Tuesday, October 05, 2010

Ons skryf die blaaie van ons lewensboek tot eer van God.

Wanneer ‘n mens Luckhoff se dagboek oor sy bediening in die Bethulie konsentrasie-kamp tydens die vryheidsoorlog lees (sien vorige blogs), tref dit ‘n mens hoe pligsgetrou hy was. Hy is gedurig bekommerd dat hy te min tyd het om sy preke voor te berei. Hy is sensitief omdat hy nie kans kry om by almal wat hom nodig het besoek af te lê nie, al is sy dagboek dag na dag vol inskrywings van al die baie mense wat hy gaan ondersteun. Morbied, keer op keer, soos ek in die vorige blogs vertel het, vertel hy van die verskriklike nood om hom. Telkens weer besef hy hoe onmoontlik sy taak is. Hy kan onmoontlik die hulp gee aan mense wat hulle toekom. Dit laat hom by tye in uiterste wanhoop verval, wat hy dan ook telkens bitter bekla.

Sy diepe pessimisme, bekommernis en desperaatheid kon hom tog nie heeltemal oorweldig nie. Te midde van al sy ellende en wanhoop skryf hy meer as een keer wonderbaarlike opmerkings oor sy taak. Op 12 September meld hy dat hy sy werk lief het. “I am so attached to my work now, love it, that it would be a grievous burden were I compelled to give it up” (27). In ‘n sekere sin, filosofeer hy in ‘n algemene sin van die woord oor “werk”: “What a blessing that everyone has work in plenty, because in one’s work one can derive a measure of happiness and satisfaction; it detracts one’s thoughts from the seamy side of life just now” (38). Maar as dit dalk waar sou wees van sy eie werk, vertel sy laaste inskrywing waarin hy uiters depressief oor sy werk is, hoe deeglik hy bewus is daarvan dat hy ‘n veel groter roeping het as net maar nog ‘n werk wat sy aandag aflei van die ellende om hom. Ek staan verwonderd hoe hy aan die einde van die dagboek na al die maande van sy uitmergelende bediening, skielik opmerk: “And yet, let me confess, can there be any work grander, more glorious, just this work of mine? How one can revel in it! The unspeakable bliss of being able to ease the burdens of one’s fellow-men – the supreme honour of being able to be a blessing. Surely the purest pleasure here on earth- to bear one another’s burdens” (65) 

Ek is diep geraak deur hierdie woorde. Juis omdat ek my so volledig daarmee kan vereenselwig. Maar ook omdat ek weet hoe waar dit is. 

Dit is op hierdie punt dat ‘n mens ook ander gedeeltes van Luckhoff se bediening beter begryp. Op die 12e Oktober moet Luckhoff ‘n begrafnis van sewe of agt kinders hou. Daar is ‘n reuse skare – vir hom ‘n “splendid opportunity”- presies waarvoor verduidelik hy nie uitdruklik nie. Maar die implikasie is duidelik: hier het hy ‘n kans om die evangelie te verkondig en mense in hul donkerste uur by te staan. Hy haal, heel kripties, sy teks as volg aan: “Thou fool, that which thou sowest is not quickened except it die.” Dit is ‘n aanhaling van 1 Korintiërs 15:36 (Luckhoff gee nooit die plekke van die verse van sy preke aan nie): ”Wat ‘n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie.”  Die dood, lyk dit of hy te kenne wil gee, is nie die einde nie. Dit is die noodsaaklike deurgang tot die lewe.

Ook op 16 Oktober sien hy opnuut weer ‘n goue geleentheid raak: hy preek oor “En die dooies word geoordeel oor die dinge wat in die boek van die lewe geskrywe is” (and the dead were judged out of those things which were written in the books, according to their works. Rev 20:11-12). Dit is weer ‘n “splendid opportunity” met “baie” mense (64).

Dit is dan die enigste keer in sy dagboek dat hy die inhoud van ‘n preek neerskryf:

“Ons is almal elke dag besig aan ons boeke. Elke dag voeg ons ‘n bladsy by ons boek. Maar op ‘n dag, soos met hulle wat hier begrawe word, kom ons by ons laaste bladsy. Wat het ons geskryf? Wanneer ons God se kinders word, skryf God in rooi letters – met Christus se bloed as ink – bo-oor die bladsye van sonde wat ons tot dan geskryf het. ‘Gereinig in die bloed van Jesus.’ En daarom skryf ons alleenlik tot eer van God. En die kindertjies wat ons vandag begrawe, hulle het ook hul boekies geskryf, maar ek dink daar was ‘n engel wat die pen van elke kind vasgehou het en dat daarom hulle boekies suiwer voor God sal wees.”

