Monday, October 18, 2010

Die geestelike lewensreis. Oor skole van spiritualiteit (2)


In spiritualiteit word die motief van die lewensreis dikwels gebruik. Dit is ‘n simbool met sterk Bybelse wortels.

Psalm 119, byvoorbeeld, is ‘n loflied op die wet van die Here waarmee die gelowige mens onderweg is. Reeds die eerste vers vertel dat dit goed gaan met ‘n mens wat volgens God se woord “wandel.” Hier is nie allerhande teologiese motiewe oor die wet as heilsmiddel, oor die wet as verbondsbepalings, of oor die wet as etiese riglyn nie. Hier “wandel” ‘n mens gewoon met die wet. Die wil van die Here, soos ons dit in die wet leer ken, is deel van die daaglikse reis met God. Die wet word ingetrek in wat die mens elke oomblik doen en beleef. Die wet is ‘n wesenlike deel van die mens se geloofservaring.

Verse 2-4 vertel nou verder dat dit goed gaan met hulle wat in God se “weë” wandel. Maar dit is nooit ‘n afgehandelde saak nie: ‘n mens moet ook geduldig streef daarna om in die wet te bly en dieper daarin te groei. Die Psalmdigter bid daarom dat God hom sal laat “wandel” volgens die gebooie (35). Hy bid: “Laat U woord my op die regte pad hou” (133).

Dit vra toewyding. ‘n Mens loop ‘n sekere harde pad: Die digter het sy “voete van elke verkeerde pad af gehou” om aan God se woord gehoorsaam te wees (101). Daarom kan hy in 105 bly skryf: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”

Die Psalmdigter besing hier sy lewensreis. Die gelowige mens is onderweg met en na God. Die wet is God se onderrig oor die regte lewensweg – hoe ‘n mens hierdie pad in die hede, toekoms in, moet loop. In die Ou Testament het mense gelowig vertrou dat God vir alle mense ‘n lewenspad uitgestippel het. Maar nie alle mense wil hierdie goddelike pad loop nie. Dit is juis die doel van die wet om die mens tot die regte houding teenoor sy goddelike lewenspad te bring. God wys vir die mens ‘n lewenspad aan, maar die mens moet hierdie aanwysing van God, die onderrig van die wet toeëien en sy eie maak. Daarom, skryf Waaijman, is die doel van Joodse spiritualiteit later om die mens daartoe te bring om sy eie lewensreis met God se onderrig in die wet te verbind.   

Dit is opmerklik hoe die Nuwe Testament ook van gelowige mense praat as mense wat op ‘n geestelike reis is. In Handelinge word na die kerk as “die weg” verwys. Paulus vervolg, volgens Handelinge 9:2, die mense van die “Weg” (sien ook 19:9, 23; 22:4; 24:14, 22). Die kerk as die gemeenskap van heiliges loop die pad met God.

Hierin volg die kerk in Jesus se voetspore: In Johannes-Evangelie praat Jesus van homself as die “weg” (die waarheid en die lewe; Joh.14:6). In sy weg, loop die kerk dus die weg van Jesus.

En hierin herinner die kerk homself aan wat Jesus geleer en geleef het. Dikwels word Jesus as ‘n rondreisende, charismatiese prediker beskryf. Hy het orals in Galilea en Judea rondgetrek as prediker oor God. En as prediker het hy vir sy dissipels vertel van die pad na die verderf wat breed is, terwyl die pad na die lewe smal is. Min mense loop daardie pad, terwyl baie op weg is na die verderf.

Dit is hierdie motief van die geestelike weg wat so belangrik in spiritualiteit is en wat veral met skole van spiritualiteit verbind word. Wanneer mense in ‘n groep, veral in ‘n skool van spiritualiteit, saam is, loop hulle ‘n bepaalde geestelike weg. Hulle lewensreis word ‘n geestelike reis saam met en op pad na God.  Alles wat hulle doen, is ingestel op hierdie geestelike reis. Hulle volg God en word deur die werk en lewe van Christus geïnspireer. Hulle lewe is gerig op God en is geskoei op Christus se voorbeeld en werke. Hulle is onderweg, mense in beweging, mense op pad.

Die simbool van die weg is vir my boeiend omdat dit iewers die uitwaartse gerigtheid van ons geestelike lewe uitwys. Die gelowige is as iemand wat deur God aangeraak is, losgemaak van self-gerigtheid. Die ingekeerdheid in mens self, word ongedaan gemaak. Nou word dit ‘n toegekeerdheid op God. ‘n Mens, sou jy kon sê, reis weg van jouself. Die lewensreis word nou ingestel op eenheid met God. Wat saak maak is die einddoel van alles, naamlik om uiteindelik volledig by God te wees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive