wat jy sal ly nie.”
Hoe eenvoudig is sulke woorde tog: al die swaarkry, die tyd in die tronk en die verwerping is “niks.” Selfs die dood is “niks” nie.
Die Menseseun skryf nie dat hulle niks moet vrees nie. Hulle moet niks vrees “wat hulle sal ly nie.”
Dit is eenvoudige woorde. Maar hulle word gedra deur diep, verborge gedagtes. Agter die eenvoudige woorde skuil die wete van egte boosheid wat ‘n mens sou kon oorval. Want daar is wel een ding wat ‘n mens moet vrees: Veel erger en eg vreesaanjaend is die tweede dood wat oor die ontroues vir ewig sal kom.
Aan die einde van hierdie brief beloof God: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeente sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie” (Open.2:11).
Die tweede dood is om die teenwoordigheid van God ontsê te word. Die tweede dood is in die poel van vuur, saam met die dood en die doderyk (Openbaring 20:14-15). Watter vuurgloed van die ewigheid verteer ‘n mens se bestaan tog – want jy is in die duister, weg van die lig, die ligte lig van God se teenwoordigheid. Liewer die tronk, liewer die laster, maar tog nooit sonder God nie.
Getroue mense weet – hulle sal die tweede dood nie sterf nie. Hulle sal die kroon van die lewe ontvang.
Kyk nie hoe beeldryk word dit vertel in Openbaring 20:6 – ‘n vers wat direk met die brief aan Smirna te doen het: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.” Aangrypende simbole: Om nie die tweede dood te sterf nie, om die eerste osptanding te beleef, om saam met God as koning te regeer, om die kroon van die lewe te ontvang!
Dít is wat vir hierdie armoedige gemeente beskore is, skryf die Menseseun liefdevol aan hulle. Die bitter tyd in die tronk, die tragiese belastering van die teenstanders is niks, niks, niks in die lig van wat God van hulle dink en van wat God aan hulle skenk nie.
Wat ‘n brief aan hierdie belasterde, minderbevoorregte klompie getroue gelowiges in Smirna....
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.