Uit hierdie aanhaling kry ‘n mens die wesenlike punte van sy bediening saamgevat: Hy is wel deeglik bewus van die mens se sondigheid as dit kom by ‘n mens se gehoorsaamheid aan God. God, beklemtoon hy, gaan ons verantwoordelik hou vir wat ons met ons lewe aanvang. Maar tog, kan God genadiglik in Christus, vir ons die reinheid toereken wat ons nie het nie. Die genade van God word in Christus aan die een wat sondig, geskenk. Voor hierdie groot skare begrafnis-gangers bedien hy daarmee ‘n boodskap van genade. Maar hierdie boodskap weerspieël ook weer ‘n besondere sensitiwiteit vir die weerloses deurdat hy veral oor die kinders praat. By hierdie kindergrafte verkondig hy dat ook die kinders aanspraak kan maak op God se genade.

Luckhoff se bewussyn van sy roeping loop egter dieper. Dit merk ‘n mens wanneer hy oor die Liefde praat – een van die sterkste aspekte van sy dagboek (later meer hieroor). Wanneer hy op ‘n keer ‘n begrafnis hou (13 Oktober; 59) haal Luckhoff, sonder kommentaar, die eerste strofe van ‘n gedig aan. Ek staan bietjie verwonderd daaroor – so skielik kom dit op en so onverklaard staan dit daar ingeskryf.Hy haal eenvoudig net die vier reels aan en skryf niks meer daaroor nie.

Ek probeer die strofe peil. Uiteindelik spoor ek die hele gedig op. Dit is geskryf deur Henry Wadsworth Longfellow (1807-1882)  in 1839, een van die bekendste en populêrste Amerikaanse digters van die negentiende eeu (Luckhoff was immers 'n wereldreisiger). Die gedig, stel ek vas, heet : The Reaper and the Flowers. Luckhoff haal net die eerste strofe aan:


There is a Reaper whose name is Death,
And, with his sickle keen,
He reaps the bearded grain at a breath,
And the flowers that grow between.

Luckhoff skryf niks verder nie. Maar dit word ‘n openbaring om die res van die gedig te lees:

"Shall I have nought that is fair?" saith he;
"Have nought but the bearded grain?
Though the breath of these flowers is sweet to me,
I will give them all back again."

He gazed at the flowers with tearful eyes,
He kissed their drooping leaves;
It was for the Lord of Paradise
He bound them in his sheaves.

"My Lord has need of these flowerets gay,"
The Reaper said, and smiled;
"Dear tokens of the earth are they,
Where he was once a child.

"They shall all bloom in fields of light,
Transplanted by my care,
And saints, upon their garments white,
These sacred blossoms wear."

And the mother gave, in tears and pain,
The flowers she most did love;
She knew she should find them all again
In the fields of light above.

O, not in cruelty, not in wrath,
The Reaper came that day;
'Twas an angel visited the green earth,
And took the flowers away.

Hierdie gedig transformer die Dood as die Stroper tot ‘n Engel wat die beminlikstes tot God neem. Nie meer wreedheid of woede is die raamwerk waarin die dood inpas nie. Die dood is die oorgang van God se bemindes tot die teenwoordigheid van God. Liefde, val my daarin op, spreek die laaste woord.  

Miskien is dit dan die beste simbool van Luckhoff se prediking: hoe hy die allerellendigste situasie waarin mense hulle in die kamp bevind het, getransformeer het om ‘n plek te word waar die Evangelie gehoor en die liefde ervaar word.

Daar is iets verborge aan hierdie dagboek: te midde van die allerellendigste toestand kry ons in Luckhoff iemand wat verby al die oewerlose lyding kan kyk, al wil hy swik onder die aanslag van die ellende. Maar telkens weer, soos hy worstel om staande te bly, gryp hy na en dring hy deur tot die verborge dinge van God. Hy sien die genade raak. Hy besef hoe die Goddelike aanraking tot ons kom en by ons bly en uiteindelik ons finaal sal bevry – uit pure genade. Hy weet van die mens se verantwoordelikheid teenoor God, hy ervaar dit aan eie lyf in sy roeping. Hy besef hoe feilbaar mense is, hoe feilbaar hy self in sy eie taak is. Maar elke keer weer kan hy ervaar hoe die dieper dinge sy situasie transformeer, hoe die sondige gereinig word, hoe die liefde die mens opsoek. God reik uit deur hom na die misrabeles, dra hom dan deur sy werk en bring by hom ‘n besef dat hy God se ontfermende gesig onder mense is. Hy kan insien dat ook in sy feilbare pogings God besig is om verheerlik te word. Daarom is die diepste punt van sy dagboek die oomblik dat hy kan skryf hoe ons, wanneer ons elke dag ‘n bladsy by ons lewe byskryf, dit doen tot eer van God! In die goddelike leef ons, tot eer van God bestaan ons…

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive