Sunday, October 10, 2010

Om lyding te begeer....

"Jesus," skryf Thomas a Kempis, "het baie mense wat sy Koninkryk in die hemel lief het, maar min wat die kruis bemin. Hy het baie wat om voorspoed bid, maar min wat lyding begeer. Hy het baie wat sy fees wil meemaak, maar min wat wil vas. Almal wil saam met Hom bly wees, maar min wil sy beker om Sy ontwil drink. Baie volg Jesus na die breek van die brood, maar min wil die beker van sy lyding ledig. 

Baie bewonder sy wonders, maar min volg hom op die pad van vernedering. Baie het Jesus lief so lank as wat hulle nie swaarkry nie. Baie loof en prys Hom, solank as wat hulle deur Hom getroos word. Maar as Jesus homself onttrek, kla hulle en raak totaal depressief."

Ek verwonder my oor hierdie woorde.

Ons praat dikwels oor die teodisee-vraagstuk terwyl ons nadink oor die onverklaarbaarheid van lyding. Dit kwel ons. Ons span ons in teen lyding en kom in opstand daarteen. 

En tog, in die gedagtes van Thomas a Kempis, is lyding iets wat 'n mens nie net bedink nie, maar wat 'n mens daadwerklik ook begeer.

Toe ek vanaand hieroor nadink, kom die lewe van Franciscus van Assissi by my op. Hy het sy hele lewe daarop ingestel om die lyding van Christus na te volg. Wat goed was vir Christus, het hy geleer, is selfs nog beter vir sy volgelinge. Armoede en bespotting was vir hom 'n eer, want daarin het hy die lot van Christus gedeel.

Lyding bly 'n raaisel. 'n Mens kan dit nie verklaar nie. Des te meer is dit nie vir ons ooit duidelik hoe God die pad van lyding vir die heil van mense gekies het nie.

Nog dieper is die verborgenheid dat lyding ons veredel. Of dat ons nie van lyding terugskrik nie. 

Ek dink ook terug aan die dagboek van Rensche van der Walt. Aan die einde daarvan en nadat die oorlog verby is, onthou ek, skryf sy dat die verskrikkinge wat sy beleef het haar getransformeer het. Iewers kon sy daardie donker tye opneem in haar lewe en die hardheid daarvan besweer. Die kwaad het dus nie werklik getriomfeer nie. 

Dit is 'n verborgenheid. Nie dat ons ly nie. Want ons ly onder die kwaad. Maar dat ons lyding kan aanvat. Omdat ons weet God is sterker as die kwaad.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive