Dit is opmerklik dat Luther se spiritualiteit en vroomheid nie dikwels bespreek word nie. Zimmerling (in sy Evangelische Spiritualität) meld dat dit eintlik ironies is dat dit in ‘n katolieke konteks vir die eerste keer bespreek is.
Luther se spiritualiteit is gebore uit sy praktiese ervaring van sy bediening. Hy het in sy gemeentewerk te doen gekry met die destydse kerklike gebruik van die aflaat wat hom geskok het en wat die vonk was wat sy hervormingswerk aan die gang gesit het. In Wittenberg se Kasteelkerk kom sy gemeentelede vir hom vertel van sy buur-predikant, Tetzel, se “aflaathandel.” Tetzel het aflaatbriewe verkoop wat vergifnis verseker het - selfs vir die grootste moontlike sonde. ‘n Mens kon ook selfs vir die sonde van reeds afgestorwenes vergifnis gekoop het. Letterlik het mense in hierdie tyd in die Middeleeue hul pad na God oopgekoop.
Toe gemeentelede vir Luther hulle aflaat – “papiere” wys, was hy behoorlik ontstoke. Maar toe hy vra dat kerkleiers hom moet ondersteun in sy stryd daarteen, kom hy agter dat die aflaatstelsel ‘n reusagtige onderneming van die kerk, die staat en die ekonomiese magte is.
Met ontugtering het hy toenemend besef dat die oorgrote meerderheid van mense uit pure angs vir hulle aflaat-briefies teen reuse-somme gekoop het wat hulle vergifnis van sonde gewaarborg het.
Luther kon gou deurdring na die kern van die probleem: deur die aflaat soek die mens sekerheid dat hy of sy nie verantwoordelik gehou sal word vir die gevolge van sonde nie.
Die hele stelsel is dus gebore uit die mens se innerlike drang om straf vry te spring.
Luther kon gou deurdring na die kern van die probleem: deur die aflaat soek die mens sekerheid dat hy of sy nie verantwoordelik gehou sal word vir die gevolge van sonde nie.
Die hele stelsel is dus gebore uit die mens se innerlike drang om straf vry te spring.
Dit is toe dat hy, in Oktober 1517, sy 95 stellinge publiseer. In die stelling vat Luther veral ook die aflaat-gebruik aan. En, skryf Zimmerling, hieruit is ‘n totaal nuwe verstaan van spiritualiteit gebore.
Juis teenoor hierdie self-gerigtheid stel Luther boetedoening: Om boete te doen, beteken om berou te toon. ‘n Berouvolle mens wil juis nie straf ontvlug nie, maar dra dit gewillig. Luther se een tese lui selfs heel toegspits: “Egte berou soek en bemin straf.”
Om straf te bemin!
Luther wou berou nie verskraal tot jammerte oor ‘n paar foute in ‘n mens se lewe nie. Om dit te verstaan, moet ‘n mens begryp dat Luther, soos Paulus, onderstreep dat egte berou nie net mense laat erken dat hulle deur sekere slegte dade gesondig het nie. Hulle besef ook dat hulle beste bedoelinge in alle hulle dade selfsugtig is en op ‘n mens self ingestel is. Agter alles, ook in die godsdiens, soek die mens na eie veiligheid en om straf vry te spring.
Zimmerling stel dit so: Die berouvolle mens besef dat hy of sy ongehoorsaam was aan God. Wanneer iemand berou toon, erken die persoon dat God ‘n aanspraak op jou lewe het. ‘n Mens word eers vry en ontvang God se genade wanneer ‘n mens dit aanvaar: in berou sien ‘n mens af van al jou eie werkheiligheid en jou pogings om God om te koop met jou eie goeie lewe. Die inspanning van die mens is nutteloos.
Die gevolge van hierdie egte berou is onvoorstelbaar: In vreugde ontdek die berouvolle mens juis dat God in genade liefhet.
Daarom is Luther se eerste stelling: “Onse Heer en Meester Jesus Christus will met sy woord: bekeer julle (toon berou), dat ons hele lewe boetedoening sal wees.”
Geloof, dan, is ‘n lewe van berou.
Luther het deur hierdie stelling beklemtoon dat die mens nie deur die kerk van God geskei word nie en dus ook nie deur die kerk van God weggehou kan word nie. Die gelowige het nie aflaatbriewe van die kerk nodig om genade te vind nie. Elke mens doen verantwoording voor God op sy of haar eie. Hiermee hang saam: Die hele lewe van elke gelowige is konstant ‘n lewe van berou en bekering. Luther maak seker dat berou nie onderskat word nie: die evangelie gaan om berou – om daardie aanvaarding van God se wil vir ‘n mens se lewe en die besef dat ‘n mens se lewe verkeerdelik in opstand daarteen is.
Daarmee het die hervorming begin en het Luther se totaal nuwe siening van spiritualiteit aan die gang gekom. Sy siening hieroor is gesterk deur sy eie geloofservaring. Hy self het eers volledige vryheid gesmaak toe hy op ‘n dag ervaar het hoedat God hom buite al sy pogings om aangeraak het. Sy eie soeke na eie vroomheid het hom verkneg. Hy het eers vryheid gevind toe hy God se genade gevind het en toe hy in berou besef het hoe hy homself in die voorgrond geplaas het in sy geestelike reis. Vroomheid, het hy begryp, het te doen met die mens se besef van sy eie beperktheid en van God se volmaakte genade.
In my lees van hierdie paar bladsye uit Zimmerling se boek (49-51) besef ek opnuut weer hoe belangrik berou is. Berou is ‘n grondwaarde in spiritualiteit is. Trouens, as ‘n mens na die diepte-struktuur van die Christelike erediens kyk, sien ‘n mens hoe sentraal berou daarin staan – as simbool van die mens se verhouding tot God. Skuldbelydenis, noem ons dit ook. Die profetiese verkondiging en Jesus se prediking oor bekering bevestig dit oor en oor. Berou is nie maar net een van baie geestelike begrippies in die Bybel nie.
Terselfdertyd word ek deur hierdie leeswerk opnuut herinner aan die egte karakter van berou. Berou is nie net dat ‘n mens jammer is oor al die verkeerde en slegte dinge wat ‘n mens gereeld doen nie. Berou is baie méér as dit: ‘n mens wat geestelik groei, besef al hoe meer hoe godsdiens gebruik word om ‘n mens se eie beuel te blaas. Die Fariseër wat sy eie lof besing het en die Oudste Seun wat so ‘n goeie mens was, is iewers in ons denke ‘n karikatuur van ‘n proses wat by ons baie subtieler aan die gebeur is. Juis in ‘n “distansiëring” van skynheiligheid, asof ‘n mens self so skotvry daarvan afkom, sit daar al ‘n stuk self-verheffing en onberoulikheid. ‘n Mens se lewe is deurtrek met werkheiligheid. Vroomheid is tog so netjies uitgestal om indruk te maak en om ‘n houvas op God uit te oefen om straf van die lyf af weg te hou. Dit alles beteken dat berou ook gerig is op die gelowige se onberoulikheid!
Ek is egter ook getref deur Luther se opmerking: Om straf te soek en selfs: om straf te bemin! ‘n Berouvolle hart aanvaar dat God ‘n tugmeester is wat sonde oordeel. Deur dit te doen, word ook God se suiwering van die mees versteekte vorme van die kwaad in die mens aanvaar.
Die lewe in die Gees is ‘n berouvolle lewe, gelaai met voortgaande bekering. Lank na die groot omkeer tot God, moet mense telkens weer, byna minuut vir minuut, berouvol besef hoe min die genade in hul lewens werk. Die geestelike lewe is daarom ‘n lewe in stille sondebelydenis, telkens weer in ootmoed voor God gedoen. Daarmee saam hang die besef dat ‘n mens die gevolge vir die verkeerde moet en wil dra. Deur die straf te omhels, word ‘n mens gereinig van die sonde, leer ‘n mens dit in al sy destruktiwiteit ken en ontwikkel die geestelike mens ‘n afkeer in wat verkeerd en verontreinigend is. Dit sluit ook in dat God die geestelik arrogante mens straffend sal reinig van 'n gebrek aan of 'n skewe berouvolheid.
Berou teenoor God is ‘n teken van die verlangende hart om vry te raak van alles wat skend en om gereinigd in God se teenwoordigheid te wees. Dit is 'n teken aan God dat die mens bereid is om gereinig te word, selfs deur pyn heen van dit wat verkeerd loop in die geestelike reis.
Geloof as berou is ‘n teken van God se werking in ‘n mens se lewe, maar ook 'n teken van die mens se begrip vir sy eie afhanklikheid van God. Trouens, besef ek, berou is so belangrik omdat dit die een begrip is waarin sterk na vore kom dat die liefdesverhouding alleen van buite die mens ontstaan en kom - d w s van God af. Dit is die een begrip wat die goddelike inisiatief volledig ernstig opneem.
Geloof as berou is ‘n teken van God se werking in ‘n mens se lewe, maar ook 'n teken van die mens se begrip vir sy eie afhanklikheid van God. Trouens, besef ek, berou is so belangrik omdat dit die een begrip is waarin sterk na vore kom dat die liefdesverhouding alleen van buite die mens ontstaan en kom - d w s van God af. Dit is die een begrip wat die goddelike inisiatief volledig ernstig opneem.
Waaijman het vier kernwoorde vir spiritualiteit (Ontsag, Heiligmaking, Ontferming en Volmaaktheid). Sekerlik verdien berou spesiale aandag naas hierdie woorde.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.