Smirna het 'n lang geskiedenis - wat al klaar wys hoe 'n spesiale stad dit was. Die stad is in 600 v.C. deur die Lidiërs ingeneem en verwoes. Vir drie eeue daarna was dit ‘n treurige ou plekke wat nie kon herstel van sy eertydse glorie nie. In 290 v.C. het twee Griekse heersers, Antigonus en Lusimachos die stad weer opgebou. Soos die legendariese feniks, het hulle in die ou tyd gesê, het die stad uit sy doodsheid verrys en het dit ‘n belangrike stad geword. Daar was selfs ‘n kultus wat die keiser vereer het. En soos dit met ‘n voorspoedige stad gaan, het mense vanoor die hele wêreld daar gaan woon en gewerk.
Uit die brief self lei ‘n mens af dat daar in Smirna ‘n groep Joodse gelowiges gewoon het. Dit is nie ongewoon nie. Joodse gemeenskappe het oral in Romeinse stede, ook in die Romeinse provinsies, gewoon en deeglik hulle invloed laat geld. Hulle het soos baie ander mense, handelsroetes en ekonomiese geleenthede gesoek. Hulle het nogal baie voorregte geniet en in sommige plekke het hulle groot invloed uitgeofen.
Johannes praat heel positief oor hierdie Joodse gelowiges. Nêrens in Openbaring kry ons die indruk dat hy in ‘n stryd met Joodse interpretasies gewikkel is nie – soos bv Paulus in Galasiërs nie. Dit maak sin, want ons weet dat daar goeie verhoudinge in baie plekke tussen Jode en volgelinge van Jesus was. Paulus, lees ons in Handelinge, het altyd die Jode opgesoek en is dikwels deur hulle vriendelik ontvang. Baie van die Jode het ook volgelinge van Paulus geword. Johannes het dus soos baie van sy tydgenote nie mense verwerp bloot omdat hulle Jode was nie. Trouens, hy het geweet hy deel met die Jode die Heilige Skrifte – wat ‘n fondament van sy boek was.
Maar in Smirna het die lesers van Openbaring ‘n slegte ervaring gehad: Hulle en hul Joodse mede-gelowiges het vervreemd van mekaar geraak. Soveel so dat Johannes van die Joodse “Singagoge van Satan” praat. Dit is baie harde woorde. Johannes praat ook van hulle “kwaadstokery” (Openbaring 2:9). Johannes gebruik die baie sterk Griekse woord van “lastering” (blasfemie). In dubbele mate teken hy hulle dus as satanies: hulle laster en hulle deel in ‘n duiwelse singagoge.
Die breuk tussen gelowiges is uiters skerp. Die probleem, skryf Johannes, is nie dat daar Jode in die stad is nie, maar dat hulle hul Joodse erfenis verloën deur hul optrede. Hulle doen dus nie meer die wil van God nie, maar volg die satan en maak hulle skuldig aan lastering. Hulle sê dat hulle Jode is, maar hul lewe en gedrag weerspreek dit. Hulle het die volgelinge van Jesus belaster, waarskynlik soos in Handelinge 18;12-17, waar die Jode vir Paulus by die goewerneur verkla het (sien ook Hand.14:2). Hoewel Christene in baie plekke met hul Joodse mede-gelowiges goed reggekom het, het hulle ook dikwels onder Joodse vervolging of “verdrukking” swaar gely (sien bv Gal.1:13-14; Fil.3:6; Hand.13:44-52).
Die rol van die Jode in Smirna is besonder negatief. Dit veroorsaak vir die Christene baie verdrukking. Hoewel hulle dieselfde tradisies met mekaar deel en dieselfde Heilige Skrifte het, doen hulle mekaar groot skade aan. Hulle aanbid dieselfde God, roep in herinnering die reddingsdade van God en die uitverkiesing van die volk van Israel. En tog kan hulle nie verder van mekaar wees nie. Hulle leef in ‘n erge vyandskap waarin hulle onder mekaar ly.
Smirna is die tweede brief in die ry van sewe briewe. Dit is ‘n brief waarin die kerk moed ingepraat word oor wat hulle aangedoen word in die naam van God. Sommer heel aan die begin van die reeks van sewe briewe is die fokus nie op die groot vyand van die kerk nie, maar op gelowiges as vyande van mekaar.
Dikwels sê mense: as almal maar net tot bekering kom, sal dinge in ons wêreld reg loop. Maar hierdie mense weet nie hoe dit dikwels onder gelowiges gaan nie. Mense kan só ernstig oor hul geloof wees, soos die Joodse gelowiges in Smirna, dat hulle nie teenstand verdra nie. Hulle wil dan “vyande” van die geloof uitroei. En dan slaan hulle toe op mense wat hul geloof deel, maar met wie hulle nie saamstem nie. Die gevolge is dodelik. Dit tragedie is dat hulle sekerlik glo dat hulle die geloof in God verdedig teen afvalliges.
Nee, die kerk ly dikwels die swaarste onder mense wat die naaste aan hom is. Die hardste houe word gelowiges deur mense van hul eie oortuiging toegedien.
Hoe nou gemaak met die brief aan Smirna? Wat wou die skrywer nou sê oor hierdie onverkwiklike en slegte situasie?
Ek dink nogal oor hierdie brief vanuit verskillende hoeke: ‘n mens sou maklik kon sê dat die brief Indirek alle gelowiges waarsku om nie te seker van hul saak te wees nie: wanneer hulle die ander aanvat en regsien, kan hulle dalk net, vir al wat jy weet, handlangers van die bose wees. Dit sou dalk nie so verkeerd wees om dit in die brief te lees nie: Paulus, daardie groot vegter vir God se saak was eintlik die vervolger van Jesus, dan nie?
‘n Mens sou ook kon sê dat die brief indirek ook waarsku teen onverdraagsaamheid. Want die lasterlike dinge wat ‘n mens van ander kwyt raak, is sekerlik ‘n teken van ‘n mens se eie innerlike angste, onsekerhede en donker begeertes. ‘n Mens “vrees” die ander omdat hulle ‘n bedreiging inhou. Vrees jaag ‘n mens in die harnas teen mense wat nie jou siening deel nie. Waar vrees is, woon die liefde nie.
Tog voel dit vir my of die brief nie eintlik oor die Joodse vyande van die gelowiges in Smirna wil praat nie. Die brief is tog nie op enige manier vir hulle geskryf nie. Die brief wil eerder by die gelowiges self uitkom.
Dit wil met hulle praat in hulle omstandighede: dit is duidelik dat hulle in groot vrees vir hul Joodse opponente geleef het. En hierdie brief moes oor daardie vrees iets skryf.
Jesus, die skrywer van die brief, lewer ‘n heel kort kommentaar op hulle situasie van vervolging en verdrukking. Al wat hy laat weet is: “Ek weet....”
Hy wat die eerste en die laaste is, wat sterker is as die dood, skryf Johannes dus, is bewus van die hatighede van die Joodse opponente. Hy ken hulle doen en late... Niks ontsnap die aandag van God nie.
Lyding is soveel swaarder as dit in eensaamheid gedra word. Dit is ‘n refrein wat dikwels gehoor word: “Niemand weet hoe swaar kry ek nie.” ‘n Mens beswyk dikwels aan lyding omdat jy voel niemand is by jou nie. Of, anders gestel: lyding kan met soveel moed aangevat word wanneer ‘n mens weet jy stry nie alleen nie.
Vir die klein gemeente in Smirna wat in vrees en bewing vir die arrogante lastering van hul teenstanders geleef het, het die brief ‘n eenvoudige boodskap gehad. God weet wat aan die gang is. God ken hulle wat jou wil bykom. Julle is nie alleen nie.
Soos hierdie gemeente daarna bladsy vir bladsy deur die boek Openbaring gelees het, het hulle op elke bladsye gehoor wat God met die bose doen. Hulle merk ook in die boek hoe gelowiges opgeroep word om hul vyand uit te ken. Weet goed wat aan die gebeur is, sê Johannes vir sy hoorders. In die boek lees hulle die oproep dat gelowiges versigtig op die kwaad moet let (Open.13:18; 14:12; 17:9).
Maar in Smirna is dit nie nodig nie: God laat weet vir hulle God is bewus van wat aan die gang is. En, lees hulle deur die boek, verskriklik is God se oordeel oor die kwaadstokers.
Ek kan my indink hoe dikwels het die gemeente hierdie brief gelees: oor en oor. Net om keer op keer te weet: God weet van ons! Wat ‘n troos...
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.