Friday, October 22, 2010

Om te begin leef met ‘n doel. Nog ‘n teken van geestelike groei (3).



Godsdiens kan ‘n belangrike, vaste deel van ‘n mens se lewe wees. Dit is dan ‘n roetine-saak. Net soos wat ‘n mens eet, slaap, werk en ontspan, net so is ‘n mens by geestelike sake betrokke.

Dit is prysenswaardig wanneer dit die geval is. Die geestelike lewe is nie iets vir die af en toe nie. Of dit is nie belangrik net wanneer ‘n mens in die moeilikheid beland nie. Nog minder is godsdiens iets wat ‘n mens soek om ‘n ander doel te bereik: bv. wanneer ‘n mens jou kind wil laat doop of in die kerk wil trou. Selfs mense wat skielik in die kerk opdaag omdat hulle bedekte motiewe het, voel skuldig daaroor. Hulle weet self dat hulle nie opreg is nie.

Daarom is dit goed as ‘n mens godsdienstig is omdat dit deel van jou lewe behoort te wees en sonder om bymotiewe daarmee te hê.

Maar ‘n mens kan baie opreg wees in jou deelname aan geestelike aktiwiteite sonder dat dit jou lewe omvorm. Godsdiens wat uit pligpleging gedoen word, kan goed en selfs lekker wees, maar is uiteindelik nutteloos. En om godsdienstig te wees, sommer so in die algemeen, is eintlik ook maar waardeloos.

Nutteloos. Waardeloos.

Dit is soos om te gaan sit en asemhaal omdat jy ‘n asem het. In plaas van om met jou asemhaling voluit te leef.

Maar dan is daar die ander kant: Godsdiens is soms iets wat ‘n mens ervaar wat meer is as net om darem ook godsdienstige te wees. Dan leef ‘n mens nie om godsdienstig te wees nie. Maar godsdiens begin iets aan jou lewe te don. Soms is godsdiens besig om aan ‘n mens te knaag. ‘n Mens weet instinktief jou lewe is vaal en onvervuld en verdrietig arm. Dit gee ‘n mens dan ‘n gevoel van onbehae. Daaroor het ek onlangs bietjie geblog. Hierdie gevoel van onbehae kan ‘n dryfkrag word. Dit motiveer ‘n mens soms. ‘n Mens begin te streef na ‘n ander manier van lewe. Jy begin spesifiek sekere dinge herken en beveg. Jy begin stry teen negatiewe dinge in jou lewe. Jy wil nie meer hê jou lewe moet loop soos voorheen nie. Jy wil weg lewe van wat jou pla of onbehaaglik maak. Jy maak meer erns met jou berou of skuldbelydenis. Jy wil sekere swakhede in jou lewe uitskakel. As jy verval in ou gewoontes, laat dit jou sterker voel in jou voorneme om nie weer te faal nie. En jy begin na ‘n goeie gewoonte strewe.

In hierdie geval begin jy ‘n sekere rigting in jou lewe inslaan.  Daar is ‘n toon van erns in ‘n mens se innerlike. Anders as vroeër, leef ‘n mens nie met die swakheid saam nie. Of is jy nie maar net ‘n godsdienstige mens nie. Stadig begin ‘n mens wegdryf van so ‘n nuttelose en waardelose godsdienstigheid.

Nog dieper: vroeër leef ‘n mens saam met jou daaglikse lewe wat iewers ‘n plek aan godsdiens gee, maar mettertyd of, soms selfs skielik, gebeur die teenoorgestelde: die daaglikse lewe gee nie plek aan ‘n mens se godsdiens nie. Maar godsdiens begin jou daaglikse lewe stuur en vorm.

As jy voorheen rustig geleef het en jou godsdiens gewoonweg beoefen het, draai dinge skielik op hul kop. ‘n Mens raak bewus van spesifieke dinge in jou lewe wat nie reg is nie. Jy hoor jouself praat, met al die negatiwiteite waarin jou woorde jou indra. En jy besef dit kan nie so aangaan nie. Hoe meer ‘n mens hierdie donker kante in jou bestaan raaksien, hoe sterker begin ‘n mens daarteen veg. Jy begin dit teiken. Dit word ‘n stryd waarin jy opgeneem is. Die rustige lewensloop, die normale saamleef met die afbrekende dinge, kom tot ‘n einde. Jy begin rigting inslaan, weg van dít wat jy as verkeerde herken. Jy besluit om liewers ‘n ander, nuwe pad te loop. En dit alles doen jy omdat jy weet dat jy geestelike verarm het. Iewers het ‘n geestelike krag in jou lewe begin werk.

Dit is, skryf Faber, ‘n teken van geestelike groei. ‘n Mens vorder in God se weg wanneer jy begin om nuwe gewoontes aan te leer. Dit is ‘n teken dat God genadiglik in ‘n mens se lewe aan die werk is. Die verset teen die vaal kolle in jou lewe, is ‘n teken van die krag van die genade, van die reiniging deur die Gees. Uiteindelik is dit dus nie jou eie vordering nie. Maar dit is die vordering van die Gees: die Gees is besig om deur die kors van die menslike bestaan te breek. Dit is die goddelike krag wat die gelowige na ‘n einddoel begin neem, wat die mens motiveer tot nuwe dinge.

Dan begin ons leef met hoop. Die gelowige soek om uit te kom by die ruimte waar hulle sinvol in en by God kan leef en woon.

Godsdiens kan ‘n belangrike deel van ‘n mens se lewe wees. Maar selfs dan kan dit ‘n sinlose ervaring wees. ‘n Mens kan geestelik stagneer en geestelik lam wees al is ‘n mens hoe betrokke by geestelike dinge.

Heeltemal anders is dit wanneer godsdiens ‘n mens se lewe in ‘n nuwe rigting stuur. Wanneer godsdiens ‘n mens sover kry om te wil verander, om nie meer dieselfde te leef as voorheen nie, om nuwe gewoontes aan te leer, om ou swakhede af te sweer, is dit ‘n seker teken van geestelike groei.  

Dit versterk ‘n mens alleen maar verder wanneer ‘n mens besef dat ons soeke na ‘n nuwe lewe eintlik God se werking in ons bestaan is.  Dit is dan wanneer die geestelike reis spesifiek begin raak: want om een hekkie oor te spring, suksesvol, is ‘n aansporing om meer te doen en die resies end-uit af te lê.  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive