Saturday, October 23, 2010

Wanneer die kwaad om jou in jou kom woon: Oor ons ergernis, woede en ontsteltenis oor die kwaad.


Om ons ervaar ons elke dag ‘n klomp woede. Mense krop in hulle binneste diepe frustrasie op oor alles wat om hulle aangaan. Baie dinge in die politiek, kerk, koerante, maatskappye, hospitale, polisiekantore maak mense diep ongelukkig. Jy kuier nêrens sonder om grote dele van ‘n aand deur woedende, verergde klagtes oorval te word nie. Jy gaan dikwels meer swaarmoedig na ‘n aandjie van kuier by jou vriende en familie weg as wat jy by hulle aangekom het.

Die kwaad het ons samelewing so deurdring dat dit selfs diep in ons binneste kom lê het en ons lewe verduister. Dit is asof ons oor niks anders as slegte dinge kan praat nie. Ons word vasgevang in ons woede en ergernis oor alles wat fout gaan en is. Ons word al hoe meer ingetrek in ‘n spiraalgang wat selfs ons toewyding aan God aantas.

Vanaand lees ek met ‘n sekere oorstelptheid Psalm 37. Dit is vir my asof dit vir ons tyd geskryf is, asof dit direk praat met gemeenskappe in ons land in wie se harte woorde van kwaad en ergernis en woede en wraak donker skuil en uit wie se mond ‘n konstante stroom van harde uitsprake van vergelding en veroordeling uitborrel.

Met my nadenke oor die rasende gepraat oor al die kwaad in en om ons, stap ek as te ware by die lees van die Psalm in in ‘n koelte, ‘n stilte, ‘n plek van rus. Wat my opval is die toon van die Psalm. Dit is ‘n Psalm wat stil en ernstig met gelowige mense praat. Die woorde is sag, stil en dringend. Dit is asof die Psalm-digter voel dat die saak waaroor dit hier gaan van buitengewone belang is.

In sy boek oor die mistiek in die Psalms, raak Waaijman aan hierdie Psalm as ‘n boeiende aspek van die tema van goed en kwaad aan.  

Hy bespreek ‘n paar Wysheidspsalms waarin veral jongmense oor die keuse vir goed of kwaad ingelei word. Wat is goed en kwaad? Maar meer nog: hoekom is die goeie aantreklik?

Iemand wat  lief geraak het vir die goeie, word ontsteld wanneer hulle met kwaad te doen het. ‘n Mens word opgewerk wanneer jy met kwaaddoeners te doen kry.

Juis hieroor gaan Psalm 37 en wil vir mense in hul ergernis en ontsteltenis begelei. Dit is, skryf Waaijman, ‘n Psalm wat verduidelik hoe ‘n mens op drie vlakke met kwaad te doen kan kry: Mense wat die regverdiges benadeel (vers 12), wat leen en nie terugbetaal nie (vers 21) en wat moor (vers 32).  

Die skrywer gee ‘n paar helder antwoorde op die vraag hoe ‘n mens hieroor moet dink: Vanuit die hoek van ‘n gelowige mens, is die kwaad geen opsie nie, word in hierdie Psalm geleer. Deur goedheid ontvang ‘n mens seën wat vir eeue lank ‘n uitwerking het (verse 22-31).  

Maar hierdie “saaklike” bespreking van die waarde van ‘n goeie, regverdige lewe is nie die eintlike punt nie. In die Psalm word die regverdige se houding teenoor die kwaad aangespreek (verse 1-11). Dit is hier waar Waaijman sy fassinerende punt maak: Die Psalm wil vir die jonger gelowige help om nie deur ontsteltenis oor die kwaad meegesleur te word nie. Die raad is opvallend: “wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie... Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig.” Die nuwe vertaling lui: “ontstel jou nie oor die voorspoedige lewe van ‘n skelm nie. Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet nou nie ontstel nie; dit bring net ellende” (verse 7-8).

Wanneer ‘n mens woedend en ontsteld raak oor die kwaad, kry die kwaad ‘n houvas op so iemand en bring dit daardie persoon om self kwaad te doen.

Die regte houding is eintlik presies die teenoorgestelde: ‘n Mens moet jou innerlik losmaak van die kwaad. Jy beweeg weg van wat verkeerd en wat onreg is. En jy moet eerder sag word in jou verhouding tot die Here, skryf Waaijman as kommentaar. En hy haal opvallende frases in die Psalm aan:

Vertrou op die Here en doen wat goed is...  Vind jou vreugde in die Here.... Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op die Here. Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van so ‘n skelm nie (verse 3, 4, 5, 7-8).

Ek besef opnuut weer hoe maklik dit is om ons visie op God te verloor. En as ‘n mens aan toewyding en die mistiek as die volmaakte fokus op God dink, dan besef ‘n mens waarom daar so ‘n vervlakking in ons geestelike reis is. Ons word so deur ons ergernis gejaag, dat ons skoon van God weggejaag word.

Vir Waaijman wil die Psalm se aansporinge ‘n harde houding versag, die obsessie met die kwaad deurbreek en veral die direkte verbinding met die Here versterk.

En kyk net wat behels hierdie verhouding met die Here: dit is ‘n houding van afwagting. Die mens is die passiewe een: “word sag, word stil, laat jou weg aan die Here oor.

Tog is daar ook meer, daar is ook ‘n sterk aktiewe inset: ‘n mens moet op die Here vertrou. Aktief moet ‘n mens soek om jou verwagting aan die Here te koppel. ‘n Mens stry hard en aktief teen ‘n houding van ergernis wat die kwaad in jou lewe bewerk. Nog eenvoudiger en helderder is dit in vers 3 uitgespel: doen wat goed is, bewoon die aarde en beoefen geregtigheid” (vers 3: “woon en werk rustig voort” sê die Nuwe Vertaling). Die verhouding tot God kom na vore in ‘n mens se gewone, goeie alledaagse lewe.

Ons kan ons so opwen oor die kwaad dat ons nalaat om gelukkig, getrou en rustig te leef.

Aldus, volgens die Psalm, moet die fokus van ons aandag skuif: in plaas van die kwaad, rig ons ons hart op die goeie. Die regverdige, goeie mens se hart is gerig op die Here. Die Here is die Een wat ‘n mens se lewe sag maak, die Enigste Een oor wie ons opgewonde raak, die Een by wie ons lewensweg in goeie hande is, skryf Waaijman.

Só eindig Waaijman die paragraaf: “Dit waaroor alles gaan is om in ons alledaagse lewe, in ons woon en werk, die Here se beeld in ons lewe te laat vorm. Dit gaan om ‘n lewenspraktyk wat die kwaad kan agterlaat en op die Here kan vertrou, wat jaag na vrede en goedheid.  

Ons kan die kwaad nie onderskat nie. Dit moet herken en uitgewys word. Dit is nie die probleem wanneer mense nadink oor die bose nie.

Die probleem is eerder wanneer die mens in die kwaad verstrengel raak. Dan praat ‘n mens só oor die kwaad dat dit ‘n houvas op jou kry, jou lewe in ‘n rigting stuur en by jou ‘n obsessie word.

Mens kan deur die kwaad oorweldig word. Dit kan jou lewe versuur.

Die Psalm kom haal ons weg van ons geraas, van ons ergernis en van ons surigheid. Dit neem ons na ‘n plek van stilte en dit trek ons in in ‘n sfeer van rustigheid en vrede. Wat tel, uiteindelik, is nie die kwaad nie. Hulle wat kwaad doen, sal ondergaan daaraan. Wat tel is of ‘n mens ‘n stil lewe by God en met God lei.

Dit is dalk juis omdat hierdie insig so eenvoudig is, dat ons dit miskyk en misleef.

En dan, terwyl ek hierdie Psalm en Waaijman se beskrywing bedink, sien ek dat Waaijman Psalm 141 as slot bespreek. Daarin sien ‘n mens die teendeel van Psalm 37: Psalm 141 begin oratief. Dit kreun van mistieke verlange, die aandag is op God toegespits: “Here ek roep U aan; kom tog gou na my toe; luister na my stem as ek U aanroep. Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer.” So begin die eerste twee verse. Dit is die vertrekpunt vir die res van die Psalm wat oor die kwaad en onreg gaan. Die Psalm vertel van iemand wat op mistieke wyse, in liturgiese taal, op God fokus. Alles is in hierdie gebed ingestel op die koms van die Here: kom tog gou na my toe! Die hande is opgehef na God – dit is ‘n offer wat aan die Here gebring word. Daar is die innerlike verlange na die teenwoordigheid van God, om by God te wees, om deur God gehoor te word. By God in gebed, vra die Psalmis om die koms van God! Van begin tot einde is alles op God gerig.

Dan volg die inhoud van die gebed (verse 3-4): Heel eenvoudig vra dit van die Here om die mond te bewaar van woorde wat fout is, om die hart vry te maak van goddeloosheid, van onreg.

En dan weer, in vers 8, volg die instelling op God: “Op U, Here, my God, aan wie ek behoort, is my oë gerig, by U skuil ek....”

Hier is goeie preekstof: nie allerhande slimmighede oor die teodisee vraagstuk, oor die teologie van goed en kwaad nie. Maar praktiese lewenswysheid, konkrete lewenskuns oor die lewe by God, weg van die kwaad, in stilte en met 'n hart verknog aan die goeie, aan die diens van die Here. 

Dit is eintlik onstellend: dat ons ontsteltenis oor die kwaad ons kan weghou van die Een wat volmaakte goedheid is.

Dit is geen wonder dat ons elke dag met soveel gemengde gevoelens ingaan nie. Wie kan dan anders, as jy die vorige aand in woede en ergernis bed toe gegaan het.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive